Spookstorie?

Desember 20, 2011 in Sonder kategorie

Langs Lynnwoodweg lê wat ons Gautengers ‘n berg noem, maar dis eintlik ‘n lang, lae koppie – behalwe dat ‘n koppie gewoonlik nie so ver strek nie – by name Bronberg.

 

Dis ‘n baie mooi formasie, taamlik hoog aan die westekant met selfs ‘n effense kransrif, en dan raak dit laer soos wat mens ooswaarts ry. Vroeërjare het daar kosmos langs die pad gegroei, maar dis nou al baie jare lank skoonveld. Een gedeelte is de ene rotsplaat, te eienaardig, en hier syfer water oor die klip na harde reën.

 

Dikwels het ek my oë na hierdie berg opgeslaan, en nou, na omswerwinge, woon ek teen sy flank in ‘n meenthuiskompleks en voel dit asof ek tuisgekom het. Die kompleks is slim beplan: ons woon behoorlik opmekaar, en tog is daar genoeg privaatheid, want die huisies se dimensies maak dat ons net-net nie ons bure kan raaksien nie. Die tuine is pynlik netjies, die struike tot in hul droesems gesnoei.

 

Dis ‘n relatief nuwe ontwikkeling, maar dit nestel teen ‘n oeroue landsvorm en die moderne stedelinge wat hier woon, is sekerlik nie die eerste mense wat langs die Bronberg ‘n woonplek gekry het nie.

 

Wat is dit wat maak dat ‘n mens drie-uur snags wakker word? Want dis nie lekker om lank voor hanekraai kiertsregop te sit en te weet dat jy nie weer sal slaap nie en dat die nag nie aan jou behoort nie. Dan staan mens maar op en gaan maak vir jou ‘n koppie soet, warm tee, vat jou boek en troos jou daaraan dat jy onbelemmerd kan lees.

 

Die moderne kombuisie is ‘n onwaarskynlike plek vir ‘n spook, maar party nagte bekruip ‘n nare angs my. Dan raak die kombuisie yskoud en ek kry hoendervleis, my hare staan orent. Dis net in die kombuis – as ek sitkamer toe stap en voor die traliedeur na die nag staan en kyk, bedaar die angs. Die eerste keer toe dit gebeur het, was ek so bang dat ek moes bid: “Verlos ons van die bose…” Goddank, die vyandige teenwoordigheid het gewyk.

 

Deesnagte drink ek nie meer tee nie.

23 antwoorde op Spookstorie?

  1. avega het gesê op Desember 20, 2011

    Ons het in so huis gebly waar daar so ‘n teenwoordigheid was. Dan het ek net vir myself gesê: God is ook hier. Daarna was ek nooit weer bang nie.

  2. Ientjie het gesê op Desember 21, 2011

    Eienaardig hoe so n gevoel n mens kan bekruip! As mens dit rustig in daglig bekyk dan voel mens ook maar steeds grillerig. Dis maar alles in n mens se kop die gevoelens. Ek loop saans(dis nou na 9:30 met Trompie – kry soms die gevoel daar is iemand agter my en maak my rug hol! Ek weet as Trompie niks voel hoef ek nie bang te wees nie.Ek dink dis maar die dag se gebeure wat mens so vreemd laat voel.

  3. TS het gesê op Desember 21, 2011

    Ek reken altyd so by myself ‘Jy kan nie bekostig om bang te wees nie!’

  4. Ken van 3u wakker word – in die laaste tyd elke nag, dis nou as ek ooit aan die slaap geraak het. Ek ril ook soms, maar dink nooit aan spoke en hul teenwoordigheid hier niet.

  5. pasella het gesê op Desember 21, 2011

    Die laatnag is ‘n alleentyd.

  6. As jy die yskasdeur oopmaak, stort die koue lug uit.
    Niks gin spook nie.

  7. Dis aaklig daai wakker word voordat die wekker afgaan. Dit bederf daardie lekker diep slaap. Ek het ‘n kleinkind wat so daardie tyd van die oggend so teen my skouer kom tap dat ek kan opskuif dat hy kan inskuif, dan slaap ons vinnig die laaste gedeelte saam. Wonder ook wat maak hom wakker?

  8. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Hulle sê die Bybel maan ons 365 keer om nie bang te wees nie – eenmaal vir elke dag van die jaar. Of dit waar is, weet ek nie, maar dis so ‘n mooi gedagte.

  9. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Trompie is seker ‘n hond(jie)? Dis mos eintlik die katte wat veronderstel is om die bonatuurlike aan te voel, maar hulle is te trots om met hulle te laat gaan stap :o)

  10. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Dis nou ‘n waar woord, Tina!

  11. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Dis omdat jy deur so ‘n swaar tyd gaan, Lou. En ja, mens moet liefs nie vir jou in daardie wêreld inlaat nie.

  12. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Soms is dit lekker om alleentyd net vir jouself te hê en laatnag gaan niemand behalwe die spoke jou pla nie!

  13. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Hahaha, dankie Bruggie – die redelike verduideliking! Ek begin sommer weer drie-uur tee drink…

  14. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Gelukkige kleinkind – en geseënde ouma.

  15. frandr het gesê op Desember 21, 2011

    Sien Bruggie se verklaring hieronder, “Niks gin spook” in daai kombuis nie!

  16. Hulle noem my Ghost buster. Plesier, Frannie.

  17. Ek dink toe ons nog wilder was, was ons
    bedraad met n verdedigings verbeelding.
    Eerder bang Jan as dooie Jan.

  18. Als is nie pluis in die donker, donker nag…
    🙂

  19. Daar is 351 woorde in frannie – 51 te veel!

  20. Chirpie het gesê op Desember 23, 2011

    Kry ek so ‘n rilling langs my ruggraat af …..

  21. frandr het gesê op Desember 27, 2011

    Sal weer probeer, Henry

  22. Ek sal uitkyk!

  23. Lekker storie …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.