Van hartseer en verlange

Desember 15, 2011 in Sonder kategorie

Die tyd van vreugde, vrede en welbehae. Maar onderliggend is daar die tjellonote van hartseer en verlange. 

 

Dis die sesde Kersfees wat ek as alleenloper moet deurbring. ‘n Mens sou dink dit raak makliker – maar nee, dit raak al hoe moeiliker!

 

Hoe bitter graag sou ek weer, soos daardie heel eerste vreugdevolle jaar na die geboorte van ons kleinseun, Kersfees in ‘n ongebroke gesinsverband wou vier en sien hoedat Oupa met sy naamgenoot speel. My gewese man is so lief vir kinders – en hulle vir hom.

 

Die vrede van te weet dat, waar ‘n mens ook al mag wees in hierdie tyd, daar gaan jou dierbares ook wees, is nie vanselfsprekend nie! Myne is nou oor die hele aardbol versprei.

 

In niemand se geselskap ervaar ek so ‘n gevoel van welbehae as in dié van my eersgeborene nie, my kosbare dogter wat nou in Pennsylvania woon, gelukkig getroud met ‘n oulike Amerikaner. Sy aanvaar my onvoorwaardelik, met kwinte en al, en haar sagte liefde is ‘n pleistertjie vir enige eina. My nuwe avatar is ‘n verjaarsdagkaartjie van haar af. Ons Skype dikwels, dan sit elkeen maar met haar koppie koffie/tee en hoor hoe dit met die ander een gaan.

 

Vanoggend toe ek werk toe ry, sien ek die verskillende horisonlyne: heel naby dié van die heuweltjie se bome, verder agtertoe ‘n tweede mistige perspektief en nog verder weg die lyn waar lug en aarde bymekaarkom. Dat iets so alomteenwoordig soos die horison my so skrynend na my kind kan laat verlang! Toe sy in graad 7 begin leer van perspektief en ‘n prent met verskillende horisonlyne moes verf, het ek geleer om na iets op te let wat ek nooit vantevore bewustelik raakgesien het nie. Soveel jare later, sien ek nog steeds die lyne raak waarvan ek destyds geleer het en geniet ek die mooiheid daarvan.

 

Ek het twee kleinkatte in Pennsylvania: Diesel en Midnight. Sy wys my ‘n foto waar Midnight se katkop met die twee kenmerkende ore halfpad teen die mooi kersboom op uitsteek. Ek het nou nog nie eens ‘n kersboom nie…  

 

En ek kan nie vanjaar kersliedere by kerslig gaan sing nie, want ek gaan so huil oor my nuut-Nieu Seelandse broer en sy gesin, wat die afgelope drie jaar saam met my gaan sing het, dat ek net die hele atmosfeer sal bederf.

 

As dit met my, wat eintlik glad nie behoort te kla nie want ek is Kersfees by my kinders en kleinkinders in Kaapstad, so bitterlik sleg gaan, hoe moet dit nie gaan met mense wat werklik rede het tot hartseer in hierdie tyd nie?

17 antwoorde op Van hartseer en verlange

  1. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Dit klink vir my na ‘n goeie resep, een wat ek dalk oujaarsaand sal volg :o)

  2. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Een van die bloggers het mos daardie uitstekende raad aangehaal: “Get up, dress up and show up!” Ek daag Kersfees by my Kaapse kinders op – het sommer myself genooi.

  3. Dis hartseer. Ek dink aan jou.

  4. Ek hoop jy geniet die Kersfees met jou nabye kinders, Frann!

    xxx

  5. TS het gesê op Desember 15, 2011

    Gelukkig het jy darem die kinders wat omgee…

  6. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Dankie, Peace, ek waardeer jou empatie

  7. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Darem is die verlange na my dogter ‘n positiewe emosie…

  8. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Ek sal verseker, Lou. Sal Dinsdag spesiaal vir jou ‘n kers brand

  9. frandr het gesê op Desember 15, 2011

    Tina, ek is so dankbaar oor hulle!

  10. Ientjie het gesê op Desember 15, 2011

    Ja, wat sal ek se! Na vyf jaar sonder my kind(gelukkig het ek darem 2 susters waarby ek kon kuier)was my eerste Kersfees in NZ ook n “teleurstelling” want skoonlief wou op stuk by haar ouers gaan Kersfees hou. Geen simpatie met my wat vir eerste keer weer by my kind is nie!.Ek het dit oorleef maar dit is hartseer!

  11. Ientjie het gesê op Desember 15, 2011

    Hoop jou Kersfees is darem doenbaar! Mens maak maar die beste van die saak. Ek het ook vandat ek hier is nie n Kersboom nie. Mis dit nogal,maar die tye verander. Kersfees in die hart is eintlik waaroor dit gaan!

  12. Geniet die Kaapse kuiertjie!

  13. “die tjellonote van hartseer en verlange” – dis so mooi, so hartseer. Mag jy ‘n baie spesiale Kersfees saam met jou kinders in Kaapstad he, Tannie Frann:)

  14. frandr het gesê op Desember 18, 2011

    Hoe oorleef mens dit?? Ek hoop vanjaar se Kersfees is vir jou baie spesiaal

  15. frandr het gesê op Desember 18, 2011

    Ai, Dirkie – ek het eintlik al skaam gekry oor my klaaglied en nou laat jou mooi woorde my beter voel daaroor.

  16. frandr het gesê op Desember 18, 2011

    Dankie Thomas, ek sal beslis. Ek dink julle spyskaart vir ‘n Somerkersfees so met die slaaie is perfek!

  17. frandr het gesê op Desember 18, 2011

    So reis ons kruis en dwars – die binnelanders see toe en die Kapenaars Karoo toe! ‘n Lieflike Kersfees vir jou en jou gesin, ook, Veer

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.