Die tyd van vreugde, vrede en welbehae. Maar onderliggend is daar die tjellonote van hartseer en verlange.
Dis die sesde Kersfees wat ek as alleenloper moet deurbring. ‘n Mens sou dink dit raak makliker – maar nee, dit raak al hoe moeiliker!
Hoe bitter graag sou ek weer, soos daardie heel eerste vreugdevolle jaar na die geboorte van ons kleinseun, Kersfees in ‘n ongebroke gesinsverband wou vier en sien hoedat Oupa met sy naamgenoot speel. My gewese man is so lief vir kinders – en hulle vir hom.
Die vrede van te weet dat, waar ‘n mens ook al mag wees in hierdie tyd, daar gaan jou dierbares ook wees, is nie vanselfsprekend nie! Myne is nou oor die hele aardbol versprei.
In niemand se geselskap ervaar ek so ‘n gevoel van welbehae as in dié van my eersgeborene nie, my kosbare dogter wat nou in Pennsylvania woon, gelukkig getroud met ‘n oulike Amerikaner. Sy aanvaar my onvoorwaardelik, met kwinte en al, en haar sagte liefde is ‘n pleistertjie vir enige eina. My nuwe avatar is ‘n verjaarsdagkaartjie van haar af. Ons Skype dikwels, dan sit elkeen maar met haar koppie koffie/tee en hoor hoe dit met die ander een gaan.
Vanoggend toe ek werk toe ry, sien ek die verskillende horisonlyne: heel naby dié van die heuweltjie se bome, verder agtertoe ‘n tweede mistige perspektief en nog verder weg die lyn waar lug en aarde bymekaarkom. Dat iets so alomteenwoordig soos die horison my so skrynend na my kind kan laat verlang! Toe sy in graad 7 begin leer van perspektief en ‘n prent met verskillende horisonlyne moes verf, het ek geleer om na iets op te let wat ek nooit vantevore bewustelik raakgesien het nie. Soveel jare later, sien ek nog steeds die lyne raak waarvan ek destyds geleer het en geniet ek die mooiheid daarvan.
Ek het twee kleinkatte in Pennsylvania: Diesel en Midnight. Sy wys my ‘n foto waar Midnight se katkop met die twee kenmerkende ore halfpad teen die mooi kersboom op uitsteek. Ek het nou nog nie eens ‘n kersboom nie…
En ek kan nie vanjaar kersliedere by kerslig gaan sing nie, want ek gaan so huil oor my nuut-Nieu Seelandse broer en sy gesin, wat die afgelope drie jaar saam met my gaan sing het, dat ek net die hele atmosfeer sal bederf.
As dit met my, wat eintlik glad nie behoort te kla nie want ek is Kersfees by my kinders en kleinkinders in Kaapstad, so bitterlik sleg gaan, hoe moet dit nie gaan met mense wat werklik rede het tot hartseer in hierdie tyd nie?
Onlangse kommentare