My boetie

November 23, 2011 in Sonder kategorie

My deurmekaar garage lewer nog ‘n vonds: ‘n wit-en-swart kiekie, geneem in die voortuin van my ouerhuis. Plat op ‘n kombers in ‘n speelhok sit my mammie, so jonk! Ek kan nie onthou dat sy sulke lang hare gehad het nie – kyk hoe mooi modieus is haar rok en die ooptoonskoene. Haar lyftaal is volkome toegespits op die mollige babaseuntjie in haar arms. Agter die speelhok staan twee mandjiestoele (dis hoe ons hulle genoem het, ‘rottang’ is ‘n nuwer woord) met ‘n tafeltjie. Daar sit ek, ‘n langbeen-willewragtig, met my wollerige kat Toeksie langs my op die stoel.

 

Ek was sewe en ‘n half toe my boetie gebore is, ‘n bedorwe enigste kind, die appel van my pa se oog. G’n wonder dat ek so jaloers op die nuwe aankomeling was nie. Hy was nog net ‘n kleutertjie toe hy al die integriteit gewys het wat so deel van sy samestelling is: ek skud hom dat sy tande klap, hy val agteroor en sy koppie stamp teen die grond. Huilend vat hy die pad huis toe en laat my angsbevange agter, oortuig dat die geregverdigde woede en teleurstelling van my ouers binnekort oor my gaan spoel. Ek wag…niks gebeur nie. Hy het hulle nie vertel hoe ek hom geboelie het nie!

 

Op drie ry hy op sy driewiel en ek maan hom om nie oor die miere te ry nie. ‘Ag man, los my! Dêmmit, dêmmit, dêmmit…’ trap hy ritmies verder op maat van die kragwoordjie, een van die twee geleenthede wat ek hom ooit hoor swets het. Die ander keer was toe hy en ek die Karoo deur is in my rooi Volkswagenkewer in die dae van petrol- en spoedbeperkings. Ons land by ‘n garage en moet hoor dat hulle tenks leeg is. My broer trek los met ‘n rits vloekwoorde wat my ore laat tuit, ‘n oorblyfsel van sy dienspligdae.

 

Watter lekker vakansie was dit daardie. Ons is Mosselbaai toe, waar ons by pêlle aangesluit het. Oujaarsaand het ons die nuwejaar ingedans en daarna is ons Stormsriviermond toe, waar ons lawwe persona aangeneem en lam van die lag met die bospaadjies langs gestrompel het.

 

Deur die jare het ons albei in een stad gewoon en ek was deeglik bewus daarvan dat dit ‘n voorreg was. Hy het my kinders bederf met besoeke aan die vermaaklikheidsarkade, heerlike kersbome en elaborate kuiers; het tot ingewllig om hanswors te speel by een van sy peetdogter se verjaarsdagpartytjies. Sy twee kinders is amper soos kleinkinders vir my en hulle het dikwels kom kuier. My peetseun het vir my ‘n kaartjie geskryf: ‘Jy maak baie leker pasta en jy is gaaf’.

 

In September bak ek vir oulaas ‘n piesangbrood vir my broerskinders. Vroegoggend lewer ek dit af. Die tweetjies staan daar in die Afrika-son, die boetie helder wakker – hy’s ‘n oggendmens – die jonger sussie nog deur die slaap. Ek het hulle ‘n hele rukkie nie gesien nie, was besig en het ook doelbewus weggebly, sodat dit nie so swaar sal wees sonder hulle nie. Hulle gee my elkeen die gebruiklike drukkie en sê omtrent drie keer dankie vir die ‘good-bye banana bread’. Op kantoor moet ek so elke nou en dan trane afvee…

 

Die volgende dag vertrek die gesin na Nieu-Seeland. Gaan ek ooit weer my peetseun sien? My broer kom terug om sake hier af te handel, maar die kinders en my skoonsus is weg.

 

Ek wou nog gaan koffie drink het saam met my uitlandse skoonsus wat so diep in my hart ingekruip het.  

 

Ek wou nog saam met die gesinnetjie gaan stap het as hulle die hond teen die koppie op laat hardloop.

 

Ek wou nog die kinders saamgeneem het Kinderkerk toe en dan Sondagmiddagete-boerekos vir hulle kook.

 

Ek wou nog langs die swembad sit en kyk hoe lekker hulle swem.

 

 Ek wou nog baie drukkies uitgedeel en gekry het.

 

Ek wou nog…Drie baie droewige woordjies.

 

En nou is daar nog net ‘n week oor voordat ek my boet lughawe toe vat en hy ook die Afrika-stof van sy voete afskud…

 

18 antwoorde op My boetie

  1. Ientjie het gesê op November 23, 2011

    Ja, ek weet hoe dit voel. Was vir amper 5 jaar “kindloos” voordat ek hom weer gesien het en dit met die wete dat dit moontlik vir altyd gaan wees omdat ek nou na hom toe getrek het. Mis die res van die Familie baie met tye maar dis darem baie lekker hier

  2. Gesinne en families raak deesdae so oor die aardbol verstrooid

  3. erikavz het gesê op November 23, 2011

    Weet jy, dit gaan dubbel so swaar vir hulle wees – miskien nie dadelik nie want hulle is nog opgewonde en dit is iets nuuts. Wees verseker jy sal ook heeltyd in hulle gedagtes wees.

  4. Dis so flippen hartseer!

  5. Die ou swart en wit fotos is baie kosbaar.

  6. TS het gesê op November 23, 2011

    Ai … sterkte…

  7. Skrale troos, maar met al die onheile wat hier plaasvind is hulle dalk beter af waar hulle gaan. Maar dit bly moeilik. Sterkte!

  8. frandr het gesê op November 23, 2011

    My broer het homself voorgeneem om niks negatiefs oor SA te se nie – nog ‘n bewys van sy integriteit, nie waar nie? Dankie vir die troos, Thomas – elke bietjie help!

  9. frandr het gesê op November 23, 2011

    Jou blognaam val my elke keer op – ons is mos maar almal Afrikakinders en ja, dis bitter jammer. Ken jy die gedig ‘Homeland’ deur Michelle Frost? Jy kan dit lees by http://www.hhomeland-africansoul.blogspot.com

  10. frandr het gesê op November 23, 2011

    Dankie, Dirkie – dis vir my verstommend hoe dit my help om oor iets te skryf.

  11. frandr het gesê op November 23, 2011

    Jou meelewing help sommer baie, Tina – dankie daarvoor!

  12. frandr het gesê op November 23, 2011

    Ja, hulle is – as mens net nie so woes sleg gelyk het nie :o)

  13. frandr het gesê op November 23, 2011

    Dankie, Lou, jou kommentaar is vir my kosbaar.

  14. frandr het gesê op November 23, 2011

    Jy wys my nou op iets waaraan ek glad nie gedink het nie! Sal dit in ag moet neem en ophou om net myself te bekla.

  15. frandr het gesê op November 23, 2011

    En ek dag dis net ek wat so laat in die nag nog blog ;o)

  16. frandr het gesê op November 23, 2011

    Hallo daar, ek het vinnig gaan lees op jou blog – sjoe, jy is ‘n survivor! Ek’s so bly dit gaan goed met jou.

  17. Eish!

    Niks lekker nie.

    Sterkte!

  18. frandr het gesê op Desember 3, 2011

    Dankie, Henry – ek het my boet toe verlede Woensdag lughawe toe geneem. Gelukkig was hy so laat dat daar geen tyd vir pynlike afskeid was nie – ek het op die aflaaisone stilgehou en hom omtrent uit die kar uit geboender!

Los ’n antwoord vir HeavyHenry. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.