Die autograph-albumpie
Oktober 29, 2011 in Sonder kategorie
Vanoggend vroetel ek vir die soveelste maal in my oorvol garage tussen die bokse boeke en rommel en kom op ‘n klein boekietjie af. Kleiner as my handpalm, die omslaggie van gestoffeerde slangvel, die kante van die blaaitjies verguld. Dit moes baie mooi gewees het toe die boekie nog jonk was – nou is dit verbleik, gevlek, verniel…
Die inskrywings is in 1930 en 1931 gemaak; daar is nie ‘n enkele Afrikaanse een nie, selfs my mammie se boodskappie is in Engels. Die boekie het aan haar suster behoort – my kosbare tannie, my peetma wat haar lewe lank my beskermengel was.
Daar is liriese opdragte:
May all shade your path o’ercasting
Just so long stay and no longer
As the mists of morning, lasting
Only till the sun grows stronger
Die siniese:
Love all
Trust a few
Always paddle your own canoe
‘n Merkwaardig romantiese inskrywing:
Sei immer wie eine Blume,
So hold und schön und rein (van Piet)
So many gods
So many breeds
So many paths that wind and wind
But just the art of being kind
Is all this sad world needs
Die prosaïese:
All good wishes for a happy birthday
Die bladsytjie waarop my mammie geskryf het, is pragtig omraam met pentekeninge van voëltjies en blomme:
When you are old the birds will still come singing
At dusk and dawn about the windowsill
And all the flowers of Summer will be springing
Dit was waar van my tannie, maar nie tot aan die einde van haar lewe nie.
Haar laaste jare is in verwildering deurgebring, vasgekluister aan ‘n bed, haar mooi blou oë die ene verwyt, haar swye onversetlik en verlate. Sy, wat sovele oumense versorg en enduit begelei het (haar pa, haar ma, haar oom, haar tante) moes dit beleef dat haar peetdogter haar slegs af en toe in die ouetehuis kom besoek het. Watter bittere berou het ek nie vandag daaroor nie, noudat ek self die kilte van die ouderdom begin voel…
Onlangse kommentare