My familiar

Augustus 26, 2011 in Sonder kategorie

Volgens my (ou) woordeboek is die Afrikaans “boesemvriend” – nie heeltemal dieselfde konnotasie nie… My familiar is my kat, Skoonlief. Sy het by my aangekom toe my dogter ‘n koerantadvertensie opgevolg het, want sy wou nog ‘n kat hê. Toe kry sy sommer twee: Gabriël, so genoem omdat hy ‘n ou engel was, en Skoonlief, wat sy amptelik aan my oorhandig het as my eie kat.

 

Ek wens dikwels ek kon die vorige eienares van die twee katte vertel dat hulle ‘n baie goeie huis gekry het en hoeveel vreugde hulle ons al gegee het. Haar broer het die advertensie geplaas en die twee opgeskote katte weggegee terwyl sy weg van die huis af was. Hoe hartseer moes sy nie gewees het toe sy terugkom nie!

  

Toe ek die katjie sien, het die woord “beauty” by my opgekom – vandaar haar naam. Sy is ‘n pragtige dier, ‘n strepieskat met lang wolletjies wat in swierige krulletjies by haar ore uitsteek en soos ‘n stukkie Franse onderklere haar agterpote versier. Haar stert is ‘n sierlike pluim, haar oë groot en glansend, groen rondom die pupille en verder amper goud. Sy het ‘n somers- en ‘n wintersuitrusting: in die winter word haar pels langer en kry sy ‘n dik kraag. 

 

Skoonlief is ‘n flerrie. Nou nog, verby haar middeljare en lankal “reggemaak”, kom die buurt se katte in die lente kuier. Dan is sy kammakastig hoogs ontsteld, maar sy flous my nie – ek sien haar gevleide tevredenheid raak. 

 

Sy was ‘n wonderlike mamma. Toe ons derde kat, skoon verbouereerd oor wat met haar gebeur het, deur die venster koersvat en haar vier pasgebore babatjies net daar agterlaat, het Skoonlief oorgeneem. Sy het haar eie nuwe kroos vireers in hulle nessie gelos en die nuwe babas gaan skoonlek en deur die nag warm gehou, totdat hulle eie ma die volgende oggend skaam-skaam teruggesluip en self vir hulle begin sorg het. (Ja, ek weet dit was ‘n bevolkingsontploffing, maar ons kon op daardie stadium beswaarlik die katkos bekostig, laat staan nog ‘n veearts!) 

 

 Laterjare was Skoonlief my behoud. Klokslag drieuur elke nag, wanneer ek wakker word en huil, het sy my kom troos, eers stip en naby na my gekyk en dan teen my opgekrul en gespin. Sy is inderdaad my troetel-dier, wat my help om my velhonger te besweer.

Naomi Maartens skryf dat die Skepper vir ons ‘n stukkie van die Paradys behoue laat bly het in die gedaante van ons troeteldiere. Dis so waar.

5 antwoorde op My familiar

  1. Ek het lekker gelees, Frannie.

  2. Ientjie het gesê op Augustus 26, 2011

    Pragtig man! Ek het self so n jaar terug besluit om tog maar weer n hond te kry nadat ek vir bykans 2 jaar sonder was. Trompie is sy naam en hy doen sy naam gestand. Ek is soooooo lief vir hom en hy ook onvoorwaardelik vir my. Mens moet maar n dier he om te versorg en te troetel.

  3. Neander het gesê op Augustus 26, 2011

    Goeie stuk, jy klink soos ‘n ou blogger.

  4. Mrrrks!

  5. Wat is die lewe dan nou sonder ‘n ou diertjie. My honde is deesdae baie erg oor my – manlief travel baie- dat hulle nou knorrig raak as iemand naby my kom.

Los ’n antwoord vir HeavyHenry. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.