My eerste blog
Augustus 22, 2011 in Sonder kategorie
By my werk is daar ‘n dierbare man wat altyd die ekstra myl vir ons almal loop wanner dit by rekenaarsteun kom. Ek en hy was al in stresvolle situasies, toe ek amper van my verstand af was, maar sy rustige beheersdheid my van totale wanhoop gered het.
Hy noem my “Tannie Frannie” (die frannie rym met tannie) en alhoewel ek die eerste keer skuins opgekyk het, het ek mettertyd gewoond geraak aan wat ek nou as ‘n spesiale naampie beskou, ten spyte van die ouderdomskonnotasie wat daar iewers op die loer lê.
Hierdie blog moet my terapie teen oudword wees en daarom kies ek dié skuilnaam, wat ‘n belangrike aanvaardingsoomblik in my reis na die ewigheid verteenwoordig.
Ja, die koerante sal my as “bejaarde” beskryf. My kollegas kyk met deernis na my en stuur vir my soetsappige e-posse oor die ouderdom; die petroljoggies noem my “magogo” en die karwag “maaa-mieeee”. Dis nie meer ooit vir my lekker om myself in die spieël te sien nie, om nie te praat van foto’s nie! Die afgelope weke is my nek snaaks stram, ek wonder hoe lyk dit as ek in die spitsverkeer moet rondskuif om te kan sien wat de heng van die kant af op pad is…
Tog krimp ek steeds innerlik ineen as ‘n volwassene vir my “tannie” se. Toe ons nuwe predikant van die platteland af my tydgenote se voorname met “tannie” inlui, suiwer uit liefdevolle respek, het ek my begin klaarmaak om hewig te protesteer. Groot was my verligting toe ek die afsnypunt ontglip en net op die naam genoem word! Nou, twee jaar later, sou ek seer sekerlik “tannie” wees. Sou ek nog beswaar aanteken? Iewers moet mens mos maar bes gee…
Nee – nooit nie! Liewe mede-bloggers, die mens binne daardie verouderende liggaam is nog steeds dieselfde karakter wat sy altyd was. Om Bart Nel vryelik aan te haal: “En ek is nog sy!”
bonty het gesê op Augustus 22, 2011
Aanvaarding van die onvermydelike… hehehe! Welkom hier Frannie
frandr het gesê op Augustus 22, 2011
wow, baie dankie vir die verwelkoming, dis nou ‘n lekker verrassing!
Trakie het gesê op Augustus 22, 2011
Jip, welkom hier.
daancoetzee het gesê op Augustus 23, 2011
Van my kant af ook, ´n hartlike welkom.
loudavisi het gesê op Augustus 23, 2011
frann, Basta met tannie!
op my dorpie is daar ‘n tannie wat vir my tannie sê – not nice..:D
Baie welkom en geniet die verblyf.
TS het gesê op Augustus 23, 2011
welkom Fran Jy gaan sien dis lekker hier
DieApieInMyKop het gesê op Augustus 23, 2011
Hallo Frann, en soos ek vir diegene wat vir my se “tannie”, tannie se moer!
mandiebas het gesê op Augustus 23, 2011
Ons word almal tannies- not nice – en die kleintjies noem jou ouma – nog minder nice. Ek help nog gereeld reg. Dis nogal lekker om Mevrou genoem te word. Klink so bietjie grênderig.
Modigliani het gesê op Augustus 23, 2011
Welkom hier Fran!
frikve het gesê op Augustus 23, 2011
Hi Frann, Welkom tussen al die bloggers. Onthou net – hier sê ouens net wat hulle wil want hulle mag maar. Dis verseker ‘n plek om jou jonk en aan die gang te hou. Hier’s baie leersame stukke vanaf sekere bloggers om nie van heerlike humor by andere te praat nie.
Ek gee ook nie meer om as jong meisies vir my sê “oom” nie. Ek hou egter nie daarvan as hulle sê “nee oom!” nie. Wat my ‘n helse pyn gee is as jong swart outjies vir my sê “oupa” – en ek kan daar f–ol aan doen want hulle bedoel dit eintlik baie respekvol – maar dêmit!
frandr het gesê op Augustus 23, 2011
Ag baie dankie, julle almal, vir die vriendelike verwelkoming. Ek lees al ‘n rukkie aan Litnet se blogs, maar kon nie self gesels voordat ek Internet by die huis gekry het nie. Ons IT-manne is kwaai!
HeavyHenry het gesê op Augustus 24, 2011
Nice!
Welkom hier, Tannie Frannie!
🙂
rosiemetdorings het gesê op Augustus 24, 2011
welkom van tannie tot tannie
frandr het gesê op Augustus 24, 2011
Dankie, Henry, dis rerig vir my ‘n groot avontuur!
frandr het gesê op Augustus 24, 2011
Baie dankie, Roosdoring, vir die welkomswoord
HeavyHenry het gesê op Augustus 25, 2011
🙂
abrham het gesê op November 9, 2011
die weg van alle vlees