You are browsing the archive for US Woordfees.

Verskrikking van liefde vuur Tara se passie

March 5, 2014 in Sonder kategorie

 

Stephanie Nieuwoudt

Die verskrikking. Die verrukking. Die liefde.

As jy al ooit deur die liefde vernietig is, dan kan jy nie bekostig om die drama Nagwond mis te loop nie.

“Daar sal ongetwyfel iets wees waarmee jy kan identifiseer. Andersins kom drink na die vertoning ʼn dop saam met my want ek het raad oor die liefde nodig.”

Die dramaturg, regisseur en vervaardiger, Tara Notcutt. Foto: Ben Isaacs

Die dramaturg, regisseur en vervaardiger, Tara Notcutt. Foto: Ben Isaacs

Aan die woord is Tara Notcutt, regisseur van Nagwond, ʼn produksie oor, nou ja, die liefde en drie mense wat in ʼn “donker en stormagtige liefdesdriehoek vasgevang is.

“Die stuk is deur Albert Pretorius geskryf. Dis ʼn manjifieke teks en ʼn rou, eerlike blik op die liefde in al die opgef..te glorie daarvan. Gideon Lombard, Cintaine Schutte en Albert speel hierin en hul spel is ongelooflik,” sê Notcutt.

Pretorius is trouens ook genomineer vir ʼn Fiësta as beste akteur.

Notcutt is lid van ʼn groep jong teaterskeppers (Pretorius, De Klerk Oelofse, Hannah Borthwick, Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius, Roelof Storm, Cintaine Schutte) in hul laat twintiger/vroeë dertigerjare wie se voetspore reeds oral in die bedryf agtergelaat is. Hetsy as dramaturge, akteurs, skrywers of vertalers.

Verlede jaar is Notcutt se Woordfeesproduksie Three little pigs (waarvan sy regisseur en skrywer was) aangewys as die beste op dié fees. Die produksie is ook pas genomineer vir ʼn Fleur du Cap-toekenning.

Voorts is sy deur die Mail & Guardian aangewys as een van die land se 200 top jongmense om dop te hou en het sy ook in 2010 al die Rosalie van der Gucht-toekenning vir beste regisseur ontvang. Haar ander produksies Mafeking Road en Miskien waarvan sy die skrywer/mede-skrywer was, het ook lof gekry. En sy is maar net 27 jaar oud.

Sy lag. “Natuurlik is al die lof intimiderend. Ek het egter geleer om dié pretrit te omhels en om nie oorweldig te raak daardeur nie. Ek gebruik dit eerder as aansporing om beter te word, vinniger te leer en om elke oomblik te geniet.

“Ek glo my pynlike skaamheid help om my geanker te hou. Maar, op ʼn ernstiger noot, ek besef dat ek tot dusver nog baie gelukkig was en ʼn mens is net so goed as wat jou laaste produksie was. Ek hoop ek kan aanhou om werk te doen oor dinge waaroor ek sterk voel en saam met mense vir wie ek lief is.”

Notcutt is ook die stigter van The Pink Couch, ʼn kollektief van “eendersdenkende mense wat daarvan hou om saam te werk aan die gesamentlike doelwit om teater te skep wat ons graag self wil sien”.

Nagwond

Nagwond

Die naam kom van ʼn skelpienk Queen Anne rusbank wat sy in ʼn meubelwinkel gesien het toe sy 12 jaar oud was.

“Ek het toé besluit ek wil eendag ʼn teater open en dit The Pink Couch noem. Wel, my pa het eerste ʼn teater begin en omdat ek hom nie wou na-aap nie, het ek besluit om ʼn maatskappy met die naam te begin.”

Waarom dink sy daar is nou soveel jong opkomende sterre in die bedryf?

“Dis asof daar ʼn gedwongendheid onder mense is om die stories te vertel wat in hul koppe en harte is. Dit kan nie tot later wag nie. Ek dink ook mense begin op ʼn al jonger ouderdom besef hoe belangrik dit is om vir jouself te werk. Beeldskone verhale word verhoog toe gebring – en dit is ʼn besonderse ding om van deel te wees.”

Waarmee hou sy haar nog besig?

“Ek het ʼn teaterstuk, between you and me geskryf oor al my gunsteling dinge: ʼn lieflike man, ʼn lieflike meisie, bietjie Afrikaans, bietjie Engels en ʼn verskriklike lang tafel. En ek is nou besig met Last Rounds ʼn stuk vir Cintaine Schutte oor my ander gunsteling dinge: ʼn meisie, ʼn gebroke hart, goeie musiek en baie whiskey.” Sy glo teater het verskeie rolle.

“Teater kan enigiets doen. Dit kan genesend wees, volwasse mans tot trane dryf, dit kan ontstel en vermaak. Die belangrikste egter is dat dit mense moet raak – hetsy dit hulle vul met vreugde, hulle ontstel of hulle skok.”

  • Kom kyk by die US Woordfees watter uitwerking het Nagwond op jou. Die produksie is dir keer by die fees te sien. Op  7 Maart (20:30), 9 Maart (20:30) en13 Maart om 14:30 in die Radio Helderberg Klein Libertasteater.

 

 

 

 

Kulkunstenaars laat onmoontlike waar word

March 4, 2014 in Sonder kategorie

 

Sommige kinders wil dokters word wanneer hulle groot is. Ander wil brandweermanne word. En in die meeste gevalle word hulle iets heeltemal anders.

Jacques le Sueur en Alexander May het egter altyd geweet hulle wil gehore betower en bekoor met kulkuns. Hulle is al jare lank van die land se voorste “tower”kunstenaars en op Saterdag 8 Maart is hulle by die US Woordfees (20:30 PJ Olivier-kunssentrum) met hul vertoning Abra!

May sê hy het grootgeword in ʼn familie met kulkunstenaars. “Twee van my neefs het ook hierin belanggestel en ons het altyd saam geoefen. Ons het by tehuise vir bejaardes opgetree en dit was altyd pret om te sien hoeveel genot die gehore uit ons optredes put.”

Die kulkunstenaar Alexander

Die kulkunstenaar Alexander May

Ook Le Sueur oefen sy beroep al van kindsbeen af.

“Ek het na skool onmiddellik voltyds begin met my loopbaan. Ek ken geen ander lewe nie. Alle goeie dinge wat al met my gebeur het, is danksy my beroep.”

Le Sueur het selfs al ʼn keer Madiba se horlosie gesteel – en dit darem weer terugbesorg.

“Ek het aan die begin van my loopbaan by ʼn restaurant in Kaapstad voor hom opgetree toe hy nog die president was, en sy horlosie laat verdwyn. Hy was wonderlik. Vir my was dit ʼn besonderse prestasie dat die presidensiële wagte ook niks agtergekom het nie.”

May sê daar was nie juis ander kulkunstenaars in die Oos-Kaap waar hy grootgeword het nie.

“Maar bekendes soos Martino was altyd net ʼn oproep ver. Hy was altyd bereid om raad te gee.”

Martino, wat in 2011 dood is, was waarskynlik Suid-Afrika se bekendste kulkunstenaar. Hy het ook die frase: “Kul jou hier, kul jou daar en siedaar!” bekend gemaak. Vanjaar se Woordfees-slagspreuk: “Kuns hier, kultuur daar. Siedaar 15 jaar” is van die Martino frase afgelei.

Onverwagse oomblikke is daar ook gereeld. Soos die keer toe Le Sueur ʼn ring uit ʼn man se oor gehaal het. Die man wou die toertjie herhaal, maar toe sluk hy sy eie ring in.

Glo gehore werklik nog in towerkuns, of weet hulle dit is oëverblindery?

“Opgevoede mense weet wat hulle sien is ʼn truuk. Maar hulle weet ook hulle moet hul wantroue tydelik opskort vir die ‘toorkunsie’ om te werk. Die meeste mense wat ek in my wêreldwye reise ontmoet het, glo in ʼn vorm van toorkuns. Vir my bevat alles om my, van die gelag van ʼn kind tot die manier waarop ʼn voël vlieg en die manier waarop ons per e-pos kan kommunikeer, ʼn mate van towery.”

May glo die kulkunstenaar herinner sy gehoor daaraan dat daar altyd ʼn manier is om die skynbaar onmoontlike reg te kry – ook in die lewe daarbuite.

“Daar is ook die illusie dat die natuurwette onder die kulkunstenaar se beheer is. Dalk het die gehoor ʼn fassinasie met daardie mag. Wat sal jý alles kon doen met daardie mag wat die kulkunstenaar skynbaar het?”

Jacques le Sueur reis die wêreld vol om kulkunsvertonings aan te bied. Hier is hy saam met 'n paar Masai in Tanzanië.

Jacques le Sueur reis die wêreld vol om kulkunsvertonings aan te bied. Hier is hy saam met ‘n paar Masai in Tanzanië.

  •  Abra! – die kulkunstenaars Jacques le Sueur en Alexander May is Saterdag 8 Maart om 20:30 by diePJ Olivier-kunssentrum in aksie as deel van die US Woordfeesprogram.

 

 

Richard vd Westhuizen se trein stoom voort

March 1, 2014 in Sonder kategorie

Die sanger, liedjieskrywer en akteur, Richard van der Westhuizen is vanjaar by twee geleenthede by die Woordfees te sien. Stephanie Nieuwoudt het met hom gesels.

Richar van der Westhuizen

Richard van der Westhuizen

 

Hy gaan ‘n klomp nuwe liedjies sing.  En n paar oues. En natuurlik die immergewilde Tussen treine.

“Mense assosieer die liedjie met my, maar ek het ook al baie ander liedjies geskryf,” spot Richard van der Westhuizen wat veral in die 1990’s saam met Lochner de Kock deur die land getoer het en oral bekendheid vir Tussen treine verwerf het..

“Ek is dankbaar vir die liedjie, want ek glo dit het my  gevestig. Selfs jongmense – wat destyds nog nie eens gebore was nie – ken die lirieke en sing saam wanneer ek optree. Toe ons destyds begin toer het, was ek en Lochie jonk. En, ek glo, dalk nie te lelik nie. Ons was nuut en vars en ek dink dit het gehelp om ons te vestig.”

Die liedjie sal deel wees van sy vertoning Die towertrein toer voort by De Vette Mossel op 8 Maart om 18:00. Hy tree ook op 7 Maart (18:00) by ʼn piekniekkonsert, Wellingtonse suiker by Neethlingshof op saam met Gerhard Steyn en die Wellington Jeugorkes.

Akteur (verhoog, rolprente en televisie – hy is onder meer in Binneland te sien as die verpleegster Pippa se pa), sanger. Hy het ook gewerk aan die reeks Vlug na Egipte en die opvolg Terug na Egipte wat later vanjaar op die kleinskerm sal wees. Die onvermydelike vraag is waar voel hy hom meer tuis?

“Ek het oor die jare sekere talente ontwikkel en ek kry dit reg om danksy sang, toneelspel en liedjieskryf ʼn bestaan te maak. Wanneer ek die dag ʼn akteursrol op TV kry, moet ek seker maak ek is betyds op die stel, dat ek my woorde ken. Vir verhoogwerk moet jy ook woorde ken en betyds wees en seker maak geen druppel drank gaan oor jou lippe voordat jy op die verhoog verskyn nie. Die verhoog is harde werk, maar ook uiters bevredigend. Die negatiewe ding is dat ʼn mens min geld kry vir verhoogwerk. Wanneer ek ʼn rol vertolk, is dit nie ek op die verhoog nie, maar die bepaalde karakter.

“Daarom verkies ek om te sing. Dit is ek op die verhoog met iets wat ek self geskep het. Daar is ʼn onmiddellike wisselwerking tussen my en die gehoor.”

Hy dig ook soms.

“Maar ek gaan myself gewis nie ʼn digter noem nie. Dit klink te slim.”

Een van sy gedigte is wel op die omslag van sy CD Songs uit my binnesak.

“Dis ʼn gedig oor my pa wat ek na ʼn besoek aan Namakwaland geskryf het, maar dit het nie eers ʼn titel nie.”

Reise na sy grootwordwereld, Namakwaland, is altyd vir hom ʼn vreugde. En hier vind hy rustigheid in die landskap en die klippe.

“Toe my twee broers in 2003 kort na mekaar dood is, het ek Namakwaland toe gevlug om dit te verwerk. Ek het na ʼn groep boulders gaan soek wat soos klokke lui as jy daarteen kap. Ek het nie geweet waar presies die rotse is nie, maar het net ʼn rigting ingeslaan en onverwags daarby uitgekom. Die klippe het my rustig gemaak.”

Hy tel oral klippe op en uiteindelik vind dit iewers in en om sy huis in Johannesburg staanplek. Hy werk so tussen die klippe op sy lessenaar.

“Ek kyk elke dag na my klippe want dit is vir my besonders mooi. Die idee dat hulle derduisende jare oud is, is vir my oorweldigend.”

Maar vreemd genoeg het hy nog nooit oor klippe gesing nie. Aanhangers kan egter uitsien na ʼn nuwe CD wat dalk later vanjaar sal verskyn.

“Ek sit met ʼn klomp nuwe liedjies. Maar om hulle op te neem is ʼn lang proses want ek neem met sorg op.”

Die gesprek draal by die benarde finansiële situasie van sommige ouer (en selfs jonger) Suid-Afrikaanse kunstenaars. In Januarie is die kunsgemeenskap geskok deur die selfdood van Nico Liebenberg weens kommer oor ʼn gebrek aan geld.

“Hoe ouer jy word, hoe meer neem jou waarde as kunstenaar af. Daar is deurentyd nuwe, jonger sangers en akteurs. Jy moet dus sorg dat jy steeds goeie waarde vir geld bied.”

“Ongelukkig is daar vele kunstenaars wat nie voorsiening maak vir die toekoms nie. Daar is egter deur die Teaterbystandsfonds hulp vir kunstenaars wat sukkel. Talle weet steeds nie van die fonds nie.”

En hulle ly in stilte.

  • Richard is by die US Woordfees in die volgende produksies te sien:

–          Die towertrein toer voort: De Vette Mossel: 8 Maart om 18:00.

–          Wellingtonse suiker: Piekniekkonsert, Neethlingshof: 7 Maart om 18:00. Saam met Gerhard Steyn en die Wellington Jeugorkes.

  • Die Teaterbystandsfonds is afhanklik van vrywillige skenkings. Betalings kan gemaak word aan die Theatre Benevolent Fund, Eerste Nasionale Bank: 6202 439 8671. Tak: Carlswald, Bankkode: 250 117.

Vrolike skilderye verhul dieper emosie

February 26, 2014 in Sonder kategorie

Dis ʼn vrolike plakkaat waarmee die US Woordfees vanjaar bemark word. Dit beeld ‘n deel van ʼn gesig en ʼn magiese hoed waaruit ʼn wolkie bestaande uit vreemde dinge teen ʼn geeloranje agtergrond ontplof.

Die gesig met sy  herkenbare trekke van die kunstenaar Diek Grobler wat verantwoordelik was vir die kunswerk, is deels kulkunstenaar. Maar dis nie net ʼn vrolike prentjie nie, sien jy as jy lank genoeg kyk. Aan die een hand is ʼn handskoen met ʼn druppel bloed waar ʼn roos se dorings skade aangerig het.

Die kunswerk simboliseer die letterkunde en dramas wat op die verhoog opgevoer word. Daar word met woorde getoor en die woorde beskik oor die vermoë om die leser of toeskouer te roer en te ontroer. Om onverwags met verskillende emosies – soms pynlik – gekonfronteer te word. Die plakkaat, is soos vele van Diek se ander werk, bedrieglik eenvoudig. Vanjaar kan Woordfeesgangers van sy werk in die PJ Olivier-museum sien.

Die US Woorfees-plakkaat

Die US Woordfees-plakkaat

Stephanie Nieuwoudt het Diek uitgevra oor sy uitstalling by die Woordfees en sy werk in die algemeen.

Jy stal jou werke by die Woordfees uit, maar verkoop hulle ook per veiling op Facebook. Vertel meer hieroor asb.

Ek word vanjaar 50 jaar oud en my uitstalling by die Woordfees is deel van ʼn jaarlange projek getiteld “Vyftig jaar later. Vir elke dag van hierdie kalenderjaar skep ek ʼn A4-grootte skildery wat ek elke dag op Facebook plaas.  Dit is dus as’t ware ʼn dagboek van my kreatiewe proses.  Die werke word weekliks opgeveil en word op die manier ook ʼn ondersoek na die kunsmark en die soort werke wat mense se verbeelding aangryp.

Ek behou egter die reg voor om werke terug te hou wat nie ʼn bevredigende prys behaal nie. Die word dan weer te koop aangebied wanneer ek die werk uitstal. By die Woordfees sal ook werke te koop wees wat geïnspireer is deur van die idees waarmee ek elke ag woeker.

Die Facebook-veilings is vir my nogal iets nuuts. Jy het egter al so twee jaar gelede begin om jou werk so te verkoop. Waarom? En hoe doeltreffend is dit?

Ek het dit al drie keer vantevore gedoen – elke keer wanneer ek in Gent, België was. Ek het dit toe eerstens ter wille van oorlewing gedoen. Om vir drie maande in ʼn Europese land te woon is ʼn duur besigheid, en as kunstenaar neem die ‘return on investment’ maar lank om werklikheid te word. Mense wat aan so ʼn veiling deelneem geniet dit om deel te wees van die gebeurtenis. Hulle kry deur die kunswerke ʼn blik op wat ek daagliks in België ervaar. Vir my doeleindes was die vorige veilings dus geslaagd. Die huidige, jaarlange projek is om geld in te samel sodat ek aanstaande jaar kan deelneem aan ʼn groepuitstalling by die Venesiese Biënnale. Ek sal dit nie vir ander kunstenaars aanbeveel nie want as ons almal ons werk opveil, gaan dit momentum verloor.

Dink jy kunstenaars sal hul werk toenemend via sosiale media verkoop?

Nee. Kunskopers wil graag kunswerke in lewende lywe sien, veral duurder werk.  Die werk wat ek op Facebook plaas is klein en bekostigbaar en die mense wat daar bie ken meestal reeds my werk.

Diek Grobler se selfportret

Links is 'n selfportret van Diek Grobler en regs is 'n skets Birdboy.

Heel bo is ‘n selfportret van Diek Grobler en hierbo is ‘n skets getiteld Birdboy.

Jy is ook ʼn animasiekunstenaar. Waarom werk jy in die medium?

Animasie is duur en tydrowend, so mens doen dit eintlik maar vir jouself. Weens die koste word animasie in Suid-Afrika maar meestal vir die advertensiebedryf gedoen. Animasiekunstenaars kan nie werklik bekostig om op die manier kuns te skep nie. Wanneer ek dit kan bekostig maak ek kortfilms en nou en dan doen ek ook animasiewerk vir teaterproduksies. Vanjaar werk ek aan die musiekproduksie Twee Halfronde by die Woordfees (13 Maart, 13:00 Endlersaal). Ek werk ook saam met die sanger Jak de Priester aan ʼn DVD vir kinders.

Ek het nog altyd ʼn passie vir animasie gehad en het myself geleer om dit te doen. Ek is deur die jare al hoe meer deur die Europese animasiekunstenaars beïndruk. In Europa is animasie eerstens ʼn kunsvorm en nie net kommersiële vermaak nie. Animasie is vir my die ultimate kunsvorm omdat al die ander kunste daarby betrek kan word: poësie, letterkunde, musiek, drama, filmkunde, beeldende kunste. Animasie word geskep deur een raampie op n keer  te skep en wanneer die kunswerk beweeg, is dit magies.

 

Jy het die animasie vir Ronelda Kamfer se hartroerende gedig Klein Cardo gedoen. Hoe het dit gebeur dat die bepaalde gedig by jou beland het?

Die gedig is deur die ATKV voorgeskryf en dit was ʼn opdragwerk vir die Woordveertjies in 2012.  Soos die noodlot dit wou hê het ek dit onder uiters moeilike fisiese én emosionele toestande gedoen, wat resoneer met die inhoud van die gedig.  Dit is steeds vir my moeilik om self na die filmpie te kyk.

Kyk hier na Klein Cardo

(Die filmpie is in memoriam van Griet en Catherina Grobler wat in 2012 in ʼn motorongeluk dood is. Griet en Catherina was die vrou en dogter van Piet Grobler, Diek se broer wat as illustreerder bekend is)

.

 

 

 

Dramaturg diep geraak deur Bram Fischer se integriteit

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Woordfees Stellebos 2013

Bram Fischer, regsgeleerde en Afrikaanse Kommunis, wat Nelson Mandela se lewe gered het, maar self uiteindelik in die tronk dood is, se lewe word belig in die produkise Die Bram Fischer Wals wat by die US Woordfees te sien is. Die dramaturg Harry Kalmer antwoord ‘n paar vrae oor die produksie.

Stephanie Nieuwoudt: Waarom het jy die Bram Fischer-stuk aangepak

Harry Kalmer: Seker maar in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ‘n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ‘n wenner.
SN: Identifiseer jy enigsins met Fischer?

HK: Nee. Ek bewonder hom eerder. Hy verteenwoordig ‘n ander tyd, met ander waardes. ‘n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die “ooms” waarmee ons groot geword het. Miskien net ‘n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het.
SN: Jy is skrywer en regisseur van die stuk – kom jy agter jy verander die teks soos wat jy regisseur speel?

HK: Nie te veel nie. Ons het ‘n paar veranderinge gemaak maar dit was nie lukraak nie. Meestal was dit waar te veel feite die storie se pas beïnvloed het of waar ons besef het dit was onnodig. Nou dat ek vertaal in Engels is daar ook weer ander veranderings wat intree.

SN: Waarom het jy die bepaalde akteur vir die stuk gekies?

HK: Ek het David een aand in (die nou gestorwe) Boekehuis in Melville gesien en besef hy trek nogal op Bram. Ons het al voorheen saamgewerk. Hy is wyd belese en het ‘n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ‘n tegniese register en ‘n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander.

Hy het die rol aanvaar nog voordat ‘n woord geskryf of ‘n pennie in die bank was.

SN: Klank en stemwerk van Amanda Strydom is in die stuk ingewerk. Vertel meer hiervan?

HK: Daar is twee a-capella opnames van Amanda – “Boereplaas” en “The Red Flag” wat amper ‘n soort leitmotiv in die stuk vorm. Dit verteenwoordig Bram die Marxis asook Bram die Boereseun. Die stemme word spaarsamig maar funksioneel gebruik.

SN: Waarom is Fischer vandag nog relevant vir Suid-Afrikaanse gehore?

HK: Ek weet nie of hy nog regtig is nie. Sy storie is wel – dis ‘n mooi liefdesverhaal en die storie van ‘n man wat bereid was om die ongewilde dinge te sê wat niemand wou hoor nie. Dis iemand wat bereid was om vir sy ideale te sterf. Dis regtig outyds, nie waar nie?

En dan is daar sy lang besinning oor hoe die Afrikaner in ‘n demokratiese land sal inpas (of nie). Hopelik wys die stuk dat een mens tog ‘n verskil kan maak. Gehore moet egter maar self besluit watter verskil Bram Fischer werklik gemaak het. Die stuk roer mense egter eerder op ‘n emosionele as op ‘n politieke vlak.

Anton Goosen en Valiant oor die kuns van liedjieskryf

February 28, 2013 in Sonder kategorie

 

 

 

Die Liedjieboer Anton Goosen sou wou comics teken. Maar hy kan nie. Nou skryf hy liedjies. En bied liedjieskryfskole aan soos vanjaar saam met Valiant Swart by die US Woordfees. Maar kan hulle mense regtig leer om te skryf?

Stephanie Nieuwoudt: Kan n mens werklik vir iemand leer om liedjies te skryf? Of is dit ‘n gawe waarmee mens gebore moet word?

Anton Goosen: Ek dink nie regtig ‘n mens kan nie – dis ‘n aanvoeling wat jy het of nie het nie maar ek kan verkeerd wees. Ek self sou so graag wou cartoons teken – met iets soos Asterix vorendag kom – maar ek kan nie en al die lesse in die lewe gaan dit nie verander nie. By die slypskool sal ons seker maar na die deelnemers se werk kyk en sien watter voorstelle daar te make is.

Valiant Swart: Dit help sekerlik om ‘n soort natuurlike aanvoeling vir musiek en woordkuns te hê, maar ‘n beduidende deel van die werk bestaan uit aangeleerde vaardighede. Hoe meer jy skryf en komponeer, hoe meer leer jy om die ‘geheimenisse’ raak te sien en te ontsluit. Deur ‘n slypskoolganger te wys op byvoorbeeld ‘n moontlike lirikale progressie wat hy/sy misgekyk het, en hoe dit die musiek ‘n treffende wending kan laat inneem, help om hul vaardighede te skaaf en lei hopelik tot ongebreidelde inspirasie.

SN: Wat beteken liedjieskryf vir jou – is dit die liriek of die musiek of n kombinasie daarvan?

AG: Dit is gewoonlik holisties/tematies. Ekself skryf nooit die lirieke eerste nie. Dis gewoonlik eers die tema insluitend die catchline, en van daar bietjie skryf, rustyd, hersiening ens.

VS: Dit werk basies op drie maniere – al drie ewe onvoorspelbaar en uitdagend. Soms het jy ‘n (volledige) liriek geskryf wat jy dan oordeelkundig moet toonset; ander kere het jy ‘n (volledige) stuk musiek waarvoor jy ‘n bypassende liriek (‘boodskap’ of ‘storie’) moet skryf. Die ontwykendste maar ook die lekkerste is wanneer die musiek en liriek gelyk ‘gebeur’ – onverklaarbaar en absolute magic.

SN: Wat is die elemente wat nodig is om van n liedjie n geslaagde lied te maak?

AG: Daar is nie neergelegde reëls wat bepaal wat goed is en wat nie. Dis ‘n subjektiewe ervaring vir die luisteraar/s. Daar is riglyne, maar ek dink dat as n song die luisteraar se aandag boei dan werk dit reeds in daardie opsig. Dis baie onderhewig aan smaak en smaakverskile ook in verskillende genres. Skipskop en Toeter op my waterskoeter het beide sukses behaal, maar in verskillende hoedanighede en genres. Daar is ook die toets van tyd wat seker die heel beste rigtingwyser is vir die geslaagdheid al dan nie van die song. Terselfdertyd is daar songs wat tydgebonde is en korter leeftye het – byvoorbeeld iets oor ‘n bepaalde gebeure. Die liedjie verdwyn gewoonlik vinnig van die radar af, maar dit beteken nie die song is noodwendig onsuksesvol nie.

VS: Mens streef maar na ‘n volmaakte kombinasie van al die elemente – melodie, toonaard, tempo, boodskap/storie en struktuur. En natuurlik die misterieuse X-faktor.

SN: Hoe gaan julle die slypskool aanbied?

AG: Ons het elkeen ʼn afsonderlike aanbieding en dan is daar besprekings waar ons na die mense se werk kyk.

VS: Met sulke slypskole is daar gewoonlik ‘n aparte aanbieding deur elkeen van ons, en dan individuele sessies met die kursusgangers, asook ‘n groepsbespreking. Tegnies behoort ek ook kursusgeld te betaal; ek kan nie wag om ‘n paar wenke en wyshede by Anton te gaps nie.

SN: Wat hoop jy om met die slypskool te bereik/reg te kry?

AG: As daar goeie nuwe werk in Afrikaans uit die slypskool of te danke aan die slypskool voortvloei, dan was dit geslaag.

VS: Aspirant-liedjieskrywers het oor die algemeen maar ‘n moeilike tyd. Hulle sukkel geweldig om ‘in die game te kom’. Hopelik is daar ten minste vir een van hulle ʼn stukkie nuttige raad wat lei tot ‘n deurbraak en ‘n reuse-treffer. Uiteindelik gaan maar dit oor die oordrag van vaardighede.

*Anton neem ook op 5 Maart om 13:00 by De Vette Mossel deel aan n gesprek, Van Anton tot Die Antwoord oor die verlede en toekoms van die Afrikaanse musieklandskap. Sy gespreksgenote is Kerneels Breytenbach en Albert du Plessis. Kliek hier om onderhoude met die drie manne te lees wat op LitNet verskyn het.

* Valiant is op 5 Maart om 13:00 en 20:30 saam met Johan Bakkes, Dana Snyman en Johan Badenhorst te sien in Die Drie Reisigers en Valiant Swart. Valiant sing en die ander manne vertel van hul vele reise en hul stories. Sien hulle by die Doprstraat-teater.

* Die slypskool word aangebied deur Sanlam en LitNet.

 

 

Elsabé Daneel se vyf-vroue-kragtoer

February 25, 2013 in Sonder kategorie

 

 

ʼn Verkragte vrou, ʼn vrou wat ʼn aborsie kry… Dit is maar net twee van die vroue wat Elsabé Daneel vertolk in die drama Bittersoet wat vanjaar by die US Woordfees aangebied word. Sy het groot lof gekry vir haar spel toe dit verlede jaar by Clover Aardklop bekend gestel is. Stephanie Nieuwoudt het met haar gesels.

Stephanie Nieuwoudt: Bittersoet is die eerste eenvroustuk waarin jy speel. Was dit aanvanklik vir jou oorweldigend toe jy besef het jy gaan inderdaad die rol vertolk?

Elsabé Daneel: Toe ek verlede jaar my foon neersit nadat ek gehoor het Bittersoet is as ʼn Aardklop-produksie goedgekeur, was ek so oorweldig dat ek net vir ʼn ruk lank op my bed bly sit het en na die blou lug gekyk het. En toe kom die vreugde en dankbaarheid vir ʼn grootse geleentheid asook die hoop dat ek niemand teleur sal stel nie.

SN: Jy stap in die skoene in van Wilna Snyman wat in 1995 die ENB Vita-prys vir haar vertolking ontvang het. Deon Opperman het dit ook oorspronklik as ʼn Engelse stuk, Sweet Sorrows, geskryf. Was dit dalk effe intimiderend om in Wilna se skoene te stap?

EB: Toe ek Wilna in 1994 in Sweet Sorrows sien, het dit my so uitgeboul dat ek jare later nog daaraan gedink het. Wilna is egter so briljant dat mens haar liefs nie moet probeer nadoen nie. Die gevierde regisseur, Juanita Swanepoel, en ek het dus nuut en onbevange met manjifieke Engelse teks en Hanli Rolfes se Afrikaanse vertaling gewerk en dit soos ʼn diamantmyn ontgin.

Nòg Deon nòg Hanli het die laaste skets Donker Afrika in hul besit gehad. Omdat hierdie monoloog relevansie bygekry het sedert Deon dit in 1993 geskryf het, wou ek dit graag insluit. Ek het by Wilna gaan aanklop en na ʼn wekelange soektog bel sy van Hermanus met die woorde: ”Ek het dit gevind!” Sy het die hele handgetikte Sweet Sorrows uit ʼn ou boks opgediep en tot vandag is die vergeelde koevert met Wilna se woorde “Vir Elsabé Daneel – Van Wilna Snyman met liefdewense” ʼn kosbare besitting. Toe Wilna na my debuutopvoering by Aardklop in die saal agterbly om vir my te sê hoe die stuk haar geraak het, was ek baie verlig, want mens voel verantwoordelik teenoor die mense wat Bittersoet laat lewe kry het.

SN: Hoe kry ʼn aktrise dit reg om vyf verskillende karakters te vertolk? Hoe klim jy letterlik van die een oomblik na die volgende in die vel van uiteenlopende vroue en vertolk hulle met oortuiging?

EB: Dis ʼn voorreg om met so ʼn slim teks en fyn regisseur te werk dat mens nie anders kan as om kniediep in elke uitsonderlike karakter se skoene en siel in te klim nie. Soos wat ek elke karakter se kostuum aantrek, voel ek die klippe en rotse wat sy in haar sakke dra.

Die teks is beeldskoon: gelaag en genuanseerd. Deon Opperman ontsluit elke vrou se bittersoet storie met deernis en insig wat ook sterk tot mans spreek. Juanita se regie is so ragfyn: sy weef ‘n digte tapisserie van ryk kleur en diepte. Ons kon dus diep delf om elke karakter se psige en storie te ontgin en hoe langer ons gewerk het hoe meer diamante het na die oppervlak gekom.

Elsabé Daneel in Bittersoet. Foto: Alet Pretorius.

SN: Die een vrou kry ʼn aborsie. Die een word verkrag. Dit is nogal skokkende goed wat met die vroue gebeur. Hoe raak dit jou sielkundig om die rolle te vertolk?

ED: Die uitdagendste deel was om die vyf uiteenlopende vroue se onderskeie stemme te vind. Die oorkoepelende tema is stille triomf oor trauma, maar elke vrou se gut en reis om balsem te vind, is uniek.

Soos wat ons repetisies gevorder het, het ek meer en meer bewus geword van vroue se krag. Ek het groter begrip en empatie ontwikkel vir vroue wat curve balls ontvang, maar wat met veerkragtigheid en humor terugbons om voort te gaan met die alledaagse. Op die verhoog is ek hul boodskapper wat hul spieëls ophou vir die teatergangers. Dit is magies om in die teater te ervaar hoe die stuk met die mense resoneer: daardie fladderinge van herkenning, empatie, meelewing en humor wat die gehoor na jou terugadem. Bittersoet het staande ovasies gekry en dit was openbarend om te hoor watter karakter(s) hulle die meeste raak.

Maar as die teaterligte doof en ek pak daardie vyf paar skoene terug in die krat, dan is ek gewoon Elsabé. Met vyf ekstra stemme wat in my kop resoneer!

Al is die monoloë in die negentigerjare geskryf, het dit vandag selfs groter relevansie as toe, juis omdat die geweld teen vroue so gegroei het. Al onderskraag Bittersoet net een mens wat trauma beleef, is dit reeds die moeite werd. Ons kan nie nog een enkele Anene Booysen bekostig nie.

SN: Sou jy die stuk kon aanpak toe jy jonger was?

ED: Ek is tans in die regte seisoen om vier van die vyf vroue te vertolk aangesien hulle soos ek in die vyftigs is. Die vyfde vrou is in haar sewentigs en is dus meer van ʼn uitdaging. My ouma het egter by ons gewoon in haar laaste jare en ek onthou haar aura, stem, houding en manier van loop. Sy het haar voetjies geskuifel soos wat ek my Caesar shuffle gedoen het na my drie kinders se geboorte, so mens weef maar eie ervaring in. Dis ʼn interessante blik op hoe ek dalk op daardie ouderdom sal wees.

SN: Jou dogter is ook ʼn aktrise en is ook op die Woordfees te sien. Het jy haar aangemoedig om in die bedryf te wees?

ED: Ek het Roeline en haar twee broers van kleins af blootgestel aan die teater: poppekaste, kinderteater, pantomimes en natuurlik die sirkus! Sy was van die begin af betower deur die teater en het reeds as kind daarmee begin woeker.

Roeline en ek het ʼn stille ooreenkoms dat sy haar eie paadjie oopkap in die vermaaklikheidswêreld. Sy verkies dit so en ek respekteer dit. Ek vra graag haar raad, want sy is wys en eerlik en ek kan staatmaak op haar eietydse insette wat my op my tone t.o.v. vernuwing hou. Ek merk tog dat ons dieselfde werksetiek, presiesheid en deursettingsvermoë het. Die appel val seker nie ver van die boom nie.

Ek gun dit vir haar om haar passie te volg, want ek weet hoe kreatief en stimulerend dit is. Haar honneursgrade in Drama en Joernalistiek (albei cum laude) rus haar toe om verskeie aspekte van haar beroep te ontgin. Sy is ʼn lid van die teaterinisiatief Polony wat Die lelike Eend by Woordfees 2013 op die planke bring asook N is vir Neurose by die KKNK 2013. Sy is die verhoogbestuurder van Bittersoet. Dis bevrydend dat ek haar met die kleinste detail kan vertrou en dat sy vinnig die regte besluite neem. Sy is my wing woman.

Zivaglo – ‘n reis op vele vlakke

February 18, 2013 in Sonder kategorie

 

 ʼn Vroeëre mediaverklaring van Zivaglo lui daar word gehoop dat die uitstalling en ligvertoning sal help om feesgangers se skeppende vermoëns te ontsluit en hul inspireer om hul drome na te jaag en vervulling te vind.

Dis inderdaad ʼn optimistiese versugting. Maar dit lyk tog asof Zivaglo, wat volgens die organiseerders die eerste van sy soort in Suid-Afrika is, tog ʼn interessante ervaring kan wees. Dit word vanjaar van 1 tot 10 Maart by die US Woordfees aangebied.

Die eerste deel van die ervaring is ʼn uitstalling waar ʼn verskeidenheid kunstenaars werke wat wissel van drie-dimensionele en twee-dimensionele kunswerke asook installasie-kuns sal uitstal. Die kunstenaars is almal vroue – Zivaglo is immers gemoeid met die bemagtiging van vroue.

Elke kunstenaars se persoonlike verhaal van self-ontdekking word deur die kuns uitgebeeld.

Die tweede deel is ʼn ligvertoning. Van die lokaal waar die kunswerke tentoongestel word, beweeg besoekers na ʼn vertrek wat eers in donkerte gehul is voordat ʼn geprojekteerde ligvertoning begin. Die vertoning bevat boodskappe en vrae wat hopelik sal help om die besoeker op die pad na selfontdekking te lei. Die vertoning se titel “Ligreis” dui op ʼn reis in die lig en ook ʼn reis sonder emosionele bagasie.

Volgens Linda Remke, een van die organiseerders, is die Woordfeesvertonings maar net die bekendstelling van die Zivaglo-ervaring. Daar word gehoop om met die projek op reis te gaan – selfs buiteland toe. Remke beklemtoon ook dat die kuns- en ligtentoonstelling uniek in die land is.

Zivaglo bied ook twee skoenprojekte, “Heels for Healing.” Bekendes in die wêreld van die uitvoerende kunste en die media insluitend Rina Hugo, Sarah Theron, Chris Chameleon en Riaan Cruywagen het persoonlike boodskappe op skoene geskryf. Die skoene sal uiteindelik opgeveil en die opbrengs geskenk word aan twee veilige huise vir vroue – L’Abrie de Dieu in Stellenbosch en die Tamar-sentrum in Thailand.

“Ons glo kuns is ʼn instrument wat gebruik kan word om mense te bemagtig,” sê Linda wat die projek saam met Nina Brown, ʼn bekende in die modebedryf wat deesdae as heler en motiveringspreker optree aanbied.

“Zivaglo kom van die Hebreeuse woord “ziva” wat stralende lig beteken. Die Engelse “glo” deel van die woord is “glow” of “global”.

Zivaglo word daagliks van 10:00 tot 20:00 aangebied en die ligvertonings vind elke halfuur plaas.

  

 

 

 

 

Woordfees-gesprek nie sy kernbesigheid sê Kerkbode

February 13, 2013 in Sonder kategorie

Die Kerkbode is spyt dat hy as donateur van die US Woordfees moes onttrek, maar gesprekke van die aard is nie deel van sy kernbesigheid nie. So lui ʼn mediaverklaring wat gister deur ds Danie Mouton uitgereik is. Mouton is voorsitter van die direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM) wat die blad uitgee.

Die verklaring volg op berigte dat Kerkbode onttrek het van twee gesprekke by die US Woordfees. Die een gesprek vind plaas rondom die vraag “Net een God?” en die deelnemers is Lina Spies (digter en akademikus), Chris Jones (teoloog), en Sjeg Thaffier Najjaar (van die Islamitiese Raad van Suid-Afrika). Die tweede gesprek vra vrae rondom die tema “Hemel en hel?”. Hieraan neem Abel Pienaar (van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit), Nico Koopman (Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch) en Jurie van den Heever (teoloog) deel.

Volgens Mouton hoort die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke “van dié aard” nie tot die kernbesigheid van Kerkbodenie.

“Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop. Kerkbode se kernbesigheid is om (soos die NG Kerk waarvan dit die mondstuk en spieël is) vanuit die evangelie van Jesus Christus ‘n bydrae tot die genesing van ons land te lewer. Praktiese sake wat sentraal staan, is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus. Daarom handel die inhoud van Kerkbode gereeld oor dié aktuele sake.”

Die verklaring lui voorts die uitvoerende bestuur en direksie van TM was nie bewus van reëlings dat Kerkbode as donateur en borg van godsdiensgesprekke by die Woordfees optree nie. Die reëlings is glo nie “langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.

“Daarmee is groot verleentheid vir Kerkbode geskep. Ons stel ondersoek in na die redes hiervoor, en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie.”

Mouton ontken dat Kerkbode onttrek het weens die deelname van omstrede sprekers soos die dagblad Die Burger gister beweer het.

“Dié sprekers en hul standpunte word in Kerkbode gereflekteer. Die blad deins nie terug vir sake wat selfs omstrede kan wees nie.”

Melt Myburgh, Woordkunsprojekbestuuder van die Woordfees, het gesê Jean Oosthuizen nuusredakteur van Kerkbode en gespeksleier het die Woordfees verlede jaar genader met ʼn voorstel vir die gesprekke.

“Dit is ʼn probleem wat intern deur Kerkbode hanteer moet word. Intussen gaan ons steeds voort met die gesprekke. Al het Kerkbode onttrek is daar is geen sprake dat dit geskanselleer sal word nie”

Die eerste gespek: “Net een God?” vind op 7 Maart om 11:00 in die Boektent plaas en die tweede gesprek “Hemel en hel?” op 8 Maart om 10:00.

 

 

Seks en vernuwende produksies lok hulle na US Woordfees

February 11, 2013 in Sonder kategorie

 

Christina Landman gaan vanjaar na die US Woordfees vir die seks. Die akteur en regisseur Albert Maritz woon dit by vir die vernuwende werk, en die skrywer Kristel Loots is daar as “swetende straatwandelaar en nie as skrywer nie”.

Maar dalk moet ʼn mens eers vinnig ʼn regstelling maak: Christina is daar om met die skrywer Nicki Spies te gesels oor haar boek – oor seks – Seks: Nou wat is die eintlike storie.

“Dis nie sleg vir ʼn post-menopousale tannie nie,” skerts Christina wat gereeld by die US Woordfees te sien is – óf as skrywer of as iemand wat met ander skrywers gesels.

Vanjaar is sy op 7 Maart om 15:00 in gesprek met Spies.

“Ek gaan graag Woordfees toe want dis ʼn plek waar die verbeelding vrye teuels gegee word,” sê Christina. “Dis gesellig en jy dans daar in ander se verbeelding. Ek laaik dit baie om deel te wees van waar mense se drome hulle vat. Drome wat nie briek voor dit gepubliseer of opgevoer is nie.”

Albert Maritz, bekroonde regisseur en akteur, bring vanjaar drie produksies na die US Woordfees – Deksels deur Leon Kruger, Stander deur Charles J Fourie en Die Koggelaar deur Pieter Fourie.

Hy sê hy sien uit na die “verrassings en aweregse werkswyse soos die deurnagteateraand (van die aand van 2 Maart tot die oggend van 3 Maart).

“Ek sien uit na vernuwende werk – soos die tekste deur Leon Kruger en besoeke aan die ou classics. Die US Woordfees vat ook hande met geselskappe soos The Mechanicals wat in Kaapstad wondere verrig.”

Die skrywer Francois Bloemhof is ook ʼn ou Woordfees-bekende. Verlede jaar het hy twee keer deelgeneem aan gesprekke oor misdaad- en jeugfiksie. Vanjaar vra hy egter die vrae wanneer hy in gesprek tree met die skrywer Chanette Paul oor haar boek Labirint.

“Ek is lief vir die Woordfees want ek is lief vir woorde en dié fees fokus op die woord in al sy fasette. Daar is ook natuurlik die bonus dat die fees op die mooie Stellenbosch gehou word.”

Kristel Loots wie se jongste chicklit-skepping ʼn Hap van die appel nou op die rak is, sê sy is nie ’n elke dag se volbloed woordfeesganger nie “eenvoudig omdat dit te ongemaklik warm is in Stellenbosch daardie tyd van die jaar”.
Maar sy gaan elke jaar ten minste een keer Woordfees toe want sy hou “van die groot geeste wat tussen die gewone aardbewoners met hul voete op die grond in die strate ronddwaal en uit dieselfde borde ewe Spartaans in die Vette Mossel eet. Behalwe dat daar dalk ekstra ysblokkies in hul drankies mag wees . . . Die fees is ’n wóórdfees en skrywers is die eregaste.”

  • Die deurnagfees vind van die aand van 2 Maart tot in die vroeë oggendure van 3 Maart plaas. Vyf vertonings kan by die Klein Libertas-teater gesien word:

22:30: Die lelike eend (jy kry ook ʼn bottel wyn by jou kaartjie R90)

00:15: Deksels (slap tjips en Coke ingesluit by die prys van R90)

01:30: Heiland (plus vonkelwyn en soesji vir R95)

03:25: Hol (Red Bull en Kit-Kat by die prys van R95 ingesluit)

04:30: 2092 God van Klank (koffie en beskuit ingesluit by die prys van R75)

Feesgangers kan ook teen R400 ʼn pakket vir al die produksies koop.