You are browsing the archive for US Woodfees.

Dorothea se fees groei en groei

February 17, 2013 in Sonder kategorie

FEESWOORD

 

Dorothea van Zyl direkteur van die US Woordfees en professor in die Departement Afrikaans en Nederlands (Universiteit Stellenbosch) het meer as veertien jaar gelede ʼn plan bedink om ʼn fees waarop die letterkunde – veral gevier word, tot stand te bring.

Die eerste fees, in 2000, was ʼn deurnagfees wat deur sowat 1 000 mense bygewoon is. En daar was groot klem op die digkuns. Digters en skrywers vanoor die land het byeengekom om te gesels, te lees en voor te dra. Die fees was onmiddellik ʼn treffer.

Drie jaar later, in 2003 was daar meer as 5 000 feesgangers en sedertdien is daar geen keer nie.  Die fees groei jaarliks wat aanbiedings, deelnemers en feesgangers betref.  Dit word ook gereken as een van die voorste Afrikaanse feeste in die land en in 2011 het die US Woordfees die Fiësta-toekenning vir die gewildste kunstefees in die land ontvang.  In daardie jaar was daar sowat 71 000 feesgangers.

Vanjaar word die fees vir die veertiende keer aangebied onder die tema “Hemels”.  Allerlei uitdagings het egter oor die jare uitgekristalliseer waaraan daar vanjaar aan talle hiervan aandag gegee is.

Dorothea van Zyl antwoord ʼn paar vrae:

Stephanie Nieuwoudt: Jy het verlede jaar in ʼn onderhoud gesê daar moet gewaak word dat die Woordfees nie te groot raak nie.  Hoe doen julle dit?  Is daar vanjaar enige maatreëls in plek om die fees hanteerbaar te hou?

Dorothea van Zyl: Ek sê dit steeds – en elke jaar: tans is die Woordfeesprogram eintlik te groot vir ons kapasiteit, want die span is maar klein.  Een van die ‘probleme’ is dat die Woordfees toenemend kreatiewe mense met uitstekende idees aantrek, en ons is terselfdertyd baie ontvanklik vir innovering.  Verder kom daar ook steeds meer waardevolle vennote by vir wie ons nie nee wil sê nie.  So hou Stellenbosch 360 byvoorbeeld die afgelope drie jaar elke jaar ’n interessante bespreking oor sake wat die dorp raak.  Dit beskou ons dan as ’n noodsaaklikheid.  Dieselfde geld as departemente of fakulteite binne die universiteit ons nader.  Ons sukkel seker maar om nee te sê vir kreatiwiteit en kwaliteit wat op ’n skinkbord aangebied word.  Tog is ek ook altyd weer bly dat ons aanhoudend ja sê.

Ons maatreëls het in hierdie taai tye veral met begrotings te doen.  Die onderskeie koördineerders moet woeker met wat hulle kry, want ons gee nie uit wat ons nie het nie.  En woeker hulle nie.  Elke jaar, as ek die ongelooflike program sien wat die Woordfeesspan saam met die koördineerders optower, verstom dit my oor hoeveel hulle met beskeie middele regkry.

Dit is net moontlik omdat die US Woordfees gelukkig is om geweldig toegewyde en passievolle werkers te hê.  Nie alleen die kunstenaars en skrywers nie, maar ook die Woordfeesspan, is sterre aan die Woordfeeshemel.

SN: Feesgangers het verlede jaar gekla dat daar nie altyd genoeg tyd is om van een lokaal na ʼn ander te gaan nie.  Is die probleem vanjaar aangespreek? Kan dit enigsins aangespreek word?

DVZ: Dit is problematies om dit op te los weens die groot verskeidenheid aanbiedings en vrye keuses.  In die verlede was daar al voorstelle dat ons een program maak wat mense dan alles bywoon.  Maar dan kan jy maar ’n paar honderd mense bereik, terwyl ons hemelsbreë program tientalle duisende trek.  Verlede keer was daar digby 91,000 feesbesoeke per lokaal per keer.  Ongelukkig is die lokale ook nie altyd naby mekaar nie en Stellenbosch se verkeer berug erg – daar is die Vryfees in Bloemfontein, met hulle wonderlike verskeidenheid groot en klein lokale op een terrein, vir ons een voor.

SN: Waarom het julle vanjaar met ‘n pendelbusdiens begin?

DVZ: Die een groot klagte in die verlede was oor die verkeersknope en gebrek aan voldoende parkering in die feeskern, wat ook in die dorpskern geleë is.  Ons het jare lank nie die kapasiteit gehad om iets hieraan te doen nie, maar het hierdie jaar maar oë toegeknyp en ingespring.

Die pendeldiens word hanteer deur Marlise Klopper, Woordfeesorganiseerder.  Dit is ʼn groot en tydrowende storie om die roetes, stilhouplekke en skedules te bepaal.  So ʼn nuwigheid is uiteraard ʼn risiko, want enige van die genoemde faktore (saam met die Woordfeesprogram) kan speke in die wiele wees.

Ons hoop net feesgangers neem in ag dat alle ratjies in die vervoermasjien dalk nie onmiddellik glad sal kan werk nie, maar ons wil dit graag uitbou tot ’n volhoubare jaarlikse stelsel. Dit is ook onvoorspelbaar hoe groot die behoefte is en hoeveel mense dus sal aanmeld vir vervoer.

SN: Waarom is daar besluit om weer ‘n deurnagprogram aan te bied?  Dit voel amper soos ‘n fees binne die fees.  En daar is eggo’s van die eerste fees.

Nadat ek en Saartjie Botha, koördineerder van die dramaprogram, saam verantwoordelik was vir die deurnag ‘Nag van passie’ voor die tiende Woordfees, ter herinnering aan die begindae, blyk dit Saartjie is weer aangevuur deur die besondere sjarme en kameraadskap van so ’n deurnagfees.

Almal raak in die proses vriende.  Kyk maar hoe lekker klink die deurnagprogram met sy gereelde verversingspunte.  ’n Mens kry sommer lus om dit by te woon.   Dit is inderdaad ’n fees binne ’n fees, soos die Neethlingshof Slenterfees wat die afgelope twee jaar aangebied is.  Dis ’n goeie opwarmingsoefening vir die verdere fees (byna ’n voorfees as voorspel tot die hooffees).

’n Verdere belangrike oorweging is dat ons vir die eerste keer gedurende die eerste feesnaweek iets groterigs aanbied.  Verder bied dit natuurlik ’n pragtige geleentheid om solank ’n hele klompie dramas in te pas sodat jy in die week meer tyd het vir die talle ander items wat nie herhaal word nie.

Die Woordfeesprogram-aanbiedings was in die verlede oor die eerste naweek redelik yl.  Mense het in dié naweek hier aangekom en gevra waar die volprese fees dan is.

Vanjaar gaan ons voluit en organiseer ook drama-, ligte musiek- en veral die Woord- en Wynfees.  Vanjaar eksperimenteer ons met nuwe dinge.

SN: Wat maak jou besonder opgewonde oor vanjaar se fees?

DVZ: Die buitengewoon hoë kaartjieverkope, wat alle rekords tot dusver oortref.  Dit wys vir my die program (al is dit so groot, of dalk juis om daardie rede) gee wat die feesgangers soek.  Hulle vind dit opwindend en die moeite werd.  Dit is die grootste bevrediging denkbaar om te weet jy het die teiken getref en dat die feesgangers waardering het vir wat ons opdis.  Ek moet sê, gesprekke met geesdriftige, positiewe en waarderende mense tydens die fees is elke jaar vir my ’n hoogtepunt – en dit lyk of vanjaar nie ’n uitsondering sal wees nie.

Ek is deesdae ook in ’n semi-permanente staat van opgewondenheid van nie net die skouspelagtige groei van die US Woordfees self nie, maar ook oor ons uitmuntende Woorde Open Wêrelde (WOW) Leesprojek (vanjaar 10 jaar oud), In 2012 het ons meer as 162 000 mense in sewe provinsies bereik.  Hemels!

 

 

 

 

 

 

 

 

Woordfees se dagprogram sluit vanjaar ook dramaproduksies in

February 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Daar is verskeie dinge wat die US Woordfees anders maak as ander kunstefeeste in die land.

Dit is nie ʼn vakansiefees nie, dit is nie ʼn biertentfees nie en dit is nie ʼn gesinsfees waar tot voorsiening gemaak word vir kleuters nie.

“Die feesganger is iemand wat nie hier is om lank te kuier nie. Dis iemand wat ernstig is oor die kunste. Mense wat werklik intellektueel uitgedaag en gestimuleer wil word. Daarom word die dramaproduksies versigtig gekies sodat die klem op die literêre meriete van die skrywers se werk val,” sê Saartjie Botha, koördineerder van die dramaprogram.

“Stellenbosch is ʼn universiteitsdorp en die hele atmosfeer dra by tot ʼn kritiese ingesteldheid.”

Saartjie, een van die land se voorste dramaturge en regisseurs is al tien jaar by die fees betrokke. En volgens haar is daar ʼn lojale groep mense wat jaar na jaar by die verskillende dramaproduksies op die fees te sien is.

“Dit is ʼn ingeligte gehoor wat graag oor die produksies gesels. En dit dra by tot die groter diskoers oor die kunste in die land.”

Tog is die aanbod van produksies divers.

“Ons bied ook sterk kommersiële produksies vir almal. Ons gehore is divers – mense van oral in die Boland-streek en die groter Wes-Kaap woon die fees by. Uit Stellenbosch is daar van akademici tot studente en afgetredenes. “

Waar dramas in die verlede net saans aangebied is, word dit vanjaar ook vir die eerste keer in die dag aangebied.

“Hoewel die US Woordfees nie groot getalle oornagbesoekers het nie, is daar tog mense wat die hele dag by die fees deurbring. Ons wou vir hulle meer bied as net die skrywersgesprekke in die boeketent.”

Die dag-aanbiedings maak dit ook makliker vir feesgangers om meer produksies per dag te sien. Benewens die dag-produksies is daar ook vir sommige dramas meer vertonings aangelê.

“In die verlede sou ons dalk net een vertoning aanbied, maar nou is daar tot vier vertonings van van die dramas. Dit beteken dat daar dalk minder uitverkoopte produksies sal wees. Maar omdat daar meer vertonings is, kan mense beter beplan en meer vertonings inpas. En al is daar minder uitverkoopte produksies, is daar meer mense wat die vertonings sal sien.”

Volgens Botha word drama-produksies op die US Woordfees baie goed bygewoon omdat dit nie noodwendig verder as die verskillende feeste reis nie.

“Mense weet komediante en sangers sal waarskynlik een of ander tyd op hul dorp ʼn draai gaan maak. Hulle weet hulle sal Emo Adams of Karen Zoid elders kan sien. Maar dramas reis nie noodwendig na die verskillende dorpe toe nie. Die feeste is dikwels die enigste plek waar ʼn bepaalde drama gesien kan word. Dit is duur om met ʼn produksie met ʼn klomp akteurs en produksiespan te reis, en daar is ook logistieke problematiek. Op kleiner plekke sal die lokale byvoorbeeld nie oor die regte beligting of oor ʼn geskikte ruimte beskik nie.”

Van die produksies wat in die dag gesien kan word sluit in: Liefde Anna met Sandra Prinsloo, Deon Lotz en Gustav Gerdener (2 Maart om 14:30 by die Hoërskool Stellenbosch en saans 3 Maart 20:30 en 4 Maart 20:30), Die melktrein stop nie meer hier nie met Antoinette Kellerman, Marcel Meyer en Roelof Storm (3 Maart om 10:00 en 4 Maart om 12:30 by die Hoërskool Stellenbosch en saans: 2 Maart – 18:00), Kind Hamlet met Cobus Rossouw, Sandra Kotzé en Ludwig Binge (6 Maart – 13:00 en saans 3 Maart – 18:00, 7 Maart – 17:00 en 9 Maart 17:00), Af met Marlo Minnaar (10 Maart – 14:30 en saans 4 Maart – 18:00).

*Die volledige program kan elektronies afgelaai word by http://www.woordfees.co.za/produksies_2013. ʼn Gedrukte program is in Stellenbosch te kry by Protea Boekwinkel, die Sasol Kunsmuseum en by Oude Libertas Amfiteater se Computicket.