You are browsing the archive for Universiteit Stellenbosch.

Emosies belangrikste van teks, sê dramaturg Van Greunen

March 12, 2015 in Sonder kategorie

Stephanie Karikatuur

Die belangrikste ding aan ʼn teks is die emosie wat dit moet ontlok. Hetsy dit afkeer, fassinasie, hartseer of blydskap is.

En vir hom geld dit prosa of dramas.

“Wanneer daar te veel op die letterkundige waarde gefokus word, gaan die menslikheid van die teks verlore,” glo hy. Hy hou van ʼn teks wat van binne buitentoe geskryf word. Wanneer daar in die siel van die karakter ingeklim word.

“Natuurlik moet die teks ook literêr verantwoordbaar word, maar dit moet my laat omgee,” sê hy tydens ʼn onderhoud by een van die restaurant in Ryneveldstraat, waar feesgangers van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees verbyhaas op pad na die een of ander produksie of gesprek.

Van Greunen is een van ʼn geslag teatermakers wat in 1995 begin het om werke by die Afrikaanse kunstefeeste aan te bied. Die feeste was ʼn oorlewingsreaksie vir die uitvoerende kunste nadat die kunsterade ontbind is. Hierdie feeste was onmiddellik ʼn treffer onder kunstenaars en gehore wat in hul duisende na Oudtshoorn en Potchefstroom toe gestroom het vir ʼn dosis kuns en kultuur wat in ʼn week ingepak is. Na die sukses van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en, ʼn paar jaar later, Aardklop, het kleiner feeste landwyd tot stand gekom.

‘’Ons het die feeste op die kruin gevang,” sê Van Greunen.

Oor die Woordfees sê hy: “Stellenbosch is ʼn universiteitsdorp met ʼn geskiedenis en ʼn kultuur van lees, leer en partytjie hou. Ek hou van die Woordfees se fokus op boeke en skrywers en die gehore is meestal belese en oop vir nuwe gedagtes en idees.

Vanjaar het Van Greunen twee produksies na die Woordfees toe gebring: Vir ewig en altyd met Marius Weyers en Sandra Prinsloo en Rondomskrik met Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal Donna Roberts en Richard September. Vir ewig en altyd was voor die fees al bykans uitverkoop en Van Rooi en September het pas Fiësta-toekennings ontvang vir hul spel in Rondomskrik wat gegrond is op die verkragting van en moord op die tiener Anene Booysen in 2013.

Dit lyk asof elke produksie waaraan Van Greunen en sy sake- en lewensvennoot, Pedro Kruger en hul maatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, raak, suksesvol is. Oral trek hulle vol sale en In 2012 was gehore en kritici gaande toe The Sewing Machine (wat in Afrikaans as Die Naaimasjien en met Sandra Prinsloo) en Normality (Lyf met Pedro Kruger) by die Edingburgh-fees in Skotland opgevoer is.

Van Greunen sê hy het al lankal besluit hy wil nie ʼn sukkelende kunstenaar wees nie. Hy sorg dat hy produksies van goeie gehalte, maar wat hy ook weet gehore gaan lok, na die kunstefeeste toe bring. Die feeste weet dus dat hulle gaan baat uit die belegging wat hulle in hom gemaak het. Sy maatskappy is een van die mees suksesvolle teatermaatskappye in die land.

Hennie van greunen lagMaar hy kan nie bekostig om net op kunstefeeste staat te maak nie.

“Ons gebruik die kunstefeeste as ʼn platform waarmee ons ʼn produksie af skop en dan toer ons daarmee. Ons vat die ‘fees’ na die mense toe. ʼn Goeie storie sal altyd ʼn gehoor kry. Pedro en ek doen alles self. Ons maak kostuums, skryf, doen regie en opleiding, vertaal, en doen baie korporatiewe werk.”

Wanneer produksies teater toe gaan, kan daar ander elemente bygevoeg word. “Ons kan groter werk met ligte en stelelemente. Ons kan dit wat ons fees toe bring, nog mooier maak.”

Hy maan ook dat gehore soms die fout maak om te dink dat onverstaanbare teater goeie teater is. Vir hom is dit belangrik dat sy werk verstaanbaar is.

Van Greunen het duidelik groot respek vir Sandra Prinsloo en Marius Weyers – Vir ewig en altyd is die eerste produksie waaraan hy saam met Weyers werk.

“Hulle is bekend vir die ongelooflike werk wat hulle deur die jare saam doen.  Maar dit is die eerste keer sedert die 1960s dat net hulle twee saam op die verhoog is. Hulle is ongelooflike spelers,” sê Van Greunen. “Hulle is tegnies besonder goed, maar hulle emosies is ook eerlik. Ek werk eerder met die hart as met die kop en Sandra en Marius het beide.”

Hy het ook ʼn besonderse werkverhouding met Rachelle Greeff, skrywer van Die naaimasjien en Rondomskrik. “Sy is ʼn briljante skrywer, maar ook heeltemal unprecious oor haar werk. Ek tree as ‘dramaturge’ op vir haar tekste. Saam met haar sny ek en ek skuif tonele rond en as daar iewers gate ontstaan vra ek haar om dit in te vul.”

Van onervare jong akteurs tot van die land se helderste verhoogsterre het al saam met Van Greunen gewerk. Die gesprek draai om die arrogansie van sommige spelers wat na ʼn TV-reeks of kleinerige verhoogrol glo hulle is beroemd.

“Dis interessant. Hoe groter die talent hoe kleiner is die ego gewoonlik. En dit is die mense wat gewoonlik baie lank in die bedryf oorleef,” sê Van Greunen.

Hy het groot bewondering vir die nuwe geslag jong sterre wat nou op die toneelwêreld skyn – onder meer Christiaan Olwagen (skrywer, regisseur), Roelof Storm (akteur), Wessel Pretorius (akteur en dramaturg) en Tara Louise Nottcutt (regisseur en dramaturg).

“Ek is ʼn diktator as regisseur en wil elke asemteug en elke pouse in ʼn sin beheer. By die jonger mense leer ek om meer op die proses te vertrou. Ek hoef nie al die antwoorde te hê voordat ons begin repeteer nie. Ek dink ek is ʼn herstellende perfeksionis.”Christiaan Olwagen Saartjie Botha Hennie van Greunen (10)

Is daar nie dalk ʼn moontlikheid dat die jonger mense wat soms soos worsmasjiene nuwe werk vir die kunstefeeste skep, dalk voortydig kan uitbrand nie?

“Ons kry almal energie uit ons werk. Wat is lekkerder as om elke dag dit wat jy die graagste in jou lewe wil doen, te kan doen? Nee. Die jonger mense sal oorleef.”

Tog neem hy vanjaar ʼn blaaskans.

“Ek word vanjaar 50. Ek wil nie vanjaar aan teaterproduksies werk nie. Ons korporatiewe werk gaan steeds voort, maar ek wil bestek opneem. Ek wil probeer uitvind of ek ʼn goeie mens is.”

Olwagen, Viljoen, Westcott gesels oor teater, jeugboeke en visuele kuns

March 11, 2015 in Sonder kategorie

Stephanie Karikatuur

Die jong regisseur en dramaturg Christiaan Olwagen is vanjaar waarskynlik die grootste ster by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees.

Dit gons oral oor die produksies wat hy fees toe gebring het: Dogma, Seemeeu – ʼn vertaling van Tsjekof se Seagull en Son. Maan. Sterre.

Woensdag (11 Maart) was daar geen, maar geen plek oor vir die eerste vertoning van Son. Maan. Sterre  (12 – 14 Maart 11:00) in die Fismersaal nie. Nie eers joernaliste en fotograwe – vir wie daar gewoonlik iewers ʼn gat gevind kan word, kon met hul mediakaarte toegang kry nie. Eweneens was Dogma, wat reeds by ander feeste gespeel het, grootliks uitverkoop en so ook Seemeeu wat tot 14 Maart saans om 20:15 in die Oude Libertas-amfiteater te sien is). En toe Olwagen en sy teater-kollega, Hennie van Greunen – ook ʼn dramaturge ʼn regisseur met Saartjie Botha, feesdirekteur, maar ook dramaturg, vertaler en regisseur, Dinsdag (10 Maart) in gesprek getree het, was die lokaal stampvol.

Tydens hierdie gesprek het hy gesê hy is steeds besig om uit te vind presies wie hy is.

Christiaan Olwagen Saartjie Botha Hennie van Greunen (8)“Ek verander deurentyd. Ek weet nie waarmee ek oor tien jaar besig gaan wees in die teater nie. Maar nou wil ek emosies verken. Ek is in my laat twintigerjare en ek sukkel nog om my eie emosies te verken. Alle genres van die teater fassineer my en ek wil ook in almal werk.”

Visuele kunste: AIDON WESTCOTT

Die opskiet tentoonstellings op die agterste stoep van die US Museum, verras daagliks. Woensdag is onder meer collages van Aidon Westcott uitgestal.

Hy het verduidelik dat hy ʼn versamelaar van allerlei ou goed is. Hetsy dit poskaarte, seëls, sigaardose, stukkies kant of watookal is.

Hierdie verskillende versamelstukke word as ʼn collage op ʼn seildoek vasgegom.

Die werk bestaan uit verskillende lae. Dis die voorbereiding van die seildoek, dan wat hy ookal kies om die seildoek mee te bedek, dan die voorwerpe op die voorgrond en uiteindelik word dit alles saamgebind: hetsy met ʼn stukkie ragfyn kant om die rande of gooiingsak of naalwerksteke in helder kleure.

Westcott verduidelik dat die verskillende lae die bewuste en onderbewuste verteenwoordig. So sal daar in sy werk meestal ʼn vis wees: dit simboliseer iets wat uit die diepte opgetrek word, maar dit eggo ook sy grootwordjare aan die kus en sy familie wat by die vissersbedryf betrokke was.Aidon Westcott (3)

“Dit gebeur dikwels dat ʼn koper ʼn werk koop omdat hy ʼn klein voorwerpie raaksien wat hom aan sy kinderjare herinner. Ek werk dus ook met nostalgie en herinnering,” sê hierdie Kaapse kunstenaar.

 

 

 

 

Skrywer: FANIE VILJOEN

Méér, soveel meer as grensoorskrydend.Fanie Viljoen (1)

So het die skrywer Nanette van Rooyen die jeugboekskrywer Fanie Viljoen se boeke Uit en Pleisters vir die dooies (deur Lapa uitgegee) beskryf tydens haar gesprek Woensdag (11 Maart) met hom.

Uit vertel oor ʼn gewilde hoërskoolleerder wat uitstekend vaar op sportgebied en ook gewild is onder meisies wat uiteindelik bekend maak hy is gay.

Pleisters vir die dooies is volgens Van Rooyen ʼn skrikwekkende boek met sy tema van “massa skoolmoord” soos dié wat gereeld in Amerika plaasvind.

Van Rooyen het beklemtoon dat Viljoen nie wegskram daarvan om elke taboe met sy skryfwerk te verbreek nie.

Volgens Viljoen is daar derduisende woedende jong mense wat hul ouers bykans net soggens en saans sien en vir die res van die dag aan hulself oorgelaat word.Hierdie jong mense het nie noodwendig woorde om hul frustrasies uit te druik nie.

Hy het grepe uit drie gewelddadigte videospeletjies gewys wat mens se hare laat rys. Karakters sny mekaar se kele af en skiet mekaar uitmekaar.

“Vir sommiges is hierdie soort speletjies ‘n manier om hul emosies te verwerk, maar vir ander het dit  die teenoorgestelde uitwserking.

Oor die tema van gaywees in Uit het jy gesê.daar is steeds ‘n interne stryd by jongmense wat nie weet of hul ouers hulle sal aanvaar of verwerp as hulle “uit” kom nie.

“Talle jongmense dink dikwels selfdood is ‘n uitweg vir hul pyn. Maar hulle wil nie noodwendig dood wees nie, hulle wil net ontsnap van die pyn.”

Viljoen het gesê hy hoop sy boeke kry gesprekke tussen ouers en hul kinders aan die gang.

 

Zelda la Grange, PG Du Plessis en Willem Anker hou feesgangers aan die hardloop

March 10, 2015 in Sonder kategorie

 

Stephanie KarikatuurHoe op aarde maak ʼn mens ʼn keuse tussen al die interessante gesprekke op die Universiteit Stellenbosch se Woordfeesprogram? Jy hardloop maar so vinnig jy kan tussen verskillende lokale om by die verskillende skrywers uit te kom.

En vandag (Maandag 9 Maart) moes ʼn mens vinnig maak om na onder meer Zelda la Grange, Willem Anker en PG du Plessis wat by verskillende gesprekke in die Boektent, Erfurthuis en Ikhaya betrokke was.

La Grange, voormalige persoonlike assistent van Nelson Mandela, wie se boek Goeiemôre meneer Mandela (Penguin) verlede jaar verskyn het, het met die politieke ontlede Piet Croucamp gesels oor die 19 jaar wat sy vir Mandela gewerk het.

Dalk het ʼn mens haar al te veel kere op die radio hoor gesels en op TV gesien, maar vir verskeie lede van die gehoor, was daar nie veel nuuts in wat sy die keer gesê het nie.

Sy het onder meer weer gesê dat sy voordat sy vir Mandela begin werk het, rassisties was, maar dat sy weens haar kontak met hom anders begin dink het.

Toe haar Mandela uiteindelik dood is, het sy haar (rassistiese) ouers eerste laat weet. Haar pa was so bewoë dat hy skaars met haar kon praat.

“Hy het respek gehad vir die manier waarop Madiba my behandel het. Dit was die rimpeluitwerking van Mandela se verhouding met mense.”

Sy het beklemtoon dat Mandela iemand met vele foute was en gewis nie ʼn god nie.

“Ek het egter vir 19 jaar lank gesien hoe hy probeer om elke dag ten minste een mens se lewe te verander.”

In die Erfurthuis het die sielkundedosent en kenner van die letterkunde, Desmond Painter vir Willem Anker uitgevra oor sy boek Buys – ʼn grensroman (Kwela).

Anker het gesê hy het die eerste keer van Coenraad de Buys gehoor toe hy in Max du Preez se boek Of Warriors Lovers and Prophets oor hierdie indrukwekkende man van bykans sewe voet en wat hom aan geen grens of reël gesteur het nie, gelees het.

“Dit was vir my so ʼn absurde, wonderlike storie en ek het gewonder waarom ek nog nooit van hom gehoor het nie,” het Anker gesê.

“Ek het dadelik van Buys gehou. Oor die teenstrydighede in hom. Hy was ʼn groot randfiguur en ʼn simbool van nie-rassigheid.”

Buys het volgens oorlewering verskeie swart vroue gehad by wie hy 300 kinders verwek het.

Volgens Anker het Buys, wat al as jong seun begin swerf het, in opstand gekom teen die kolonialisme en het hy ʼn bende mense om hom versamel wat saam met hom getrek het.

“Hy het weggevlug van die kolonie, maar self ʼn tiran geword wat die bende met ʼn ystervuis regeer het. Hy was ʼn bewegende kolonie.”

As teenstrydige wese het Buys onder meer konflik veroorsaak tussen grensboere en die Xhosas, en tussen verskillende stamme onderling. Tog was hy ook in ander opsigte ʼn brugbouer en het hy as tolk opgetree tussen die “kolonialiste” en die swart bevolking.

willem Anker PG du Plessis Woordfees (36)PG du Plessis, skrywer van Siener in die suburbs  wat al in 1972 die Hertzogprys aan hom besorg het, sou aanvanklik ook in Erfurthuis met Saartjie Botha gesels. Maar die belangstelling in die 71 jarige skrywer van onder meer ook die TV-reeks Koöperasiestories en humoris van die TV-programme PG gesels met en Spies en Plessis was so groot, dat die gesprek inderhaas na ʼn groter lokaal verskuif is.

Meer as 200 mense het opgedaag om na Du Plessis te kom luister.

Hy het die een staaltjie na die ander vertel en self heerlik gelag vir sy herinneringe. Vir hierdie skrywer is die skep van stories skynbaar so maklik soos asemhaal. Hy het onder meer vertel hoe hy, toe sy kinders nog klein was, met badtyd vir hulle stories vertel het wat hulle een oomblik laat huil en die volgende laat skaterlag het.

Hy het ook met groot deernis en respek gepraat oor sy mede-humoriste, Tolla van der Merwe, Koos Meyer en Jan Spies en die musikant en programvervaardiger Ollie Viljoen met wie hy gereeld saamgewerk het.

“Stories kom uit die bloute uit,”het Du Plessis gesê. “As ek uit my tonnelvisie wil breek, maak ek ʼn boek oop en druk op ʼn woord en nog ʼn woord. Ek skryf die woorde neer en deur vrye assosiasie begin iets vorm aanneem.”

Op die vraag hoe hy as ouer skrywer kyk na van sy vroeëre werk – meer bepaald Siener in die suburbs wat ook by die Woordfees op die planke is – het hy geantwoord hy “het ʼn helse dankbaarheid want ek weet hierdie ding het gehou. Dit was nie net ʼn eendagsvlieg nie. Maar ek wonder ook waar is daardie donders wat destyds so sleg gepraat het van die drama”.

Met hierdie stelling het hy verwys na die mense wat die stuk destyds erg gekritiseer het. Maar PG verduidelik dat dit waarskynlik te na aan die been gesny het vir die Afrikaners wat ʼn armblanke geskiedenis gehad het en wat eers in 1948 aan bewind gekom het.

Siener het die Afrikaner nie positief uitgebeeld nie. Ek hoop oor 200 jaar sal hierdie drama steeds relevant wees. Want ondanks al die moderne tegnologie is ons uiteindelik net mense en hierdie stuk spreek ons menslikheid aan.”

Op die vraag waarvoor hy sal wil hê sy werk moet onthou word, het Du Plessis sonder huiwering geantwoord: “Deernis. Ek wil hê mense moet kan sê daar was deernis vir almal – ongeag sosio-ekonomiese of kulturele agtergrond.”

Dis waarom hulle Woordfees toe kom

March 8, 2015 in Sonder kategorie

 

 

Stephanie KarikatuurDie Universiteit Stellenbosch se Woordfees lok mense van ver en wyd. Stephanie Nieuwoudt het ʼn paar mense – onder hulle ʼn regisseur en vervaardiger en ʼn Nederlander gaan pols oor waarom hulle van hierdie fees hou.

Hennie van Greunen (regisseur, skrywer en vervaardiger van Wordsmith’s Theatre Factory): sê Stellenbosch is die ideale feesdorp. ‘

“Dis ʼn universiteitsdorp met ʼn geskiedenis en ʼn kultuur van lees, leer en partytjie hou. Ek hou van die Woordfees se fokus op boeke en skrywers en die gehore is meestal belese en oop vir nuwe gedagtes en idees.

“Ek is al van die begin van die Woordfees deel van die program. Vanjaar is ons produksies Vir ewig en altyd met Sandra en Marius Weyers), Rondomskrik met Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal Donna Roberts en Richard September. Die teks is geskryf deur Rachelle Greeff. Ek maak ook ʼn draai by die ATKV se Skryfskool waar ek praat oor nuwe tendense. En ek neem later ook deel aan ʼn teatergesprek.

“‘Ek sien uit na die kunsuitstallings, veral dié van Cobus van Bosch en Sandra Hanekom. Ek gaan ook weer na die ATKV en Diek Grobler se Filmverse kyk. Een keer was te min. Ek wil ook graag Son. Maan. Sterre, Die Skuldeisier,  Adam 2 en Siener in die suburbs gaan kyk.”

Ingrid Glorie, redakteur van die tydskrif Maandblad Zuid-Afrika het al die pad van Nederland Stellenbosch toe gekom.

“Vir my is die Woordfees die interessantste van al die feeste in die land. Nie net het dit ʼn fantastiese skrywersprogram nie, maar ook die gehalte van die drama-, debat-, en musiekaanbiedings is uitstekend. As joernalis is die Woordfees vir my soos ʼn droom. Almal met wie ek ʼn onderhoud sou wou doen, kom hierheen. Ek is ook in Nederland die koördineerder van die Week van die Afrikaanse Roman en ek wil probeer om my te vestig as ʼn literêre agent wat bemiddel tussen Afrikaanse skrywers en Nederlandse uitgewers. Ook in hierdie verband is dit dus vir my belangrik om op hoogte te bly van wat op die letterkundige front aangaan en om soveel moontlik skrywers en uitgewers te ontmoet.

“Ten slotte beskou ek Stellenbosch al van 1993 as my tuisdorp in Suid-Afrika. Dit is ook wonderlik dat ek in Stellenbosch na bykans elke lokaal toe kan stap en nie van ander afhanklik is vir vervoer nie. Dit gee vir my ʼn heerlike gevoel van onafhanklikheid.

“Ek was in 2012 en 2013 by die Woordfees, maar kon dit nie in 2014 bywoon nie. Ek het vir ʼn volle tien dae in Nederland by die huis gesit en myself verskriklik jammer gekry omdat ek uitgemis het op al die besprekings en vertonings. Ek is bang mense gaan my vanjaar tot vervelens toe by die Boeketent en Erfurthuis – waar boekbesprekings en bekendstellings plaasvind – raakloop. Ek is ʼn groot bewonderaar van Amanda Strydom en wil dus ʼn Vuur gevang in glas, 16 Onse en Die Vredemakers bywoon.

Cobus Bester

Cobus Bester

Cobus Bester, ankeraanbieder van die oggendprogram Monitor op RSG sê die woordfees is vir hom spesiaal danksy die heerlike verskeidenheid mense wat om een sentrale tema saamgetrek word.

”En dit in die pragtige Stellenbosch.”

Waarna hy op ʼn bepaalde dag gaan kyk, word bepaal deur wat hy moet doen ter voorbereiding vir die volgende dag se program.

“Ek hou egter baie van die Diskoersreeks en ander gespreksaanbiedings. Ek is vanjaar vir die sewende keer by die Woordfees. Ek gaan ook gewis weer na die politieke wetenskaplike, prof Hermann Giliomee, se reeks gesprekke luister. Die tema – Anderste helde en die Beste Professor -reeks is vir my besonder interessant. Ek wil ook nie die orrelis, Zorada Temmingh, se uitvoering op 10 Maart om 13:00 in die Moederkerk misloop nie.”

Wini Esterhuizen, wat al verskeie letterkundige bydraes tot LitNet gemaak het, woon op Koës, Namibië, en besoek die Woordfees vanjaar vir die derde keer.

“Ek het min die geleentheid om by boekbesprekings en interessante besprekings uit te kom, omdat ek so ver weg van alles is. Ek gun myself elke jaar die geleentheid om my propvol kultuur te stop. Ek hou van boekbesprekings, die lekker atmosfeer by die Vette Mossel en ek kyk graag as daar kunstenaars daar optree.

“Die feeskern is nie baie groot nie, en dis heerlik om vriende raak te loop en te kuier. Ek wens net daar was nie selfone wat kan kiekies neem nie! Interessante gesprekke, soos die een met regter Edwin Cameron is vir my aanloklik. Ag, ek hou van alles van die Woordfees. Al noem die studente dit ʼn jool vir oumense.”

André Simpson, ʼn mediese dokter en inwoner van Stellenbosch hou van die Woordfees oor die groot aantal gehalteproduksies wat hier aangebied word.

“Die Woordfees volg nie populêre tendense slaafs na nie, maar bied ʼn substantiewe verskeidenheid produksies. Ek woon die fees by vir teater-, en musiekproduksies en die kunsuitstallings.”

 

 

Siener die keer van die Kaapse Vlakte

March 3, 2015 in Sonder kategorie

Stephanie Karikatuur

Stephanie Nieuwoudt

Dis ’n wipwarit na tragedie. Maar jy weet nooit wanneer die tragedie jou gaan tref nie.

Só beskryf Heinrich Reisenhofer, regisseur van Siener in die suburbs wat in Maart by die Woordfees te sien is, hierdie toneelstuk.

“Elk van die drie bedrywe eindig op ’n mespunt,” sê Reisenhofer. “Jy word heeltyd in onsekerheid gelaat.”

Hy het nog nooit ’n opvoering of selfs ’n video van hierdie werk, waarvoor PG du Plessis die Hertzogprys vir Drama in 1972 ontvang het, gesien nie.Heinrich Reisenhofer

“Ek het net wonderlike goed daarvan gehoor en al die fantastiese resensies gelees. Alexa Strachan, die vervaardiger van die stuk, het my gevra of ek die regie sal behartig. Toe ek die teks die eerste keer lees, het ek geweet ek wil daarmee werk. Ek laat speel dit op die Kaapse Vlakte af, wat dit ’n ander gevoel as die oorspronklike werk gee.”

Maar Reisenhofer het doelbewus van die negatiewe stereotipes van die gebied weggebly.

“Ek wou dit nie teen ’n bende-agtergrond laat afspeel nie. Jakes is steeds die motorfietsryer en die werkende man wat hy in die oorspronklike stuk is.”

Hy het ook nie aan die oorspronklike teks en dialoog gepeuter nie.

“Ek het ’n paar woorde gebruik wat eie aan die Kaapse Vlakte is. Maar sodra mense daardie taal hoor, lag hulle en dít sou afbreuk doen aan die stuk.”

Toe die drama in 1971 die eerste keer met Sandra Prinsloo as Tiemie en Marius Weyers as Jakes op die planke gebring word, het dit gehore tegelyk geskok en geboei. Jakes, die werkersklasman uit ’n suidelike voorstad van Johannesburg, soek na ’n ma vir sy ongebore seun. Tiemie wil net wegkom uit die armblanke agtergrond waarin sy grootgeword het. En dan is daar Tjokkie die “Siener”, wat met die helm gebore is.

“Bykans 50 jaar gelede het hierdie toneelstuk die soeklig gewerp op ’n gemeenskap wat nog nie voorheen op Suid-Afrikaanse verhoë gesien is nie. Dit het ’n geweldige impak gehad,” sê Reisenhofer. “PG het openlik en eerlik gepraat oor hoe ʼn bepaalde groep werkersklasmense in ʼn bepaalde gebied leef. Hy het iets uiters kragtig geskep wat vele ander skrywers geïnspireer het. Sedertdien is baie ander diepsinnige kwessies al in Afrikaans onder die loep geneem. ’n Mens sal nooit daardie impak wat dit in die 1970’s gehad het, kan nadoen nie. Daarom het ek eerder op die klassieke aard van die stuk gekonsentreer. Die trefkrag lê in die sterk karakters en die verhaal. Die sake wat aangeraak word, bly relevant.”

Alexa Strachan, vervaardiger van die die Woordfeesproduksie, voeg by dat hierdie stuk noodwendig met “dȧȧrdie Siener met Marius Weyers en Sandra Prinsloo vergelyk kan word”.

“Dit is ook ʼn waagstuk om dit op die Kaapse Vlakte te laat afspeel.”

Sy wou hierdie stuk laat herleef as ʼn huldeblyk aan PG du Plessis wat verlede jaar 80 geword het.

“Ongelukkig kon ons dit nie toe doen nie. Maar PG is baie tevrede daarmee dat ons dit nou Woordfees toe bring.” .

“Dis ’n klassieke en tydlose stuk en ek het dit nie aan ‘n bepaalde tyd gebind nie. In dié opsig is dit nie ‘histories’ nie,”sê Reisenhofer wat veral bekend is vir sy regie van die komediereeks Joe Barber. “Die gebeure in Siener speel steeds op verskeie plekke af.”

Gaan daar nie baie van die nuanses van die Afrikaanse teks verlore met dié dat hy Engelssprekend is nie?

“Dat ek Engels is, het voor- sowel as nadele. Ek lees weer goed raak wat Afrikaanssprekendes dikwels nie oplet nie, en ek glo ek het ’n goeie oor vir teksopvoering. Maar ek is tog ook oortuig daar is steeds dinge wat ek nie snap nie.”

Volgens Reisenhofer wou Strachan Christo Davids en Brendan Daniels in die rolle van Tjokkie (Siener) en Jakes hê.

“Hulle is ongelooflike sterk spelers en ek het die res van die rolverdeling om hulle gedoen,” sê Reisenhofer.  “Ek wou nog altyd met Shaleen Surtie-Richards saamwerk en ek kan my nie juis enigiemand buiten sy in die rol van Ma indink nie. Saam met Crystal-Donna Roberts as Tiemie, Ivan Abrahams as Giel, DJ Mouton as Albertus en Andrea Frankson as Fé, het ons die ideale geselskap. Hulle verleen gewig aan die karakters.”

Sy gunstelingkarakter?

“Giel is baie goed geskryf. Hy lyk minder belangrik, maar eintlik dra hy die hele stuk. En hy oorleef op verskeie vlakke.”

Sy gunsteling stuk dialoog?

“Waar Tiemie aan die einde van bedryf 1 sê: ‘Ek wou so graag van geweet wees.’ Dis vir my die wese van drome wat so maklik in ‘n werkersklasgemeenskap verpletter word – deur onder meer tienerswangerskappe en dwelm- en alkoholmisbruik. Waar alle hoop verloor word en drome in duie stort.

  • Siener in die Suburbs word gedurende die Woordfees op 6, 7 en 8 Maart (20:30) by die Spier-landgoed opgevoer.

Talle Woordfeeskaartjies al uitverkoop

February 25, 2015 in Sonder kategorie

Stephanie Karikatuur 2 vir web

 

As kaartjieverkope enige aanduiding is, gaan die US Woordfees, wat op die kampus van die Universiteit Stellenbosch en ‘n paar omliggende wynplase plaasvind, vanjaar ʼn groot treffer wees.

Meer as 45% meer kaartjies is reeds verkoop vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar. En vergeet van kaartjies kry vir Nataniël se vertoning Die maak van ʼn jas. So ook die middagetegesprek met Pieter-Dirk Uys wat vanjaar sy 70ste verjaardag vier. Al die kaartjies is reeds uitverkoop.

Ook uitverkoop is die diskoers China in Afrika; die demonstrasie van Marlene van der Westhuizen – wat op die skrywersfees geheime van ʼn Franse kookklas deel; De Wet Potgieter wie se boek oor Al-Kaïda in SA opslae maak en die optrede van die US koor.

 

woordfees web2

Jy sal vinnig moet spring vir kaartjies vir die dramas Dogma, Die seemeeu, Vir ewig en altyd asook die vertoning Hart en see met die immergewilde Laurika Rauch en Elvis Blue, en die musiekvertoning Doep is nie dood nie. Die gesprek met die argitekspaar Gawie en Gwen Fagan is ook bykans uitverkoop. Daar is ook min plek oor vir Willem Anker se bespreking van sy boek, Buys; ʼn grensroman oor die omstrede Coenraad de Buys.

Soos gewoonlik sal daar ook by die feeskern ʼn paar heerlike kuier- en eetplekke wees. Vroeë opstaners kan al van 06:00 soggens by die Plataankafee regskuif om te kyk en te luister hoe die span van Monitor radio laat gebeur. Verskeie RSG programme word deur die dag regstreeks van hier af uitgesaai en daar is ʼn groot klem op die Woordfeesgebeure.

Terwyl jy luister, sal jy by die pop-up restaurant onder die plataanbome ook iets te drinke en te ete kry.

By De Vette Mossel kan jy ook tot laataand iets vir die hongerpyne kry terwyl jy na ʼn verskeidenheid musikante kyk. Piet Botha, Arnold Carstens, Koos Kombuis, Schalk Joubert, Jan Blohm en Gerald Clark is maar net ʼn paar van die kunstenaars wat daar optree. En met Storievuur word allerlei staaltjies om ʼn vuur vertel.

Vir meer inligting besoek die Woordfees se webblad by www.woordfees.co.za

Op 25 is Christiaan ‘n vars bries in teaterbedryf

March 8, 2013 in Sonder kategorie

 

Hy is net 25 jaar oud, maar Christiaan Olwagen se naam staan figuurlik gesproke reeds in helder ligte in die wêreld van Afrikaanse teater.

By die Woordfees het hy drie produksieballe in die lug gehou: Tjop & dop, X + Y en Die lelike eend. Tjop & dop, wat hy beskryf as die teenvoeter vir sy bekroonde stuk N is vir Neurose het hy geregisseer en saam met De Klerk Oelofse geskryf, X + Y het hy self geskryf maar die regie aan die veteraan Marthinus Basson oorgelaat. Die Lelike eend het hy ook geregisseer. Die stuk is ʼn vertaling – deur nog ʼn talentvolle jongeling, Roelof Storm wat ook die hoofrol vertolk – van die Duitse Marius von Mayenburg se toneelstuk.

X + Y – oor die worstelinge van tieners en hul verhouding met hul ouers, asook Tjop & dop was dalk die mees omstrede produksies op die fees. Sommige mense het by die produksies uitgestap, ander het op sosiale media gekla oor die kru taal. Maar dit verhoed nie dat feesgangers steeds tou staan vir kaartjies nie.

 

Olwagen het al as student aandag getrek. As dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch het hy twee Fleur du Cap-toekennings ontvang en by die Aardklopfees in 2012 het hy die Aartvarkprys vir grensverskuiwende werk ontvang vir Woza Andries? waarin Jesus as ʼn bruin vrou in ʼn eietydse Suid-Afrika uitgebeeld word en deur twee mans verkrag word.

“Ek doen werk wat my nie verveel nie,” sê Olwagen.

Van sy werk word onder die naam Polony aangebied. Dis ʼn kollektief van hoofsaaklik mense wat saam met hom aan die US studeer het.

“Nie een van ons is uitsluitlik daartoe verbind om net met mekaar te werk nie. Wanneer daar geleentheid is, werk ons saam, maar ons is vry om ook aan ander produksies te werk. Ek sou niks kon regkry sonder die mense wat speel, props gaan soek, sound cues doen en kostuums ontwerp nie. En van die mense word nie noodwendig of altyd betaal nie. Almal wat op een of ander manier voel hulle kan ʼn bydrae maak, pitch in. Dis ʼn groep mense wat kom en gaan. Dit is ʼn poligame, oop verhouding.”

Olwagen het as student nou kontak gehad met die regisseur en dramaturg Marthinus Basson wat ook aan die US se dramadepartement klasgee.

“Ek was as student die MC in die musiekspel Cabaret maar Marthinus het voorgestel ek probeer om regie te doen.”

Op 25 is dit duidelik hy is sensitief vir dit wat in die hedendaagse wêreld aangaan – hetsy dit die soms moeilike verhouding tussen ouers en kinders is, of die moderne obsessie met skoonheid of die politieke sake van die dag.

“Ek dink nie ek het ʼn spesiale wysheid nie. Ek hou egter mense dop. Ek doen dit al van kleinsaf. Ek wil weet wat die human animal laat tick. Ek probeer om mense te lees sonder om ʼn oordeel te vel.

Ja, hy is bewus daarvan dat hy bitter vroeg in sy lewe reeds op ʼn plek is waaroor baie ander en ouer teatermense maar net droom. “Ek wil nie skynheilig nederig oorkom nie, want daar is niks so irriterend as iemand wat humble pie vreet nie. Maar ek is bang ek is dalk die flavour of the month. Ek weet dat ons nogal besonder goed doen vir mense wat nog grootliks onbekend is. Ek is egter dankbaar ek is in die bevoorregte posisie om werk te doen waarvan ek hou. Dalk vind mense aanklank by wat ons doen omdat dit die tydsgees weergee. Ek het per ongeluk ʼn aar raakgeboor.”

Hy erken die kunstefeeste bied vir hom en ander jonges in die bedryf ʼn veilige hawe.

“Ons kry kans om ons spiere te flex want die feeste is bereid om met ons te waag. Ek kry ook nie geleentheid om die post-production blues te ervaar nie. Ons is reeds besig om te werk aan ʼn nuwe stuk Vagina Dentata wat KKNK toe gaan ”

Hy dink ʼn oomblik.

“Ek het eerlikwaar geen idee waarom gehore nou hou van dit wat ons doen nie. Dalk dink almal oor twee maande dit waarmee ons besig is, is vervelig. Dalk is daar dan ʼn nuwe groep, Die Hoender of Die Sosaties, en is ons oorbodig. Ek probeer om myself en wat ek doen nie te ernstig op te neem nie. As ek oor tien, vyftien jaar nog besig is met die teater, en jy kom dalk in ʼn toekomstige onderhoud agter ek is te ernstig, please call me on my shit.”

Niemand anders is in sy gesin is in die teaterbedryf nie.

“Maar hulle is almal dramaties. My pa, ʼn voormalige dominee, het een keer soos Tarzan met ʼn tou in die kerk ingeswaai toe hy een of ander punt wou beklemtoon.”

Oor sy jeug sê hy: “Dis die quarter life-crisis. Ons verlaat die nes nog voordat ons behoorlik kan vlieg. Jou twintigerjare is ʼn vreemde plek om te wees. Jy is nie heeltemal volwasse nie, maar ook nie kind nie. Is jy regtig volwasse as jy jou eie huur betaal, maar jou ma betaal nog vir jou selfoon?”

 

 

 

 

 

.

Cobus Bester glo aan respek vir Monitor-gespreksgenote

March 7, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Die son is skaars op, maar die Plataankafee by die Woordfees is bedrywig. Feesgangers drink koffie, of hulle eet iets ligs. Maar eintlik is hulle hier om die Monitor-span in aksie te sien.

Die Plataankafee is al jare lank Monitor se opelug-ateljee vir die duur van die fees. En jaar na jaar is dit veral Cobus Bester, anker-aanbieder van die program, op wie die aandag vroegoggend gevestig is.

Met groot gemak word die nuus aangebied, gesels hy oor aktuele sake, om soomloos daarna met ʼn ekonoom te gesels of ʼn digter oor sy/haar werk uit te vra.

“Ons is wel by die Woordfees, maar ons kan nie die nuus agterweë laat bly nie,” sê hy. Tog word die belangrikste gebeure en produksies by die fees ook bespreek nog voordat dit aangebied word. So vind daar die oggend voordat Edward-John Bottomley en Dana Snyman later in die dag in die Boektent oor armblankes gesels, ʼn ateljee gesprek met die twee plaas.

“Ons kry die feesprogram vooruit en besluit dan op ʼn paar gesprekke, maar dit is ook ʼn organiese proses. Sommige besprekings vloei logies uit dit wat gebeur wanneer ons by die fees is. Soms is dit iets wat onmiddellik opgevolg word, en soms is dit iets wat ons na die fees kan opvolg,” verduidelik Cobus.

“Die voordeel hier is dat ons in die akademiese omgewing van die Universiteit Stellenbosch is en onmiddellik toegang het tot ʼn klomp kundiges op verskillende gebiede.”

Hoewel daar voor ʼn ateljee-onderhoud probeer word om vas te stel of die gas wel vlot en onderhoudend kan gesels en sy kennis verstaanbaar kan oordra, sê Cobus daar is altyd ʼn effense risiko met ʼn onbekende gas.

 

Cobus Bester

“ʼn Mens probeer sif, maar hier en daar glip iemand tog deur. Dit het nog selde gebeur dat die gespreksgenoot net ja of nee antwoord, maar wanneer dit gebeur swéét jy. In die jare 1960 het die BBC ʼn onderhoud gevoer met Hastings Banda, leier van die destydse Nyasaland wat vandag Malawi is. Die ou korrelkop het net ja en nee geantwoord, maar die onderhoudvoerder het sy vrae so aangepas dat die antwoord noodwendig ja of nee moes wees. Ek is nie so slim nie.”

 

Hy erken dat hy wroeg wanneer hy foute op die lug begaan.

“Dis belangrik om te wroeg. Want dan sorg jy dat jy minder foute maak.”

Dis ʼn klein groep mense wat by Monitor en die sustersprogram, Spektrum (wat in die middag uitgesaai word) werk.

“Elkeen van die mense bring hulle sterk punte, verwysingsraamwerk en belangstellings na die program toe. Ons is dus ʼn span mense met ʼn gesamentlike breë perspektief wat ʼn verskeidenheid onderwerpe na die tafel bring.”

Vir jare was daar weens streng begrotings en min personeel min geleentheid vir joernaliste om veldwerk te doen. Talle onderhoude het telefonies plaasgevind.

“Daar is nou weer geleentheid om uit te gaan en klank by te werk. Dit beteken egter ons moet mense deurentyd oplei om met klank te werk.”

Radio wérk met klank. Daar is geen beelde om die prentjies in luisteraars se koppe te help skep nie.

“Die BBC het in ʼn navorsingsprojek vir ʼn 12-jarige wat min TV gekyk het gevra waarom hy radio verkies. Sy antwoord was dat die radio beter prentjies het. By Monitor probeer ons om ʼn hoë standaard te ontwikkel. Ons bespreek elke program en hou ook weekliks ʼn vergadering om dit wat verkeerd en dit wat reg was te identifiseer en probleme probeer regstel.”

Die koms van die internet het joernaliste se werk makliker, maar ook gevaarliker gemaak.

“As jy lui is, gaan jy maklik staat maak op iets wat jy op Google kry sonder om te bevestig dat dit waar is. Die goue reël was nog altyd dat inligting deur drie onafhanklike bronne bevestig moet word. Dit gebeur nie noodwendig meer altyd nie.”

Een van sy belangrike reëls is om in eenvoudige taal te kommunikeer.

“Ek het lankal agtergekom mense wat hul vak werklik goed ken, kan hul kennis op so ʼn wyse oordra dat dit vir almal verstaanbaar is. ʼn Gas het een keer ʼn ingewikkelde woord gebruik en ek het gevra wat dit beteken. Sy het dit self nie mooi verstaan nie. Ek wou haar nie in die verleentheid stel nie, maar wou werklik die betekenis daarvan weet.”

Cobus het in die laat 1970’s by die SAUK aangesluit.

“Iemand het vir my die goeie raad gegee om eers die bedryf te leer ken en ek het as videoband-operateur begin werk en was later ʼn beeldkontroleerder.”

Toe Jerry Schuitema, destyds hoof van die ekonomiese nuusredaksie hom aangemoedig het om uit te saai, het hy die geleentheid gegryp.

“Ek het ʼn belangrike les by Jerry geleer. Hy het gesê: ‘You cannot lie about economics. The markets will always expose you’.”

Cobus glo hy moet altyd respek betoon aan alle gaste.“Ek hoef nie met iemand se ideologie saam te stem nie. Dis my verantwoordelikheid om pertinente vrae te vra, en as iemand hom in ʼn hoek inpraat, is dit goed. Maar dit is ook my verantwoordelikheid om almal met respek en beleefdheid te benader sonder om kruiperig te wees. Jy kan iemand met respek in ʼn hoek dryf. Suid-Afrikaanse luisteraars is konserwatief in die opsig dat hulle nie onbeskoftheid duld nie. Ek weet egter ook ek gaan nooit almal tevrede stel nie. Ons het onlangs ʼn onderhoud met ʼn paar ouens gehad wat die ANC skerp gekritiseer het. Kort na die program was daar ʼn SMS van iemand wat my weer kritiseer omdat ek kwansuis ANC-gesind is. Ek glo ʼn mens doen jou werk as joernalis goed as jy op een of ander stadium almal kwaad maak. Maar ons moet altyd kan motiveer dat dit wat ons doen aan joernalistieke beginsels voldoen.”

 

 

 

Athol Fugard nog lank nie klaar met die lewe nie

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Athol Fugard lag uit sy maag uit wanneer hy gevra word oor die tydskrif Time wat hom die “grootste lewende dramaturg” in die Engelssprekende wêreld noem.

“Dis absolute nonsens. Hoe kan hulle so iets sê. Jy weet mos hoe gevaarlik dit is vir ʼn dramaturg om met daardie woorde in sy kop rond te loop. Ek is nie spesiaal nie. Ek is ʼn Karoo-gebore skrywer wat in khaki broeke en hemde rondloop,” sê die 81-jarige op die stoep van die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin. Die onderhoud vind plaas in die week waarin die jaarlikse US Woordfees aangebied word.

Athol Fugard. Foto: Stefan Els

 

Fugard, wat vir jare in Amerika gewerk en gewoon het, en in die land as ʼn groot dramaturg gehuldig wod,  sal later die week tydens ʼn skrywersprofiel, Athol Fugard: 81 (8 Maart) vereer word. Sy vriend Mannie Manim, ook ʼn teaterlegende soos Fugard, sal gesels oor die dramaturg se bydrae tot die teaterwêreld. Vroeër die dag (12:00) sal daar ook ʼn voorlesing wees van die kortverhaal wat Fugard spesiaal vir die fees geskryf het.

Hy is ernstig oor die khaki. Toe hy onlangs deur Karen Meiring, kanaalhoof van kykNet gevra is om ʼn geleentheid by te woon, het hy dit duidelik gemaak hy besit nie ʼn pak nie en hy sal dit bywoon mits hy sy gewone klere kan dra.

“Wanneer jy 80 jaar oud word, verwag mense nie te veel van jou nie. Jy kan doen wat jy wil. Hulle mag dalk wel prewel: ‘Ag man, hy is oud. Kom ons los hom om te doen wat hy wil’. Dit is wonderlik.”

Sy oë word skrefies van lekkerkry.

“Maar hulle besef nie die avontuur begin eers wanneer jy 80 jaar oud word nie. Alles wat agter jou lê is bloot oefening vir die belangrike jare na 80.”

Fugard is ʼn skrywer wat internasionaal bekendheid verwerf het vir sy teen-apartheid werk. Hy het ook ʼn string ere-doktorsgrade van verskeie internasionale en plaaslike universiteite – waaronder ook die Universiteit Stellenbosch – ontvang.  Maar hy sê hy ervaar nou saam met miljoene ander Suid-Afrikaners “ʼn gevaarlike gevoel van verraad”.

“Ons het opofferings gemaak om te verseker our beloved country does not cry anymore – met verskoning aan Alan Paton. Maar ek is bevrees die land huil steeds.”

Skielik is hy woedend en klap hy passievol met sy vuis op die tafel.

“Soveel politici vind dit bevorderlik om die spook van apartheid lewendig te hou. Minister Lulu Xinwana het die grootste k.. in Australië kwytgeraak oor wit Afrikaner mans. Dit was gevaarlike woorde wat aktief daartoe bydrae om vooroordeel teenoor ʼn minderheidsgemeenskap te vestig.”

Ondanks die negatiewe opskrifte wat hy daagliks raaklees, glo hy daar is altyd iets positiefs.

“Jare gelede, toe ek in ʼn vissershut in Port Elizabeth gewoon en besig was om Boesman and Lena te skryf, het ek besef van al die emosies wat ek nie in myself moet ronddra nie, is haat die belangrikste. Dit is sekerlik die mees onproduktiewe emosie wat ʼn kunstenaar kan ervaar.”

Hy sê hy is deur 50 jaar van apartheid gevorm.

“Ek probeer om uit die kettings uit te breek. Maar ek sukkel. Tydens die twee kere wat ek ʼn genoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing was, het die jong mense van die Universiteit Stellenbosch my baie in die verband gehelp. Ek het besef baie van die kwessies waarmee mense van my generasie worstel, maak eenvoudig nie vir hulle saak nie. Hulle is in ʼn heeltemal ander wêreld gebore. Suid-Afrika het egter nou meer as tevore, skrywers nodig. Jong skrywers moet hul oë oopmaak en begin skryf.”

Toe hy die eerste keer in Stellenbosch aangekom het, het hy besef hier is baie snobs.

“Ek het soos ʼn buitestaander gevoel. Ek het nie ʼn paspoort gehad wat van my ʼn Stellenbosser gemaak het nie. Dit het een dag verander toe ek saam met ʼn vreemde bruin vrou by ʼn kruising gewag het. Die bestuurders wou ons nie ʼn kans gee om die pad te kruis nie. Uit pure frustrasie het ek in die pad gaan staan en die motors tot stilstand gedwing. Toe ons aan die oorkant van die straat kom, het ek en die vrou ʼn paar woorde gewissel en elkeen het in sy eie rigting wegbeweeg. Ek het skielik gevoel ek is tuis. Ek het met ʼn vreemdeling Afrikaans gepraat. Dit is vreemd, maar dit was een van die groot momente van my lewe.”

Die gebeure het ook die kortverhaal geword vir sy Athol Fugard: A Reading by die Woordfees.

Beelde uit die werklike lewe was nog altyd die snellers vir sy skryfwerk.

“Ek het nog nooit geskryf danksy ʼn gedagte nie. Dit was eerder beelde wat na ware gebeure oorgebly het, wat my laat skryf het.”

Toe hy 80 jaar oud geword het, het hy besluit dit was tyd om die belofte gestand te doen wat hy lank gelede aan sy Afrikaanssprekende ma gemaak het om eendag ʼn Afrikaanse toneelstuk te skryf. Die laaste Karretjiegraf  het groot lof ontvang. Ook dit is gegrond op ʼn ware gebeure. Toe sy ma ʼn jong vrou was, het sy eendag afgekom op twee Karretjiesmense. Die vrou was onder die wa besig om te kraam. Sy het die vrou gehelp en drie dae lank vir hulle kos geneem. Die mense was net skielik weer weg.

“Dis ʼn wonderlike storie en ek het altyd geweet ek sal iets oor my ma se ervaring skryf. Dit was moeilik om in Afrikaans te skryf, maar ek het hulp gehad van Adriana Steyn, ʼn antropoloog wat haar meesters gedoen het oor die kinders van die Karretjiesmense. Ek het gelukkig gevoel dat ek op Stellenbosch my belofte aan my ma kon nakom.

Fugard het al dikwels na homself verwys as ʼn Afrikaanse skrywer wat in Engels skryf – al is die taal waarin hy dink en praat Engels.

“As Karoo-kind het ek ʼn verbintenis met die taal en die lewenstyl gehad. ʼn Mens moet skryf oor dinge wat vir jou waar voel. Dit is ʼn uitdaging vir ʼn Engelse skrywer om so te skryf dat die ritme en gevoel van jou skryfwerk Afrikaans klink en voel. Toe ek as kind William Faulkner ontdek het, het ek besef groot skrywers is eerlik, hulle skryf sonder ydelheid en hulle skryf oor die lewe waarvan hulle getuies is.”

In ʼn onderhoud het Fugard een keer gesê:   “Word processors, typewriters and ballpoint pens don’t work for me. I am a sensualist writer who needs a fountain pen and paper”.

Hy haal ʼn notaboek uit sy sak en wys na die netjiese skrif. “Ek gebruik steeds ʼn vulpen om in my dagboek te skryf.”

Hy lees ʼn stukkie oor die hitte van Stellenbosch en ʼn gedig oor ʼn ou man.

“Ek is nog nie klaar met dié wêreld nie. Maar ek moet die feit erken: Hoeveel jare is daar nog vir my oor? Ek het geen geloof nie en ek kan nie bid vir meer jare nie. Daar is egter nog ten minste ʼn goeie vyf jaar oor wat ek kan uitpers. Dalk rook ek te veel pyp, maar ek probeer om na myself om te sien. Ek is steeds elke dag verwonderd oor mense, die wêreld en die lewe in die algemeen.”

 

In museum se stof het sy inspirasie gevind

February 21, 2013 in Sonder kategorie

Anja de Klerk het in 2007 as kunsstudent aan die Universiteit Stellenbosch vir ʼn projek in die US Museum se stoorkamers rondgesnuffel.

Daar het sy afgekom op ou werke “van historiese en nuuskierigheidsbelang” wat nooit uitgestal word nie. Sy het geweet sy wou weer op een of ander manier na die werke terugkeer. In 2010 was sy een van ʼn groep mense wat opleiding gekry het in New York se Independent Curators International opleidingsprogram. Die twee ervarings het gelei tot die uitstalling kuns nou-nou: versamel; gesprek  wat op die US Woodfees (1 – 10 Maart) te sien is. Die kunstenaars Abri de Swardt, Lunga Khama, Tasneem Khan en Chris Swart het een van die ou werke uit die museum gekies en met hul eie werk daarmee e in gesprek getree. Die kunstenaar Francis Burger het verkies om iets anders te doen.

Stephanie Nieuwoudt: Jy het op werk afgekom wat nie uitgestal word nie. Dit is teen die aard van kuns wat gesien moet word.
Anja de Klerk: Ek is gefassineer deur versamelings en hoe sulke “saambondelings” van dinge, hoe amptelik of persoonlik ookal, ge-orden word en hoe diegene wat daarvoor verantwoordelik is en daarmee te doen kry daaroor dink. Ek dink nou sommer aan die ou Wunderkammer  ‘cabinets of curiousity’ van die Renaissance en my ouma se spens! Versamelings en in hierdie geval ‘n kunsversameling maak my opgewonde – ek sien potensiaal en opwinding waar ander dalk net stof en ou rame sien. Dit is dus nooit te vroeg of te laat om interessanthede op te diep nie!

Die verhouding tussen kunsmaak (die kunstenaar se posisie) en die posisie van die galery of versameling is eienaardig – kunstenaars skep gereeld omdat hulle moet – kunsmaak is vir baie kunstenaars ‘n intieme deel van hulle bestaan en dus ‘n lewensaktiwiteit. Daarteenoor word galerye of versamelings as instansies met ‘n heel ander doel bestuur en gedryf – met die toekoms (hoe ver ookal), bewaring en opvoeding in gedagte.

Die hou, berg en versorging van kunswerke is ‘n gewone deel van die funksionering van ‘n kunsversameling, maar op die ou end dink ek dat ‘n versameling is net so goed soos die bestuur  en aktivering daarvan.

Anja de Klerk

SN: Gee voorbeelde van ‘n paar van die werke waarop jy afgekom het wat jy dink verdien om die “lig” te sien?

AdK: Ek dink die kunstenaars van die kuns nou-nou: versamel; gesprek projek het baie oulike en slim keuses gemaak het nadat hulle in die US Museum se stoorruimtes gedelf het. Tasneem Khan het byvoorbeeld ‘n Peet Pienaar werk gekies wat te make het met sy identiteit as wit man en sy ervaringe van die weermag. Dit is ook een van die min sogenaamde kontemporȇre werke in die versameling.
Dit is moeilik om algemene waarde-oordele te maak, maar ek hou vol daarby dat daar lekker potensiaal in hierdie versameling is – daar is gewis heelwat geleenthede vir herinterpretasie en navorsing.

SN: Het die eietydse kunstenaars om een of ander vreemde, onverklaarbare rede dalk rondom dieselfde tema ‘n werk in die museum gekies? Of het hulle almal wyd uiteenlopende werke gekies?

 AdK: Die jong kunstenaars het in twee gevalle ‘n sterk tematies ooreenstemmende keuse gemaak, maar in die ander drie gevalle glad nie.
Abri de Swardt was die eerste kunstenaar wat die kans gehad het om in die stoorruimtes te gaan rondsnuffel en het ‘n gips-kopie van ‘n oorspronklike eikehout Duits Gotiese beeld wat Christus en Johannes uitbeeld (c. 1320) gekies. Die oorspronklike beeld is in die Bode Museum in Berlyn en Abri het van Londen, waar hy studeer, soontoe gereis om een deel van sy werk vir die uitstalling te verfilm.

Chris Swart het, onbewus van Abri se keuse, besluit om Claude Mellan se graveerwerk Head of Christ on the Sudarium (Hoof van Christus op die Sluier van Veronica c. 1649) te  gebruik as basis vir sy nuwe werk. ‘n Klassieke religieuse tema het dus heel onverwags kopuitgesteek in Abri en Chris se keuses van oorspronklike werke – dit is natuurlik nie te sê dat dit die presiese of enigste tema vir die nuwe werke wat in gesprek hiermee geskep word, is nie.

Francis Burger het byvoorbeeld besluit om nie ‘n enkele werk vanuit die versameling te kies nie, maar eerder ‘n ondersoekende-joernalistieke rol te speel tydens die uitstalling en om tegelykertyd ‘n klein publikasie te maak. Haar werk is dus heelwat meer “performance” of vertoonkuns. Lunga Kama het deur fotografie met die tradisionele Xhosa kralewerk uit die Museum se Antropologiese versameling gewerk.
Soos ‘n mens seker kan verwag van ‘n uitstalling wat bestaan uit ‘n groep uiteenlopende kunstenaars  die tematiese drade in die uitstalling hier en daar nou verbind en op ander plekke weer baie uiteenlopend.

Die Gotiese beeld wat Abri de Swardt as inspirasie gebruik het. Dit is in die Schreuder-versameling.

SN: Verduidelik die titel: kuns nou-nou.

AdK: Die titel ‘kuns nou-nou’ kom van ‘n uitstallingsvoorstel wat ek in 2010 saam met die Independent Curators International in NY ontwikkel het. Ek het gekyk na Taschen se Art Now boekereeks wat as “A cutting-edge selection of the artists that matter the most” beskryf word en gedink dat dit op ‘n manier belaglik en dalk arrogant is om binne die baie groot diverse netwerk en ekostelsel van eietydse kuns ‘n paar kunstenaars so te verhewe en te kanoniseer. Sulke publikasies lei tot monolitiese (eenogige) denke oor wat en wie “kuns” is. “Nou” is nie ‘n baie lang tyd nie – “nou-nou” is vir my baie interessanter want dit verwys na of die baie onlangse verlede of die toekoms. Nou-nou is ‘n speelse en vloeibare term.

Gevolglik is kuns nou-nou ‘n manier om te sê: Hier gooi ons ons net wyer oop en neem ons opkomende kunstenaars en hulle diverse belange en ontwikkeling in ag. kuns nou-nou is vir my ‘n langtermyn vloeibare en vloeiende projek. Die versamel; gesprek deel van die titel verwys in hierdie geval na die US Museum se versameling wat geaktiveer word deurdat die gekose jong kunstenaars visueel daarmee in gesprek tree.
SN: Wat het jou verras of teleurgestel van die bepaalde projek?

AdK: kuns nou-nou is ‘n volledig selfbefondsde projek. Dit sou ‘n groot aanmoediging wees om meer regstreekse finansiële ondersteuning, hoe klein of groot ookal, van die Fees te ontvang.  Aan die ander kant is dit wonderlik om met talentvolle en toegewyde kunstenaars te werk – om deel te wees van hulle seleksie en maak-proses, hulle manier van kyk en doen is gereeld verrasend, stimulerend en ‘n aanmoediging om aan te hou werk.
SN: Is die kunswerke deur die eietydse kunstenaars te koop by die Fees?

AdK: Dit is maklik om te sê dat ons ons werk net vir die liefde doen, maar soos almal anders moet kunstenaars en uitstalmakers ook brood vat ten duurste petrol ingooi! So, ja, al die nuwe werke wat deel uitmaak van die uitstalling is te koop by die Fees!

SN: Waarom het jy die bepaalde kunstenaars gevra om aan die projek deel te neem? Spreek hulle werk om een of ander rede tot jou? Of is daar iets “histories” in hul werk wat jy gedink het kan aanklank vind by die ou werke?

AdK: Ek het die kunstenaars wat deel uitmaak van die projek gekies omdat hulle besonder talentvol is, omdat hulle ‘n spesiale posisie beklee en ‘n spesiale visie en perspektief bied. Die oorspronklike vraag wat ek aan myself gestel het voordat ek die kunstenaars gekontak het, is: ‘Wie sal anders kyk na die bestaande versameling en ‘n nuwe en alternatiewe perspektief bied?’
Die uitstalling sou oorspronklik ook heelwat meer deelnemers ingesluit het, maar weens  beperkte tyd en hulpbronne moes ek dit sny tot vyf deelnemers. Ek het dus nog ‘n lekker lys van mense wat onder meer Joe Foster, Jared Ginsburg en Tamzyn Varney insluit, wat by toekomstige kuns nou-nou projekte betrokke sal wees. Daar is baie talent, maar min geleenthede – dit is wat my dryf.

SN: Waarom dink jy is ʼn uitstalling soos die goed vir die Woordfees?
AdK: Ek moet dit waag om te sȇ dat die visuele kuns wat in die verlede by die Woordfees uitgestal is aan die konserwatiewe kant was. Ek moet die fees egter ‘n pluimpie gee vir hoe hulle hul vanjaar oopgooi en vir ‘n groter verskeidenheid van visuele-kunsmaak-benaderings plekmaak.

Ek dink kuns nou-nou bied ‘n eietydse benadering tot kunsmaak en moontlik ander perspektiewe en maniere van ‘visueel wees’ aan die Fees.  Ek dink dat dit ook ‘n bykomende en moontlik jonger gehoor sal lok en nuwe belangstelling en bewusmaking rondom die Fees tot stand sal bring.

Ek is oop vir gesprek, debat en vrae en beplan twee rondleidingsessies wat binnekort op ons webblad www.kunsnounou.info bekend gemaak sal word.