You are browsing the archive for respek.

Cobus Bester glo aan respek vir Monitor-gespreksgenote

March 7, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Die son is skaars op, maar die Plataankafee by die Woordfees is bedrywig. Feesgangers drink koffie, of hulle eet iets ligs. Maar eintlik is hulle hier om die Monitor-span in aksie te sien.

Die Plataankafee is al jare lank Monitor se opelug-ateljee vir die duur van die fees. En jaar na jaar is dit veral Cobus Bester, anker-aanbieder van die program, op wie die aandag vroegoggend gevestig is.

Met groot gemak word die nuus aangebied, gesels hy oor aktuele sake, om soomloos daarna met ʼn ekonoom te gesels of ʼn digter oor sy/haar werk uit te vra.

“Ons is wel by die Woordfees, maar ons kan nie die nuus agterweë laat bly nie,” sê hy. Tog word die belangrikste gebeure en produksies by die fees ook bespreek nog voordat dit aangebied word. So vind daar die oggend voordat Edward-John Bottomley en Dana Snyman later in die dag in die Boektent oor armblankes gesels, ʼn ateljee gesprek met die twee plaas.

“Ons kry die feesprogram vooruit en besluit dan op ʼn paar gesprekke, maar dit is ook ʼn organiese proses. Sommige besprekings vloei logies uit dit wat gebeur wanneer ons by die fees is. Soms is dit iets wat onmiddellik opgevolg word, en soms is dit iets wat ons na die fees kan opvolg,” verduidelik Cobus.

“Die voordeel hier is dat ons in die akademiese omgewing van die Universiteit Stellenbosch is en onmiddellik toegang het tot ʼn klomp kundiges op verskillende gebiede.”

Hoewel daar voor ʼn ateljee-onderhoud probeer word om vas te stel of die gas wel vlot en onderhoudend kan gesels en sy kennis verstaanbaar kan oordra, sê Cobus daar is altyd ʼn effense risiko met ʼn onbekende gas.

 

Cobus Bester

“ʼn Mens probeer sif, maar hier en daar glip iemand tog deur. Dit het nog selde gebeur dat die gespreksgenoot net ja of nee antwoord, maar wanneer dit gebeur swéét jy. In die jare 1960 het die BBC ʼn onderhoud gevoer met Hastings Banda, leier van die destydse Nyasaland wat vandag Malawi is. Die ou korrelkop het net ja en nee geantwoord, maar die onderhoudvoerder het sy vrae so aangepas dat die antwoord noodwendig ja of nee moes wees. Ek is nie so slim nie.”

 

Hy erken dat hy wroeg wanneer hy foute op die lug begaan.

“Dis belangrik om te wroeg. Want dan sorg jy dat jy minder foute maak.”

Dis ʼn klein groep mense wat by Monitor en die sustersprogram, Spektrum (wat in die middag uitgesaai word) werk.

“Elkeen van die mense bring hulle sterk punte, verwysingsraamwerk en belangstellings na die program toe. Ons is dus ʼn span mense met ʼn gesamentlike breë perspektief wat ʼn verskeidenheid onderwerpe na die tafel bring.”

Vir jare was daar weens streng begrotings en min personeel min geleentheid vir joernaliste om veldwerk te doen. Talle onderhoude het telefonies plaasgevind.

“Daar is nou weer geleentheid om uit te gaan en klank by te werk. Dit beteken egter ons moet mense deurentyd oplei om met klank te werk.”

Radio wérk met klank. Daar is geen beelde om die prentjies in luisteraars se koppe te help skep nie.

“Die BBC het in ʼn navorsingsprojek vir ʼn 12-jarige wat min TV gekyk het gevra waarom hy radio verkies. Sy antwoord was dat die radio beter prentjies het. By Monitor probeer ons om ʼn hoë standaard te ontwikkel. Ons bespreek elke program en hou ook weekliks ʼn vergadering om dit wat verkeerd en dit wat reg was te identifiseer en probleme probeer regstel.”

Die koms van die internet het joernaliste se werk makliker, maar ook gevaarliker gemaak.

“As jy lui is, gaan jy maklik staat maak op iets wat jy op Google kry sonder om te bevestig dat dit waar is. Die goue reël was nog altyd dat inligting deur drie onafhanklike bronne bevestig moet word. Dit gebeur nie noodwendig meer altyd nie.”

Een van sy belangrike reëls is om in eenvoudige taal te kommunikeer.

“Ek het lankal agtergekom mense wat hul vak werklik goed ken, kan hul kennis op so ʼn wyse oordra dat dit vir almal verstaanbaar is. ʼn Gas het een keer ʼn ingewikkelde woord gebruik en ek het gevra wat dit beteken. Sy het dit self nie mooi verstaan nie. Ek wou haar nie in die verleentheid stel nie, maar wou werklik die betekenis daarvan weet.”

Cobus het in die laat 1970’s by die SAUK aangesluit.

“Iemand het vir my die goeie raad gegee om eers die bedryf te leer ken en ek het as videoband-operateur begin werk en was later ʼn beeldkontroleerder.”

Toe Jerry Schuitema, destyds hoof van die ekonomiese nuusredaksie hom aangemoedig het om uit te saai, het hy die geleentheid gegryp.

“Ek het ʼn belangrike les by Jerry geleer. Hy het gesê: ‘You cannot lie about economics. The markets will always expose you’.”

Cobus glo hy moet altyd respek betoon aan alle gaste.“Ek hoef nie met iemand se ideologie saam te stem nie. Dis my verantwoordelikheid om pertinente vrae te vra, en as iemand hom in ʼn hoek inpraat, is dit goed. Maar dit is ook my verantwoordelikheid om almal met respek en beleefdheid te benader sonder om kruiperig te wees. Jy kan iemand met respek in ʼn hoek dryf. Suid-Afrikaanse luisteraars is konserwatief in die opsig dat hulle nie onbeskoftheid duld nie. Ek weet egter ook ek gaan nooit almal tevrede stel nie. Ons het onlangs ʼn onderhoud met ʼn paar ouens gehad wat die ANC skerp gekritiseer het. Kort na die program was daar ʼn SMS van iemand wat my weer kritiseer omdat ek kwansuis ANC-gesind is. Ek glo ʼn mens doen jou werk as joernalis goed as jy op een of ander stadium almal kwaad maak. Maar ons moet altyd kan motiveer dat dit wat ons doen aan joernalistieke beginsels voldoen.”