You are browsing the archive for onderhoud.

Van Hemert bekoor deur uitdagende Strindberg

February 20, 2015 in Sonder kategorie

 

Stephanie Karikatuur

Die dramaturg en regisseur, Ilse van Hemert, bring na meer as ʼn dekade weg van die verhoog, vanjaar ʼn uitdagende stuk, August Strindberg se Skuldeiser, na die Woordfees toe. Stephanie Nieuwoudt het met haar gesels.

Die welslae van Skuldeiser word bepaal deur die akteurs se vertolking. Dit is ook die grootste uitdaging van hierdie stuk.

“Met ander toneelstukke kan jy speel met lig en klank en ontwerp. Skuldeiser vra nie vir musiek en al die ander dinge nie. Dit vra net vir briljante spel,” sê Van Hemert, wat die stuk ook uit Engels na Afrikaans vertaal het.

Skuldeiser is die verhaal van ʼn gelukkig getroude paartjie, die kunstenaar Adolf en sy vrou Tekla. Adolf ontvang besoek van Gustav, Tekla se voormalige minnaar wat hom sielkundig manipuleer. En wanneer Tekla op die toneel verskyn, probeer Gustav om haar weer voor sy sjarme te laat swig.

Anna-Mart van der Merwe is Tekla, André Odendaal is Gustav en Adolf word vertolk deur ʼn relatiewe nuweling Stiaan Smith.

“Om ervare mense te gebruik het uitdagings. Jy wil hul ervaring en die tegniek wat hulle na ʼn stuk toe bring, benut. Maar jy wil ook nie hê hulle moet terugval in vorige vertolkings wat gewerk het nie. Ek vereis dat die akteurs elke keer van nuuts af moet begin. Ek word as ʼn despoot-regisseur beskou omdat ek elke asemhaling, elke stilte wil orkestreer,” sê Van Hemert.

“Ek dwing spelers om elke keer terug te gaan na ʼn plek van eerlikheid. Akteurs kan in opstand kom hierteen want hulle voel naak. Anna-Mart gee haarself egter 100% aan die regisseur oor. Sy het die soort tegniek wat ʼn mens nie verniet kry nie. André het ook briljante tegniek. Ek is opgewonde om vir Stiaan, die nuwe akteur, aan gehore bekend te stel. Ek dink hy wou al weghardloop maar ek ketting hom aan die verhoog vas.”

Ilse van Hemert

Ilse van Hemert

Waarom wou sy juis met Skuldeiser terugkeer na die verhoog?

“Wanneer jy met die classics werk, weet jy dit het die toets van die tyd deurstaan. Dis nie ʼn groen teks waaraan jy moet werk en laat lyk asof dit ryp is nie. Strindberg was ver voor sy tyd. Hierdie stuk is meer as 120 jaar oud – dis in 1888 geskryf – maar Strindberg se idees was toe al modern. Die krisisse in hierdie toneelstuk is steeds relevant. Jaloesie is steeds jaloesie. Die vrou se behoefte om haar onafhanklikheid uit te leef, het nog nie verander nie. Die vraag oor wat man en vrou mekaar in die huwelik verskuldig is, is steeds relevant. Vertroue is ook steeds ʼn bitter moeilike onderwerp.”

Dis die eerste keer dat sy ʼn werk van Strindberg aanpak.

“Ek was nog altyd gefassineer met sy werk en sy ironiese kyk na die lewe. Ek was nuuskierig om ʼn drama van hom te ontgin. Skuldeiser is ʼn sielkundige riller en baie wonde word gepleeg. Die bloed gaan spat.”

As vertaler het sy verwysings wat tyd en plek gebonde is, verwyder en verander. Maar sy het Afrikaanse woorde wat dalk al in onbruik verval het, gebruik om sodoende ʼn ou, klassieke gevoel te behou.

“Dis interessant dat gehore moeiliker iets in hul eie taal vergewe. As karakters in ʼn toneelstuk in die moedertaal lelik praat, sal die gehoor makliker beswaar aanteken deur byvoorbeeld uit te stap as wanneer dit in ʼn ander taal gebeur.”

Van Hemert het 15 jaar gelede besluit om voltyds te begin werk – as vervaardiger van die TV-reeks Scandals.

“My seun Alexander was net agt maande oud en ek het met hom in ʼn wiegie onder die tafel regie gedoen. As enkelouer het ek ʼn materialistiese besluit geneem om nie meer teaterwerk te doen nie. ʼn Ander rede was dat ek aan ʼn diep uitputting gely het. Ek het aan vyf of ses stukke per jaar gewerk en het gevoel ek kan niks meer oorspronklik na die werk toe bring nie.”

In 15 jaar het sy wel twee teaterstukke tussen haar TV-werk ingepas.

“’Om TV-werk te doen is oneindig bevredigend. Ek werk met Scandals met die beste skrywers en spelers. Ek is trots op die produk wat 3 miljoen huise bereik. Natuurlik moet ʼn mens ook verantwoordelik wees. Jy moet mooi dink wanneer jy ʼn storie vertel oor byvoorbeeld lyfstraf en aborsie. Om my kykers se wêreld nog beter te verstaan, het ek Sotho en Zoeloe geleer praat.”

Het die TV-ervaring van haar ʼn beter regisseur gemaak?

“Ek weet nie of ek ʼn beter regisseur is nie. Ek het wel meer deernis en dankbaarheid.”

  

 

Richard vd Westhuizen se trein stoom voort

March 1, 2014 in Sonder kategorie

Die sanger, liedjieskrywer en akteur, Richard van der Westhuizen is vanjaar by twee geleenthede by die Woordfees te sien. Stephanie Nieuwoudt het met hom gesels.

Richar van der Westhuizen

Richard van der Westhuizen

 

Hy gaan ‘n klomp nuwe liedjies sing.  En n paar oues. En natuurlik die immergewilde Tussen treine.

“Mense assosieer die liedjie met my, maar ek het ook al baie ander liedjies geskryf,” spot Richard van der Westhuizen wat veral in die 1990’s saam met Lochner de Kock deur die land getoer het en oral bekendheid vir Tussen treine verwerf het..

“Ek is dankbaar vir die liedjie, want ek glo dit het my  gevestig. Selfs jongmense – wat destyds nog nie eens gebore was nie – ken die lirieke en sing saam wanneer ek optree. Toe ons destyds begin toer het, was ek en Lochie jonk. En, ek glo, dalk nie te lelik nie. Ons was nuut en vars en ek dink dit het gehelp om ons te vestig.”

Die liedjie sal deel wees van sy vertoning Die towertrein toer voort by De Vette Mossel op 8 Maart om 18:00. Hy tree ook op 7 Maart (18:00) by ʼn piekniekkonsert, Wellingtonse suiker by Neethlingshof op saam met Gerhard Steyn en die Wellington Jeugorkes.

Akteur (verhoog, rolprente en televisie – hy is onder meer in Binneland te sien as die verpleegster Pippa se pa), sanger. Hy het ook gewerk aan die reeks Vlug na Egipte en die opvolg Terug na Egipte wat later vanjaar op die kleinskerm sal wees. Die onvermydelike vraag is waar voel hy hom meer tuis?

“Ek het oor die jare sekere talente ontwikkel en ek kry dit reg om danksy sang, toneelspel en liedjieskryf ʼn bestaan te maak. Wanneer ek die dag ʼn akteursrol op TV kry, moet ek seker maak ek is betyds op die stel, dat ek my woorde ken. Vir verhoogwerk moet jy ook woorde ken en betyds wees en seker maak geen druppel drank gaan oor jou lippe voordat jy op die verhoog verskyn nie. Die verhoog is harde werk, maar ook uiters bevredigend. Die negatiewe ding is dat ʼn mens min geld kry vir verhoogwerk. Wanneer ek ʼn rol vertolk, is dit nie ek op die verhoog nie, maar die bepaalde karakter.

“Daarom verkies ek om te sing. Dit is ek op die verhoog met iets wat ek self geskep het. Daar is ʼn onmiddellike wisselwerking tussen my en die gehoor.”

Hy dig ook soms.

“Maar ek gaan myself gewis nie ʼn digter noem nie. Dit klink te slim.”

Een van sy gedigte is wel op die omslag van sy CD Songs uit my binnesak.

“Dis ʼn gedig oor my pa wat ek na ʼn besoek aan Namakwaland geskryf het, maar dit het nie eers ʼn titel nie.”

Reise na sy grootwordwereld, Namakwaland, is altyd vir hom ʼn vreugde. En hier vind hy rustigheid in die landskap en die klippe.

“Toe my twee broers in 2003 kort na mekaar dood is, het ek Namakwaland toe gevlug om dit te verwerk. Ek het na ʼn groep boulders gaan soek wat soos klokke lui as jy daarteen kap. Ek het nie geweet waar presies die rotse is nie, maar het net ʼn rigting ingeslaan en onverwags daarby uitgekom. Die klippe het my rustig gemaak.”

Hy tel oral klippe op en uiteindelik vind dit iewers in en om sy huis in Johannesburg staanplek. Hy werk so tussen die klippe op sy lessenaar.

“Ek kyk elke dag na my klippe want dit is vir my besonders mooi. Die idee dat hulle derduisende jare oud is, is vir my oorweldigend.”

Maar vreemd genoeg het hy nog nooit oor klippe gesing nie. Aanhangers kan egter uitsien na ʼn nuwe CD wat dalk later vanjaar sal verskyn.

“Ek sit met ʼn klomp nuwe liedjies. Maar om hulle op te neem is ʼn lang proses want ek neem met sorg op.”

Die gesprek draal by die benarde finansiële situasie van sommige ouer (en selfs jonger) Suid-Afrikaanse kunstenaars. In Januarie is die kunsgemeenskap geskok deur die selfdood van Nico Liebenberg weens kommer oor ʼn gebrek aan geld.

“Hoe ouer jy word, hoe meer neem jou waarde as kunstenaar af. Daar is deurentyd nuwe, jonger sangers en akteurs. Jy moet dus sorg dat jy steeds goeie waarde vir geld bied.”

“Ongelukkig is daar vele kunstenaars wat nie voorsiening maak vir die toekoms nie. Daar is egter deur die Teaterbystandsfonds hulp vir kunstenaars wat sukkel. Talle weet steeds nie van die fonds nie.”

En hulle ly in stilte.

  • Richard is by die US Woordfees in die volgende produksies te sien:

–          Die towertrein toer voort: De Vette Mossel: 8 Maart om 18:00.

–          Wellingtonse suiker: Piekniekkonsert, Neethlingshof: 7 Maart om 18:00. Saam met Gerhard Steyn en die Wellington Jeugorkes.

  • Die Teaterbystandsfonds is afhanklik van vrywillige skenkings. Betalings kan gemaak word aan die Theatre Benevolent Fund, Eerste Nasionale Bank: 6202 439 8671. Tak: Carlswald, Bankkode: 250 117.