You are browsing the archive for Monitor.

Wanneer rooi liggie aangaan, skop adrenalien in

March 12, 2014 in Sonder kategorie

Sy is intelligent, weet hoe om ‘n krisis op die lug te hanteer en is een van die mees gesoute radiojoernaliste in Afrikaans. Anita Visser gee vir Stephanie Nieuwoudt ‘n blik op haar werk. 

anita Visser

 

“Julle het vriendelike spinnekoppe op Stellenbosch.”

Die radiopersoonlikheid Anita Visser hou haar arm uit. Dis rooi en opgehewe waar ʼn spinnekop haar twee dae tevore gebyt het.

“Ek het dadelik ʼn dokter gaan sien en dit lyk en voel al beter danksy die antibiotika wat hy voorgeskryf het.”

Soos dit ʼn goeie joernalis betaam, het sy die dokter dadelik begin uitvra oor antibiotika en die doeltreffendheid daarvan.

“Mediese stories en die gebruik van antibiotika is een van my belangstelling Een van die mees skrikwekkende stories wat ek nog gedoen het, was oor die misbruik van hierdie medikasie. Omdat dit so misbruik word, gaan dit vir nog net sowat 15 jaar doeltreffend wees. Dit maak my werklik bang dat mense oor ʼn paar jaar in die tuin kan val, seerkry en weens bloedvergiftiging kan sterf omdat daar ʼn algemene weerstandigheid teen antibiotika is.”

Dit is die nuuskierigheid oor bykans alles om haar en haar uitstekende navorsing wat van Anita een van die land se voorste joernaliste maak. En die afgelope sowat sewe maande is sy saam met Cobus Bester een van die ankeraanbieders op Monitor op RSG. Mense wat gereeld op RSG inskakel, weet egter dat sy al jare lank gereelde bydraes tot Monitor lewer. Sy was ook die kundige aanbieder van die Sondagaand-aktualiteitsprogram Kommentaar en dat sy Saterdae Naweek-Aktueel op Saterdae aangebied het. Haar kundigheid  en ingeligtheid oor die politiek (veral met Kommentaar) het altyd opgeval.

Antita Visser en Cobus bester

 

By vanjaar se Woordfees, beïndruk sy met haar gesprekke en onderhoude – onder meer met die Kaapse politici Lynn Brown en Dan Plato. Die luisteraars drom by die Erfurthuiskafee saam om na Anita, Cobus en hul gaste te luister en hulle te sien.

“Dit is vir my uiters belangrik om goed voorberei te wees – sodat ek iets het om op terug te val as daar dalk ʼn lugstilte of een of ander probleem is,” sê sy.

Sy sê dit het nogal aanpassings gekos om sowat sewe maande gelede as anker by die Monitor-span in te val.

“Ek is nie ʼn oggendmens nie. Maar my liggaamshorlosie het skynbaar nou gewoond geraak aan die vroeë opstaan. Ek kom agter dat ek ook op dae wat ek nie werk nie, vroeg wakker word. Dit maak ook nie saak hoe moeg jy is, of hoe min lus jy is vir die dag wat voorlê nie, wanneer daardie rooi liggie in die ateljee aangaan, is jy 100% gefokus.”

Anita verduidelik dat twee ankeraanbieders vir die oggendprogram ʼn wêreldwye tendens is.

“Cobus en ek het goeie interaksie op die lug. Ek was heeltemal versot op Kommentaar omdat dit ʼn sterk politieke aanslag gehad het, maar ʼn mens se lojaliteite verskuif blitsvinnig na die nuwe program wat jy anker.”

Sy glo ook aan die “sjarme-faktor” wanner luisteraars oor iets kla.

“Met Kommentaar het ek moeite gedoen om elke e-pos puntsgewys te beantwoord en te verduidelik waarom dinge op ʼn sekere manier gedoen word. Ek probeer steeds om briewe te beantwoord. Ons het wonderlike luisteraars. In die algemeen is ons luisteraars war mense.”

Sy vertel dat sy soms heeltemal uitgeboul word deur iemand oor wie sy vooropgestelde idees gehad het.

“Ek het eenkeer by ‘n geleentheid in ‘n onderhoud met Chris Barnard vir hom gesê hy het nogal ‘n reputasie met die vroue. Ek het vereag hy sou op die verdediging wees, maar hy het uitgabars van die lag en gesê dis veel erger as wat ons dink. Jy kan mos nie anders as om van iemand, wat so eerlik is, te hou nie.”

Sy sê sy is “heeltemal verlief op klank”.

“Klank op radio skep intimiteit. Wanneer jy met iemand sit en kuier, hoor jy nie sy asemhaling nie. Maar op die lug hóór jy dit. Toe ek jare gelede navorsing gedoen het vir ʼn oudiovisuele vertoning om Monitor se 25 ste bestaansjaar te vier, het ek op besonderse stukke klank afgekom. Monitor se span was eerste op die toneel toe prof Johan Heyns vermoor is en die joernaliste het met sy seun gepraat. Jy hoor hoe hy met die onderhoud na sy asem snak.”

Wanneer ʼn mens na klankgrepe luister wat onder emosionele omstandighede opgeneem is, besef jy die krag van klank. Die manier waarop mense in sulke situasies asemhaal en praat gee die trauma van ervarings meer intiem weer as wat woorde in die gedrukte media dit kan doen.

“Wanneer  iemand op die radio huil, skep dit onmiddellik empatie. Om op TV te wees, is glansryk, maar radiowerk is soos ʼn paar gemaklike pantoffels. Mense luister na jou terwyl hulle in die stort is en vir hul kinders ontbyt gee.”

Anita put ook groot genot uit die terugvoer van luisteraars. Sy vertel laggend van die man wat op die SMS vraag: “Sal jy in die hof gaan getuig?” geantwoord het dat hy na die diefstal van sy bakkie en na kruisondervraging so uitgemergel was dat hy gewonder het of hy ooit werklik ʼn bakkie besit het.

Gewoonlik verloop alles klopdisselboom in die ateljee. Maar soms loop alles verkeerd. Soos die keer tydens ʼn buite-uitsending in Knysna toe die rekenaarstelsel gefaal het, en daar gevolglik ook geen slave screen (wat onder meer die volgorde van die programme asook die inleidings van die verskillende insette, en die advertensies aandui) was nie. Voeg daarby die afwesigheid van ʼn horlosie en die ateljeegaste wat iewers heen verdwyn het, en jy kan jou die chaos indink. Die regisseur, Wessel Pretorius, het rondgehardloop om die gaste op te spoor en hulle een vir een in die ateljee ingebring.

Wanneer hy iemand ingebring het, moes Anita, tot groot verbystering van die gas met wie sy besig was om te gesels, vir hom totsiens sê – terwyl hy nog heerlik besig was om te gesels.

Tog kom luisteraars selde agter wanneer iets agter die skerms skeefloop.

“Ons sal dink die uitsending was die grootste mislukking, maar dan sê luisteraars alles het vir hulle goed geklink. Dis ʼn groot kompliment dat ons probleme so goed kan hanteer dat niemand anders dit agterkom nie.”

Daar was ook die keer toe iemand in die IT-afdeling wat met ʼn leerlingskap besig was, gevra is om van die lêers leeg te maak. Die verkeerde lêers is leeggemaak en ʼn uur voordat die program moes begin, was daar net een storie oor om die program te vul.

“Chris Louw, ons destydse baas en iemand met wie ek baie goed oor die weg gekom het, het vir die span gesê hy gee nie om wat ons kry nie en waar ons dit kry nie, maar ons moet inhoud skep. Ons het mekaar gehelp en toe die program begin, was daar genoeg inhoud. Niemand daar buite het besef daar was ʼn krisis nie.”

Anita sê sy het veral baie van Kommentaar gehou omdat dit in diepte analise van die nuus was.

“Sosiale media het gewis ʼn plek, maar ʼn mens kan nie alles reduseer tot ʼn sexy soundbite nie. Ek is bekommerd want dit is asof joernaliste toenemend minder lees en hul algemene kennis verswak. Ek glo daar is steeds plek vir diepte-joernalistiek.”

Benewens haar passie vir haar werk, is Anita ook versot op reis, Op 27 het sy haar kar, haar bed en haar yskas aan haar pa verkoop en Suid-Amerika toe vertrek. Sy het onder meer twee jaar lank in Argentinië gewoon en onwettig daar gewerk. Tydens haar reise versamel sy allerlei voorwerpe wat sy gebruik om haar huis te versier.

“Om my huis mooi te maak, is ook een van my passies. Ek het ʼn groot belangstelling in binnenshuise ontwerp.”

Haar huis, gevul met die besonderse voorwerpe wat sy tydens haar reise versamel, was ook al twee keer in dekortydskrifte.

Maar haar grootste passie, is die radio. En wanneer daardie rooi liggie flikker, is Anita op haar stukke.

Soos die meeste joernaliste ontmoet Anita deurentyd bekendes, soos die skrywer Deon Meyer en die ANC politikus Lynne Brown. "Maar ons staan altyd buite die winkel en kyk na die sweets daarbinne," sê sy.

Soos die meeste joernaliste ontmoet Anita deurentyd bekendes, soos die skrywer Deon Meyer en die ANC politikus Lynne Brown. “Maar ons staan altyd buite die winkel en kyk na die sweets daarbinne,” sê sy.

 

 

 

 

 

Antia 2

Cobus Bester glo aan respek vir Monitor-gespreksgenote

March 7, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Die son is skaars op, maar die Plataankafee by die Woordfees is bedrywig. Feesgangers drink koffie, of hulle eet iets ligs. Maar eintlik is hulle hier om die Monitor-span in aksie te sien.

Die Plataankafee is al jare lank Monitor se opelug-ateljee vir die duur van die fees. En jaar na jaar is dit veral Cobus Bester, anker-aanbieder van die program, op wie die aandag vroegoggend gevestig is.

Met groot gemak word die nuus aangebied, gesels hy oor aktuele sake, om soomloos daarna met ʼn ekonoom te gesels of ʼn digter oor sy/haar werk uit te vra.

“Ons is wel by die Woordfees, maar ons kan nie die nuus agterweë laat bly nie,” sê hy. Tog word die belangrikste gebeure en produksies by die fees ook bespreek nog voordat dit aangebied word. So vind daar die oggend voordat Edward-John Bottomley en Dana Snyman later in die dag in die Boektent oor armblankes gesels, ʼn ateljee gesprek met die twee plaas.

“Ons kry die feesprogram vooruit en besluit dan op ʼn paar gesprekke, maar dit is ook ʼn organiese proses. Sommige besprekings vloei logies uit dit wat gebeur wanneer ons by die fees is. Soms is dit iets wat onmiddellik opgevolg word, en soms is dit iets wat ons na die fees kan opvolg,” verduidelik Cobus.

“Die voordeel hier is dat ons in die akademiese omgewing van die Universiteit Stellenbosch is en onmiddellik toegang het tot ʼn klomp kundiges op verskillende gebiede.”

Hoewel daar voor ʼn ateljee-onderhoud probeer word om vas te stel of die gas wel vlot en onderhoudend kan gesels en sy kennis verstaanbaar kan oordra, sê Cobus daar is altyd ʼn effense risiko met ʼn onbekende gas.

 

Cobus Bester

“ʼn Mens probeer sif, maar hier en daar glip iemand tog deur. Dit het nog selde gebeur dat die gespreksgenoot net ja of nee antwoord, maar wanneer dit gebeur swéét jy. In die jare 1960 het die BBC ʼn onderhoud gevoer met Hastings Banda, leier van die destydse Nyasaland wat vandag Malawi is. Die ou korrelkop het net ja en nee geantwoord, maar die onderhoudvoerder het sy vrae so aangepas dat die antwoord noodwendig ja of nee moes wees. Ek is nie so slim nie.”

 

Hy erken dat hy wroeg wanneer hy foute op die lug begaan.

“Dis belangrik om te wroeg. Want dan sorg jy dat jy minder foute maak.”

Dis ʼn klein groep mense wat by Monitor en die sustersprogram, Spektrum (wat in die middag uitgesaai word) werk.

“Elkeen van die mense bring hulle sterk punte, verwysingsraamwerk en belangstellings na die program toe. Ons is dus ʼn span mense met ʼn gesamentlike breë perspektief wat ʼn verskeidenheid onderwerpe na die tafel bring.”

Vir jare was daar weens streng begrotings en min personeel min geleentheid vir joernaliste om veldwerk te doen. Talle onderhoude het telefonies plaasgevind.

“Daar is nou weer geleentheid om uit te gaan en klank by te werk. Dit beteken egter ons moet mense deurentyd oplei om met klank te werk.”

Radio wérk met klank. Daar is geen beelde om die prentjies in luisteraars se koppe te help skep nie.

“Die BBC het in ʼn navorsingsprojek vir ʼn 12-jarige wat min TV gekyk het gevra waarom hy radio verkies. Sy antwoord was dat die radio beter prentjies het. By Monitor probeer ons om ʼn hoë standaard te ontwikkel. Ons bespreek elke program en hou ook weekliks ʼn vergadering om dit wat verkeerd en dit wat reg was te identifiseer en probleme probeer regstel.”

Die koms van die internet het joernaliste se werk makliker, maar ook gevaarliker gemaak.

“As jy lui is, gaan jy maklik staat maak op iets wat jy op Google kry sonder om te bevestig dat dit waar is. Die goue reël was nog altyd dat inligting deur drie onafhanklike bronne bevestig moet word. Dit gebeur nie noodwendig meer altyd nie.”

Een van sy belangrike reëls is om in eenvoudige taal te kommunikeer.

“Ek het lankal agtergekom mense wat hul vak werklik goed ken, kan hul kennis op so ʼn wyse oordra dat dit vir almal verstaanbaar is. ʼn Gas het een keer ʼn ingewikkelde woord gebruik en ek het gevra wat dit beteken. Sy het dit self nie mooi verstaan nie. Ek wou haar nie in die verleentheid stel nie, maar wou werklik die betekenis daarvan weet.”

Cobus het in die laat 1970’s by die SAUK aangesluit.

“Iemand het vir my die goeie raad gegee om eers die bedryf te leer ken en ek het as videoband-operateur begin werk en was later ʼn beeldkontroleerder.”

Toe Jerry Schuitema, destyds hoof van die ekonomiese nuusredaksie hom aangemoedig het om uit te saai, het hy die geleentheid gegryp.

“Ek het ʼn belangrike les by Jerry geleer. Hy het gesê: ‘You cannot lie about economics. The markets will always expose you’.”

Cobus glo hy moet altyd respek betoon aan alle gaste.“Ek hoef nie met iemand se ideologie saam te stem nie. Dis my verantwoordelikheid om pertinente vrae te vra, en as iemand hom in ʼn hoek inpraat, is dit goed. Maar dit is ook my verantwoordelikheid om almal met respek en beleefdheid te benader sonder om kruiperig te wees. Jy kan iemand met respek in ʼn hoek dryf. Suid-Afrikaanse luisteraars is konserwatief in die opsig dat hulle nie onbeskoftheid duld nie. Ek weet egter ook ek gaan nooit almal tevrede stel nie. Ons het onlangs ʼn onderhoud met ʼn paar ouens gehad wat die ANC skerp gekritiseer het. Kort na die program was daar ʼn SMS van iemand wat my weer kritiseer omdat ek kwansuis ANC-gesind is. Ek glo ʼn mens doen jou werk as joernalis goed as jy op een of ander stadium almal kwaad maak. Maar ons moet altyd kan motiveer dat dit wat ons doen aan joernalistieke beginsels voldoen.”