You are browsing the archive for Ingrid Glorie.

Dis waarom hulle Woordfees toe kom

March 8, 2015 in Sonder kategorie

 

 

Stephanie KarikatuurDie Universiteit Stellenbosch se Woordfees lok mense van ver en wyd. Stephanie Nieuwoudt het ʼn paar mense – onder hulle ʼn regisseur en vervaardiger en ʼn Nederlander gaan pols oor waarom hulle van hierdie fees hou.

Hennie van Greunen (regisseur, skrywer en vervaardiger van Wordsmith’s Theatre Factory): sê Stellenbosch is die ideale feesdorp. ‘

“Dis ʼn universiteitsdorp met ʼn geskiedenis en ʼn kultuur van lees, leer en partytjie hou. Ek hou van die Woordfees se fokus op boeke en skrywers en die gehore is meestal belese en oop vir nuwe gedagtes en idees.

“Ek is al van die begin van die Woordfees deel van die program. Vanjaar is ons produksies Vir ewig en altyd met Sandra en Marius Weyers), Rondomskrik met Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal Donna Roberts en Richard September. Die teks is geskryf deur Rachelle Greeff. Ek maak ook ʼn draai by die ATKV se Skryfskool waar ek praat oor nuwe tendense. En ek neem later ook deel aan ʼn teatergesprek.

“‘Ek sien uit na die kunsuitstallings, veral dié van Cobus van Bosch en Sandra Hanekom. Ek gaan ook weer na die ATKV en Diek Grobler se Filmverse kyk. Een keer was te min. Ek wil ook graag Son. Maan. Sterre, Die Skuldeisier,  Adam 2 en Siener in die suburbs gaan kyk.”

Ingrid Glorie, redakteur van die tydskrif Maandblad Zuid-Afrika het al die pad van Nederland Stellenbosch toe gekom.

“Vir my is die Woordfees die interessantste van al die feeste in die land. Nie net het dit ʼn fantastiese skrywersprogram nie, maar ook die gehalte van die drama-, debat-, en musiekaanbiedings is uitstekend. As joernalis is die Woordfees vir my soos ʼn droom. Almal met wie ek ʼn onderhoud sou wou doen, kom hierheen. Ek is ook in Nederland die koördineerder van die Week van die Afrikaanse Roman en ek wil probeer om my te vestig as ʼn literêre agent wat bemiddel tussen Afrikaanse skrywers en Nederlandse uitgewers. Ook in hierdie verband is dit dus vir my belangrik om op hoogte te bly van wat op die letterkundige front aangaan en om soveel moontlik skrywers en uitgewers te ontmoet.

“Ten slotte beskou ek Stellenbosch al van 1993 as my tuisdorp in Suid-Afrika. Dit is ook wonderlik dat ek in Stellenbosch na bykans elke lokaal toe kan stap en nie van ander afhanklik is vir vervoer nie. Dit gee vir my ʼn heerlike gevoel van onafhanklikheid.

“Ek was in 2012 en 2013 by die Woordfees, maar kon dit nie in 2014 bywoon nie. Ek het vir ʼn volle tien dae in Nederland by die huis gesit en myself verskriklik jammer gekry omdat ek uitgemis het op al die besprekings en vertonings. Ek is bang mense gaan my vanjaar tot vervelens toe by die Boeketent en Erfurthuis – waar boekbesprekings en bekendstellings plaasvind – raakloop. Ek is ʼn groot bewonderaar van Amanda Strydom en wil dus ʼn Vuur gevang in glas, 16 Onse en Die Vredemakers bywoon.

Cobus Bester

Cobus Bester

Cobus Bester, ankeraanbieder van die oggendprogram Monitor op RSG sê die woordfees is vir hom spesiaal danksy die heerlike verskeidenheid mense wat om een sentrale tema saamgetrek word.

”En dit in die pragtige Stellenbosch.”

Waarna hy op ʼn bepaalde dag gaan kyk, word bepaal deur wat hy moet doen ter voorbereiding vir die volgende dag se program.

“Ek hou egter baie van die Diskoersreeks en ander gespreksaanbiedings. Ek is vanjaar vir die sewende keer by die Woordfees. Ek gaan ook gewis weer na die politieke wetenskaplike, prof Hermann Giliomee, se reeks gesprekke luister. Die tema – Anderste helde en die Beste Professor -reeks is vir my besonder interessant. Ek wil ook nie die orrelis, Zorada Temmingh, se uitvoering op 10 Maart om 13:00 in die Moederkerk misloop nie.”

Wini Esterhuizen, wat al verskeie letterkundige bydraes tot LitNet gemaak het, woon op Koës, Namibië, en besoek die Woordfees vanjaar vir die derde keer.

“Ek het min die geleentheid om by boekbesprekings en interessante besprekings uit te kom, omdat ek so ver weg van alles is. Ek gun myself elke jaar die geleentheid om my propvol kultuur te stop. Ek hou van boekbesprekings, die lekker atmosfeer by die Vette Mossel en ek kyk graag as daar kunstenaars daar optree.

“Die feeskern is nie baie groot nie, en dis heerlik om vriende raak te loop en te kuier. Ek wens net daar was nie selfone wat kan kiekies neem nie! Interessante gesprekke, soos die een met regter Edwin Cameron is vir my aanloklik. Ag, ek hou van alles van die Woordfees. Al noem die studente dit ʼn jool vir oumense.”

André Simpson, ʼn mediese dokter en inwoner van Stellenbosch hou van die Woordfees oor die groot aantal gehalteproduksies wat hier aangebied word.

“Die Woordfees volg nie populêre tendense slaafs na nie, maar bied ʼn substantiewe verskeidenheid produksies. Ek woon die fees by vir teater-, en musiekproduksies en die kunsuitstallings.”

 

 

Die Onweerstaanbaarheid van Afrikaans vir Nederlanders

February 1, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Suid-Afrika is vir Nederlanders ʼn eksotiese plek. En dis deels die rede waarom hulle in toenemende getalle Suid-Afrika besoek. Hulle is ook nuuskierig oor wat op die gebied van die kunste hier aangaan. Die Woordfees is vir hulle aantreklik want dit is ʼn omvattende kunstefees ver weg van die huis.

So sê Alfred Schaffer, die Nederlandse digter wat as dosent verbonde is aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Melt Myburgh, woordkuns-projekbestuuder van die Woordfees is daar jaarliks ʼn toename in die getal besoekers van Nederland en België.

“Mense stel belang in Afrikaans en die verbintenis met die tale van die lande,” sê hy.

Vanjaar is daar ook soos ander jare ʼn sterk Nederlandse komponent in die Woordfeesprogram. Arjen Duinker en Saskia de Coning is van die skrywers uit die Nederlande wat vanjaar by die fees te sien is.

“Nederlanders en Belge voel baie welkom in suid-Afrika. Die Kaap is ʼn plek waar jy voel dat jy op ʼn manier tuis is danksy die taalverwantskap en die geskiedenis,” verduidelik Schaffer.

“Die meeste skrywers wat by die Woordfees optree, kom ook na hul eerste besoek terug of hulle bly langer sodat hulle ʼn bietjie kan reis.”

Ingrid Glorie, pas-aangewese redakteur van die Maandblad Zuid-Afrika, tydskrif van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging ((NZAV) ʼn kultuurorganisasie wat bande tussen Nederland en Suid-Afrika wil bevorder) sal tydens die woordfees in gesprek wees met Saskia de Coning.

Dis Glorie se tweede besoek aan die Woordfees.

“Ek was in 2012 vir die eerste keer hier, want ek was goed bevriend met John Kannemeyer en ek het ʼn behoefte gehad om van hom afskeid te neem,” sê sy.

“Ek het ook self by die Departement Afrikaans en Nederlands gepraat. Ek hoop om vanjaar as redakteur van Maandblad Zuid-Afrika ʼn paar interessante onderhoude te kan voer. Dis ook fantasties om in ʼn kort tyd soveel lesings, debatte, konserte en toneelopvoerings te kan bywoon. ʼn Mens leer baie en dis vir my belangrik om op hoogte te bly met alles wat in Suid-Afrika aangaan. Die Woordfees gee ʼn omvattende oorsig van wat in Afrikaans (op die gebied van die letterkunde) aangaan.”

Glorie gee toe dat die natuurlike skoonheid van Suid-Afrika – die kuslyn, die wildtuine, die bergpasse en in die Kaap die wynplase – baie mense hierheen lok. Maar, sê sy vir baie Nederlanders en Vlaminge gee die taalverwantskap en die gedeelde verlede ʼn ekstra dimensie aan ʼn besoek na Suid-Afrika.

“Uiteindelik kan jy dit nie rasionaliseer nie. Daardie gevoel dat jy lief is vir Afrikaans. Ek het geen behoefte om ʼn politieke lading daaraan te gee nie – dit is nou maar net so. Skrywers soos Antjie Krog en Ronelda Kamfer en kunstenaars soos Amanda Strydom en Gert Vlok Nel is in die Lae Lande geweldige ambassadeurs vir die soort optredes wat jy by die Woordfees kan verwag.”

Gerda van Haaften, ʼn Nederlander wat al ses jaar in Antwerpen, België woon, het die Woordfees “ongeveer al ses keer” besoek.

“Die verskeidenheid wat die fees bied vind jy nêrens anders nie. Ek geniet dit baie.”

Sy dink die groot Nederlandse belangstelling kan in die verlede gevind word.

“Na al die negatiewe dinge van die vroeër is daar baie belangstelling in Suid-Afrika. Daar is ook ʼn groot verwantskap tussen Afrikaans en die tale van die Nederlande.”

Inga Verreet, ʼn Vlaming, sê sy stel baie belang in Afrikaans “die taal wat soveel gemeenskaplik het met Nederlands, en na my mening nog meer met Vlaams, die Nederlandse variant wat in Vlaandere gebruik word”.

Sy het Suid-Afrika agttien jaar gelede vir die eerste keer besoek en deur vriende is sy aan die kunstefeeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop en uiteindelik die Woordfees bekendgestel.

“Die Woordfees het in my beskeie mening ‘n

meer akademiese aanbod met boekvoorstellings, geselsies met outeurs, klassieke

musiek en kunsuitstallings van hoë gehalte. Daarbenewens is daar tog ook tyd vir

ontspanning met ligtere genres. Daar word ook met wynproeë en lekker etes voorsien in die fisieke behoeftes.”

Sy was al vier keer by die Woordfees, maar sê die koste van reis en die prys van woordfeeskaartjies het vir haar nou te duur geword om die fees vanjaar by te woon.

Alfred Schaffer glo ook die Nederlandse komponent van die Woordfees stimuleer ʼn belangstelling in die Lae Lande.

“Dit maak studente lus om oorsee te gaan – om die Nederlandse, Vlaamse en Europese kultuur in die algemeen te gaan verken en so hul blik te verruim. Om oorsee te reis, laat jou jou eie mense in perspektief sien en hulle beter verstaan.”