You are browsing the archive for Harry Kalmer.

Dramaturg diep geraak deur Bram Fischer se integriteit

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Woordfees Stellebos 2013

Bram Fischer, regsgeleerde en Afrikaanse Kommunis, wat Nelson Mandela se lewe gered het, maar self uiteindelik in die tronk dood is, se lewe word belig in die produkise Die Bram Fischer Wals wat by die US Woordfees te sien is. Die dramaturg Harry Kalmer antwoord ‘n paar vrae oor die produksie.

Stephanie Nieuwoudt: Waarom het jy die Bram Fischer-stuk aangepak

Harry Kalmer: Seker maar in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ‘n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ‘n wenner.
SN: Identifiseer jy enigsins met Fischer?

HK: Nee. Ek bewonder hom eerder. Hy verteenwoordig ‘n ander tyd, met ander waardes. ‘n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die “ooms” waarmee ons groot geword het. Miskien net ‘n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het.
SN: Jy is skrywer en regisseur van die stuk – kom jy agter jy verander die teks soos wat jy regisseur speel?

HK: Nie te veel nie. Ons het ‘n paar veranderinge gemaak maar dit was nie lukraak nie. Meestal was dit waar te veel feite die storie se pas beïnvloed het of waar ons besef het dit was onnodig. Nou dat ek vertaal in Engels is daar ook weer ander veranderings wat intree.

SN: Waarom het jy die bepaalde akteur vir die stuk gekies?

HK: Ek het David een aand in (die nou gestorwe) Boekehuis in Melville gesien en besef hy trek nogal op Bram. Ons het al voorheen saamgewerk. Hy is wyd belese en het ‘n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ‘n tegniese register en ‘n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander.

Hy het die rol aanvaar nog voordat ‘n woord geskryf of ‘n pennie in die bank was.

SN: Klank en stemwerk van Amanda Strydom is in die stuk ingewerk. Vertel meer hiervan?

HK: Daar is twee a-capella opnames van Amanda – “Boereplaas” en “The Red Flag” wat amper ‘n soort leitmotiv in die stuk vorm. Dit verteenwoordig Bram die Marxis asook Bram die Boereseun. Die stemme word spaarsamig maar funksioneel gebruik.

SN: Waarom is Fischer vandag nog relevant vir Suid-Afrikaanse gehore?

HK: Ek weet nie of hy nog regtig is nie. Sy storie is wel – dis ‘n mooi liefdesverhaal en die storie van ‘n man wat bereid was om die ongewilde dinge te sê wat niemand wou hoor nie. Dis iemand wat bereid was om vir sy ideale te sterf. Dis regtig outyds, nie waar nie?

En dan is daar sy lang besinning oor hoe die Afrikaner in ‘n demokratiese land sal inpas (of nie). Hopelik wys die stuk dat een mens tog ‘n verskil kan maak. Gehore moet egter maar self besluit watter verskil Bram Fischer werklik gemaak het. Die stuk roer mense egter eerder op ‘n emosionele as op ‘n politieke vlak.