Athol Fugard nog lank nie klaar met die lewe nie

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Athol Fugard lag uit sy maag uit wanneer hy gevra word oor die tydskrif Time wat hom die “grootste lewende dramaturg” in die Engelssprekende wêreld noem.

“Dis absolute nonsens. Hoe kan hulle so iets sê. Jy weet mos hoe gevaarlik dit is vir ʼn dramaturg om met daardie woorde in sy kop rond te loop. Ek is nie spesiaal nie. Ek is ʼn Karoo-gebore skrywer wat in khaki broeke en hemde rondloop,” sê die 81-jarige op die stoep van die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin. Die onderhoud vind plaas in die week waarin die jaarlikse US Woordfees aangebied word.

Athol Fugard. Foto: Stefan Els

 

Fugard, wat vir jare in Amerika gewerk en gewoon het, en in die land as ʼn groot dramaturg gehuldig wod,  sal later die week tydens ʼn skrywersprofiel, Athol Fugard: 81 (8 Maart) vereer word. Sy vriend Mannie Manim, ook ʼn teaterlegende soos Fugard, sal gesels oor die dramaturg se bydrae tot die teaterwêreld. Vroeër die dag (12:00) sal daar ook ʼn voorlesing wees van die kortverhaal wat Fugard spesiaal vir die fees geskryf het.

Hy is ernstig oor die khaki. Toe hy onlangs deur Karen Meiring, kanaalhoof van kykNet gevra is om ʼn geleentheid by te woon, het hy dit duidelik gemaak hy besit nie ʼn pak nie en hy sal dit bywoon mits hy sy gewone klere kan dra.

“Wanneer jy 80 jaar oud word, verwag mense nie te veel van jou nie. Jy kan doen wat jy wil. Hulle mag dalk wel prewel: ‘Ag man, hy is oud. Kom ons los hom om te doen wat hy wil’. Dit is wonderlik.”

Sy oë word skrefies van lekkerkry.

“Maar hulle besef nie die avontuur begin eers wanneer jy 80 jaar oud word nie. Alles wat agter jou lê is bloot oefening vir die belangrike jare na 80.”

Fugard is ʼn skrywer wat internasionaal bekendheid verwerf het vir sy teen-apartheid werk. Hy het ook ʼn string ere-doktorsgrade van verskeie internasionale en plaaslike universiteite – waaronder ook die Universiteit Stellenbosch – ontvang.  Maar hy sê hy ervaar nou saam met miljoene ander Suid-Afrikaners “ʼn gevaarlike gevoel van verraad”.

“Ons het opofferings gemaak om te verseker our beloved country does not cry anymore – met verskoning aan Alan Paton. Maar ek is bevrees die land huil steeds.”

Skielik is hy woedend en klap hy passievol met sy vuis op die tafel.

“Soveel politici vind dit bevorderlik om die spook van apartheid lewendig te hou. Minister Lulu Xinwana het die grootste k.. in Australië kwytgeraak oor wit Afrikaner mans. Dit was gevaarlike woorde wat aktief daartoe bydrae om vooroordeel teenoor ʼn minderheidsgemeenskap te vestig.”

Ondanks die negatiewe opskrifte wat hy daagliks raaklees, glo hy daar is altyd iets positiefs.

“Jare gelede, toe ek in ʼn vissershut in Port Elizabeth gewoon en besig was om Boesman and Lena te skryf, het ek besef van al die emosies wat ek nie in myself moet ronddra nie, is haat die belangrikste. Dit is sekerlik die mees onproduktiewe emosie wat ʼn kunstenaar kan ervaar.”

Hy sê hy is deur 50 jaar van apartheid gevorm.

“Ek probeer om uit die kettings uit te breek. Maar ek sukkel. Tydens die twee kere wat ek ʼn genoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing was, het die jong mense van die Universiteit Stellenbosch my baie in die verband gehelp. Ek het besef baie van die kwessies waarmee mense van my generasie worstel, maak eenvoudig nie vir hulle saak nie. Hulle is in ʼn heeltemal ander wêreld gebore. Suid-Afrika het egter nou meer as tevore, skrywers nodig. Jong skrywers moet hul oë oopmaak en begin skryf.”

Toe hy die eerste keer in Stellenbosch aangekom het, het hy besef hier is baie snobs.

“Ek het soos ʼn buitestaander gevoel. Ek het nie ʼn paspoort gehad wat van my ʼn Stellenbosser gemaak het nie. Dit het een dag verander toe ek saam met ʼn vreemde bruin vrou by ʼn kruising gewag het. Die bestuurders wou ons nie ʼn kans gee om die pad te kruis nie. Uit pure frustrasie het ek in die pad gaan staan en die motors tot stilstand gedwing. Toe ons aan die oorkant van die straat kom, het ek en die vrou ʼn paar woorde gewissel en elkeen het in sy eie rigting wegbeweeg. Ek het skielik gevoel ek is tuis. Ek het met ʼn vreemdeling Afrikaans gepraat. Dit is vreemd, maar dit was een van die groot momente van my lewe.”

Die gebeure het ook die kortverhaal geword vir sy Athol Fugard: A Reading by die Woordfees.

Beelde uit die werklike lewe was nog altyd die snellers vir sy skryfwerk.

“Ek het nog nooit geskryf danksy ʼn gedagte nie. Dit was eerder beelde wat na ware gebeure oorgebly het, wat my laat skryf het.”

Toe hy 80 jaar oud geword het, het hy besluit dit was tyd om die belofte gestand te doen wat hy lank gelede aan sy Afrikaanssprekende ma gemaak het om eendag ʼn Afrikaanse toneelstuk te skryf. Die laaste Karretjiegraf  het groot lof ontvang. Ook dit is gegrond op ʼn ware gebeure. Toe sy ma ʼn jong vrou was, het sy eendag afgekom op twee Karretjiesmense. Die vrou was onder die wa besig om te kraam. Sy het die vrou gehelp en drie dae lank vir hulle kos geneem. Die mense was net skielik weer weg.

“Dis ʼn wonderlike storie en ek het altyd geweet ek sal iets oor my ma se ervaring skryf. Dit was moeilik om in Afrikaans te skryf, maar ek het hulp gehad van Adriana Steyn, ʼn antropoloog wat haar meesters gedoen het oor die kinders van die Karretjiesmense. Ek het gelukkig gevoel dat ek op Stellenbosch my belofte aan my ma kon nakom.

Fugard het al dikwels na homself verwys as ʼn Afrikaanse skrywer wat in Engels skryf – al is die taal waarin hy dink en praat Engels.

“As Karoo-kind het ek ʼn verbintenis met die taal en die lewenstyl gehad. ʼn Mens moet skryf oor dinge wat vir jou waar voel. Dit is ʼn uitdaging vir ʼn Engelse skrywer om so te skryf dat die ritme en gevoel van jou skryfwerk Afrikaans klink en voel. Toe ek as kind William Faulkner ontdek het, het ek besef groot skrywers is eerlik, hulle skryf sonder ydelheid en hulle skryf oor die lewe waarvan hulle getuies is.”

In ʼn onderhoud het Fugard een keer gesê:   “Word processors, typewriters and ballpoint pens don’t work for me. I am a sensualist writer who needs a fountain pen and paper”.

Hy haal ʼn notaboek uit sy sak en wys na die netjiese skrif. “Ek gebruik steeds ʼn vulpen om in my dagboek te skryf.”

Hy lees ʼn stukkie oor die hitte van Stellenbosch en ʼn gedig oor ʼn ou man.

“Ek is nog nie klaar met dié wêreld nie. Maar ek moet die feit erken: Hoeveel jare is daar nog vir my oor? Ek het geen geloof nie en ek kan nie bid vir meer jare nie. Daar is egter nog ten minste ʼn goeie vyf jaar oor wat ek kan uitpers. Dalk rook ek te veel pyp, maar ek probeer om na myself om te sien. Ek is steeds elke dag verwonderd oor mense, die wêreld en die lewe in die algemeen.”

 

6 responses to Athol Fugard nog lank nie klaar met die lewe nie

  1. Baie, baie dankie . Dit is ‘n wonderlike voorreg om jou deeglike onderhoude en Naomi se verslae rondom die Woordfees hier op die blogs te kan lees.

  2. Heerlik, dankie.

  3. Besondere mens.Dankie vir die goeie inligting!

  4. Lekker gelees.

  5. Ditto vir wat exi sê. Die eerste “regte” toneelstuk wat ek ooit gesien het was “Master Harold and the Boys”.

  6. Wat ‘n ongelooflike man? So plat op die aarde. Hierdie sal vir seker een van jou grootste onderdhoude wees. Welgedaan. Dit was so gemaklik en lekker om te lees!

Leave a reply

Your email address will not be published.