You are browsing the archive for 2013 March.

Op 25 is Christiaan ‘n vars bries in teaterbedryf

March 8, 2013 in Sonder kategorie

 

Hy is net 25 jaar oud, maar Christiaan Olwagen se naam staan figuurlik gesproke reeds in helder ligte in die wêreld van Afrikaanse teater.

By die Woordfees het hy drie produksieballe in die lug gehou: Tjop & dop, X + Y en Die lelike eend. Tjop & dop, wat hy beskryf as die teenvoeter vir sy bekroonde stuk N is vir Neurose het hy geregisseer en saam met De Klerk Oelofse geskryf, X + Y het hy self geskryf maar die regie aan die veteraan Marthinus Basson oorgelaat. Die Lelike eend het hy ook geregisseer. Die stuk is ʼn vertaling – deur nog ʼn talentvolle jongeling, Roelof Storm wat ook die hoofrol vertolk – van die Duitse Marius von Mayenburg se toneelstuk.

X + Y – oor die worstelinge van tieners en hul verhouding met hul ouers, asook Tjop & dop was dalk die mees omstrede produksies op die fees. Sommige mense het by die produksies uitgestap, ander het op sosiale media gekla oor die kru taal. Maar dit verhoed nie dat feesgangers steeds tou staan vir kaartjies nie.

 

Olwagen het al as student aandag getrek. As dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch het hy twee Fleur du Cap-toekennings ontvang en by die Aardklopfees in 2012 het hy die Aartvarkprys vir grensverskuiwende werk ontvang vir Woza Andries? waarin Jesus as ʼn bruin vrou in ʼn eietydse Suid-Afrika uitgebeeld word en deur twee mans verkrag word.

“Ek doen werk wat my nie verveel nie,” sê Olwagen.

Van sy werk word onder die naam Polony aangebied. Dis ʼn kollektief van hoofsaaklik mense wat saam met hom aan die US studeer het.

“Nie een van ons is uitsluitlik daartoe verbind om net met mekaar te werk nie. Wanneer daar geleentheid is, werk ons saam, maar ons is vry om ook aan ander produksies te werk. Ek sou niks kon regkry sonder die mense wat speel, props gaan soek, sound cues doen en kostuums ontwerp nie. En van die mense word nie noodwendig of altyd betaal nie. Almal wat op een of ander manier voel hulle kan ʼn bydrae maak, pitch in. Dis ʼn groep mense wat kom en gaan. Dit is ʼn poligame, oop verhouding.”

Olwagen het as student nou kontak gehad met die regisseur en dramaturg Marthinus Basson wat ook aan die US se dramadepartement klasgee.

“Ek was as student die MC in die musiekspel Cabaret maar Marthinus het voorgestel ek probeer om regie te doen.”

Op 25 is dit duidelik hy is sensitief vir dit wat in die hedendaagse wêreld aangaan – hetsy dit die soms moeilike verhouding tussen ouers en kinders is, of die moderne obsessie met skoonheid of die politieke sake van die dag.

“Ek dink nie ek het ʼn spesiale wysheid nie. Ek hou egter mense dop. Ek doen dit al van kleinsaf. Ek wil weet wat die human animal laat tick. Ek probeer om mense te lees sonder om ʼn oordeel te vel.

Ja, hy is bewus daarvan dat hy bitter vroeg in sy lewe reeds op ʼn plek is waaroor baie ander en ouer teatermense maar net droom. “Ek wil nie skynheilig nederig oorkom nie, want daar is niks so irriterend as iemand wat humble pie vreet nie. Maar ek is bang ek is dalk die flavour of the month. Ek weet dat ons nogal besonder goed doen vir mense wat nog grootliks onbekend is. Ek is egter dankbaar ek is in die bevoorregte posisie om werk te doen waarvan ek hou. Dalk vind mense aanklank by wat ons doen omdat dit die tydsgees weergee. Ek het per ongeluk ʼn aar raakgeboor.”

Hy erken die kunstefeeste bied vir hom en ander jonges in die bedryf ʼn veilige hawe.

“Ons kry kans om ons spiere te flex want die feeste is bereid om met ons te waag. Ek kry ook nie geleentheid om die post-production blues te ervaar nie. Ons is reeds besig om te werk aan ʼn nuwe stuk Vagina Dentata wat KKNK toe gaan ”

Hy dink ʼn oomblik.

“Ek het eerlikwaar geen idee waarom gehore nou hou van dit wat ons doen nie. Dalk dink almal oor twee maande dit waarmee ons besig is, is vervelig. Dalk is daar dan ʼn nuwe groep, Die Hoender of Die Sosaties, en is ons oorbodig. Ek probeer om myself en wat ek doen nie te ernstig op te neem nie. As ek oor tien, vyftien jaar nog besig is met die teater, en jy kom dalk in ʼn toekomstige onderhoud agter ek is te ernstig, please call me on my shit.”

Niemand anders is in sy gesin is in die teaterbedryf nie.

“Maar hulle is almal dramaties. My pa, ʼn voormalige dominee, het een keer soos Tarzan met ʼn tou in die kerk ingeswaai toe hy een of ander punt wou beklemtoon.”

Oor sy jeug sê hy: “Dis die quarter life-crisis. Ons verlaat die nes nog voordat ons behoorlik kan vlieg. Jou twintigerjare is ʼn vreemde plek om te wees. Jy is nie heeltemal volwasse nie, maar ook nie kind nie. Is jy regtig volwasse as jy jou eie huur betaal, maar jou ma betaal nog vir jou selfoon?”

 

 

 

 

 

.

Cobus Bester glo aan respek vir Monitor-gespreksgenote

March 7, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Die son is skaars op, maar die Plataankafee by die Woordfees is bedrywig. Feesgangers drink koffie, of hulle eet iets ligs. Maar eintlik is hulle hier om die Monitor-span in aksie te sien.

Die Plataankafee is al jare lank Monitor se opelug-ateljee vir die duur van die fees. En jaar na jaar is dit veral Cobus Bester, anker-aanbieder van die program, op wie die aandag vroegoggend gevestig is.

Met groot gemak word die nuus aangebied, gesels hy oor aktuele sake, om soomloos daarna met ʼn ekonoom te gesels of ʼn digter oor sy/haar werk uit te vra.

“Ons is wel by die Woordfees, maar ons kan nie die nuus agterweë laat bly nie,” sê hy. Tog word die belangrikste gebeure en produksies by die fees ook bespreek nog voordat dit aangebied word. So vind daar die oggend voordat Edward-John Bottomley en Dana Snyman later in die dag in die Boektent oor armblankes gesels, ʼn ateljee gesprek met die twee plaas.

“Ons kry die feesprogram vooruit en besluit dan op ʼn paar gesprekke, maar dit is ook ʼn organiese proses. Sommige besprekings vloei logies uit dit wat gebeur wanneer ons by die fees is. Soms is dit iets wat onmiddellik opgevolg word, en soms is dit iets wat ons na die fees kan opvolg,” verduidelik Cobus.

“Die voordeel hier is dat ons in die akademiese omgewing van die Universiteit Stellenbosch is en onmiddellik toegang het tot ʼn klomp kundiges op verskillende gebiede.”

Hoewel daar voor ʼn ateljee-onderhoud probeer word om vas te stel of die gas wel vlot en onderhoudend kan gesels en sy kennis verstaanbaar kan oordra, sê Cobus daar is altyd ʼn effense risiko met ʼn onbekende gas.

 

Cobus Bester

“ʼn Mens probeer sif, maar hier en daar glip iemand tog deur. Dit het nog selde gebeur dat die gespreksgenoot net ja of nee antwoord, maar wanneer dit gebeur swéét jy. In die jare 1960 het die BBC ʼn onderhoud gevoer met Hastings Banda, leier van die destydse Nyasaland wat vandag Malawi is. Die ou korrelkop het net ja en nee geantwoord, maar die onderhoudvoerder het sy vrae so aangepas dat die antwoord noodwendig ja of nee moes wees. Ek is nie so slim nie.”

 

Hy erken dat hy wroeg wanneer hy foute op die lug begaan.

“Dis belangrik om te wroeg. Want dan sorg jy dat jy minder foute maak.”

Dis ʼn klein groep mense wat by Monitor en die sustersprogram, Spektrum (wat in die middag uitgesaai word) werk.

“Elkeen van die mense bring hulle sterk punte, verwysingsraamwerk en belangstellings na die program toe. Ons is dus ʼn span mense met ʼn gesamentlike breë perspektief wat ʼn verskeidenheid onderwerpe na die tafel bring.”

Vir jare was daar weens streng begrotings en min personeel min geleentheid vir joernaliste om veldwerk te doen. Talle onderhoude het telefonies plaasgevind.

“Daar is nou weer geleentheid om uit te gaan en klank by te werk. Dit beteken egter ons moet mense deurentyd oplei om met klank te werk.”

Radio wérk met klank. Daar is geen beelde om die prentjies in luisteraars se koppe te help skep nie.

“Die BBC het in ʼn navorsingsprojek vir ʼn 12-jarige wat min TV gekyk het gevra waarom hy radio verkies. Sy antwoord was dat die radio beter prentjies het. By Monitor probeer ons om ʼn hoë standaard te ontwikkel. Ons bespreek elke program en hou ook weekliks ʼn vergadering om dit wat verkeerd en dit wat reg was te identifiseer en probleme probeer regstel.”

Die koms van die internet het joernaliste se werk makliker, maar ook gevaarliker gemaak.

“As jy lui is, gaan jy maklik staat maak op iets wat jy op Google kry sonder om te bevestig dat dit waar is. Die goue reël was nog altyd dat inligting deur drie onafhanklike bronne bevestig moet word. Dit gebeur nie noodwendig meer altyd nie.”

Een van sy belangrike reëls is om in eenvoudige taal te kommunikeer.

“Ek het lankal agtergekom mense wat hul vak werklik goed ken, kan hul kennis op so ʼn wyse oordra dat dit vir almal verstaanbaar is. ʼn Gas het een keer ʼn ingewikkelde woord gebruik en ek het gevra wat dit beteken. Sy het dit self nie mooi verstaan nie. Ek wou haar nie in die verleentheid stel nie, maar wou werklik die betekenis daarvan weet.”

Cobus het in die laat 1970’s by die SAUK aangesluit.

“Iemand het vir my die goeie raad gegee om eers die bedryf te leer ken en ek het as videoband-operateur begin werk en was later ʼn beeldkontroleerder.”

Toe Jerry Schuitema, destyds hoof van die ekonomiese nuusredaksie hom aangemoedig het om uit te saai, het hy die geleentheid gegryp.

“Ek het ʼn belangrike les by Jerry geleer. Hy het gesê: ‘You cannot lie about economics. The markets will always expose you’.”

Cobus glo hy moet altyd respek betoon aan alle gaste.“Ek hoef nie met iemand se ideologie saam te stem nie. Dis my verantwoordelikheid om pertinente vrae te vra, en as iemand hom in ʼn hoek inpraat, is dit goed. Maar dit is ook my verantwoordelikheid om almal met respek en beleefdheid te benader sonder om kruiperig te wees. Jy kan iemand met respek in ʼn hoek dryf. Suid-Afrikaanse luisteraars is konserwatief in die opsig dat hulle nie onbeskoftheid duld nie. Ek weet egter ook ek gaan nooit almal tevrede stel nie. Ons het onlangs ʼn onderhoud met ʼn paar ouens gehad wat die ANC skerp gekritiseer het. Kort na die program was daar ʼn SMS van iemand wat my weer kritiseer omdat ek kwansuis ANC-gesind is. Ek glo ʼn mens doen jou werk as joernalis goed as jy op een of ander stadium almal kwaad maak. Maar ons moet altyd kan motiveer dat dit wat ons doen aan joernalistieke beginsels voldoen.”

 

 

 

Athol Fugard nog lank nie klaar met die lewe nie

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Athol Fugard lag uit sy maag uit wanneer hy gevra word oor die tydskrif Time wat hom die “grootste lewende dramaturg” in die Engelssprekende wêreld noem.

“Dis absolute nonsens. Hoe kan hulle so iets sê. Jy weet mos hoe gevaarlik dit is vir ʼn dramaturg om met daardie woorde in sy kop rond te loop. Ek is nie spesiaal nie. Ek is ʼn Karoo-gebore skrywer wat in khaki broeke en hemde rondloop,” sê die 81-jarige op die stoep van die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin. Die onderhoud vind plaas in die week waarin die jaarlikse US Woordfees aangebied word.

Athol Fugard. Foto: Stefan Els

 

Fugard, wat vir jare in Amerika gewerk en gewoon het, en in die land as ʼn groot dramaturg gehuldig wod,  sal later die week tydens ʼn skrywersprofiel, Athol Fugard: 81 (8 Maart) vereer word. Sy vriend Mannie Manim, ook ʼn teaterlegende soos Fugard, sal gesels oor die dramaturg se bydrae tot die teaterwêreld. Vroeër die dag (12:00) sal daar ook ʼn voorlesing wees van die kortverhaal wat Fugard spesiaal vir die fees geskryf het.

Hy is ernstig oor die khaki. Toe hy onlangs deur Karen Meiring, kanaalhoof van kykNet gevra is om ʼn geleentheid by te woon, het hy dit duidelik gemaak hy besit nie ʼn pak nie en hy sal dit bywoon mits hy sy gewone klere kan dra.

“Wanneer jy 80 jaar oud word, verwag mense nie te veel van jou nie. Jy kan doen wat jy wil. Hulle mag dalk wel prewel: ‘Ag man, hy is oud. Kom ons los hom om te doen wat hy wil’. Dit is wonderlik.”

Sy oë word skrefies van lekkerkry.

“Maar hulle besef nie die avontuur begin eers wanneer jy 80 jaar oud word nie. Alles wat agter jou lê is bloot oefening vir die belangrike jare na 80.”

Fugard is ʼn skrywer wat internasionaal bekendheid verwerf het vir sy teen-apartheid werk. Hy het ook ʼn string ere-doktorsgrade van verskeie internasionale en plaaslike universiteite – waaronder ook die Universiteit Stellenbosch – ontvang.  Maar hy sê hy ervaar nou saam met miljoene ander Suid-Afrikaners “ʼn gevaarlike gevoel van verraad”.

“Ons het opofferings gemaak om te verseker our beloved country does not cry anymore – met verskoning aan Alan Paton. Maar ek is bevrees die land huil steeds.”

Skielik is hy woedend en klap hy passievol met sy vuis op die tafel.

“Soveel politici vind dit bevorderlik om die spook van apartheid lewendig te hou. Minister Lulu Xinwana het die grootste k.. in Australië kwytgeraak oor wit Afrikaner mans. Dit was gevaarlike woorde wat aktief daartoe bydrae om vooroordeel teenoor ʼn minderheidsgemeenskap te vestig.”

Ondanks die negatiewe opskrifte wat hy daagliks raaklees, glo hy daar is altyd iets positiefs.

“Jare gelede, toe ek in ʼn vissershut in Port Elizabeth gewoon en besig was om Boesman and Lena te skryf, het ek besef van al die emosies wat ek nie in myself moet ronddra nie, is haat die belangrikste. Dit is sekerlik die mees onproduktiewe emosie wat ʼn kunstenaar kan ervaar.”

Hy sê hy is deur 50 jaar van apartheid gevorm.

“Ek probeer om uit die kettings uit te breek. Maar ek sukkel. Tydens die twee kere wat ek ʼn genoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing was, het die jong mense van die Universiteit Stellenbosch my baie in die verband gehelp. Ek het besef baie van die kwessies waarmee mense van my generasie worstel, maak eenvoudig nie vir hulle saak nie. Hulle is in ʼn heeltemal ander wêreld gebore. Suid-Afrika het egter nou meer as tevore, skrywers nodig. Jong skrywers moet hul oë oopmaak en begin skryf.”

Toe hy die eerste keer in Stellenbosch aangekom het, het hy besef hier is baie snobs.

“Ek het soos ʼn buitestaander gevoel. Ek het nie ʼn paspoort gehad wat van my ʼn Stellenbosser gemaak het nie. Dit het een dag verander toe ek saam met ʼn vreemde bruin vrou by ʼn kruising gewag het. Die bestuurders wou ons nie ʼn kans gee om die pad te kruis nie. Uit pure frustrasie het ek in die pad gaan staan en die motors tot stilstand gedwing. Toe ons aan die oorkant van die straat kom, het ek en die vrou ʼn paar woorde gewissel en elkeen het in sy eie rigting wegbeweeg. Ek het skielik gevoel ek is tuis. Ek het met ʼn vreemdeling Afrikaans gepraat. Dit is vreemd, maar dit was een van die groot momente van my lewe.”

Die gebeure het ook die kortverhaal geword vir sy Athol Fugard: A Reading by die Woordfees.

Beelde uit die werklike lewe was nog altyd die snellers vir sy skryfwerk.

“Ek het nog nooit geskryf danksy ʼn gedagte nie. Dit was eerder beelde wat na ware gebeure oorgebly het, wat my laat skryf het.”

Toe hy 80 jaar oud geword het, het hy besluit dit was tyd om die belofte gestand te doen wat hy lank gelede aan sy Afrikaanssprekende ma gemaak het om eendag ʼn Afrikaanse toneelstuk te skryf. Die laaste Karretjiegraf  het groot lof ontvang. Ook dit is gegrond op ʼn ware gebeure. Toe sy ma ʼn jong vrou was, het sy eendag afgekom op twee Karretjiesmense. Die vrou was onder die wa besig om te kraam. Sy het die vrou gehelp en drie dae lank vir hulle kos geneem. Die mense was net skielik weer weg.

“Dis ʼn wonderlike storie en ek het altyd geweet ek sal iets oor my ma se ervaring skryf. Dit was moeilik om in Afrikaans te skryf, maar ek het hulp gehad van Adriana Steyn, ʼn antropoloog wat haar meesters gedoen het oor die kinders van die Karretjiesmense. Ek het gelukkig gevoel dat ek op Stellenbosch my belofte aan my ma kon nakom.

Fugard het al dikwels na homself verwys as ʼn Afrikaanse skrywer wat in Engels skryf – al is die taal waarin hy dink en praat Engels.

“As Karoo-kind het ek ʼn verbintenis met die taal en die lewenstyl gehad. ʼn Mens moet skryf oor dinge wat vir jou waar voel. Dit is ʼn uitdaging vir ʼn Engelse skrywer om so te skryf dat die ritme en gevoel van jou skryfwerk Afrikaans klink en voel. Toe ek as kind William Faulkner ontdek het, het ek besef groot skrywers is eerlik, hulle skryf sonder ydelheid en hulle skryf oor die lewe waarvan hulle getuies is.”

In ʼn onderhoud het Fugard een keer gesê:   “Word processors, typewriters and ballpoint pens don’t work for me. I am a sensualist writer who needs a fountain pen and paper”.

Hy haal ʼn notaboek uit sy sak en wys na die netjiese skrif. “Ek gebruik steeds ʼn vulpen om in my dagboek te skryf.”

Hy lees ʼn stukkie oor die hitte van Stellenbosch en ʼn gedig oor ʼn ou man.

“Ek is nog nie klaar met dié wêreld nie. Maar ek moet die feit erken: Hoeveel jare is daar nog vir my oor? Ek het geen geloof nie en ek kan nie bid vir meer jare nie. Daar is egter nog ten minste ʼn goeie vyf jaar oor wat ek kan uitpers. Dalk rook ek te veel pyp, maar ek probeer om na myself om te sien. Ek is steeds elke dag verwonderd oor mense, die wêreld en die lewe in die algemeen.”

 

Dramaturg diep geraak deur Bram Fischer se integriteit

March 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Woordfees Stellebos 2013

Bram Fischer, regsgeleerde en Afrikaanse Kommunis, wat Nelson Mandela se lewe gered het, maar self uiteindelik in die tronk dood is, se lewe word belig in die produkise Die Bram Fischer Wals wat by die US Woordfees te sien is. Die dramaturg Harry Kalmer antwoord ‘n paar vrae oor die produksie.

Stephanie Nieuwoudt: Waarom het jy die Bram Fischer-stuk aangepak

Harry Kalmer: Seker maar in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ‘n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ‘n wenner.
SN: Identifiseer jy enigsins met Fischer?

HK: Nee. Ek bewonder hom eerder. Hy verteenwoordig ‘n ander tyd, met ander waardes. ‘n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die “ooms” waarmee ons groot geword het. Miskien net ‘n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het.
SN: Jy is skrywer en regisseur van die stuk – kom jy agter jy verander die teks soos wat jy regisseur speel?

HK: Nie te veel nie. Ons het ‘n paar veranderinge gemaak maar dit was nie lukraak nie. Meestal was dit waar te veel feite die storie se pas beïnvloed het of waar ons besef het dit was onnodig. Nou dat ek vertaal in Engels is daar ook weer ander veranderings wat intree.

SN: Waarom het jy die bepaalde akteur vir die stuk gekies?

HK: Ek het David een aand in (die nou gestorwe) Boekehuis in Melville gesien en besef hy trek nogal op Bram. Ons het al voorheen saamgewerk. Hy is wyd belese en het ‘n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ‘n tegniese register en ‘n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander.

Hy het die rol aanvaar nog voordat ‘n woord geskryf of ‘n pennie in die bank was.

SN: Klank en stemwerk van Amanda Strydom is in die stuk ingewerk. Vertel meer hiervan?

HK: Daar is twee a-capella opnames van Amanda – “Boereplaas” en “The Red Flag” wat amper ‘n soort leitmotiv in die stuk vorm. Dit verteenwoordig Bram die Marxis asook Bram die Boereseun. Die stemme word spaarsamig maar funksioneel gebruik.

SN: Waarom is Fischer vandag nog relevant vir Suid-Afrikaanse gehore?

HK: Ek weet nie of hy nog regtig is nie. Sy storie is wel – dis ‘n mooi liefdesverhaal en die storie van ‘n man wat bereid was om die ongewilde dinge te sê wat niemand wou hoor nie. Dis iemand wat bereid was om vir sy ideale te sterf. Dis regtig outyds, nie waar nie?

En dan is daar sy lang besinning oor hoe die Afrikaner in ‘n demokratiese land sal inpas (of nie). Hopelik wys die stuk dat een mens tog ‘n verskil kan maak. Gehore moet egter maar self besluit watter verskil Bram Fischer werklik gemaak het. Die stuk roer mense egter eerder op ‘n emosionele as op ‘n politieke vlak.