Zivaglo – ‘n reis op vele vlakke

February 18, 2013 in Sonder kategorie

 

 ʼn Vroeëre mediaverklaring van Zivaglo lui daar word gehoop dat die uitstalling en ligvertoning sal help om feesgangers se skeppende vermoëns te ontsluit en hul inspireer om hul drome na te jaag en vervulling te vind.

Dis inderdaad ʼn optimistiese versugting. Maar dit lyk tog asof Zivaglo, wat volgens die organiseerders die eerste van sy soort in Suid-Afrika is, tog ʼn interessante ervaring kan wees. Dit word vanjaar van 1 tot 10 Maart by die US Woordfees aangebied.

Die eerste deel van die ervaring is ʼn uitstalling waar ʼn verskeidenheid kunstenaars werke wat wissel van drie-dimensionele en twee-dimensionele kunswerke asook installasie-kuns sal uitstal. Die kunstenaars is almal vroue – Zivaglo is immers gemoeid met die bemagtiging van vroue.

Elke kunstenaars se persoonlike verhaal van self-ontdekking word deur die kuns uitgebeeld.

Die tweede deel is ʼn ligvertoning. Van die lokaal waar die kunswerke tentoongestel word, beweeg besoekers na ʼn vertrek wat eers in donkerte gehul is voordat ʼn geprojekteerde ligvertoning begin. Die vertoning bevat boodskappe en vrae wat hopelik sal help om die besoeker op die pad na selfontdekking te lei. Die vertoning se titel “Ligreis” dui op ʼn reis in die lig en ook ʼn reis sonder emosionele bagasie.

Volgens Linda Remke, een van die organiseerders, is die Woordfeesvertonings maar net die bekendstelling van die Zivaglo-ervaring. Daar word gehoop om met die projek op reis te gaan – selfs buiteland toe. Remke beklemtoon ook dat die kuns- en ligtentoonstelling uniek in die land is.

Zivaglo bied ook twee skoenprojekte, “Heels for Healing.” Bekendes in die wêreld van die uitvoerende kunste en die media insluitend Rina Hugo, Sarah Theron, Chris Chameleon en Riaan Cruywagen het persoonlike boodskappe op skoene geskryf. Die skoene sal uiteindelik opgeveil en die opbrengs geskenk word aan twee veilige huise vir vroue – L’Abrie de Dieu in Stellenbosch en die Tamar-sentrum in Thailand.

“Ons glo kuns is ʼn instrument wat gebruik kan word om mense te bemagtig,” sê Linda wat die projek saam met Nina Brown, ʼn bekende in die modebedryf wat deesdae as heler en motiveringspreker optree aanbied.

“Zivaglo kom van die Hebreeuse woord “ziva” wat stralende lig beteken. Die Engelse “glo” deel van die woord is “glow” of “global”.

Zivaglo word daagliks van 10:00 tot 20:00 aangebied en die ligvertonings vind elke halfuur plaas.

  

 

 

 

 

2 responses to Zivaglo – ‘n reis op vele vlakke

  1. Ek wil amper sê die Woordfees diskrimineer teen werkende armgatte soos ek in Gauteng wat sooooo graag daar sou wou uitkom, maar nie die geld of verlof daarvoor het nie.

  2. Twaksak, is jy seker daar is nie ‘n paar rande wat los rondlê waarmee jy kan Stellenbosch toe kom nie? Andersins begin solank spaar vir volgende jaar.

Leave a reply

Your email address will not be published.