Woordfees-gesprek nie sy kernbesigheid sê Kerkbode

February 13, 2013 in Sonder kategorie

Die Kerkbode is spyt dat hy as donateur van die US Woordfees moes onttrek, maar gesprekke van die aard is nie deel van sy kernbesigheid nie. So lui ʼn mediaverklaring wat gister deur ds Danie Mouton uitgereik is. Mouton is voorsitter van die direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM) wat die blad uitgee.

Die verklaring volg op berigte dat Kerkbode onttrek het van twee gesprekke by die US Woordfees. Die een gesprek vind plaas rondom die vraag “Net een God?” en die deelnemers is Lina Spies (digter en akademikus), Chris Jones (teoloog), en Sjeg Thaffier Najjaar (van die Islamitiese Raad van Suid-Afrika). Die tweede gesprek vra vrae rondom die tema “Hemel en hel?”. Hieraan neem Abel Pienaar (van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit), Nico Koopman (Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch) en Jurie van den Heever (teoloog) deel.

Volgens Mouton hoort die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke “van dié aard” nie tot die kernbesigheid van Kerkbodenie.

“Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop. Kerkbode se kernbesigheid is om (soos die NG Kerk waarvan dit die mondstuk en spieël is) vanuit die evangelie van Jesus Christus ‘n bydrae tot die genesing van ons land te lewer. Praktiese sake wat sentraal staan, is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus. Daarom handel die inhoud van Kerkbode gereeld oor dié aktuele sake.”

Die verklaring lui voorts die uitvoerende bestuur en direksie van TM was nie bewus van reëlings dat Kerkbode as donateur en borg van godsdiensgesprekke by die Woordfees optree nie. Die reëlings is glo nie “langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.

“Daarmee is groot verleentheid vir Kerkbode geskep. Ons stel ondersoek in na die redes hiervoor, en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie.”

Mouton ontken dat Kerkbode onttrek het weens die deelname van omstrede sprekers soos die dagblad Die Burger gister beweer het.

“Dié sprekers en hul standpunte word in Kerkbode gereflekteer. Die blad deins nie terug vir sake wat selfs omstrede kan wees nie.”

Melt Myburgh, Woordkunsprojekbestuuder van die Woordfees, het gesê Jean Oosthuizen nuusredakteur van Kerkbode en gespeksleier het die Woordfees verlede jaar genader met ʼn voorstel vir die gesprekke.

“Dit is ʼn probleem wat intern deur Kerkbode hanteer moet word. Intussen gaan ons steeds voort met die gesprekke. Al het Kerkbode onttrek is daar is geen sprake dat dit geskanselleer sal word nie”

Die eerste gespek: “Net een God?” vind op 7 Maart om 11:00 in die Boektent plaas en die tweede gesprek “Hemel en hel?” op 8 Maart om 10:00.

 

 

7 responses to Woordfees-gesprek nie sy kernbesigheid sê Kerkbode

  1. Klink regtig of die onderwerpe te na aan die been sny!

  2. Hier lieg die dominees weer. Die rede is dat hulle dit nie kan bekostig om oor god op ‘n openbare verhoog met ateiste te beredeneer nie. Hoekom is die NG Kerk so bang en slap in die broek om reguit antwoorde te gee? Wel die rede is voor die hand liggend- die NG Kerk sal doen wat hy kan om die mite van hulle god weg te steek. Dink net hoeveel “jobs” gaan in die hek duik as die gemeentelede dit agter kom.

  3. Ek dink daar is/was verskuilde agendas en ‘n paar oorblufte redaksielede wat moes walgooi en keer dat hulle nie as individue namens ‘n groot groep mense wat hul blad ondersteun, praat nie. Dalk hoor ons later die ware storie.

  4. As die mondstuk van die Nederduits Gereformeerde Kerk WEL sulke retoriese vrae, soos hierdie twee gespreksonderwerpe as hul kernbesigheid sou begin sien, is dit veel later in die donker nag as wat ons ooit kon gedink het …

  5. As Jean Oosthuizen oneties opgetree het deur die TM se bestuur verkeerdelik van onwaarhede te beskuldig in die openbare media, moet hy soos enige ander persoon wat so sou optree hanteer word. Hierdie optrede deur Kerkbode bestuur impliseer dalk ook dat Jean nie binne die etiese kode waaraan hy as nuusredakteur verbind is gebly het nie. Omdat ons ook hier van ‘n Christelike organisasie praat is die vraag of hy sy bewerings van onwaarhede eers op broederlike wyse soos Matt 18 voorskryf met sy susters en broers opgeneem het of nie? Christene praat mos eers saam met mekaar voor mens media toe storm. Ek vermoed Jean se ondersteuners gaan dalk hulle messe uit he vir die NG Kerk – maar my raad aan hulle is om baie versigtig te wees – julle doen julle eie saak dalk veel meer skade aan om in hierdie konteks hom tot martelaar te verhef.

  6. Ek lees in Beeld (19 Februarie 2013), dat Jean Oosthuizen, joernalis van Kerkbode, tien minute gegun is om sy kantoor te verlaat nadat hy geskors is aangesien hy in die openbaar te kenne gegee het dat sy direksie wel ingestem het om die Kerkgesprek tydens die Woordfees te borg en daarna die borgskap terug getrek het.

    Die Kerkbode se bestuur erken nou dat die direksie het nie gedink dat die sprekers is die regte soort mense vir Kerkbode se mark is nie.

    Die Direksie beweer dat die meeste NG lidmate is teologies konserwatief. Met dié mark het die direksie gevoel die gesprekke is nie tot voordeel van Kerkbode as handelsmerk nie.

    Een van die redes waarom die NG Kerk begin leeg loop, is dat dit ‘n vergaderplek van nie-denkendes is wat hulle voorligting ontvang van predikante wat te bang is om post-modernistiese sienings van die Bybel en teologie aan die gemeentes voor te hou.

    Die gesprekke wat tans in die kerkgeledere gevoer word oor aspekte soos die historiese Jesus, die kanonisering van die Bybel, die dogmatisering van die lewe en dood van Jesus, is reeds in de begin van die 1900’s in Europa gevoer en as deel van die teologiese gesprek aanvaar.

    Maar hier in Suid-Afrika het die godsdiensige plaat vasgehaak en is die kerkvaders nie geneë om na enige gesprek buite hulle eng teologiese verstaan te voer nie.

    Vrae oor hemel of hel of die bestaan al dan nie van net een God, is vrae wat algemeen gevra en nie net in sinodesale nie maar ook om braaivleisvure bespreek word. Hier was die ideale geleentheid vir die Kerk om sy swaargewigte (letterlik, nie figuurlik) te stuur om die Kerk se standpunt oor hierdie onderwerpe te stel.

    Om weg te skram van aktuele vrae en debat, stel nie net die Kerk se standpunt oor die bogenoemde aspekte onder verdenking nie maar plaas onmiddellik ook die totale dogma van die Kerk onder verdenking.

    In hierdie geval is swye nie ‘n antwoord nie maar ‘n weghardloop van gesonde en noodsaaklike gesprek!

Leave a reply

Your email address will not be published.