You are browsing the archive for 2013 February.

Anton Goosen en Valiant oor die kuns van liedjieskryf

February 28, 2013 in Sonder kategorie

 

 

 

Die Liedjieboer Anton Goosen sou wou comics teken. Maar hy kan nie. Nou skryf hy liedjies. En bied liedjieskryfskole aan soos vanjaar saam met Valiant Swart by die US Woordfees. Maar kan hulle mense regtig leer om te skryf?

Stephanie Nieuwoudt: Kan n mens werklik vir iemand leer om liedjies te skryf? Of is dit ‘n gawe waarmee mens gebore moet word?

Anton Goosen: Ek dink nie regtig ‘n mens kan nie – dis ‘n aanvoeling wat jy het of nie het nie maar ek kan verkeerd wees. Ek self sou so graag wou cartoons teken – met iets soos Asterix vorendag kom – maar ek kan nie en al die lesse in die lewe gaan dit nie verander nie. By die slypskool sal ons seker maar na die deelnemers se werk kyk en sien watter voorstelle daar te make is.

Valiant Swart: Dit help sekerlik om ‘n soort natuurlike aanvoeling vir musiek en woordkuns te hê, maar ‘n beduidende deel van die werk bestaan uit aangeleerde vaardighede. Hoe meer jy skryf en komponeer, hoe meer leer jy om die ‘geheimenisse’ raak te sien en te ontsluit. Deur ‘n slypskoolganger te wys op byvoorbeeld ‘n moontlike lirikale progressie wat hy/sy misgekyk het, en hoe dit die musiek ‘n treffende wending kan laat inneem, help om hul vaardighede te skaaf en lei hopelik tot ongebreidelde inspirasie.

SN: Wat beteken liedjieskryf vir jou – is dit die liriek of die musiek of n kombinasie daarvan?

AG: Dit is gewoonlik holisties/tematies. Ekself skryf nooit die lirieke eerste nie. Dis gewoonlik eers die tema insluitend die catchline, en van daar bietjie skryf, rustyd, hersiening ens.

VS: Dit werk basies op drie maniere – al drie ewe onvoorspelbaar en uitdagend. Soms het jy ‘n (volledige) liriek geskryf wat jy dan oordeelkundig moet toonset; ander kere het jy ‘n (volledige) stuk musiek waarvoor jy ‘n bypassende liriek (‘boodskap’ of ‘storie’) moet skryf. Die ontwykendste maar ook die lekkerste is wanneer die musiek en liriek gelyk ‘gebeur’ – onverklaarbaar en absolute magic.

SN: Wat is die elemente wat nodig is om van n liedjie n geslaagde lied te maak?

AG: Daar is nie neergelegde reëls wat bepaal wat goed is en wat nie. Dis ‘n subjektiewe ervaring vir die luisteraar/s. Daar is riglyne, maar ek dink dat as n song die luisteraar se aandag boei dan werk dit reeds in daardie opsig. Dis baie onderhewig aan smaak en smaakverskile ook in verskillende genres. Skipskop en Toeter op my waterskoeter het beide sukses behaal, maar in verskillende hoedanighede en genres. Daar is ook die toets van tyd wat seker die heel beste rigtingwyser is vir die geslaagdheid al dan nie van die song. Terselfdertyd is daar songs wat tydgebonde is en korter leeftye het – byvoorbeeld iets oor ‘n bepaalde gebeure. Die liedjie verdwyn gewoonlik vinnig van die radar af, maar dit beteken nie die song is noodwendig onsuksesvol nie.

VS: Mens streef maar na ‘n volmaakte kombinasie van al die elemente – melodie, toonaard, tempo, boodskap/storie en struktuur. En natuurlik die misterieuse X-faktor.

SN: Hoe gaan julle die slypskool aanbied?

AG: Ons het elkeen ʼn afsonderlike aanbieding en dan is daar besprekings waar ons na die mense se werk kyk.

VS: Met sulke slypskole is daar gewoonlik ‘n aparte aanbieding deur elkeen van ons, en dan individuele sessies met die kursusgangers, asook ‘n groepsbespreking. Tegnies behoort ek ook kursusgeld te betaal; ek kan nie wag om ‘n paar wenke en wyshede by Anton te gaps nie.

SN: Wat hoop jy om met die slypskool te bereik/reg te kry?

AG: As daar goeie nuwe werk in Afrikaans uit die slypskool of te danke aan die slypskool voortvloei, dan was dit geslaag.

VS: Aspirant-liedjieskrywers het oor die algemeen maar ‘n moeilike tyd. Hulle sukkel geweldig om ‘in die game te kom’. Hopelik is daar ten minste vir een van hulle ʼn stukkie nuttige raad wat lei tot ‘n deurbraak en ‘n reuse-treffer. Uiteindelik gaan maar dit oor die oordrag van vaardighede.

*Anton neem ook op 5 Maart om 13:00 by De Vette Mossel deel aan n gesprek, Van Anton tot Die Antwoord oor die verlede en toekoms van die Afrikaanse musieklandskap. Sy gespreksgenote is Kerneels Breytenbach en Albert du Plessis. Kliek hier om onderhoude met die drie manne te lees wat op LitNet verskyn het.

* Valiant is op 5 Maart om 13:00 en 20:30 saam met Johan Bakkes, Dana Snyman en Johan Badenhorst te sien in Die Drie Reisigers en Valiant Swart. Valiant sing en die ander manne vertel van hul vele reise en hul stories. Sien hulle by die Doprstraat-teater.

* Die slypskool word aangebied deur Sanlam en LitNet.

 

 

Elsabé Daneel se vyf-vroue-kragtoer

February 25, 2013 in Sonder kategorie

 

 

ʼn Verkragte vrou, ʼn vrou wat ʼn aborsie kry… Dit is maar net twee van die vroue wat Elsabé Daneel vertolk in die drama Bittersoet wat vanjaar by die US Woordfees aangebied word. Sy het groot lof gekry vir haar spel toe dit verlede jaar by Clover Aardklop bekend gestel is. Stephanie Nieuwoudt het met haar gesels.

Stephanie Nieuwoudt: Bittersoet is die eerste eenvroustuk waarin jy speel. Was dit aanvanklik vir jou oorweldigend toe jy besef het jy gaan inderdaad die rol vertolk?

Elsabé Daneel: Toe ek verlede jaar my foon neersit nadat ek gehoor het Bittersoet is as ʼn Aardklop-produksie goedgekeur, was ek so oorweldig dat ek net vir ʼn ruk lank op my bed bly sit het en na die blou lug gekyk het. En toe kom die vreugde en dankbaarheid vir ʼn grootse geleentheid asook die hoop dat ek niemand teleur sal stel nie.

SN: Jy stap in die skoene in van Wilna Snyman wat in 1995 die ENB Vita-prys vir haar vertolking ontvang het. Deon Opperman het dit ook oorspronklik as ʼn Engelse stuk, Sweet Sorrows, geskryf. Was dit dalk effe intimiderend om in Wilna se skoene te stap?

EB: Toe ek Wilna in 1994 in Sweet Sorrows sien, het dit my so uitgeboul dat ek jare later nog daaraan gedink het. Wilna is egter so briljant dat mens haar liefs nie moet probeer nadoen nie. Die gevierde regisseur, Juanita Swanepoel, en ek het dus nuut en onbevange met manjifieke Engelse teks en Hanli Rolfes se Afrikaanse vertaling gewerk en dit soos ʼn diamantmyn ontgin.

Nòg Deon nòg Hanli het die laaste skets Donker Afrika in hul besit gehad. Omdat hierdie monoloog relevansie bygekry het sedert Deon dit in 1993 geskryf het, wou ek dit graag insluit. Ek het by Wilna gaan aanklop en na ʼn wekelange soektog bel sy van Hermanus met die woorde: ”Ek het dit gevind!” Sy het die hele handgetikte Sweet Sorrows uit ʼn ou boks opgediep en tot vandag is die vergeelde koevert met Wilna se woorde “Vir Elsabé Daneel – Van Wilna Snyman met liefdewense” ʼn kosbare besitting. Toe Wilna na my debuutopvoering by Aardklop in die saal agterbly om vir my te sê hoe die stuk haar geraak het, was ek baie verlig, want mens voel verantwoordelik teenoor die mense wat Bittersoet laat lewe kry het.

SN: Hoe kry ʼn aktrise dit reg om vyf verskillende karakters te vertolk? Hoe klim jy letterlik van die een oomblik na die volgende in die vel van uiteenlopende vroue en vertolk hulle met oortuiging?

EB: Dis ʼn voorreg om met so ʼn slim teks en fyn regisseur te werk dat mens nie anders kan as om kniediep in elke uitsonderlike karakter se skoene en siel in te klim nie. Soos wat ek elke karakter se kostuum aantrek, voel ek die klippe en rotse wat sy in haar sakke dra.

Die teks is beeldskoon: gelaag en genuanseerd. Deon Opperman ontsluit elke vrou se bittersoet storie met deernis en insig wat ook sterk tot mans spreek. Juanita se regie is so ragfyn: sy weef ‘n digte tapisserie van ryk kleur en diepte. Ons kon dus diep delf om elke karakter se psige en storie te ontgin en hoe langer ons gewerk het hoe meer diamante het na die oppervlak gekom.

Elsabé Daneel in Bittersoet. Foto: Alet Pretorius.

SN: Die een vrou kry ʼn aborsie. Die een word verkrag. Dit is nogal skokkende goed wat met die vroue gebeur. Hoe raak dit jou sielkundig om die rolle te vertolk?

ED: Die uitdagendste deel was om die vyf uiteenlopende vroue se onderskeie stemme te vind. Die oorkoepelende tema is stille triomf oor trauma, maar elke vrou se gut en reis om balsem te vind, is uniek.

Soos wat ons repetisies gevorder het, het ek meer en meer bewus geword van vroue se krag. Ek het groter begrip en empatie ontwikkel vir vroue wat curve balls ontvang, maar wat met veerkragtigheid en humor terugbons om voort te gaan met die alledaagse. Op die verhoog is ek hul boodskapper wat hul spieëls ophou vir die teatergangers. Dit is magies om in die teater te ervaar hoe die stuk met die mense resoneer: daardie fladderinge van herkenning, empatie, meelewing en humor wat die gehoor na jou terugadem. Bittersoet het staande ovasies gekry en dit was openbarend om te hoor watter karakter(s) hulle die meeste raak.

Maar as die teaterligte doof en ek pak daardie vyf paar skoene terug in die krat, dan is ek gewoon Elsabé. Met vyf ekstra stemme wat in my kop resoneer!

Al is die monoloë in die negentigerjare geskryf, het dit vandag selfs groter relevansie as toe, juis omdat die geweld teen vroue so gegroei het. Al onderskraag Bittersoet net een mens wat trauma beleef, is dit reeds die moeite werd. Ons kan nie nog een enkele Anene Booysen bekostig nie.

SN: Sou jy die stuk kon aanpak toe jy jonger was?

ED: Ek is tans in die regte seisoen om vier van die vyf vroue te vertolk aangesien hulle soos ek in die vyftigs is. Die vyfde vrou is in haar sewentigs en is dus meer van ʼn uitdaging. My ouma het egter by ons gewoon in haar laaste jare en ek onthou haar aura, stem, houding en manier van loop. Sy het haar voetjies geskuifel soos wat ek my Caesar shuffle gedoen het na my drie kinders se geboorte, so mens weef maar eie ervaring in. Dis ʼn interessante blik op hoe ek dalk op daardie ouderdom sal wees.

SN: Jou dogter is ook ʼn aktrise en is ook op die Woordfees te sien. Het jy haar aangemoedig om in die bedryf te wees?

ED: Ek het Roeline en haar twee broers van kleins af blootgestel aan die teater: poppekaste, kinderteater, pantomimes en natuurlik die sirkus! Sy was van die begin af betower deur die teater en het reeds as kind daarmee begin woeker.

Roeline en ek het ʼn stille ooreenkoms dat sy haar eie paadjie oopkap in die vermaaklikheidswêreld. Sy verkies dit so en ek respekteer dit. Ek vra graag haar raad, want sy is wys en eerlik en ek kan staatmaak op haar eietydse insette wat my op my tone t.o.v. vernuwing hou. Ek merk tog dat ons dieselfde werksetiek, presiesheid en deursettingsvermoë het. Die appel val seker nie ver van die boom nie.

Ek gun dit vir haar om haar passie te volg, want ek weet hoe kreatief en stimulerend dit is. Haar honneursgrade in Drama en Joernalistiek (albei cum laude) rus haar toe om verskeie aspekte van haar beroep te ontgin. Sy is ʼn lid van die teaterinisiatief Polony wat Die lelike Eend by Woordfees 2013 op die planke bring asook N is vir Neurose by die KKNK 2013. Sy is die verhoogbestuurder van Bittersoet. Dis bevrydend dat ek haar met die kleinste detail kan vertrou en dat sy vinnig die regte besluite neem. Sy is my wing woman.

Woordfees se WOW-projek ontsluit wonder van letterkunde

February 22, 2013 in Sonder kategorie

Slypskole, debatte, koerantkursusse, voorlesings… Dit is alles deel van die US Woordfees se WOW-projek waardeur jaarliks derduisende leerders bereik word. Fiona van Kerwel staan aan die hoof van die US Woordfees en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se  Woorde Open Wêrelde (WOW) projek. Sy verduidelik waarom WOW veel meer is as net ʼn lees- of boekprojek.

Stephanie Nieuwoudt: Verduidelik asb wat is die WOW-projek.

Fiona van Kerwel: Ons streef daarna om minder bevoorregte leerders te bereik en hul visie te verruim deur middel van lees en skryfbedrywighede; hulle bewus te maak van die wonder van boeke en die literatuur, om ook ’n liefde en trots vir hul moedertaal te kweek, om kreatiwiteit, kennis en waardering vir die kunste te stimuleer en verdere studie aan te moedig. Die belang van lees en spelling word voortdurend uitgelig.

Daar is ook verskeie WOW-studiebeurse vir voornemende  en huidige studente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

As deel van die WOW-projek word onder meer: skole besoek en word daar met die leerders oor hul voorgeskrewe werke gesels, daar is skryfskole deur bekende skrywers, spelfeeste en -slypskole, debatfeeste en debatslypskole, opvoerings van grepe uit boeke ʼn skoolkoerantprojek met slypskole, ʼn skoolkoerantwedstryd en die toeken van beurse aan studente en boekeverkopings in samewerking met Lapa.

 

Fiona van Kerwel

 SN: Julle het nogal klein begin. Hoeveel kinders word tien jaar na die aanvang van die WOW-projek bereik?

FVK: WOW het begin as ʼn klein projek met drie projek-aksies in 2003. Vanjaar is daar drie kernfokusse met 25 projek-aksies. Ons het van 8 654 leerders en 205 onderwysers in 38 skole gegroei tot 135 712 leerders en 2 221 onderwysers in 777 skole in 2012. Saam met die ouers en lede van die publiek wat die jaarlikse WOW Karnaval saam kom geniet, het ons verlede jaar 161,783 mense in sewe provinsies deur hierdie projek geraak en verryk.

Ons word reeds oorval deur skole van alle oorde om deel te neem aan ons landwye WOW Spelfees. Ons verwag dus dat ons getalle vanjaar weer skerp sal styg. Die getalle is altyd indrukwekkend, maar vir ons is gehalte nog belangriker.
SN: Waarom  is die projek belangrik?

FvK: Lees en skryf is die kernfunksies van geletterdheid. Hierdie vaardighede is belangrik vir akademiese prestasie. Ons werk meestal met leerders uit minder bevoorregte gebiede.

Ons probeer om hulle letterlik deur kreatiewe aksies wys hoe woorde wêrelde kan open. Talle van die leerders met wie ons werk ervaar daagliksekonomiese, sosiale en maatskaplike uitdagings. Deur WOW word hulle blootgestel aan nuwe moontlikhede, asook aan rolmodelle wat hulle inspireer en vertel dat harde werk altyd die moeite werd is.

Afrikaans is vele leerders se moedertaal. Ons wil vir hulle wys dat Afrikaans ook wêrelde kan open, en dat moedertaalonderrig belangrik is vir akademiese prestasie. Afrikaans is ʼn taal wat as medium dien om wêrelde mee te open, en wat vir niks of niemand terug hoef te staan nie. Afrikaans is werklik ʼn taal om op trots te wees en ook ʼn taal wat leerders die geleentheid bied om hul potensiaal verder te ontwikkel. Maar nog belangriker: Afrikaans is ʼn wonderlike, skeppende erfgoed van ’n verskeidenheid voorvaders. Die kultuurman Oscar Petersen het by een van ons WOW-byeenkomste gesê Afrikaans is vir hom die stilte tussen sy woorde.

SN: Wat is vanjaar vir jou die grootste uitdaging met die projek?

 FvK: Daar is baie uitdagings, maar ek dink die grootste is ons dinamiese groei en ontwikkeling. Die groei is verblydend, maar ons moet dit baie goed beheer en bestuur. Deur harde werk en baie ondersteuning van ons donateurs en vennote het ons ʼn goeie reputasie gevestig. Maar ons moet voortdurend werk om dit te beskerm en dinge beter te doen.

Met groei kom allerlei uitdagings en geleenthede waarvan ons nooit kon droom nie, maar met kundigheid, kreatiwiteit, deursettingsvermoë en gebed sien die WOW- span vir alles kans. Ons is verskriklik opgewonde dat ons WOW Spelfees reeds so gewild in verskeie plekke in ons land is, en net so opgewonde oor die skrywersbesoeke wat vanjaar in die Noord-Kaap ook afgeskop het.

SN: Daar is altyd kritiek dat die Woordfees te wit is. Wat is jou kommentaar hierop?

FvK: Toe ek in 2004 hier begin het, was die Woordfees reeds vanaf 2000 aan die gang. Maar dit was vir my ook onbekend. Tien jaar later is daar baie meer mense wat van die fees weet. Die US Woordfees is ʼn kunstefees wat deur die woord – in al sy vorme – kultuur laat leef, en dit is ʼn geweldige uitdaging om in ons land met sy diversiteit almal gelukkig te hou, veral as jou fondse en kapasiteit ’n bietjie beperk is.

Ek glo nie daaraan dat ʼn mens integrasie moet afdwing nie – daar is niks wonderliker as mense wat spontaan met mekaar begin gesels omdat hulle dieselfde belangstellings deel nie, ongeag hoe hulle lyk.

Danksy die groei van die WOW-projek en die WOW-Karnaval op die Van der Stel sportterrein, word baie mense by die fees betrek. Verlede jaar het 17 000 mense die Karnaval bygewoon en dit dra daartoe by dat die US Woordfees gewis nie oorwegend wit is nie.

Die Woordfees maak voorsiening vir verskillende teikengroepe se voorkeure en smake en probeer in baie behoeftes voorsien. Ek weet ook dat al die koördineerders wat betrokke is by die US Woordfees baie moeite doen om iets vir elke smaak aan te bied – sommige dramas het byvoorbeeld in 2012 uiteenlopende mense gelok.

Ek stem wel saam dat ons nog baie meer kan doen om van ons produksies se bywoning meer divers te maak. Ons wil donateurs vir wie die kunste en gehoorontwikkeling belangrik is, uitnooi om ons te ondersteun in ons pogings om meer mense na ons produksies te bring.

Ek glo ook dat ons deur die WOW-projek toekomstige Woordfeesgangers en kunstefeesgangers skep. Dalk in die toekoms, wanneer hierdie leerders volwaardige professionele persone met lekker vet beursies is, sal hulle enige kunstefees bywoon.

Mense uit ‘n bepaalde teikengroep wat hoofsaaklik die aanbiedings bywoon wat op hulle gerig is, dink egter soms dat dit die hele fees is. So hoor ‘n mens dikwels dat ouer mense vra waar die studente en ander jongmense dan is, asook waarom die fees so wit is. Hulle kom nooit by die dramas en WOW Karnaval wat wel baie meer inklusief en verteenwoordigend is nie, en het dus ‘n verwronge beeld van die fees.

Net so besef sommige van die leerders by die WOW Karnaval nie eens dat dit deel is van ‘n groot ander fees nie en dink die WOW-dag en die Karnaval is al wat aangebied word.

Mense wat dink die fees is te wit, moet die WOW Karnaval op Vrydag en Saterdag 8 en 9 Maart kom besoek. Die karnavalgangers is baie lekker Woordfeesmense!

In museum se stof het sy inspirasie gevind

February 21, 2013 in Sonder kategorie

Anja de Klerk het in 2007 as kunsstudent aan die Universiteit Stellenbosch vir ʼn projek in die US Museum se stoorkamers rondgesnuffel.

Daar het sy afgekom op ou werke “van historiese en nuuskierigheidsbelang” wat nooit uitgestal word nie. Sy het geweet sy wou weer op een of ander manier na die werke terugkeer. In 2010 was sy een van ʼn groep mense wat opleiding gekry het in New York se Independent Curators International opleidingsprogram. Die twee ervarings het gelei tot die uitstalling kuns nou-nou: versamel; gesprek  wat op die US Woodfees (1 – 10 Maart) te sien is. Die kunstenaars Abri de Swardt, Lunga Khama, Tasneem Khan en Chris Swart het een van die ou werke uit die museum gekies en met hul eie werk daarmee e in gesprek getree. Die kunstenaar Francis Burger het verkies om iets anders te doen.

Stephanie Nieuwoudt: Jy het op werk afgekom wat nie uitgestal word nie. Dit is teen die aard van kuns wat gesien moet word.
Anja de Klerk: Ek is gefassineer deur versamelings en hoe sulke “saambondelings” van dinge, hoe amptelik of persoonlik ookal, ge-orden word en hoe diegene wat daarvoor verantwoordelik is en daarmee te doen kry daaroor dink. Ek dink nou sommer aan die ou Wunderkammer  ‘cabinets of curiousity’ van die Renaissance en my ouma se spens! Versamelings en in hierdie geval ‘n kunsversameling maak my opgewonde – ek sien potensiaal en opwinding waar ander dalk net stof en ou rame sien. Dit is dus nooit te vroeg of te laat om interessanthede op te diep nie!

Die verhouding tussen kunsmaak (die kunstenaar se posisie) en die posisie van die galery of versameling is eienaardig – kunstenaars skep gereeld omdat hulle moet – kunsmaak is vir baie kunstenaars ‘n intieme deel van hulle bestaan en dus ‘n lewensaktiwiteit. Daarteenoor word galerye of versamelings as instansies met ‘n heel ander doel bestuur en gedryf – met die toekoms (hoe ver ookal), bewaring en opvoeding in gedagte.

Die hou, berg en versorging van kunswerke is ‘n gewone deel van die funksionering van ‘n kunsversameling, maar op die ou end dink ek dat ‘n versameling is net so goed soos die bestuur  en aktivering daarvan.

Anja de Klerk

SN: Gee voorbeelde van ‘n paar van die werke waarop jy afgekom het wat jy dink verdien om die “lig” te sien?

AdK: Ek dink die kunstenaars van die kuns nou-nou: versamel; gesprek projek het baie oulike en slim keuses gemaak het nadat hulle in die US Museum se stoorruimtes gedelf het. Tasneem Khan het byvoorbeeld ‘n Peet Pienaar werk gekies wat te make het met sy identiteit as wit man en sy ervaringe van die weermag. Dit is ook een van die min sogenaamde kontemporȇre werke in die versameling.
Dit is moeilik om algemene waarde-oordele te maak, maar ek hou vol daarby dat daar lekker potensiaal in hierdie versameling is – daar is gewis heelwat geleenthede vir herinterpretasie en navorsing.

SN: Het die eietydse kunstenaars om een of ander vreemde, onverklaarbare rede dalk rondom dieselfde tema ‘n werk in die museum gekies? Of het hulle almal wyd uiteenlopende werke gekies?

 AdK: Die jong kunstenaars het in twee gevalle ‘n sterk tematies ooreenstemmende keuse gemaak, maar in die ander drie gevalle glad nie.
Abri de Swardt was die eerste kunstenaar wat die kans gehad het om in die stoorruimtes te gaan rondsnuffel en het ‘n gips-kopie van ‘n oorspronklike eikehout Duits Gotiese beeld wat Christus en Johannes uitbeeld (c. 1320) gekies. Die oorspronklike beeld is in die Bode Museum in Berlyn en Abri het van Londen, waar hy studeer, soontoe gereis om een deel van sy werk vir die uitstalling te verfilm.

Chris Swart het, onbewus van Abri se keuse, besluit om Claude Mellan se graveerwerk Head of Christ on the Sudarium (Hoof van Christus op die Sluier van Veronica c. 1649) te  gebruik as basis vir sy nuwe werk. ‘n Klassieke religieuse tema het dus heel onverwags kopuitgesteek in Abri en Chris se keuses van oorspronklike werke – dit is natuurlik nie te sê dat dit die presiese of enigste tema vir die nuwe werke wat in gesprek hiermee geskep word, is nie.

Francis Burger het byvoorbeeld besluit om nie ‘n enkele werk vanuit die versameling te kies nie, maar eerder ‘n ondersoekende-joernalistieke rol te speel tydens die uitstalling en om tegelykertyd ‘n klein publikasie te maak. Haar werk is dus heelwat meer “performance” of vertoonkuns. Lunga Kama het deur fotografie met die tradisionele Xhosa kralewerk uit die Museum se Antropologiese versameling gewerk.
Soos ‘n mens seker kan verwag van ‘n uitstalling wat bestaan uit ‘n groep uiteenlopende kunstenaars  die tematiese drade in die uitstalling hier en daar nou verbind en op ander plekke weer baie uiteenlopend.

Die Gotiese beeld wat Abri de Swardt as inspirasie gebruik het. Dit is in die Schreuder-versameling.

SN: Verduidelik die titel: kuns nou-nou.

AdK: Die titel ‘kuns nou-nou’ kom van ‘n uitstallingsvoorstel wat ek in 2010 saam met die Independent Curators International in NY ontwikkel het. Ek het gekyk na Taschen se Art Now boekereeks wat as “A cutting-edge selection of the artists that matter the most” beskryf word en gedink dat dit op ‘n manier belaglik en dalk arrogant is om binne die baie groot diverse netwerk en ekostelsel van eietydse kuns ‘n paar kunstenaars so te verhewe en te kanoniseer. Sulke publikasies lei tot monolitiese (eenogige) denke oor wat en wie “kuns” is. “Nou” is nie ‘n baie lang tyd nie – “nou-nou” is vir my baie interessanter want dit verwys na of die baie onlangse verlede of die toekoms. Nou-nou is ‘n speelse en vloeibare term.

Gevolglik is kuns nou-nou ‘n manier om te sê: Hier gooi ons ons net wyer oop en neem ons opkomende kunstenaars en hulle diverse belange en ontwikkeling in ag. kuns nou-nou is vir my ‘n langtermyn vloeibare en vloeiende projek. Die versamel; gesprek deel van die titel verwys in hierdie geval na die US Museum se versameling wat geaktiveer word deurdat die gekose jong kunstenaars visueel daarmee in gesprek tree.
SN: Wat het jou verras of teleurgestel van die bepaalde projek?

AdK: kuns nou-nou is ‘n volledig selfbefondsde projek. Dit sou ‘n groot aanmoediging wees om meer regstreekse finansiële ondersteuning, hoe klein of groot ookal, van die Fees te ontvang.  Aan die ander kant is dit wonderlik om met talentvolle en toegewyde kunstenaars te werk – om deel te wees van hulle seleksie en maak-proses, hulle manier van kyk en doen is gereeld verrasend, stimulerend en ‘n aanmoediging om aan te hou werk.
SN: Is die kunswerke deur die eietydse kunstenaars te koop by die Fees?

AdK: Dit is maklik om te sê dat ons ons werk net vir die liefde doen, maar soos almal anders moet kunstenaars en uitstalmakers ook brood vat ten duurste petrol ingooi! So, ja, al die nuwe werke wat deel uitmaak van die uitstalling is te koop by die Fees!

SN: Waarom het jy die bepaalde kunstenaars gevra om aan die projek deel te neem? Spreek hulle werk om een of ander rede tot jou? Of is daar iets “histories” in hul werk wat jy gedink het kan aanklank vind by die ou werke?

AdK: Ek het die kunstenaars wat deel uitmaak van die projek gekies omdat hulle besonder talentvol is, omdat hulle ‘n spesiale posisie beklee en ‘n spesiale visie en perspektief bied. Die oorspronklike vraag wat ek aan myself gestel het voordat ek die kunstenaars gekontak het, is: ‘Wie sal anders kyk na die bestaande versameling en ‘n nuwe en alternatiewe perspektief bied?’
Die uitstalling sou oorspronklik ook heelwat meer deelnemers ingesluit het, maar weens  beperkte tyd en hulpbronne moes ek dit sny tot vyf deelnemers. Ek het dus nog ‘n lekker lys van mense wat onder meer Joe Foster, Jared Ginsburg en Tamzyn Varney insluit, wat by toekomstige kuns nou-nou projekte betrokke sal wees. Daar is baie talent, maar min geleenthede – dit is wat my dryf.

SN: Waarom dink jy is ʼn uitstalling soos die goed vir die Woordfees?
AdK: Ek moet dit waag om te sȇ dat die visuele kuns wat in die verlede by die Woordfees uitgestal is aan die konserwatiewe kant was. Ek moet die fees egter ‘n pluimpie gee vir hoe hulle hul vanjaar oopgooi en vir ‘n groter verskeidenheid van visuele-kunsmaak-benaderings plekmaak.

Ek dink kuns nou-nou bied ‘n eietydse benadering tot kunsmaak en moontlik ander perspektiewe en maniere van ‘visueel wees’ aan die Fees.  Ek dink dat dit ook ‘n bykomende en moontlik jonger gehoor sal lok en nuwe belangstelling en bewusmaking rondom die Fees tot stand sal bring.

Ek is oop vir gesprek, debat en vrae en beplan twee rondleidingsessies wat binnekort op ons webblad www.kunsnounou.info bekend gemaak sal word.

 

Zivaglo – ‘n reis op vele vlakke

February 18, 2013 in Sonder kategorie

 

 ʼn Vroeëre mediaverklaring van Zivaglo lui daar word gehoop dat die uitstalling en ligvertoning sal help om feesgangers se skeppende vermoëns te ontsluit en hul inspireer om hul drome na te jaag en vervulling te vind.

Dis inderdaad ʼn optimistiese versugting. Maar dit lyk tog asof Zivaglo, wat volgens die organiseerders die eerste van sy soort in Suid-Afrika is, tog ʼn interessante ervaring kan wees. Dit word vanjaar van 1 tot 10 Maart by die US Woordfees aangebied.

Die eerste deel van die ervaring is ʼn uitstalling waar ʼn verskeidenheid kunstenaars werke wat wissel van drie-dimensionele en twee-dimensionele kunswerke asook installasie-kuns sal uitstal. Die kunstenaars is almal vroue – Zivaglo is immers gemoeid met die bemagtiging van vroue.

Elke kunstenaars se persoonlike verhaal van self-ontdekking word deur die kuns uitgebeeld.

Die tweede deel is ʼn ligvertoning. Van die lokaal waar die kunswerke tentoongestel word, beweeg besoekers na ʼn vertrek wat eers in donkerte gehul is voordat ʼn geprojekteerde ligvertoning begin. Die vertoning bevat boodskappe en vrae wat hopelik sal help om die besoeker op die pad na selfontdekking te lei. Die vertoning se titel “Ligreis” dui op ʼn reis in die lig en ook ʼn reis sonder emosionele bagasie.

Volgens Linda Remke, een van die organiseerders, is die Woordfeesvertonings maar net die bekendstelling van die Zivaglo-ervaring. Daar word gehoop om met die projek op reis te gaan – selfs buiteland toe. Remke beklemtoon ook dat die kuns- en ligtentoonstelling uniek in die land is.

Zivaglo bied ook twee skoenprojekte, “Heels for Healing.” Bekendes in die wêreld van die uitvoerende kunste en die media insluitend Rina Hugo, Sarah Theron, Chris Chameleon en Riaan Cruywagen het persoonlike boodskappe op skoene geskryf. Die skoene sal uiteindelik opgeveil en die opbrengs geskenk word aan twee veilige huise vir vroue – L’Abrie de Dieu in Stellenbosch en die Tamar-sentrum in Thailand.

“Ons glo kuns is ʼn instrument wat gebruik kan word om mense te bemagtig,” sê Linda wat die projek saam met Nina Brown, ʼn bekende in die modebedryf wat deesdae as heler en motiveringspreker optree aanbied.

“Zivaglo kom van die Hebreeuse woord “ziva” wat stralende lig beteken. Die Engelse “glo” deel van die woord is “glow” of “global”.

Zivaglo word daagliks van 10:00 tot 20:00 aangebied en die ligvertonings vind elke halfuur plaas.

  

 

 

 

 

Dorothea se fees groei en groei

February 17, 2013 in Sonder kategorie

FEESWOORD

 

Dorothea van Zyl direkteur van die US Woordfees en professor in die Departement Afrikaans en Nederlands (Universiteit Stellenbosch) het meer as veertien jaar gelede ʼn plan bedink om ʼn fees waarop die letterkunde – veral gevier word, tot stand te bring.

Die eerste fees, in 2000, was ʼn deurnagfees wat deur sowat 1 000 mense bygewoon is. En daar was groot klem op die digkuns. Digters en skrywers vanoor die land het byeengekom om te gesels, te lees en voor te dra. Die fees was onmiddellik ʼn treffer.

Drie jaar later, in 2003 was daar meer as 5 000 feesgangers en sedertdien is daar geen keer nie.  Die fees groei jaarliks wat aanbiedings, deelnemers en feesgangers betref.  Dit word ook gereken as een van die voorste Afrikaanse feeste in die land en in 2011 het die US Woordfees die Fiësta-toekenning vir die gewildste kunstefees in die land ontvang.  In daardie jaar was daar sowat 71 000 feesgangers.

Vanjaar word die fees vir die veertiende keer aangebied onder die tema “Hemels”.  Allerlei uitdagings het egter oor die jare uitgekristalliseer waaraan daar vanjaar aan talle hiervan aandag gegee is.

Dorothea van Zyl antwoord ʼn paar vrae:

Stephanie Nieuwoudt: Jy het verlede jaar in ʼn onderhoud gesê daar moet gewaak word dat die Woordfees nie te groot raak nie.  Hoe doen julle dit?  Is daar vanjaar enige maatreëls in plek om die fees hanteerbaar te hou?

Dorothea van Zyl: Ek sê dit steeds – en elke jaar: tans is die Woordfeesprogram eintlik te groot vir ons kapasiteit, want die span is maar klein.  Een van die ‘probleme’ is dat die Woordfees toenemend kreatiewe mense met uitstekende idees aantrek, en ons is terselfdertyd baie ontvanklik vir innovering.  Verder kom daar ook steeds meer waardevolle vennote by vir wie ons nie nee wil sê nie.  So hou Stellenbosch 360 byvoorbeeld die afgelope drie jaar elke jaar ’n interessante bespreking oor sake wat die dorp raak.  Dit beskou ons dan as ’n noodsaaklikheid.  Dieselfde geld as departemente of fakulteite binne die universiteit ons nader.  Ons sukkel seker maar om nee te sê vir kreatiwiteit en kwaliteit wat op ’n skinkbord aangebied word.  Tog is ek ook altyd weer bly dat ons aanhoudend ja sê.

Ons maatreëls het in hierdie taai tye veral met begrotings te doen.  Die onderskeie koördineerders moet woeker met wat hulle kry, want ons gee nie uit wat ons nie het nie.  En woeker hulle nie.  Elke jaar, as ek die ongelooflike program sien wat die Woordfeesspan saam met die koördineerders optower, verstom dit my oor hoeveel hulle met beskeie middele regkry.

Dit is net moontlik omdat die US Woordfees gelukkig is om geweldig toegewyde en passievolle werkers te hê.  Nie alleen die kunstenaars en skrywers nie, maar ook die Woordfeesspan, is sterre aan die Woordfeeshemel.

SN: Feesgangers het verlede jaar gekla dat daar nie altyd genoeg tyd is om van een lokaal na ʼn ander te gaan nie.  Is die probleem vanjaar aangespreek? Kan dit enigsins aangespreek word?

DVZ: Dit is problematies om dit op te los weens die groot verskeidenheid aanbiedings en vrye keuses.  In die verlede was daar al voorstelle dat ons een program maak wat mense dan alles bywoon.  Maar dan kan jy maar ’n paar honderd mense bereik, terwyl ons hemelsbreë program tientalle duisende trek.  Verlede keer was daar digby 91,000 feesbesoeke per lokaal per keer.  Ongelukkig is die lokale ook nie altyd naby mekaar nie en Stellenbosch se verkeer berug erg – daar is die Vryfees in Bloemfontein, met hulle wonderlike verskeidenheid groot en klein lokale op een terrein, vir ons een voor.

SN: Waarom het julle vanjaar met ‘n pendelbusdiens begin?

DVZ: Die een groot klagte in die verlede was oor die verkeersknope en gebrek aan voldoende parkering in die feeskern, wat ook in die dorpskern geleë is.  Ons het jare lank nie die kapasiteit gehad om iets hieraan te doen nie, maar het hierdie jaar maar oë toegeknyp en ingespring.

Die pendeldiens word hanteer deur Marlise Klopper, Woordfeesorganiseerder.  Dit is ʼn groot en tydrowende storie om die roetes, stilhouplekke en skedules te bepaal.  So ʼn nuwigheid is uiteraard ʼn risiko, want enige van die genoemde faktore (saam met die Woordfeesprogram) kan speke in die wiele wees.

Ons hoop net feesgangers neem in ag dat alle ratjies in die vervoermasjien dalk nie onmiddellik glad sal kan werk nie, maar ons wil dit graag uitbou tot ’n volhoubare jaarlikse stelsel. Dit is ook onvoorspelbaar hoe groot die behoefte is en hoeveel mense dus sal aanmeld vir vervoer.

SN: Waarom is daar besluit om weer ‘n deurnagprogram aan te bied?  Dit voel amper soos ‘n fees binne die fees.  En daar is eggo’s van die eerste fees.

Nadat ek en Saartjie Botha, koördineerder van die dramaprogram, saam verantwoordelik was vir die deurnag ‘Nag van passie’ voor die tiende Woordfees, ter herinnering aan die begindae, blyk dit Saartjie is weer aangevuur deur die besondere sjarme en kameraadskap van so ’n deurnagfees.

Almal raak in die proses vriende.  Kyk maar hoe lekker klink die deurnagprogram met sy gereelde verversingspunte.  ’n Mens kry sommer lus om dit by te woon.   Dit is inderdaad ’n fees binne ’n fees, soos die Neethlingshof Slenterfees wat die afgelope twee jaar aangebied is.  Dis ’n goeie opwarmingsoefening vir die verdere fees (byna ’n voorfees as voorspel tot die hooffees).

’n Verdere belangrike oorweging is dat ons vir die eerste keer gedurende die eerste feesnaweek iets groterigs aanbied.  Verder bied dit natuurlik ’n pragtige geleentheid om solank ’n hele klompie dramas in te pas sodat jy in die week meer tyd het vir die talle ander items wat nie herhaal word nie.

Die Woordfeesprogram-aanbiedings was in die verlede oor die eerste naweek redelik yl.  Mense het in dié naweek hier aangekom en gevra waar die volprese fees dan is.

Vanjaar gaan ons voluit en organiseer ook drama-, ligte musiek- en veral die Woord- en Wynfees.  Vanjaar eksperimenteer ons met nuwe dinge.

SN: Wat maak jou besonder opgewonde oor vanjaar se fees?

DVZ: Die buitengewoon hoë kaartjieverkope, wat alle rekords tot dusver oortref.  Dit wys vir my die program (al is dit so groot, of dalk juis om daardie rede) gee wat die feesgangers soek.  Hulle vind dit opwindend en die moeite werd.  Dit is die grootste bevrediging denkbaar om te weet jy het die teiken getref en dat die feesgangers waardering het vir wat ons opdis.  Ek moet sê, gesprekke met geesdriftige, positiewe en waarderende mense tydens die fees is elke jaar vir my ’n hoogtepunt – en dit lyk of vanjaar nie ’n uitsondering sal wees nie.

Ek is deesdae ook in ’n semi-permanente staat van opgewondenheid van nie net die skouspelagtige groei van die US Woordfees self nie, maar ook oor ons uitmuntende Woorde Open Wêrelde (WOW) Leesprojek (vanjaar 10 jaar oud), In 2012 het ons meer as 162 000 mense in sewe provinsies bereik.  Hemels!

 

 

 

 

 

 

 

 

Woordfees-gesprek nie sy kernbesigheid sê Kerkbode

February 13, 2013 in Sonder kategorie

Die Kerkbode is spyt dat hy as donateur van die US Woordfees moes onttrek, maar gesprekke van die aard is nie deel van sy kernbesigheid nie. So lui ʼn mediaverklaring wat gister deur ds Danie Mouton uitgereik is. Mouton is voorsitter van die direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM) wat die blad uitgee.

Die verklaring volg op berigte dat Kerkbode onttrek het van twee gesprekke by die US Woordfees. Die een gesprek vind plaas rondom die vraag “Net een God?” en die deelnemers is Lina Spies (digter en akademikus), Chris Jones (teoloog), en Sjeg Thaffier Najjaar (van die Islamitiese Raad van Suid-Afrika). Die tweede gesprek vra vrae rondom die tema “Hemel en hel?”. Hieraan neem Abel Pienaar (van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit), Nico Koopman (Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch) en Jurie van den Heever (teoloog) deel.

Volgens Mouton hoort die borg van meer teoretiese godsdienstige gesprekke “van dié aard” nie tot die kernbesigheid van Kerkbodenie.

“Die beste belange van Kerkbode as kerklike koerant en gefokusde handelsnaam staan voorop. Kerkbode se kernbesigheid is om (soos die NG Kerk waarvan dit die mondstuk en spieël is) vanuit die evangelie van Jesus Christus ‘n bydrae tot die genesing van ons land te lewer. Praktiese sake wat sentraal staan, is misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus. Daarom handel die inhoud van Kerkbode gereeld oor dié aktuele sake.”

Die verklaring lui voorts die uitvoerende bestuur en direksie van TM was nie bewus van reëlings dat Kerkbode as donateur en borg van godsdiensgesprekke by die Woordfees optree nie. Die reëlings is glo nie “langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.

“Daarmee is groot verleentheid vir Kerkbode geskep. Ons stel ondersoek in na die redes hiervoor, en wil verseker dat dit nie weer gebeur nie.”

Mouton ontken dat Kerkbode onttrek het weens die deelname van omstrede sprekers soos die dagblad Die Burger gister beweer het.

“Dié sprekers en hul standpunte word in Kerkbode gereflekteer. Die blad deins nie terug vir sake wat selfs omstrede kan wees nie.”

Melt Myburgh, Woordkunsprojekbestuuder van die Woordfees, het gesê Jean Oosthuizen nuusredakteur van Kerkbode en gespeksleier het die Woordfees verlede jaar genader met ʼn voorstel vir die gesprekke.

“Dit is ʼn probleem wat intern deur Kerkbode hanteer moet word. Intussen gaan ons steeds voort met die gesprekke. Al het Kerkbode onttrek is daar is geen sprake dat dit geskanselleer sal word nie”

Die eerste gespek: “Net een God?” vind op 7 Maart om 11:00 in die Boektent plaas en die tweede gesprek “Hemel en hel?” op 8 Maart om 10:00.

 

 

Seks en vernuwende produksies lok hulle na US Woordfees

February 11, 2013 in Sonder kategorie

 

Christina Landman gaan vanjaar na die US Woordfees vir die seks. Die akteur en regisseur Albert Maritz woon dit by vir die vernuwende werk, en die skrywer Kristel Loots is daar as “swetende straatwandelaar en nie as skrywer nie”.

Maar dalk moet ʼn mens eers vinnig ʼn regstelling maak: Christina is daar om met die skrywer Nicki Spies te gesels oor haar boek – oor seks – Seks: Nou wat is die eintlike storie.

“Dis nie sleg vir ʼn post-menopousale tannie nie,” skerts Christina wat gereeld by die US Woordfees te sien is – óf as skrywer of as iemand wat met ander skrywers gesels.

Vanjaar is sy op 7 Maart om 15:00 in gesprek met Spies.

“Ek gaan graag Woordfees toe want dis ʼn plek waar die verbeelding vrye teuels gegee word,” sê Christina. “Dis gesellig en jy dans daar in ander se verbeelding. Ek laaik dit baie om deel te wees van waar mense se drome hulle vat. Drome wat nie briek voor dit gepubliseer of opgevoer is nie.”

Albert Maritz, bekroonde regisseur en akteur, bring vanjaar drie produksies na die US Woordfees – Deksels deur Leon Kruger, Stander deur Charles J Fourie en Die Koggelaar deur Pieter Fourie.

Hy sê hy sien uit na die “verrassings en aweregse werkswyse soos die deurnagteateraand (van die aand van 2 Maart tot die oggend van 3 Maart).

“Ek sien uit na vernuwende werk – soos die tekste deur Leon Kruger en besoeke aan die ou classics. Die US Woordfees vat ook hande met geselskappe soos The Mechanicals wat in Kaapstad wondere verrig.”

Die skrywer Francois Bloemhof is ook ʼn ou Woordfees-bekende. Verlede jaar het hy twee keer deelgeneem aan gesprekke oor misdaad- en jeugfiksie. Vanjaar vra hy egter die vrae wanneer hy in gesprek tree met die skrywer Chanette Paul oor haar boek Labirint.

“Ek is lief vir die Woordfees want ek is lief vir woorde en dié fees fokus op die woord in al sy fasette. Daar is ook natuurlik die bonus dat die fees op die mooie Stellenbosch gehou word.”

Kristel Loots wie se jongste chicklit-skepping ʼn Hap van die appel nou op die rak is, sê sy is nie ’n elke dag se volbloed woordfeesganger nie “eenvoudig omdat dit te ongemaklik warm is in Stellenbosch daardie tyd van die jaar”.
Maar sy gaan elke jaar ten minste een keer Woordfees toe want sy hou “van die groot geeste wat tussen die gewone aardbewoners met hul voete op die grond in die strate ronddwaal en uit dieselfde borde ewe Spartaans in die Vette Mossel eet. Behalwe dat daar dalk ekstra ysblokkies in hul drankies mag wees . . . Die fees is ’n wóórdfees en skrywers is die eregaste.”

  • Die deurnagfees vind van die aand van 2 Maart tot in die vroeë oggendure van 3 Maart plaas. Vyf vertonings kan by die Klein Libertas-teater gesien word:

22:30: Die lelike eend (jy kry ook ʼn bottel wyn by jou kaartjie R90)

00:15: Deksels (slap tjips en Coke ingesluit by die prys van R90)

01:30: Heiland (plus vonkelwyn en soesji vir R95)

03:25: Hol (Red Bull en Kit-Kat by die prys van R95 ingesluit)

04:30: 2092 God van Klank (koffie en beskuit ingesluit by die prys van R75)

Feesgangers kan ook teen R400 ʼn pakket vir al die produksies koop.

 

 

Woordfees se dagprogram sluit vanjaar ook dramaproduksies in

February 5, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Daar is verskeie dinge wat die US Woordfees anders maak as ander kunstefeeste in die land.

Dit is nie ʼn vakansiefees nie, dit is nie ʼn biertentfees nie en dit is nie ʼn gesinsfees waar tot voorsiening gemaak word vir kleuters nie.

“Die feesganger is iemand wat nie hier is om lank te kuier nie. Dis iemand wat ernstig is oor die kunste. Mense wat werklik intellektueel uitgedaag en gestimuleer wil word. Daarom word die dramaproduksies versigtig gekies sodat die klem op die literêre meriete van die skrywers se werk val,” sê Saartjie Botha, koördineerder van die dramaprogram.

“Stellenbosch is ʼn universiteitsdorp en die hele atmosfeer dra by tot ʼn kritiese ingesteldheid.”

Saartjie, een van die land se voorste dramaturge en regisseurs is al tien jaar by die fees betrokke. En volgens haar is daar ʼn lojale groep mense wat jaar na jaar by die verskillende dramaproduksies op die fees te sien is.

“Dit is ʼn ingeligte gehoor wat graag oor die produksies gesels. En dit dra by tot die groter diskoers oor die kunste in die land.”

Tog is die aanbod van produksies divers.

“Ons bied ook sterk kommersiële produksies vir almal. Ons gehore is divers – mense van oral in die Boland-streek en die groter Wes-Kaap woon die fees by. Uit Stellenbosch is daar van akademici tot studente en afgetredenes. “

Waar dramas in die verlede net saans aangebied is, word dit vanjaar ook vir die eerste keer in die dag aangebied.

“Hoewel die US Woordfees nie groot getalle oornagbesoekers het nie, is daar tog mense wat die hele dag by die fees deurbring. Ons wou vir hulle meer bied as net die skrywersgesprekke in die boeketent.”

Die dag-aanbiedings maak dit ook makliker vir feesgangers om meer produksies per dag te sien. Benewens die dag-produksies is daar ook vir sommige dramas meer vertonings aangelê.

“In die verlede sou ons dalk net een vertoning aanbied, maar nou is daar tot vier vertonings van van die dramas. Dit beteken dat daar dalk minder uitverkoopte produksies sal wees. Maar omdat daar meer vertonings is, kan mense beter beplan en meer vertonings inpas. En al is daar minder uitverkoopte produksies, is daar meer mense wat die vertonings sal sien.”

Volgens Botha word drama-produksies op die US Woordfees baie goed bygewoon omdat dit nie noodwendig verder as die verskillende feeste reis nie.

“Mense weet komediante en sangers sal waarskynlik een of ander tyd op hul dorp ʼn draai gaan maak. Hulle weet hulle sal Emo Adams of Karen Zoid elders kan sien. Maar dramas reis nie noodwendig na die verskillende dorpe toe nie. Die feeste is dikwels die enigste plek waar ʼn bepaalde drama gesien kan word. Dit is duur om met ʼn produksie met ʼn klomp akteurs en produksiespan te reis, en daar is ook logistieke problematiek. Op kleiner plekke sal die lokale byvoorbeeld nie oor die regte beligting of oor ʼn geskikte ruimte beskik nie.”

Van die produksies wat in die dag gesien kan word sluit in: Liefde Anna met Sandra Prinsloo, Deon Lotz en Gustav Gerdener (2 Maart om 14:30 by die Hoërskool Stellenbosch en saans 3 Maart 20:30 en 4 Maart 20:30), Die melktrein stop nie meer hier nie met Antoinette Kellerman, Marcel Meyer en Roelof Storm (3 Maart om 10:00 en 4 Maart om 12:30 by die Hoërskool Stellenbosch en saans: 2 Maart – 18:00), Kind Hamlet met Cobus Rossouw, Sandra Kotzé en Ludwig Binge (6 Maart – 13:00 en saans 3 Maart – 18:00, 7 Maart – 17:00 en 9 Maart 17:00), Af met Marlo Minnaar (10 Maart – 14:30 en saans 4 Maart – 18:00).

*Die volledige program kan elektronies afgelaai word by http://www.woordfees.co.za/produksies_2013. ʼn Gedrukte program is in Stellenbosch te kry by Protea Boekwinkel, die Sasol Kunsmuseum en by Oude Libertas Amfiteater se Computicket.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Onweerstaanbaarheid van Afrikaans vir Nederlanders

February 1, 2013 in Sonder kategorie

 

 

Suid-Afrika is vir Nederlanders ʼn eksotiese plek. En dis deels die rede waarom hulle in toenemende getalle Suid-Afrika besoek. Hulle is ook nuuskierig oor wat op die gebied van die kunste hier aangaan. Die Woordfees is vir hulle aantreklik want dit is ʼn omvattende kunstefees ver weg van die huis.

So sê Alfred Schaffer, die Nederlandse digter wat as dosent verbonde is aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Melt Myburgh, woordkuns-projekbestuuder van die Woordfees is daar jaarliks ʼn toename in die getal besoekers van Nederland en België.

“Mense stel belang in Afrikaans en die verbintenis met die tale van die lande,” sê hy.

Vanjaar is daar ook soos ander jare ʼn sterk Nederlandse komponent in die Woordfeesprogram. Arjen Duinker en Saskia de Coning is van die skrywers uit die Nederlande wat vanjaar by die fees te sien is.

“Nederlanders en Belge voel baie welkom in suid-Afrika. Die Kaap is ʼn plek waar jy voel dat jy op ʼn manier tuis is danksy die taalverwantskap en die geskiedenis,” verduidelik Schaffer.

“Die meeste skrywers wat by die Woordfees optree, kom ook na hul eerste besoek terug of hulle bly langer sodat hulle ʼn bietjie kan reis.”

Ingrid Glorie, pas-aangewese redakteur van die Maandblad Zuid-Afrika, tydskrif van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging ((NZAV) ʼn kultuurorganisasie wat bande tussen Nederland en Suid-Afrika wil bevorder) sal tydens die woordfees in gesprek wees met Saskia de Coning.

Dis Glorie se tweede besoek aan die Woordfees.

“Ek was in 2012 vir die eerste keer hier, want ek was goed bevriend met John Kannemeyer en ek het ʼn behoefte gehad om van hom afskeid te neem,” sê sy.

“Ek het ook self by die Departement Afrikaans en Nederlands gepraat. Ek hoop om vanjaar as redakteur van Maandblad Zuid-Afrika ʼn paar interessante onderhoude te kan voer. Dis ook fantasties om in ʼn kort tyd soveel lesings, debatte, konserte en toneelopvoerings te kan bywoon. ʼn Mens leer baie en dis vir my belangrik om op hoogte te bly met alles wat in Suid-Afrika aangaan. Die Woordfees gee ʼn omvattende oorsig van wat in Afrikaans (op die gebied van die letterkunde) aangaan.”

Glorie gee toe dat die natuurlike skoonheid van Suid-Afrika – die kuslyn, die wildtuine, die bergpasse en in die Kaap die wynplase – baie mense hierheen lok. Maar, sê sy vir baie Nederlanders en Vlaminge gee die taalverwantskap en die gedeelde verlede ʼn ekstra dimensie aan ʼn besoek na Suid-Afrika.

“Uiteindelik kan jy dit nie rasionaliseer nie. Daardie gevoel dat jy lief is vir Afrikaans. Ek het geen behoefte om ʼn politieke lading daaraan te gee nie – dit is nou maar net so. Skrywers soos Antjie Krog en Ronelda Kamfer en kunstenaars soos Amanda Strydom en Gert Vlok Nel is in die Lae Lande geweldige ambassadeurs vir die soort optredes wat jy by die Woordfees kan verwag.”

Gerda van Haaften, ʼn Nederlander wat al ses jaar in Antwerpen, België woon, het die Woordfees “ongeveer al ses keer” besoek.

“Die verskeidenheid wat die fees bied vind jy nêrens anders nie. Ek geniet dit baie.”

Sy dink die groot Nederlandse belangstelling kan in die verlede gevind word.

“Na al die negatiewe dinge van die vroeër is daar baie belangstelling in Suid-Afrika. Daar is ook ʼn groot verwantskap tussen Afrikaans en die tale van die Nederlande.”

Inga Verreet, ʼn Vlaming, sê sy stel baie belang in Afrikaans “die taal wat soveel gemeenskaplik het met Nederlands, en na my mening nog meer met Vlaams, die Nederlandse variant wat in Vlaandere gebruik word”.

Sy het Suid-Afrika agttien jaar gelede vir die eerste keer besoek en deur vriende is sy aan die kunstefeeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop en uiteindelik die Woordfees bekendgestel.

“Die Woordfees het in my beskeie mening ‘n

meer akademiese aanbod met boekvoorstellings, geselsies met outeurs, klassieke

musiek en kunsuitstallings van hoë gehalte. Daarbenewens is daar tog ook tyd vir

ontspanning met ligtere genres. Daar word ook met wynproeë en lekker etes voorsien in die fisieke behoeftes.”

Sy was al vier keer by die Woordfees, maar sê die koste van reis en die prys van woordfeeskaartjies het vir haar nou te duur geword om die fees vanjaar by te woon.

Alfred Schaffer glo ook die Nederlandse komponent van die Woordfees stimuleer ʼn belangstelling in die Lae Lande.

“Dit maak studente lus om oorsee te gaan – om die Nederlandse, Vlaamse en Europese kultuur in die algemeen te gaan verken en so hul blik te verruim. Om oorsee te reis, laat jou jou eie mense in perspektief sien en hulle beter verstaan.”