Jy blaai in die argief vir cremora.

by elizac

DIT MOET VRYDAG DIE DERTIENDE WEES

September 13, 2013 in Uncategorized

My lewe by die werk grens dikwels aan die belaglik. Maar vandag oortref weer ander dae in terme van waansin.

Vir absoluut jare het ons ‘n oulike teekamer gehad waar ons tee kon gaan drink vanaf kwart oor tien tot half elf. Ons kon ook middagetes daar kry teen ‘n gesubsidieerde prys vanaf so kwart voor 1 tot 2h elke dag. En ons is bedien deur ‘n kelner. As ek hard dink, sal ek waarskynlik nog sy naam onthou. Na ‘n klompie jare het die universiteit (daardie tyd technikon) se klasse so uitgebrei, dat ons ook oor middagetes begin klas gee het. Dit het veroorsaak dat ‘n mens nie altyd op die voorgeskrewe tye vir jou middagete kon gaan nie. Ook het ‘n ander spysenier oorgeneem en hulle manier van kos maak het nou nie altyd met die Westerse smake ooreengestem nie. Plus ek hou daarvan as my kos goed lyk en soms lyk dit eienaardig, al smaak dit lekker – baie vol fiemies!

Nietemin, die idee was daar. Ek kon gaan tee drink het as ek wou en ek kon gaan eet het as ek wou. Meestal kon ek net op ‘n Woensdag gaan tee drink het, aangesien my klasse grotendeels deur teetyd plaasvind.

So ‘n maand of drie gelede het ons gehoor dat ons van nou af vir ons eie tee sal moet betaal, aangesien die spysenieringsmaatskappy ‘n massiewe bedrag vra om vir die vyf of ses mense wat wel tee of koffie drink te voorsien. Dit op sigself is nie vir my ‘n probleem nie. Ek is heeltemal bereid om vir ‘n koppie tee of twee een keer ‘n week te betaal. Maar toe hoor ons, ons sal R10 moet betaal vir ‘n tee/koffie wat ons self moet maak. Dit is ek nie bereid om te doen nie. R5, ja, maar nie R10 nie. Dit betaal ek hier by ons in ‘n restaurant en dan word ek bedien met ‘n pot tee. Plus suiker en regte melk.

Vandag stap ek toe af om te gaan kyk of ek kan tee kry en watter van die stories waar is. Ek word begroet met ‘n leë teetafel. Geen koppies. Geen pierings. Geen lepels. Om nie eens te praat van tee en suiker nie. Of melk. ‘n Vriendelike, onbekende man begroet my. Hy sal gaan uitvind of ek kan tee kry. Kom hy terug: “Ja, jy kan ‘n teesakkie kry teen R1,90 en ‘n pakkie suiker vir 50c.” Hy weet nie of ek sal kan water kry nie. Eers terug kombuis toe om te vra. Die water is glo verniet. En melk? Ja, hulle het Cremora. Ek soek nie Cremora in my tee nie. As ek wil sleg tee drink, hoef ek nie daarvoor te betaal nie. Hy sal gaan vra. Terug kombuis toe. Hy kom terug. Nee, ek mag nie melk kry nie. Teen die tyd het ek al amper trane in my oë. Hy belowe hy sal met die persoon in beheer praat en as hy nie met haar enige vreugde verkry nie, sal hy met iemand hoër op praat.

En nou? Waar moet ek nou ‘n koppie tee kry? Ek het al voorheen my eie teesakkies en suiker saamgekarring – selfs my eie teeketel in die kantoor gehad. Die probleem is dat ons kantoortjie klein is en daar is nie veel plek vir ekstras nie. (Ek sluit ‘n foto van my kantoor in dat iemand my moet jammer kry – en ek het ‘n “goeie” kantoor!) En is die idee van ‘n teetyd dan nie dat jy met jou kollegas moet interact nie? Net so ‘n bietjie van ‘n breuk vat voordat jy jou weer hart en siel in jou werk werp nie?

Ek sal ‘n plan moet maak. Mens het mos darem so af en toe lus vir ‘n teetjie. En teen dié tyd is ek al meer as gewoond daaraan om planne by die werk te maak.

NS. Ons is terug by die werk. Na sewe weke se staking. Vra my hoekom dit so lank geduur het. Dalk skryf ek daaroor in ‘n ander blog?