by elizac

AI DIE YDELHEID

Desember 14, 2011 in Sonder kategorie

‘n Mens kan darem ydel wees. So het ek nou al in my soeke na net-asseblief-ook-‘n-bietjie-goed-lyk hierdie week weer my wimpers laat verleng, my naels laat doen, my bene en ens. gewaks, en vandag gaan ek nog my winkbroue en hare kleur en die hare (tydelik) laat reguit blaas. Aangesien ek mos nou deesdae lyk soos een wat besig is om ‘n Afro te kweek.

Maar nou betaal ek die prys vir my ydelheid: ek lyk vandag soos een wat dik getik is en toe deurnag gesit en huil het. Wat nogal gevaarlik is die tyd van die jaar, aangesien dit nou sestien dae teen die mishandeling van vroue en kinders is (Sestien dae? En wat gebeur die ander 350/349 dae van die jaar?). Netnou stop een my op straat of gaan kla my man aan. Want ek het nou ‘n yslike allergiese reaksie op die vals wiimpers, en moes gisteraand al die goed van my oë afkrap. Intussen het ek al antihistamien gedrink dat ek disfunksioneel is, en gooi die hele tyd Allergex in my oë.

Kom nou van ydel wees, maar ek wou so graag goed gelyk het vir die krismis.

Ek hoop maar die winkbroutint is nie net so ‘n tragedie nie. Die winkbroue is maar aan die yl kant – al is dit al meer as ‘n jaar na chemo – en dit lyk nie of dit ooit weer sal wees soos voor die tyd nie. Hopelik help dit om die aandag weg te lei van die wimperlose oë…

Embarassed

by elizac

VAARWEL CELLC

November 21, 2011 in Sonder kategorie

Die van julle wat al voorheen hier gelees het, sal weet dat ek nou al sedert 21 Januarie ‘n geding met die liewe CellC het. So sit hulle nou al sedert daardie tyd met my stukkende foon, maar kan om een of ander rede nie daarin slaag om dit reg te maak nie. Ten spyte daarvan dat die foon nog onder waarborg was tot 21 Oktober, wanneer my kontrak met hulle verstryk. Na ure se gesukkel en se gepraat en se gebaklei, het absoluut niks gebeur nie. Dus het ek my kontrak per e-pos getermineer. Die laaste twee weke het ek dit nou my missie gemaak om die saak op te los. Verlede week Dinsdag belowe hulle my die probleem sal teen Donderdag opgelos wees. So doen ek toe aansoek vir ‘n ander kontrak by ‘n ander maatskappy (laat ons op hierdie stadium naamloos bly). Hierdie kontrak word intussen goedgekeur, maar ek kan dit nie laat aktiveer nie, want dan moet ek vir twee foonrekeninge betaal. Dus stuur ek toe hierdie ou briefie aan Linette Retief by Rapport:

Beste Linette
 
Teen hierdie tyd is jy seker al moeg vir klagtes oor CellC se diens. Ek het die volgende probleme met die maatskappy:
 
My kontrak met CellC het op 21 Oktober 2011 verstryk. Volgens hulle moet ek hulle 20 dae kennis gee voordat hulle die foon kan afskakel. Dit het ek op 20 September deur middel van e-pos gedoen. Daarop het hulle vir my ‘n verwysingsnommer (1092001177) gestuur.
 
Twee weke later het ek weer per e-pos navraag gedoen, aangesien ek niks verder gehoor het nie. Ek het weer eens ‘n verwysingsnommer (1100500104) van hulle gekry. Daarna het ek twee oproepe van “Customer Care” gekry. Hulle sou vir my ‘n vorm per e-pos aanstuur, maar hierdie vorm sou slegs probleem nommer twee oplos en nie die kansellasie van die kontrak nie. Ek wag steeds vir die vorms.
 
Op 7 November is ek terug na die Hemingways Cell C-winkel. Hulle het weer ‘n navraag aan die hoofkantoor gestuur. Vir my moeite het ek nog ‘n verwysingsnommer (1111402268) gekry.
 
Op 15 November is ek weer na die Hemingways Cell C-winkel. Na ‘n uur se heen-en-weer, het ek die volgende “uitsluitsel” gekry: ek moet 20 dae kennis gee en dan sal hul die kontrak beëindig. Toe ek die konsultant daarop wys dat ek reeds op 20 September kennis gegee het, het hy weer probeer om met hoofkantoor te praat. Hulle het belowe dat die probleem teen Donderdag 17 November afgehandel sal wees. Hierna het ek nog ‘n verwysingsnommer (1111603379) gekry, maar intussen het niks gebeur nie. My foon is nog steeds aktief. Dit beteken dat ek nie ‘n nuwe kontrak kan kry nie, want die nuwe maatskappy kan nie my ou nommer aanvra nie en ek sal dit graag wil behou. Selfs al kry ek ‘n nuwe nommer, bly die kontrak aktief en betaal ek daarvoor, al het dit op 21 Oktober geëindig. Ek het op hierdie stadium geen idee wat ek betaal en hoekom nie, aangesien ek nie meer ‘n kontrak met hulle het nie. Hulle kan my dus met gemak enige tariewe vra – tariewe waartoe ek nie ingestem het nie.
 
Die behulpsame assistent by die CellC Hemingways winkel, Zim (0843689495), het gesê hy sal my laat weet wat gebeur het. Klaarblyklik het niks gebeur nie, want ek het nog niks gehoor nie. Hy antwoord ook nie sy foon wanneer ek hom bel nie.
 
Nou kom ons by probleem nommer twee (en ek wens ek kan nou sê dis ‘n lang storie kort, maar ongelukkig is dit ‘n lang storie):
 
My oorspronklike CellC-kontrakfoon, een of ander Samsung (356199/03/040445/3) het ‘n probleem ontwikkel in Januarie. Ek het dit dus op 21 Januarie 2011 na die Hemingways CellC-winkel geneem om te laat regmaak. Ek het ook (twee keer) ‘n “incidence form” ingevul sodat die versekering vir die regmaak van die foon kan betaal. Soos reeds aangedui, het my kontrak op 21 Oktober 2011 verval, en EK IS STEEDS SONDER DIE FOON! Volgens CellC is die “incidence form” nie ingevul nie. Hulle sou dit nou al ‘n paar keer per e-pos na my toe stuur, maar tot dusver het ek niks gehoor nie. Ek het reeds baie ure in die winkel spandeer om die probleem uit te sorteer en ek begin nou wonder of CellC my vir daardie ure sal vergoed.
 
Wat my regtig hartseer maak, is die feit dat ek verlede jaar borskanker gehad het. Daardie foon – waarvoor ek op ‘n maandelikse basis betaal het en seker steeds voor betaal – het die kontaknommers op van mense wat ek in die chemokamer ontmoet het. Dit het ook foto’s op van my chemosessies. Ek het geen manier om hierdie inligting terug te kry as ek nie die foon het nie.
 
Ek het CellC slegs twee dinge gevra:
1. Om my ou foon vir my terug te stuur sonder dat dit reggemaak is. Wat is die punt? Die inligting op die foon is belangriker as om ‘n foon te hê wat ek in elk geval nie gaan gebruik nie.
2. Om my kontrak te beëindig op 21 Oktober 2011.
 
Niks hiervan is tot dusver gedoen nie. My frustrasie het nou ‘n hoogtepunt bereik. Dit is nie asof die mense hier in Oos-Londen onwillig is om te help nie, maar hulle is self gefrustreerd, omdat die opdragte nie uitgevoer word nie.
 
Asseblief, help my om my foon terug te kry, asook om hierdie kontrak gekanselleer te kry!
 
Groete
 
Elizabeth

Daarop het ek my lekker in vererg ingewerk en toe sommer ook op CellC se Facebook-bladsy gaan skryf. Toe moet julle die poppe sien dans! Dis die een oproep op die ander van “Customers we don’t care”. Teen Vrydag laat weet hulle my hul sal my kontrak op 30 November termineer. Ek nie gelukkig daarmee nie, want hoekom moet ek nog steeds vir hulle geld gee?

Vanoggend laat weet hulle my die ou foon is by die winkel. So tienuur kry ek ‘n oproep van ‘n meneer met ‘n Amerikaanse aksent (!). Hy seg hy sien ek is ‘n getroue klant van CellC en of daar nie iets is wat hulle kan doen om my van plan te laat verander nie. Nee. Kort en klaar. Ek het nou meer as genoeg gehad. Al wat ek wil hê, meneer, seg ek, is dat julle my foon vandag nog afskakel.

Kwart oor tien was ek op “pay-as-you-go”.

Ek het my SwartBessie by die ander selfoonmaatskappy gaan haal. Hulle het aansoek gedoen dat ek my ou nommer behou. Dit neem gewoonlik glo 48 uur om dit te bewerkstellig.

En glo dit nou of julle wil of nie, maar my nuwe rekening is vanaand reeds geaktiveer en my CellC-rekening volledig gedeaktiveer.

Kan gedoen word.

Maar moes ek nou werklik eers vir Linette bysleep?

by elizac

DIE MAN MET DIE EIERS

November 11, 2011 in Sonder kategorie

Die muse, so ek ontdek ek keer op keer, is ‘n vreemde wese. So dwing die ou tannie (ek aanvaar sy is nou al redelik oud, aangesien sy ‘n jong dingetjie was vroeg in die vorige eeu – ek lei so af uit die skrywes van my meerderes) my redelik onlangs om ‘n gedig te skryf oor ‘n man wat eierbokse dra. ‘n Hele stapel van die bokse. Daai groot plattes wat seker so 48 eiers op ‘n slag kan hanteer. Hy kan skaars bo-oor sien, en sy arms is ook net lank genoeg om onder en bo te kan bykom.

Nou waarom die dame my nou met eierbokse wil besoek, bly ‘n raaisel. Want hoe skryf jy so ‘n gedig?

“n Man dra eiers…”

Gits, dink net aan al die implikasies. En dink net aan die vrae wat die letterkunde onderwysers kan vra:

“Hoekom, dink u, word daar pertinent op gewys dat die man wel eiers het om te dra?”

Die probleem met die muse vir my, natuurlik, is dat sy (hulle) vroulik is. Vir ‘n man is dit normaalweg nie ‘n probleem om deur ‘n vrou geïnspireer te word nie. Vir ‘n vrou kan dit problematies wees.

Nou lees ek mense noem ‘n vroulike digter “die tiende muse”. Na aanleiding van Plato wat hierdie term uitgedink het vir die digter Sappho.

Seker omdat hy gedink het vroue kan nie dig nie. Dit was dalk onnatuurlik vir die ander nege om ‘n vrou te besoek. En, jammer vir hom, maar ek dink Sappho het werklik nie omgegee dat haar muse vroulik is nie.

Maar die tiende muse is ook die vleeslike inspirasie. Daai girltjie wat die manne so inspireer om te skryf en te verf en te ontdek.

Intussen sukkel ek met die muse. Op hierdie stadium weet ek nie of sy Calliope (inspireerder van epiese gedigte), Erato (liefdesgedigte) of Thalio (komedie) heet nie.

Dalk is die man met die eiers my tiende muse. Hy wil my in elk geval nie uitlos nie.

by elizac

UPDATE

Oktober 24, 2011 in Sonder kategorie

Wil darem net sê: ons is toe Donderdag betaal, die mediese fonds is betaal en ek kon my volgende Zoladex-inspuiting kry.

Ek vermoed die universiteit se bestuur het gehoop op die wegraping en dat hulle nie hoef geld uit te gee voor dan nie.

by elizac

DIT WORD NET BETER

Oktober 14, 2011 in Sonder kategorie

Dis nie die einde van hierdie week nie. Klaarblyklik nie.

Vanoggend gaan ek vir my Zoladex by onkologie en word meegedeel dat die mediese fonds nog nie toestemming gegee het nie. Sê ek ewe, jis, ek wonder wat aangaan, want hulle weier om vir my bloedtoetse te betaal en dis tog alles van onkologie. My mediese fonds het R380000 beskikbaar vir onkologie, en dis beslis nog nie uitgeput nie.

Maar die liggies gaan nie aan nie.

Kry ons later vanoggend ‘n e-pos: die universiteit het ongelukkig nie fondse om die personeel te betaal nie. Menslike hulpbronne sal vir ons briewe gee om vir die bank te gee. Om te wat? Om vir hulle te sê ons gaan nie salaris kry nie, ons weet nie of ons ooit weer salaris gaan kry nie, maar leen asseblief vir ons geld vir ingeval?

En toe maak ek nog ‘n e-pos oop: unievergadering sou vandag plaasvind (nie my unie nie). Een van die items op die agenda: die feit dat die universiteit nie in September die pensioen- en mediese fonds bydraes betaal het nie.

Nou’s die ligte aan, en dis beslis nie ‘n goeie manier om die naweek te begin nie.

NS Dis nou dieselfde universiteit wat einde Augustus ‘n baie fênsie kongres aangebied het wat klaarblyklik R1,4 miljoen rand gekos het. En toe slegs R80000 van die geld kon terugkry, maar dit moet ons glad nie pla nie, want die doel van die kongres was nie om geld te maak nie, maar vir “ontwikkeling”. Ekskuuuuuuuuuus?

En eintlik mag ek mos nou niks sê nie, want dis my werk, en ek is baie lief vir my studente, maar dit raak nou baie dik vir ‘n daalder. Een van die dae sit ek ook tussen al die ander pasiënte by die Frere Hospitaal en wag vir my staatsmedisyne.

by elizac

EK BLY Sê DIS ‘N SLEGTE WEEK

Oktober 13, 2011 in Sonder kategorie

Maar hoekom sal ek nou so sê? Die week is nog maar net vyf dae oud as jy by Sondag begin tel, en tot dusver was daar – wag, laat ek gou uitwerk – so ongeveer 7200 minute om deur te leef. So sleg kon dit mos nie gewees het nie.

Maandag het ons ooswind beleef en teen 40 grade is dit hel op kampus. Veral aangesien ons geen lugversorging in ons lesinglokale het nie. Daarby het Fasiliteite (moenie vra nie) al die vensters met bloudraad toegedraai, want die vensterknippe word afgesteel en dan kan die vensters nie toemaak nie. So staan en klap dit dan in die wind. Maar Maandag het ons ook nog ‘n ander probleem gehad: die bouers het van die elektrisiteit ontslae geraak. Iewers het hulle ook ‘n waterpyp of twee raakgebou en dus was daar ook geen water op die kampus nie. En aangesien ons 35 kilometer van die beskawing af is, het dit maar benoud geraak. Op een of ander stadium het die generator darem weer gefunksioneer, maar ons het nog steeds nie water gehad nie.

En Maandagaand val ek toe met al 1,80 meter van my in die badkamer. Net oor ek soos ‘n jong bokkie oor die nat vloer huppel. Ek aanvaar daar is iewers blou kolle, maar ek dink ek het Maandagoggend laas ordentlik in die spieël gekyk.

Dinsdag was sonder voorval, behalwe dat daar steeds geen elektrisiteit op kampus was nie, en dat my Duitse studente nie kon klas bywoon nie, aangesien hulle op ‘n “opvoedkundige uitstappie” was. Na die plaaslike museum, wat ek reeds twee keer saam met hulle besoek het.

Maar die aand was weer ‘n ander storie: sit ek die groenteplank regop teen die teëls neer. Nogal netjies skoongemaak na ek slaai gemaak het. En daar skuif die plank mooitjies af en stamp my slaaibak met slaai van die kas af. Fyn en flenters op die vloer. Ek staan natuurlik kaalvoet in die kombuis (ja!ja!) en moet oor die glas om die vloertowenaar te kry. Bloed kom uit die linkervoet waar een van die glasstukke teen my voet gespat het, maar ek’s mos ‘n girl van die plaas en baie sterk. Hou aan en maak skoon en sit en werk my op vir ‘n mansmens wat nie eens kom uitvind hoekom ek so skree nie.

Op pad badkamer toe om my voete af te spoel, voel ek meteens ‘n skerp pyn in die regtervoet. Stuk glas in die voet. Toe’s ek al lekker beneuk. Dog ek sal maar gaan bad om te kyk of ek die glasstuk uit my voet kan kry as dit eers in warm water was, maar kan dit glad nie in die hande kry nie. Die glasstuk sit ook op ‘n ongemaklike plek en ek kan nie sien wat om te doen nie. (Gewoonlik is ek mos die een wat splinters uit ander mense se lywe haal). So plak ek pleister op, maar ek besef dit sal moeilik gaan om 35km ver te bestuur met die voet, 35 km terug en dan eers ‘n dokter te probeer spreek. Bel noodgevalle en hoor of hulle besig is. Nee, ek kan maar kom. Haal die dokter toe ‘n piepklein stukkie glas uit my voet.

Maar ek werk myself lekker op: as dit nou my man was, dan moes ek hom motor toe geabba het, en ‘n rolstoel gekry het by die hospitaal en hom ingestoot het, maar nee, meneer kyk Top Billing en Top Billing is belangriker as ek. Glo my, dit was nie ‘n sagmoedige vroutjie wat by die huis opgedaag het nie.

Gister moes my studente toets skryf, maar weens die afwesigheid van elektrisiteit moes ek die vraestelle op eie koste uitdruk. Ek het egter nie die klaslys – wat hulle moet teken as bewys van hul teenwoordigheid nie – kon uitdruk nie, en as ek so half onprofessioneel in die klas gaan staan, voel ek sommer omgekrap.

Intussen sit ek al langer as ‘n week met ‘n abses in die tand. Daai tande wat die tandarts al begin van die jaar wou uittrek, omdat hulle probleme ontwikkel het as gevolg van die chemo. Ek wou nog uithou, maar toe val die kroon uit en dit was die laaste strooi. So tussen al die val en breek deur, sit en klop die kakebeen tot in my oor en raak ek by tye heel doof.

En vandag moes ek in ‘n videokonferensie sit met ‘n klomp vername professore. Dan daag jy by die lokaal op en jy is die enigste een wat daar sit en die videokonneksie is nog nie aan die gang nie en ‘n uur na die oorspronklike tyd, sit en wonder die voorsitter nog of ons moet voortgaan met die vergadering, aangesien die sekretaris nie opgedaag het om notule te neem nie. En ja, hulle het so in my rigting gemik vir die neem van die notule, maar op daardie oomblik was ek weer ernstig doof. Ek weier om notule te neem net omdat ek ‘n vrou is. Buitendien kan ek by tye glad nie verstaan waaroor hulle daar in die verre Mthatha praat nie, want ‘n hele paar van my vername kollegas kom van die noorde van Afrika, of van die suide van Indië. So karring ons toe vir twee ure aan.

En as ek nou so na die lysie kyk, dan klink dit nogal of daar ‘n paar onaangename goed gebeur het. Maar kom ons maak die som: uit 7200 minute is 120 gespandeer aan ‘n onaangename, tydrowende vergadering, 5 aan val op die vloer, ongeveer ‘n uur aan glas optel en glas uit die voet haal, seker goed 30 aan argumenteer met die geliefde en 120 minute aan die toets. Dis ‘n totaal van 275.

Maar ek het ook 120 minute saam met vriendinne oor ‘n glas wyn gekuier, ‘n goeie 60 minute in die Franse klas, darem so 50 minute se gesels met die geliefde, nog 60 minute vir middagete saam met ‘n vriendin, baie vrytyd met die kat en – les bes- was ek vannag in my drome die meisie van ‘n Suid-Afrikaanse celebrity. ‘n Mooie man, wat dink die son skyn uit my uit. (Natuurlik). En ek het so ‘n lang swart nommertjie aangehad met ‘n lang spleet op die linkerbeen. Ek kon duidelik voel dat Kurwes besig is om vrugte af te werp. En die celebrity en ek is saam by ‘n partytjie, maar niemand weet ek is sy meisie nie. Hulle dink ek is net ‘n doodgewone opgedolliede middeljarige vrou. Op hierdie punt het ek natuurlik net geheimsinnig geglimlag.

Toe word ek wakker.

En dis nou maar seker waarom – saam met die tandpyn – dit soos ‘n slegte week voel. Al was die goeie minute en die gewone minute heelwat meer as die slegte minute.

NS Môre is weer Zoladex by onkologie en my drie maande opvolgbesoek.

by elizac

EN DIE SAGA HOU NET AAN

Oktober 5, 2011 in Sonder kategorie

As jy dalk binnekort ‘n nuwe selfoonkontrak moet kry, of van verskaffer wil verander, sal ek jou aanraai om Cell C liefs te vermy.

Lees bietjie hier:

http://blogs.litnet.co.za/elizac/en-so-gaan-ons-voort

sodat jy kan verstaan waaroor ek praat. Lees ook sommer die vorige pos as jy ‘n tydjie het. Net so vinnig. Daardie posse is al 21 Januarie 2011 geskryf. EK HET STEEDS NIE MY FOON TERUG NIE, en my kontrak verval 21 Oktober 2011! Ek het nou al letterlik ure in die plaaslike tak bestee (sonder koffie) en al tantrums gegooi, maar niks help nie.

Intussen sit ek met ‘n “leenfoon” van Cell C en sonder my nommers. Die hartseerste vir my is dat ek talle boodskappe op my ou foon gestoor het van mense wat net ‘n ietsie vir my wou sê om my gedurende 2010 te ondersteun. Oulike boodskappe. Hartseer boodskappe. Geestelike boodskappe. En tensy ek my foon terugkry, is hulle verlore.

Verder is daar ook nommers van kankerpasiënte wat saam met my chemo gekry het. Mense wat ek graag sou wou kontak om te hoor hoe dit nou met hulle gaan. Maar ek kan nie, want ek het nie meer die nommers nie. Dis ‘n totale skade.

Gister bel so ‘n dogtertjie van Cell C se “Customer Care”. Ja, hulle sal graag die probleem wil uitstryk. Nou gaat sy mal daar op die rekenaar. Ek hoor hoe tik sy. Maak my al klaar die josie in, want moes sy nie die inligting bymekaargemaak het voordat sy op die foon geklim het nie? Nee, seg sy my, die foon van my is reeds teruggestuur na die winkel toe. Klaar reggemaak.

Nou’s ek mos ook al ‘n tydjie in die land. Wanneer is die foon teruggestuur Oos-Londen toe? Ja, in Mei 2010. Ek sê Koekie, maar dis mos nou onmoontlik! Ek het my foon eers Januarie 2011 ingegee vir regmaak! Hou net aan, en daar sak sy weer op die rekenaar toe.

Eliesabif, sê sy (ja Eliesabif, nie Elisabet nie en ook nie doktor nie, asof sy my ken), is jy seker die MMI of EMI of watookal se nommer is korrek? Nou probeer ek vir haar ‘n ander nommer gee. Nee, antwoord sy, sy kan nou nie met daardie nommer werk nie. Dis ‘n nuwe navraag.

Kry ek amper ‘n hartaanval. Koekie, skree ek, ek weet jy het nie die probleem veroorsaak nie… Val sy my in die rede: Ja, ek het nie die probleem veroorsaak nie. Moenie op my skree nie. Skree ek terug: Koekie, dan moet jy vir my luister en ophou om my in die rede te val voor ek my sinne klaargemaak het. Jy kan nou vandag besluit of jy deel van die probleem gaan wees, en of jy die probleem gaan help oplos.

Hou net aan, sê sy, en speel daardie irriterende musiek in my ore.

Toe’s daar ewe skielik ‘n meer volwasse stem op die foon: Doktor, noem sy my, en spoor tjoef-tjaf my foon op (presies waar dit begin Februarie was) en sê hulle kan nie my “incidence form” kry nie (dieselfde vorm wat ek nou al ten minste twee keer vir hulle moes faks, en elke keer op my tyd) en kan ek asseblief weer een invul? Sy stuur sommer vir my een per e-pos.

Ek wag steeds vir die vorm.

Intussen het ek al navraag gaan doen oor ‘n ander kontrak. Enigiets, solank ek net nooit weer met Cell C moet praat nie.

by elizac

EN HOE’S DIE WEER MôRE?

Oktober 2, 2011 in Sonder kategorie

Ek vermoed ons Suid-Afrikaners het ‘n obsessie met die weer. Moontlik stam dit af van ons oerverbintenis met die grond, want anders het ek nie ‘n verklaring vir die gedwongenheid om aand vir aand die weervoorspelling dop te hou nie. En dan kwaad te raak vir die voorspeller indien dinge anders uitdraai.

Of dalk het dit te doen met die idee dat ons beheer oor ons lewens het, en die een ding wat ons nou nie kan beheer nie (of so dink ons), is die weer. Dus, as ons vooraf weet wat die son of die wind of die wolke gaan doen, dan kan ons ten minste probeer om ons kleredrag ten opsigte van die son of die wind of die wolkte te beheer.

So laat weet my man my vanaand: Onthou, dis môre 14 daar waar jy werk. En daar is 80% reën. (Na al my verduidelikings dink hy nog steeds 80% reën beteken dat dit 80% van die tyd gaan reën. Ek sê al man, as daar twee druppels geval het, dan was die weervoorspeller eintlik 100% korrek!) Hy het in die stad grootgeword, so daar kan geen logiese verklaring gegee word vir sy obsessie met die weer nie.

Ons sê gewoonlik ons kyk die weer, sodat ons kan weet wat om die volgende dag aan te trek. Maar jy kan mos nou maar net sowel die volgende oggend vinnig deur die venster loer en so probeer vasstel wat die weer gaan wees. Of loop ‘n draai om die huis. Dan weet jy mos nou dis koud, of warm. En dan vat jy maar ‘n truitjie saam wat jy later kan uittrek indien dit warm word, of kan aantrek indien dit koud word. Ons doen dit in elk geval, vir ingeval die weervoorspeller verkeerd was.

Dus het ons nou, heeltemal buite seisoen, ‘n dag van veertien grade wat glo vir ons voorlê. Ek sal maar my skaapvelsteweltjies aantrek. En my eie raad volg vir die res van die uitrusting.

by elizac

SURVIVOR

September 26, 2011 in Sonder kategorie

Vir diegene wat Survivor aanhangers is, moet asseblief nie hier lees nie. Ek is nie een nie. Ek sit op die oomblik in my studeerkamer (ja, ons akademici het mos studeerkamers) en luister na die tiewie en die klomp oorlewendes se geplot. Nou weet ek mos ook al wie gewen het (moenie worrie nie, ek sal nie sê nie. As jy nou al wil weet, kan jy dit mos gaan google).

Maar ek moet sê: as ek een van die survivors was, was die eerste persoon wat ek sou uitgestem het, daai Jeff-aanbieder. Liewe hemel, maar hy is aanhoudend. Ek weet dis sy werk, maar hulle is glo besig met ‘n spel wat “uiterse konsentrasie” verg, maar hy karring tussenin: wie gaan wen? O, JT is nou voor! Nee, nou’s dit Steven (ek dink dis Steven?)! O, Errin en JT en Steven is nou gelyk! Hierdie is ‘n spel wat breinkrag verg. Wie is dit wat eerste gaan konsentrasie verloor?

En net op daai punt verloor een toe konsentrasie. Het die vervaardigers nog nooit daaraan gedink dat heeltemal verskillende mense dalk sou kon gewen het as die Jeffie net ophou kef het?

Dan wonder ek ook hoe die klomp Amerikaners sal vaar teen ‘n Suid-Afrikaanse span. Ons ken mos van braai…

by elizac

GRAPPIES OP ‘N STOKKIE

September 14, 2011 in Sonder kategorie

Party dae wil ek nou net nie meer snaaks wees nie. Party dae wil ek net ten hemele skree: DIT IS ONREGVERDIG! Partykeer wil ek net hê almal rondom my moet weet wat ‘n [email protected] siekte kanker is. Dat dit sy tentakels in jou lyf insteek en net groei en groei en groei, en jy weet nie dat dit daar binne sluimer nie. Soveel mense rondom my word gediagnoseer: iemand in die kerk, ‘n onderwyseres by ‘n laerskool, nog iemand in die kerk, die klerk by onkologie, die vrou in die kamerawinkel, my tante, my swaer. Dit word te veel. Ek hoor nou die dag dat ‘n persoon met Vigs nog gemiddeld twee-en-twintig jaar kan leef. Wat is die gemiddelde vir iemand wat met kanker gediagnoseer is? Weet iemand? Die 5 jaar oorlewingssyfer vir iemand met my tipe kanker, is 86%. En daarna? Wat van tien jaar, twintig jaar? Hoe is dit moontlik dat daar soveel terapie vir mense met Vigs beskikbaar is, en dit na ‘n skrale dertig jaar, terwyl daar so min opsies vir kankerpasiënte beskikbaar is? (En ja, ek weet daar is nuwe terapieë, maar die suksessyfer is nog nie werklik bepaal nie – en ek is op twee van daardie nuwe terapieë). Dis mos nie regverdig nie.

Wat sê ‘n mens vir iemand wat ag maande gekry het om te leef? Wat mense vir my gesê het? “Toemaar, elke donker wolk het ‘n silwer randjie”? Of moedig jy hom aan om sy werk te bedank en die wêreld plat te toer? Waarom? Gaan dit belangrik wees in die hemel?

Wat sê ek vir my suster? Want, al is ek self deur chemo, weet ek nie hoe dit voel om aan die ander kant te staan nie. En ek weet ook nie hoe dit voel om te hoor dat jou man moontlik nog net vir ag maande gaan leef nie. Ek weet wel hoe dit voel om aan hoop vas te klou ten spyte van die wanhoop; die absolute tot stilstand kom van jou ganse lewe. Ek glo ook met my hele hart dat dit vir God moontlik is om te genees (en as jy hier lees en nie in God glo nie, moet dit asseblief nie vir my vertel nie. Praat met my daaroor nadat jy in die chemokamer gesit het met ‘n naald in jou lyf en terwyl die gif in jou are drup.) en dat elke dag wat ek leef, ‘n wonderwerk is. Ek weet dat dit deksels moeilik is om dit te glo terwyl jy die pad stap. Ek weet ook dat dit al is wat sin kan gee.

My swaer sê dis maar die verloop van die natuur. Ek voel om te skree: Do not go gently into that good night! Baklei! Baklei! Maar dis maar ons mense se manier van probeer beheer uitoefen.

Beheer is ‘n illusie. En as ek nie in beheer is nie, moet ek kan glo in ‘n Mag wat groter as ek is. Die Higher Power van AA, as jy wil.

Ek het so dikwels gesê ek kan nie in ‘n God glo wat kanker gee nie; daarom glo ek nie God gee kanker nie – Hy laat dit toe. Maar ek het so ‘n paar weke terug na PJ Smyth van die God First kerk gaan luister. Hy is op 40 met limfoom gediagnoseer. En hy verkondig dat God wel kanker kan gee, want as Hy dit nie gee nie, beteken dit ook dat Hy dit nie kan genees nie. Dis nou baie eenvoudig gestel. Gaan lees by http://godfirst.co.za/bad-things indien jy die hele potgooi wil luister. En dit het my laat dink.

Party dae is daar soveel vrae by my. Ek probeer om nie te veel te dink nie. (Het vandag al gesê ek is bang om die happy pille te los, want dan word ek dalk met te veel realiteit gekonfronteer). En wanneer al hierdie vrae so deur my maal en my kop begin omkrap, onthou ek hierdie woorde:

When I have fears that I may cease to be

Before my pen has glean’d my teeming brain,

Before high-piled books, in charactery,

Hold like rich garners the full ripen’d grain;

When I behold, upon the night’s starr’d face,

Huge cloudy symbols of a high romance,

And think that I may never live to trace

Their shadows, with the magic hand of chance;

And when I feel, fair creature of an hour,

That I shall never look upon thee more,

Never have relish in the faery power

Of unreflecting love; – then on the shore

Of the wide world I stand alone, and think

Till love and fame to nothingness do sink.

(JOHN KEATS)

Amen