by

ONS STAAK

Augustus 29, 2013 in Uncategorized

En vir die van julle wat opregte Afrikaanses is: julle sal weet ons staak nie sommer nie. By my “universiteit” (en ek sit dit maar in aanhalingstekens, want dit word beslis nie bestuur soos ‘n universiteit nie) word daar dikwels gestaak. Ons het iets soos vyf kampusse net hier in Oos-Londen alleen (dit staan bekend as een kampus, maar is omtrent 35km uitmekaar) en as elke kampus net een keer per jaar staak, lyk dit asof ons die hele tyd staak. So nou is een ontevrede in Mthatha, en dan word daar gestaak. Of iemand gooi speelgoed rond in Queenstown, en dan word daar gestaak. En dan word daar vir my gesê: julle staak altyd.

Nou hierdie keer staak ons almal. Eintlik staak die personeel, en ons is nou in ons sesde week van die staking. Dis een van daai Marikana-stakings: niemand praat met iemand nie en geen werk word gedoen nie. En ek? Ek staak saam. Ek het al voorheen hier geskryf oor my werk (hier en hier, as iemand belangstel), maar dinge raak nou regtig woes. Op hierdie stadium het ons in Januarie 2011 laas ‘n salarisverhoging gehad en dit was onder die inflasiekoers. Intussen betaal ek reeds R2400 per maand vir vervoer alleen, maar my salaris is steeds vasgehaak in 2011. Nou ja, dis mos my probleem daai, is dit nie? Die probleem is dat ek nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd nie meer die goed kan finansier wat ek al die jare uit my eie sak gefinansier het nie: telefoonrekenings, internet, faks, rekenaar, papier, bindwerk, kongresse, skryfbehoeftes. Dis ‘n redelike lys en dit raak duur om jou werknemer so te subsidieer. Boonop kan ek geen item op daardie lys van my taks aftrek nie, want SARS beskou dit as ingesluit by my werk – my werkgewer voorsien dit mos, of hoe?

Ons werkgewer bied ons ‘n salarisverhoging van 4,25% aan. Op hierdie stadium is ek desperaat genoeg om dit te aanvaar. Ook weet ek dat die universiteit nie geld het om vir ‘n ons ordentlike salarisverhoging aan te bied nie. So hoekom staak ek? Ek het lank hieroor nagedink, en hier is van die redes:

1. Ons het ag jaar gelede saamgesmelt. Sedertdien leef ons in hoop dat dinge sal verbeter. Dinge verbeter egter nie. Daar is ‘n “grab and go”-kultuur wat deur sommige mense uitgeleef word. Hulle kry kontrakte vir vyf jaar, kyk hoeveel hulle kan vat en dan verdwyn hulle. Ons het tien jaar terug gesê die samesmelting gaan nie werk nie, maar ons opinies is geïgnoreer. Een van die instansies met wie ons moes saamsmelt het vir vyf jaar geen salarisverhoging gekry nie. Dit was hulle ooreenkoms met die departement van onderwys ten einde hulle werk te behou. Toe ons met hulle saamsmelt, het hulle natuurlik seker gemaak dat hulle salarisse opgestoot word om by ons s’n aan te pas. Nou word ek vertel dat ek inhalig is, want ek wil meer hê. Waarom moet ons die prys betaal vir die wanbestuur van die universiteit? Intussen moet ek geduldig sit en wag dat almal op dieselfde vlak kom, maar dit gebeur nie, want “daar is nie genoeg geld nie”.

2. Ten spyte van die feit dat ons al ag jaar een instituut is, kry personeel op verskillende kampusse steeds verskillende pakette, want “daar is nie geld” om almal op dieselfde pakette te kry nie.

3. Ons studente betaal bittermin vir hulle kursusse en die universiteitsbestuur is uiters trots op hierdie feit. Kom ek verduidelik vinnig waarom dit ‘n onnosel argument is: Sê nou maar dit kos die universiteit R1000 per student per jaar om daardie student op universiteit te hou. Die regering befonds ons (en hier rond ek nou af, want ek is nou nie lus om die werklike getalle te gaan soek nie – ek is te kwaad) 60% van die R1000, m.a.w. R600. Ons kry sê nou maar R300 vir die registrasie van die student. Die ander R300 kry ons as die student deurkom. Intussen moet die student R400 betaal vir sy/haar voorreg om op universiteit te wees. Die student het nie die finansies om hierdie bedrag te betaal nie en maak staat op befondsing van NSFAS. Indien die studente nie befonds word nie en nie betaal nie, bly hulle steeds studeer. Nou is die student nog benoud, omdat hy/sy nie kan betaal nie. Dus is die fokus op die studies ook nie daar nie. Of die gevolge van twaalf jaar se swak skolering (is daar so ‘n woord?) tree in. Die student kom nie deur nie. Vir daardie student kry ons dus slegs die R300 wat aanvanklik as subsidie uitbetaal is en die res is ‘n verlies. Ander universiteite vra, kom ons maak dit nou maar ‘n maklike getal, want klaarblyklik is ek ‘n onopgeleide persoon, R10000 per student. Hulle subsidie is dus R3000 plus R3000 as die student deurkom. Boonop kan geen student aan ‘n plek soos Wits, Stellenbosch, Kaapstad, Natal, Rhodes of Pretoria (noem maar op) studeer as hulle nie vir hulle studies op een of ander manier betaal nie. Selfs al word hulle deur NSFAS befonds, kry die universiteit steeds meer geld, want ons word nie befonds op grond van wat dit die universiteit in werklikheid kos nie, maar op grond van wat hulle betaal. Op hierdie manier boer ons die hele tyd agteruit. Die regering het R300 miljoen bewillig om studente se agterstallige skuld te betaal – en ons is klaarblyklik reeds weer R40 miljoen in die rooi wat studenteskuld betref. Ek, as dosent, het nie die reg of die mag om ‘n student te weier om te registreer nie. Verlede jaar, byvoorbeeld, moes ek ‘n student registreer wat die universiteit reeds R35000 geskuld het. Ek wil nie die reg hê om daardie student uit te gooi nie, want ek moet voor ‘n klas vol studente gaan staan op die ou-end. Maar as die regering – en ons bestuur – wil hê dat daardie student moet registreer sonder om te betaal, dan moet die befondsing vir ons universiteit mos anders werk, of hoe? My argument bly: as dit jou R10 kos om die koppie tee te maak en jy verkoop die koppie tee vir R5 gaan jy ‘n tekort hê.

4. Blade Nzimande het ‘n paar jaar terug belowe dat hulle genoeg fondse sal beskikbaar stel om die universiteit reg te ruk. Daardie fondse het agterweë gebly, behalwe vir geld vir infrastruktuur (daar is ‘n helske sekuriteitshek op ons kampus gebou en een lesinglokaal), verbetering van kwalifikasies (ek mag nie van daardie geld kry nie, want ek het reeds my kwalifikasies verbeter – red nou ‘n volk) en die afbetaling van studenteskuld. Intussen moet ons klasgee sonder oorhoofse projektors of dataprojektors, my rekenaar is oor die vakansie gesteel en my kantoor is so groot soos ‘n posseël.

5. Daar is geen minimum of maksimum werksvereistes vir dosente nie. Om bevorder te word, moet ek iets soos ag of twaalf artikels publiseer (navorsingsuitsette hê), maar ek gee agtien periodes per week klas. Ek het kollegas by ‘n ander universiteit wat gesamentlik een-en-twintig periodes het en hulle is drie dosente plus ‘n tutor. Sommige van my kollegas het vier of ses klasse per week. Sodra hulle meer klasse gee, word hulle oortyd betaal en dit word aan hulle uitbetaal. Vir my word daar doodeenvoudig gesê ons het nie genoeg personeel nie en ons moet almal die las help draai. In effek beteken dit dat ons die universiteit subsidieer, omdat ons die las dra en nie daarvoor eis nie. Dit is baie moeilik om ‘n werksbeleid vir die dosente te hê, veral omdat ons op verskillende kampusse werk. Dis nie maklik om te weet dat ek jok indien ek byvoorbeeld sê dat ek môre by daai kampus werk nie, en intussen loop ek rond nie. Veral omdat ek geen kantoor het  op een van die kampusse waar ek werk nie. Maar daar kan vereistes gestel word in terme van die aantal periodes wat ek mag klasgee. (En ek moet byvoeg, ek gee nie om om uit te help indien ‘n kollega met verlof gaan of siek is nie, maar dan wil ek weet dat die “guns” op ‘n stadium ook na my kant toe sal kom, soos wat dit by ander universiteite werk). Ek moet op ‘n gelyke voet komepeteer vir bevordering met kollegas wat min of geen klas gee nie, maar ek moet my navorsing snags doen, want die res van die tyd is ek besig met studente.  (OK, dit gaan gewoonlik beter in die tweede semester, maar in die eerste semester sit en slaap ek al 7h voor die televisie van moegheid).

6. Een van die maniere waarop ‘n universiteit ekstra befondsing bekom, is deur publikasies in geakkrediteerde vaktydskrifte. Die laaste keer wat ek in ‘n Suid-Afrikaanse tydskrif gepubliseer het, het ek R30000 gekry vanaf die departement. Nou ja, ek sê nou “ek”, maar ek kry nie die geld nie – die universiteit kry die helfte van die geld en die ander helfte word in my navorsingsrekening inbetaal. Wanneer ‘n mens in ‘n internasionale joernaal publiseer, gaan die bedrag op na omtrent R100000. Dis baie geld. Professore behoort ‘n sekere aantal publikasies per jaar te lewer ten einde hulle salarisse te regverdig. Ek het hierdie jaar twee studiegidse vir uitgewers geskryf (dit tel nie vir subsidie nie, maar dit tel as ‘n publikasie) en publiseer in Oktober ‘n artikel in ‘n vaktydskrif. En die enigste rede waarom ek dit reggekry het, is omdat ek deurnag gewerk het om alles klaar te kry. O ja, ek het darem ook twee artikels beoordeel vir publikasie. Daarvoor kry ek geen subsidie nie, maar dit lyk goed op my CV.

Ongelukkig is my universiteit in die posisie waar ‘n navorsingskultuur nie juis bestaan nie. Een rede is dat baie dosente wat voorheen aan die technikons gewerk het, nog steeds nie ‘n M het nie. Hulle kry dikwels nie kans om te studeer nie. Die wat wel kans het, spandeer soveel tyd op onnodige goed, dat hulle ook nie studeer nie. Hier wil ek myself nou maar nie te veel uitlaat nie. Daar is wel befondsing vir diegene wat hulle kwalifikasies wil verbeter, maar daar is nie geld om vir ‘n plaasvervanger te betaal nie. Wat weer eens beteken dat die reeds oorlaaide personeel ekstra werk op hulle moet neem. Ek gee, weer eens, nie om nie, maar feit is dat ek geen sabbatsverlof gaan kry tensy ek studeer nie. En wat moet ek nou gaan studeer? Nog ‘n D? Dankie, maar nee dankie. Persoonlik dink ek dat diegene wat nie oor ‘n M beskik nie, vyf jaar gegun moet word om die M te kry. Daarna moet hulle ander werk gaan soek. Jammer, maar die lewe is moeilik. Ek is moeg daarvoor dat daar van my verwag word om ekstra te doen, maar ander kom weg met moord. Daar is mense wat op my vlak aangestel is wat nog nie eens ‘n M het nie. Dan is daar ander wat hulle flou werk en skaars tyd kry om asem te haal, maar hulle het nie toegang tot ekstra toelaes en ekstra gunsies nie.

Ek dink ook dat, indien jy ‘n professor is, een van jou take moet wees om jong navorsers op te lei. Jy kan saam met hulle publiseer en so geld genereer plus ‘n navorsingskultuur vestig. Dit gebeur nie.

8. Ek is moeg daarvoor dat sommige mense “more equal” is as anders.

9. Ek kan dit nie meer bekostig om die universiteit te subsidieer nie. Ek het in 2011 ‘n kongres bygewoon. Die enigste rede waarom  die vliegtuigkaartjie en kongresgelde betaal is deur die  universiteit, was omdat ek in 2010 daarvoor baklei het. Voor ek geweet het dat ek borskanker het. Ek moes vir my eie verblyf en my eie kos betaal. Die universiteit het hierdie sisteem waarvolgens jy moet aansoek doen om na ‘n kongres te gaan: eers moet jy toestemming by die hoof van navorsing kry. Daarna moet jy met die reisagent skakel en die sal vir jou die vliegtuigkaartjies reël en die betaling. Dikwels geskied hierdie betaling ‘n paar dae voor die kongres begin. Dit is ‘n probleem wanneer jy na ‘n internasionale kongres toe gaan, want dan het jy nie tyd om ‘n visum te kry nie. Verder kan ek die universiteit baie geld spaar as ek vir ‘n kaartjie uit my eie sak betaal (kyk www.travelstart.co.za ). So kon ek een jaar ‘n kaartjie kry vir R7000, waarvoor die universiteit op die ou-end R14000 sou betaal het. Die destydse reisagent was ook in Mthatha geleë. Ek wag steeds dat hulle terugkom na my toe in verband met die 2010-kongres. Verlede jaar het ek dieALV-kongres in Pretoria uit my eie sak befonds, m.a.w. reisgeld, verblyfgeld, kongresgeld. Ek dink my man het vir die huurmotor betaal, want my geldjies was op.

10. Ons gee aan jongmense kanse wat op geen ander plek kanse sal kry nie. Uiteindelik betaal ons ook die prys daarvoor, want as hulle nie deurkom nie, kry ons nie die volledige subsidie nie en hulle kan nie die fooie bekostig nie. Ons spandeer ook baie tyd met die studente. Ek onthou toe ek destyds tydelik gasdosent by Stellenbosch was, het ek die dosente daar gevra wat hulle doen om die klasse vir die studente interessant te maak. Hulle antwoord? Dis nie hulle werk om dit interessant te maak nie. Die student moet doodeenvoudig luister en klaar. As ek dink hoeveel ekstra tyd ons met studente spandeer, hoeveel ekstra werk, hoeveel ekstra kanse, net om hulle op ‘n punt te kry waar hulle sinne kan maak wat sin maak. Ons doen ‘n klomp goeie werk wat hoegenaam nie raakgesien word nie.

Lang storie, en ek is seker ek is nog nie by die kern nie. Vir my het dit nog altyd gevoel dat ek sal kan aanhou solank ek voel ek maak ‘n verskil. Ek voel nie meer so nie. Ek voel asof ek jaar na jaar aankarring op dieselfde noot en nêrens uitkom nie. Ek is moeg vir die negatiewe publisiteit wat my universiteit heeltemal onnodiglik kry. Ons doen ontsaglike goeie werk met ontsaglike swak produkte. Natuurlik is daar vrot appels. Nie al die dosente aan die US of UCT of Wits of Rhodes is goeie dosente nie. Party is goeie navorsers en party is vrot appels. Dis oral so. Maar ons hoef regtig nie almal oor dieselfde kam geskeer te word nie.

Wil ek teruggaan werk toe? Ja, natuurlik. Ek is amper gelukkig met die 4,25% wat na ons kant toe gegooi word, want ek kan tog so tevrede wees met krummels. Gaan dinge verander as ons teruggaan werk toe op hierdie stadium? Die antwoord is nee. Selfs my optimisme en my geloof kan nie so ver strek nie.

10 antwoorde op ONS STAAK

  1. tina10 het gesê op Augustus 30, 2013

    My keel trek toe! Sterkte Ek daar is iewers mense met antwoorde

  2. Ek haal my hoed vir jou af!

  3. Byt vas, hou uit, organiseer.

    Dring aan op regte verandering.

    En Sterkte daar.

  4. elizac het gesê op Augustus 30, 2013

    Eerste week van die staking sê ek: mense, ons moet georganiseerd kom! Ons moet ‘n Facebook-bladsy begin, twitter, mediaverklarings uitreik, ten minste plakate maak wat netjies is en verteenwoordigend van ons status as akademici. Leë kyke. Wat in 1976 gewerk het, moet mos in 2013 ook werk!

  5. Ek dink die regering moet maar elke jaar die tyd in staak seisoen die land toemaak vir 2 weke dan staak almal nou en kry klaar en dan gaan ons weer almal werk toe as hulle klaar uitgesort het wie kry wat

    • elizac het gesê op Augustus 30, 2013

      Ja jong, ek moet belei dat ek nie werklik die hele stakingskultuur verstaan nie. Kan ‘n mens nie maar net sê ek bied 3% aan en die werkers sê ons soek tien persent en dan kom jy ooreen op iets in die middel nie? Nou word al die tyd afgestaan aan staak. Ek wil al mal raak van so sit en wag – alle ekstra werk afgehandel en probeer konsentreer op navorsing, maar my kop kan nie op een plek stilstaan nie.

  6. ‘n Dosent MOET ten minste ‘n meestersgraad hê – of dit baie vinnig behaal – anders hoort hy/sy mos nie by ‘n universiteit nie? Die verval van ons tersiêre standaarde bekommer my grensloos – veral by die mediese en ingenieursfakulteit…

    • elizac het gesê op September 13, 2013

      Ons was natuurlik voorheen ‘n technikon en die vereistes was anders. Dit het nou verander en dus moet ons ten minste meestersgrade hê. Maar hoe nou gemaak met diegene wat by die technikons aangestel is en nie aan die vereistes voldoen nie? Groot tameletjie. Daar is ‘n klomp geld beskikbaar vir hulle om hulle studies klaar te maak, maar op hierdie stadium staan die universiteit omtrent nie studieverlof toe nie en as hulle dit toestaan, moet die ander dosente jou klasse doen. En as jy 18 tot 23 klasse per week het, is dit omtrent onmoontlik. Maar ons hou aan en hou uit. Julle hoef nie bekommerd te wees oor die standaard van dit wat in die klasse aangaan nie. Regtig nie. Ons mediese – en ingenieursfakulteite is uitstekend en geakkrediteer, ten spyte van alles!

  7. vega het gesê op September 2, 2013

    Hoop jy kry ‘n positiewe uitkoms.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.