by

SO HOEKOM WERK MENS DAAR?

Februarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Wanneer mense hoor onder watter omstandighede ons ons werk moet verrig, wil hulle altyd weet: so hoekom werk julle daar? Die vraag kom gewoonlik van mense wat redelik wel-af is en nie kan verstaan hoe ‘n mens bereid is om soveel nonsens op te vreet vir ‘n salaris nie. Of mense wat van nege-tot-vyf werk en nie kan verstaan hoe jy kan oortyd werk as jy nie ekstra betaal word daarvoor nie. Of vroue met ryk mans. Of vice versa.

Wel, daar is verskeie redes. In die eerste plek is dit nou nie so maklik om in tersiêre onderrig ‘n ander werkie te kry nie. Daar is altyd mense wat jonger en slimmer as jy is. In die tweede plek moet ek mos nou maar wees waar my man is, en net as ek ‘n werk kry wat baaaaie beter betaal, sal hy sy werk kan opgee en my volg. In die derde plek verdien ek veel beter as wat ek in gewone onderwys sou verdien (‘n beginsalaris is R8000 per maand) en hoef ek nie te sit met dissipline en polisiëring van kinders wat nie deur hul ouers maniere geleer word nie. As ek vandag steeds in die onderwys was, kon julle my in die tronk gaan besoek het. Ek sou beslis iemand vermoor het. Ek haal al my hoede af vir mense wat dit in die onderwys uithou. Dis werklik nie ‘n maklike werk nie.

Maar my eintlike rede is dit: ek wil iewers werk waar ek voel ek ‘n verskil kan maak. En ja, ek leef dalk onder ‘n illusie, maar dis my illusie en dit maak my gelukkig. Party dae is jy moedeloos en gedaan, maar dan is daar weer dae waar jy heerlike klasse het. Ons gesels oor alles en nog wat. Partykeer dink ek: o gits, nou gaan ek in die moeilikheid kom! Want ek sê net wat ek lus het. Ons praat oor verhoudings en Vigs en oor alkoholisme en dwelmmisbruik; ons praat oor kultuurverskille en nie-verbale kommunikasie. Hulle vra my uit oor wat ek dink liefde is. En ons praat oor die rol van die man in die verhouding en die rol van die vrou en wat vroue wil hê en wat belangrik is in die lewe. Hierdie jaar gaan ons ‘n projek doen oor ouer vroue in die gemeenskap en ons gaan hulle stories vertel. Ek het ook al entrepreneurskap met hulle gedoen, en ons het markdae gehou – alles goed wat ons met min geld moes regkry. Soms dink ek hulle leer niks nie. En soms kom daar ‘n student na my toe en sê: You made me think.

As tien persent van my studente iets meer leer as Engels, sal ek gelukkig wees. Nee, as ek ‘n verskil kan maak in vyf persent se lewens, sal dit al genoeg wees.

Een student kom eendag na my toe. My A-student. Ek vra hom hoe dit gaan. Nee, sê hy, dit gaan sleg. My ma het nie werk nie en dan maak sy skuld en dan vat hulle al die bietjie geld wat sy nog verdien en dan is daar niks nie. (Op daardie stadium het sy so R300 per maand verdien). Hy sukkel om te konsentreer, want hy is bekommerd oor sy ma. Toe praat ons ‘n bietjie. Ek sê vir hom: Jy weet, dit klink seker baie selfsugtig, maar jou ma gaan doen wat sy wil doen. As jy bekommerd is oor haar, dan gaan sy die verkeerde goed doen. As jy nie bekommerd is oor haar nie, gaan sy steeds die verkeerde goed doen. Konsentreer dus nou op jou studies, want op hierdie stadium kan jy jou ma nie help nie. Jy kan haar net help as jy ‘n werk het, en dit gaan jy nie kry nie as jy nie jou studies deurkom nie. Kom hy ‘n maand of wat later weer by my aan. Ek vra hom: Hoe gaan dit? Nee, sê hy, dit gaan goed. Hy kry weer 70% vir sy toetse. En jou ma? Sy gesiggie val. My ma gaan nog net soos altyd aan. Sien jy, antwoord ek, niks het in jou ma se lewe verander nie. Maar ten minste kan jy aangaan. Vandag het hy ‘n goeie werk by ‘n groot maatskappy in die Kaap.

Soms raak benoud oor die oormaat van armoede en ongeletterdheid daar buite. 70 000 jongmense het aansoek gedoen vir plek as eerstejaars in die provinsie se universiteite. Minder as 20 000 het plek gekry. Wat doen die ander 50 000? Wie gaan vir hulle werk gee?

As elke mens wat kan net een persoon in hierdie land help om ‘n opvoeding te kry, sal ons al ‘n verskil kan begin maak. Soms kos dit net R100 per maand om kos in iemand se maag te sit. Soms kos dit ‘n bietjie meer.

As Stellenbosch of UCT of UWK of UJ of een van daardie universiteite my ‘n ou werkie aanbied, sal ek dit neem? Waarskynlik. Maar ek weet ek sal altyd hierdie studente mis.

11 antwoorde op SO HOEKOM WERK MENS DAAR?

  1. Daardie handjie vol wie jy werklik bereik, maak die verskil wat saak maak

  2. jy klink na n verstandige vrou.

  3. elizac het gesê op Februarie 19, 2012

    Ons hoop maar so.

  4. TS het gesê op Februarie 20, 2012

    Dat mens ‘n verskil maak is groter as wat mens ooit sal besef.

  5. Ons swoeg en sweet en werk met die kleintjies en ek moet sê ek ervaar nogals baie werksbevrediging in die onderwys.
    Haal my hoed af vir jou wat in sulke omstandighede sukses met jou studente kan behaal.

  6. avega het gesê op Februarie 20, 2012

    Ek verstaan presies wat jy bedoel, ek het vir baie jare in minderbevoorregte en swart en kleurlingskole voor en na 1994 skoolgehou, omdat ek gevoel het ek maak ‘n verskil. Later het ek na ‘n top stadskool gegaan, net om te voel hoe dit voel om by ‘n skool te wees waar daar ‘n rekenaarsentrum en ‘n lab assistent en skoon badkamers en goeie uitslae en sportfasiliteite is. Dit was soo lekker dat alles in werkende toestand was en ek kon soveel notas afrol as wat ek wou en almal het handboeke gehad, sjoe dit was soos die grootste bederf ooit! Wat my baie frustreer het, was dat die leerders nie waardeer wat hulle het nie.

  7. As ‘n kind gelukkig is, is daar ‘n persoon in sy lewe wat sy intellek wakker maak. Die meeste kinders kry dit nie.
    As jy dit vir ‘n kind kan doen, dan het jy die grootste moontlike verskil in daai kind se lewe gemaak, en dis Nice!

  8. vdmbj het gesê op Februarie 21, 2012

    Die werkloosheid is ‘n helse krisis. Dit bedreig ons hele staat. Goed geskryf.

  9. elizac het gesê op Februarie 22, 2012

    Ja, dis presies so!

  10. elizac het gesê op Februarie 22, 2012

    En my hoed is beslis af vir jou!

  11. Douwe het gesê op Junie 18, 2012

    Jammer ek sien dit nou eers, maar dis ‘n amazing storie! Jy is duidelik bedoel om daar te wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.