by

‘N IETSIE OOR MY WERK

Februarie 17, 2012 in Sonder kategorie

Ek’s nou vanaand sommer lekker beneuk. Dis nou wat gebeur as ‘n mens op ‘n Vrydagaand jou werks e-posse oopmaak en jy dan met niemand kan gaan baklei nie. So, voor ek verder skinder, laat ek net kwalifiseer: ek hou van my werk. Ek hou van my studente. Ek hou nie noodwendig van die omstandighede waaronder ek moet werk nie, of van sekere mense se houding nie.

Kom ek verduidelik. Ek werk mos by ‘n “historically disadvantaged institution”, of HDI, soos dit in my kringe bekend is. Ek werk al baie lank by die spesifieke universiteit (ons het vier in die Oos-Kaap, waarvan twee en ‘n half HDI’s is) en is al soos ‘n stuk meublement. Die groot voordeel van my werk is dat ek blootgestel word aan goed waaraan die gemiddelde Suid-Afrikaner sekerlik nie blootgestel word nie. Toe die nuwe Suid-Afrika aangebreek het, was ek lank al reeds deel daarvan – die dinge waaroor mense kla, laat my lag.

Die nadeel, soos enigeen wat by ‘n HDI werk weet, is dat niemand met ‘n tang aan jou sal raak nie. Hulle dink jy is ‘n lui akademikus. Maar ek sê nou vir jou, ons kan soos donkies werk: aanmekaar. Ons is ook uiters kreatief, want as plan A nie werk nie, dan kry jy plan B en plan C en plan D…

Net ‘n paar van die frustrasies:

Ek arriveer by ‘n klaskamer, maar daar is geen stoele of tafels nie. Die studente moet eers vir tien minute lank tussen klaskamers rondhardloop om stoele of tafels te kry.

Daar is nie tyd vir klaswisseling nie. Die een klas eindig half 10 en die volgende een begin half 10. Gelukkig hoef die studente nie ver te loop nie, maar party dosente dink mos hulle kan aanhou, want hulle is die enigste dosente. Dus is studente dikwels laat vir klasse, of hulle moet kamer verlaat tydens klas, want daar was nie tyd voor klas nie. (Hierdie is werklik ‘n klein frustrasietjie. Ek noem dit net, want toilette is nogal ‘n ding op kampus!)

Al die vensterknippe is afgesteel. Ja, iemand het die briljante idee gehad om koperknippe aan te sit en mettertyd het dit verdwyn. Veral nadat die studente toestemming gekry het om in die klaskamers te studeer. En veral nadat die twee plakkerskampe al hoe nader gekruip het. En ja, ons het sekuriteit op kampus, maar hulle maak die dosente se kattebakke oop en kyk daarin. Verder sluit hulle kantore of sluit laboratoria oop. Die beste manier om iets van kampus af te dra, is om dit voor op jou sitplek neer te sit. Niemand kyk daar nie.

Nadat die knippe afgesteel is, het die kampusbeheer besluit hulle gaan al die vensters toesweis. Dus kon jy geen vensters oopmaak nie. Na klagtes het hulle dit weer oopgesweis en in die proses natuurlik ‘n hele klomp ruite gebreek. Die is nog steeds nie vervang nie. Om die waarheid te sê: ek was nou die dag in ‘n klas waar ek vyf jaar gelede laas was, en die venster wat toe stukkend was, is nog steeds stukkend.

Daarna is plastiekknippe aangesit. Wat van hulle geword het, weet ek nie, want hulle is nie meer daar nie. Ek vermoed iemand het hulle afgehaal om by die skroefies aan die binnekant uit te kom. Geld is geld. Met die gevolg dat ons nou geen venster kan oopmaak nie, maar ons kan ook niks toemaak nie, sodat die vensters in die wind staan en klap. Gevolglik het nog meer ruite gebreek.

Die stukkende ruite is op die oomblik nie ‘n probleem nie, want dit is somer, en ten minste kan ons nou asem haal. Die eintlike probleem is dat daar bouwerk aan die gang is op kampus en die ganse dag (amper sê ek iets leliks) word daar gebou en geraas dat die biesies bewe. Dit help nie eens ek vra die studente ‘n vraag nie, want ek kan hulle antwoorde nie hoor nie. Of hulle my kan hoor, is natuurlik ‘n ander vraag. In die winter gaan die ruite ander probleme veroorsaak, want dit kan vriesend raak op kampus.

O, het ek gesê: ons het nie lugversorging in die klaskamers nie. Met die Oos-Londense humiditeit beteken dit dat ek later in ‘n poeletjie sweet staan en klasgee.

Ek wil uitdeelstukke laat afdruk, maar die papier is op. Dan gaan koop jy maar jou eie papier, net om te hoor die krammetjies is nou ook op… Of jy gaan haal jou drukwerk, maar die drukkantoor is nou toe, want die dame in beheer is net gou vir die dag na ‘n “bereavement” toe.

As ek iets vanaf my kantoor wil uitdruk, moet ek eers gaan kyk of daar papier is. Gewoonlik het iemand ‘n stuk papier in die masjien laat vassteek en dit dan nie uitgehaal nie.

As ek enigiets geteken wil hê deur ‘n hoër gesag, beteken dit ek moet die papier met interne pos laat stuur. Op Maandag moes ek twee vergaderings bywoon. Ek het die kennisgewing vir die een eers Dinsdag gekry, want “iemand” sou dit by my kom aflewer het.

Die akademiese sekretaresse wat my moet bedien, sit 35km van my af. Ek ry maar soontoe om my direkte baas se handtekening te kry.

E-posse word afgelewer, gelees en dan geïgnoreer.

My rekenaar se harde skyf het ingegee. Dis reggemaak, maar die rekenaar is sowat tien jaar oud en dus uit die ark. Alles duur ‘n ewigheid. Die sleutelbord se letters is af, die elektriese konneksie het ontplof en die “leenprop” wat ek gekry het, leen ek nou al ses jaar lank. Ongelukkig haak dit uit die oomblik as ek aan die rekenaar raak, sodat ek voortdurend werk verloor indien ek nie getrou kyk dat die liggie brand nie.

Intussen het ek ‘n rekenaar gaan koop uit my navorsingsgeld. Die geld het egter verdwyn, sodat ek die rekenaar dus uit my eie sak befonds het.

Ditto vir my kongresse, waar ek alles vooraf betaal, anders kry ek die geld eers na die kongres. Of glad nie.

Ek benut die internet nou al seker goed twee jaar via ‘n ompad. Om die een of ander rede werk my inlogprosedure nie. Ek het dit aangemeld en vandaar die ompad.

Ek gee klas in ‘n laboratorium. Elke Donderdag voor die klas moet ek die sekuriteit bel om die klas oop te sluit. Ek mag nie ‘n sleutel hê nie. Dan moet ek staan en wag tot hulle die sleutel gevind het of besluit het dis belangrik genoeg om die klas oop te sluit. Verlede Donderdag bel ek die sekuriteitsman en gaan wag by die klaskamer. Niemand daag op nie. Stap ek later om die draai en vra vir die man wat die dooie monitors voor hom dophou waar hulle is. “No”, seg hy. “You can’t use the room. It is under construction.” Nou kon iemand my nie ingelig het nie?

Hierdie hele week het ek ook weer een van daai gesprekke met ‘n kollega: hy dok my voor en agter, maar beantwoord nie die vraag nie. Ek wil net weet of die Duitse studente hierdie jaar ‘n handboek gaan kry of nie, want hulle het die laaste twee jaar nie boeke gekry nie, en ek kan nie so klas gee nie. Nou kom die antwoord: o, hy weet nie, maar daar is ‘n maatskappy wat die boeke voorsien en ons het ‘n kontrak met hulle. Maar hy sal uitvind en dis die maatskappy se naam. Toe wil ek weet waar die maatskappy is, denkende dat ek hulle kan kontak en vra of hulle ‘n Duitse handboek bestel het. Want eintlik wil ek nie meer die ou handboek gebruik nie, maar ‘n nuwe een. Sal hy nie wragtig vir my ‘n lesing skryf oor hoe die universiteit hierdie kontrak het en hoe dit en hoe dat. En hy begin sy brief so:

Doctor

Nie “Dear Doctor” nie, maar “Doctor”. Toe vererg ek my sommer vir die toon van die brief en, gedagtig daaraan dat ons albei tweedetaalsprekers van die Ingels is, skryf ek toe vir hom wat ek dink. En copy sy baas en my baas en my baas se baas.

Want ek is nou regtig gatvol vir die “attitude”. En nee, dis nie houding nie. Houding het nog klas. En die probleem is dat ek Duits gee vir ‘n ander departement, wat dinge totaal anders doen as my eie departement. Ek het mos nou geen idee hoe dinge gedoen word in hulle departement nie. My departement maak definitief nie gebruik van die maatskappy wat die handboeke verskaf nie. Ons studente se handboeke is ook nie ingesluit by die prys van die vak nie. So om met my te praat asof ek onnosel is, en dit nadat jy die een was wat my in die duister gehou het en nie ingelig het van protokol in jou department nie!

Dit was nou net die finale strooi.

Ek kan uithou sonder ‘n rooster en in die gang gaan staan en studente soek; ek kan uithou met klaskamers wat vuil en verwaarloos is (net-net); ek kan uithou met toilette sonder seep of sonder afdrooggoed; ek kan selfs uithou met die piepklein kamertjie sonder boekrakke wat as my kantoor dien, of die foon wat al vyf jaar nie ordentlik werk nie; ek kan uithou met die swak konneksies op die rekenaar. Daar is oplossings vir daardie dinge: stel jou eie rooster op, doen jou ding om klaskamers skoon te hou, vat jou eie seep saam, vee jou hande aan jou broek af, spandeer min tyd in jou kantoor, bel op jou selfoon, koop jou eie rekenaar en kry jou eie internet by die huis. Ek kan my eie papier koop, of my eie penne.

Maar wragtig, dat kollegas met my praat asof ek hul slaaf is, is my einde.

Maandag sal daar seker ‘n paar e-posse heen en weer vlieg. Ek sal maar na daardie kampus toe ry en my saak in persoon gaan stel.

14 antwoorde op ‘N IETSIE OOR MY WERK

  1. As ek nou vir jou ‘n bottel STERK drank kon paste hier, en dit sou help vir die frustrasie…Het ek dit wragtig gedoen…

    Good Luck!!

  2. Simpatie!! Ek weet hoe jy voel, daardie meerderwaardigheid waar agter hulle skuil, wat eintlik maar net getuig van hul minderwaardigheid.

  3. haal my spreekwoordelike hoed af vir jou wat daarmee kan saamleef

  4. Aan jou stuk kan ek sien jy is hoogs bekwaam. Jammer ek het nie raad vir jou nie, dis die tekens van die tye.

  5. sterkte!

  6. Kry vir jou ‘n ander job. Duidelik is jy iemand wat verseker in aanvraag kan wees by ander universiteite.

  7. TS het gesê op Februarie 18, 2012

    Ek dink een van die belangrikste beginsels van beskawing is respek.

    Sterkte

  8. elizac het gesê op Februarie 18, 2012

    My Engels is te goed vir die Afrikaanse universiteite (hulle vra altyd in onderhoude vir my om Afrikaans te praat!) en te sleg vir Engelse universiteite…

  9. elizac het gesê op Februarie 18, 2012

    Ja, so twee weke die kwartaal in vloek ek soos ‘n matroos en dink aan drank!

  10. elizac het gesê op Februarie 18, 2012

    Die kreef raak gewoond daaraan…

  11. frandr het gesê op Februarie 19, 2012

    As jy jou saak stel soos wat jy hier gedoen het, kan die uitslag net positief wees. Dis jammer dat die kollega attitude het, mens kom nie ver met so iemand nie. Gelukkig is hulle, nes ons, “nie almal so nie” – maar dit weet jy, want anders sou jy nie soveel moeite vir jou universiteit gedoen het nie. Sterkte!

  12. elizac het gesê op Februarie 19, 2012

    Jy’s heeltemal reg. En ek en hierdie man het nou nogal ‘n goeie verhouding. Het ek gedink. Môre sal ek nou maar die pad na sy kantoor toe vat en hom van aangesig tot aangesig spreek.

  13. frandr het gesê op Februarie 19, 2012

    Baiekeer kom ‘n mens heel anders op skrif oor as wat jy eintlik bedoel het. Dalk is dit wat met jou kollega gebeur het en dan is ‘n gesprek net die regte ding!

  14. elizac het gesê op Februarie 19, 2012

    Ja, dis maar wat ek dink!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

1 terugspoor