by

MY BESKEIE MENING

Februarie 5, 2012 in Sonder kategorie

Nee, ek lieg. Hierdie mening is glad nie beskeie nie. Dis my mening. En julle sal my maar moet vergewe as ek so spring tussen al die goed deur waaroor ek ‘n mening het, want ek het nogal baie te sê oor ‘n verskeidenheid onderwerpe. Soos vele van ons hier.

Dit laat my altyd dink aan die ou grappie wat ek in ‘n krismiskrêkker gekry het toe ek so 12 was: My advice may not be worth anything, but at least it is free. (Ja, toemaar, gelukkig was daardie grappies nie die hoogtepunt van ons krismisse nie!)

Ek sien hier is nou weer ‘n bekgeveg of twee op litnet aan die gang. Waarom, sal niemand weet nie. Wie Anneke is, weet ek nie. Wie Anha is, weet ek nogal. En om die een of ander rede is daar altyd twee kampe wat hier in bekgevegte betrokke raak: die anti-Anha’s en die pro-wie-ook-al. Dan is die spulletjie ook nog so sensitief. Nou kyk, hier is my opinie oor Anha: ek dink julle wat haar so kruisig, is totaal en al verkeerd oor haar. Om die een of ander rede glo julle elke storie wat sy hier opdis, as die reine, onverbloemde waarheid. En dit net omdat sy eerlik was oor insidente in haar lewe.

Of was sy?

En as sy was, wat maak dit van julle wat haar eerlike momente teen haar gebruik in gevegte? Ek hoor nou juis van ‘n vrou wat haar man wil los, omdat hy die intieme goed wat sy met hom gedeel het, vir die wêreld gaan vertel het. Kyk, ek hou ook van skinder, maar ek vergeet gelukkig gou enige intieme storie wat ‘n vriendin met my deel. Mense wat hierdie intieme stories oorvertel, moet maar liewer ophou om daai mens se blogs te lees. Jy is eintlik dan nie meer welkom by die huis nie.

Dan het ons nog daai chinese man wat om die een of ander rede ook hier rondhang. Ek weet nie hoekom nie. Ek aanvaar sy Mandaryns is nie goed genoeg vir ‘n blog nie. Ek aanvaar ook dat hy eintlik maar net kyk hoeveel reaksies hy kry.

Dan sien ek die mense wat opinies rondgooi oor kinders en wat jou kanse is om ‘n kind te hê as jy manloos is, of as jy al veertig is. Hierdie mense moet tog asseblief in die toekoms versigtiger omgaan met ander se siele. En Anha, as jy regtig ‘n kind wil hê, kan jy enige tyd na die saadbank gaan en vir jou ietsie gaan uitsoek. Ek, wat ‘n Christen is, sal dit vir jou aanbeveel as ‘n opsie. Daar is ook ander opsies, maar dan noem die spul jou weer ‘n hoer, en ek het mos maar probleme met die rondslapery, aangesien dit weer tot allerhande ander probleme lei. En jy wil mos nou nie ‘n slegte voorbeel vir die fiktiewe ou kindjie wees nie.

O, en dan sien ek hier is iemand op die blogs wat kapsie maak oor die doemnies wat gaan fiets ry met sy eie ou fietsie wat hy uit sy armsalige salarissie gaan koop het. My genade! Kla julle net so as ‘n onderwyser vir hom/haar ‘n fiets koop? Of ‘n staatsdiensamptenaar? Maar wag, ek dink ek moet hierdie onderwerp by ‘n latere geleentheid aanspreek. Dan kan ek sommer vir julle vertel wat ek alles met my salaris moet doen.

Dinsdag moet ek vir my jaarlikse mammogram gaan asook ‘n beendigtheidstoets. Sal seker weer die hele oggend in beslag neem en my moedeloos laat. Dan maak dit my so hartseer as ek sien hoe ander mense soos hoenders in die stof rondskrop en pik-pik-pik na mekaar, asof hulle daar iets kan uit wen.

NS My opinies sal definitief nog vervolg. Hier is temas waarna uitgesien kan word: kinders, obsene vertoon van geld, die onderwyssisteem, speel by die werk. Laat my net eers ‘n bietjie klaar dink.

11 antwoorde op MY BESKEIE MENING

  1. Sterkte vir Dinsdag!

  2. elizac het gesê op Februarie 5, 2012

    Dankie.

  3. elizac het gesê op Februarie 5, 2012

    Dankie.

  4. Mooi!!! Is dit enigsins nodig om ons monde uit te spoel oor wat ander skryf. As ons nie saamstem nie, ignoreer dit maar net. Verdraagsaamheid is nie té swaar nie. Sterkte vir die week. Ek moet ook weer die maand gaan vir toetse en analises.

  5. Daar is groter dinge as bekgevegte!
    bv. Seun, 18 in matriek met klierkanker..

    Honger kindertjies wat oor die tuinmuur vra vir ‘n mango.

    Dronk ma’s by die atletiek en hulle kinders weet nie waar om hulle koppe in te steek nie,
    ens..

    Dink aan jou vir Dinsdag
    xxx

  6. Neander het gesê op Februarie 6, 2012

    Ek deel glad nie jou standpunt nie.
    Hierdie is ‘n openbare blog en enigeen kan oor enige onderwerp hier skryf en kommentaar.

    Ek het al vantevore ook die standpunt gehuldig. Die oomblik wat jy hier skryf, veral persoonlike gedagtes, word elke woord in die openbare domein geplaas en dan moet elke blogger die gevolge van die woorde dra.
    Dis juis die probleem, baie bloggers deel persoonlike geheime, wat mens eintlik in ‘n e pos aan vriende/vriendinne stuur en verwag dan geen of net positiewe kommentaar.

    Dis ongelukkig nie hoe werklike wêreld werk nie.
    Moenie blog as jy nie die gevolge kan vat nie.

  7. TS het gesê op Februarie 6, 2012

    Ja ek stem saam.

  8. As jy nie hou van wat iemand blog nie, hou verby en lees dan net die wat jou pas. BTW, geen mens kan ander judge nie, want niemand is vlekkeloos nie! My beskeie mening. Sterkte vir die toetse!

  9. elizac het gesê op Februarie 6, 2012

    Presies my punt!

  10. elizac het gesê op Februarie 6, 2012

    Ek weet nie eintlik wat jy probeer sê nie. Het jy al gaan kyk hoe mense op ander blogs reageer, bv blogspot? Ek het nog nooit sulke haatdraendheid daar opgelet nie – en dit teenoor iemand wat jy nie regtig ken nie.

  11. elizac het gesê op Februarie 6, 2012

    Geen wonder dat SA ‘n land is met meer moorde as padsterftes nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.