by

EN DIE SAGA HOU NET AAN

Oktober 5, 2011 in Sonder kategorie

As jy dalk binnekort ‘n nuwe selfoonkontrak moet kry, of van verskaffer wil verander, sal ek jou aanraai om Cell C liefs te vermy.

Lees bietjie hier:

http://blogs.litnet.co.za/elizac/en-so-gaan-ons-voort

sodat jy kan verstaan waaroor ek praat. Lees ook sommer die vorige pos as jy ‘n tydjie het. Net so vinnig. Daardie posse is al 21 Januarie 2011 geskryf. EK HET STEEDS NIE MY FOON TERUG NIE, en my kontrak verval 21 Oktober 2011! Ek het nou al letterlik ure in die plaaslike tak bestee (sonder koffie) en al tantrums gegooi, maar niks help nie.

Intussen sit ek met ‘n “leenfoon” van Cell C en sonder my nommers. Die hartseerste vir my is dat ek talle boodskappe op my ou foon gestoor het van mense wat net ‘n ietsie vir my wou sê om my gedurende 2010 te ondersteun. Oulike boodskappe. Hartseer boodskappe. Geestelike boodskappe. En tensy ek my foon terugkry, is hulle verlore.

Verder is daar ook nommers van kankerpasiënte wat saam met my chemo gekry het. Mense wat ek graag sou wou kontak om te hoor hoe dit nou met hulle gaan. Maar ek kan nie, want ek het nie meer die nommers nie. Dis ‘n totale skade.

Gister bel so ‘n dogtertjie van Cell C se “Customer Care”. Ja, hulle sal graag die probleem wil uitstryk. Nou gaat sy mal daar op die rekenaar. Ek hoor hoe tik sy. Maak my al klaar die josie in, want moes sy nie die inligting bymekaargemaak het voordat sy op die foon geklim het nie? Nee, seg sy my, die foon van my is reeds teruggestuur na die winkel toe. Klaar reggemaak.

Nou’s ek mos ook al ‘n tydjie in die land. Wanneer is die foon teruggestuur Oos-Londen toe? Ja, in Mei 2010. Ek sê Koekie, maar dis mos nou onmoontlik! Ek het my foon eers Januarie 2011 ingegee vir regmaak! Hou net aan, en daar sak sy weer op die rekenaar toe.

Eliesabif, sê sy (ja Eliesabif, nie Elisabet nie en ook nie doktor nie, asof sy my ken), is jy seker die MMI of EMI of watookal se nommer is korrek? Nou probeer ek vir haar ‘n ander nommer gee. Nee, antwoord sy, sy kan nou nie met daardie nommer werk nie. Dis ‘n nuwe navraag.

Kry ek amper ‘n hartaanval. Koekie, skree ek, ek weet jy het nie die probleem veroorsaak nie… Val sy my in die rede: Ja, ek het nie die probleem veroorsaak nie. Moenie op my skree nie. Skree ek terug: Koekie, dan moet jy vir my luister en ophou om my in die rede te val voor ek my sinne klaargemaak het. Jy kan nou vandag besluit of jy deel van die probleem gaan wees, en of jy die probleem gaan help oplos.

Hou net aan, sê sy, en speel daardie irriterende musiek in my ore.

Toe’s daar ewe skielik ‘n meer volwasse stem op die foon: Doktor, noem sy my, en spoor tjoef-tjaf my foon op (presies waar dit begin Februarie was) en sê hulle kan nie my “incidence form” kry nie (dieselfde vorm wat ek nou al ten minste twee keer vir hulle moes faks, en elke keer op my tyd) en kan ek asseblief weer een invul? Sy stuur sommer vir my een per e-pos.

Ek wag steeds vir die vorm.

Intussen het ek al navraag gaan doen oor ‘n ander kontrak. Enigiets, solank ek net nooit weer met Cell C moet praat nie.

6 antwoorde op EN DIE SAGA HOU NET AAN

  1. TS het gesê op Oktober 5, 2011

    Mens kan dit amper nie glo nie… sterkte. Ek dink ook nie die ander maatskappye is juis beter nie

  2. elizac het gesê op Oktober 5, 2011

    Oh grace! I do hope the new customer service laws will work in my favour, as I did terminate my contract with them.

  3. elizac het gesê op Oktober 5, 2011

    Dis waarvoor ek ook bang is!

  4. shlwanjan het gesê op Oktober 5, 2011

    Ek het slegte nuus vir jou. Het self al twee keer die maaaaandelange pad met cell c gestap, met foonherstelwerk. Hardeware probleme. Elke keer as ek na etlike maande eindelik die foon teruggekry het, was dit ge-format. Geen data op nie, niks nommers, of boodskappe, of selfs die applications wat ek oorspronklik saam met die foon gekry het nie. En mens han maar huff and puff and threaten to blow their house down, daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie, sê hulle.

  5. elizac het gesê op Oktober 5, 2011

    Ek huil sommer inniglik.

  6. Rof.

    Niks lekker nie, en die mense wat die diens moet lewer is patete…

    Sterkte!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.