by

EN HOE’S DIE WEER MôRE?

Oktober 2, 2011 in Sonder kategorie

Ek vermoed ons Suid-Afrikaners het ‘n obsessie met die weer. Moontlik stam dit af van ons oerverbintenis met die grond, want anders het ek nie ‘n verklaring vir die gedwongenheid om aand vir aand die weervoorspelling dop te hou nie. En dan kwaad te raak vir die voorspeller indien dinge anders uitdraai.

Of dalk het dit te doen met die idee dat ons beheer oor ons lewens het, en die een ding wat ons nou nie kan beheer nie (of so dink ons), is die weer. Dus, as ons vooraf weet wat die son of die wind of die wolke gaan doen, dan kan ons ten minste probeer om ons kleredrag ten opsigte van die son of die wind of die wolkte te beheer.

So laat weet my man my vanaand: Onthou, dis môre 14 daar waar jy werk. En daar is 80% reën. (Na al my verduidelikings dink hy nog steeds 80% reën beteken dat dit 80% van die tyd gaan reën. Ek sê al man, as daar twee druppels geval het, dan was die weervoorspeller eintlik 100% korrek!) Hy het in die stad grootgeword, so daar kan geen logiese verklaring gegee word vir sy obsessie met die weer nie.

Ons sê gewoonlik ons kyk die weer, sodat ons kan weet wat om die volgende dag aan te trek. Maar jy kan mos nou maar net sowel die volgende oggend vinnig deur die venster loer en so probeer vasstel wat die weer gaan wees. Of loop ‘n draai om die huis. Dan weet jy mos nou dis koud, of warm. En dan vat jy maar ‘n truitjie saam wat jy later kan uittrek indien dit warm word, of kan aantrek indien dit koud word. Ons doen dit in elk geval, vir ingeval die weervoorspeller verkeerd was.

Dus het ons nou, heeltemal buite seisoen, ‘n dag van veertien grade wat glo vir ons voorlê. Ek sal maar my skaapvelsteweltjies aantrek. En my eie raad volg vir die res van die uitrusting.

7 antwoorde op EN HOE’S DIE WEER MôRE?

  1. Berwick het gesê op Oktober 3, 2011

    Yes, ek dink dit het te doen met die idee dat ons beheer oor ons lewens het.

  2. TS het gesê op Oktober 3, 2011

    hehehe… hoe ontstellend waar is dit nie Ek sal die hele nuus mis maar doen niks terwyl die weerberig aan is Soggens spring uit die bed na my dorp se temperature en dit nadat ek dit al gister gesien het!

  3. Oer verbintenis…jy’s reg, dit was toe ons nog gebid het en geweet het sonder reen van God af, vrek alles en almal.

  4. lora2me het gesê op Oktober 3, 2011

    Ons lewe hopeloos te gestruktureerd en dis hoekom selfs die weer beheer(s) moet word. My man het tot ‘n weerstasie met temperature en humiditeitsvlakke op. Jaaaa, so erg word dit hier in my huis.

  5. Maar die weer se nie vir mens as ‘n tornado jou dorp gaan ruk nie, dis ‘n “rude awakening” as jy die dag daarna al die huise sien wat verwoes is!

  6. 🙂

  7. elizac het gesê op Oktober 4, 2011

    O gits! Ek sal dit liewer nie vir my geliefde vertel nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.