
In Athene was daar hierdie kafee wat die wonderlikste baklava verkoop. Nie daardie ou pieperige stukkies wat mens ten duurste hier in Suid-Afrika aangepresenteer word nie, maar ‘n lieflike sny, met neute en heuning wat daaruit drup. So het ons in Januarie twee keer daar gaan baklava eet – sodat ek vir ‘n week daarna nog nie ‘n soetding oor my lippe kon kry nie. En so sien ek toe al amper ses maande uit na daardie stukkie baklava in Athene. Terwyl die lewe my dan nou weer eens in daardie rigting gestuur het – die keer vir werk.
Hier teen dag drie in Athene kon ek dit nie meer hou nie, en manlief en ek sit af na die Metro Kafee op die Monastiraki Plein. Dis ook die Monistiraki Metrostasie, en saans heers daar ‘n heerlike atmosfeer met jongmense wat oral sit en mense wat musiek speel en selfs Afrikadromme.
Die grootste probleem wat ek in Athene ondervind, is die gerokery. Nou kyk, hulle het ook allerhande oulike rookwette, maar hulle pas dit nie toe nie. Verder rook die oorgrootte meerderheid van die bevolking, so ‘n nie-roker is die vyand. Klaarblyklik, het ons eens gids gesê, rook ongeveer 85% van die bevoking en hulle begin rook sodra hulle twaalf word. So moet ‘n mens gedurig jou weg tussen ‘n klomp rokers deur baan om uiteindelik by ‘n plek te kom waar jy in veiligheid kan sit en eet.
Nou wat het rook met baklava te doen? Wel, as jy jou baklava rookvry wil geniet, moet jy binne die restaurant sit. Almal mag buite rook, maar nie binne nie.
En so kry ons toe (weer eens) te doen met die eienaar wat die wette afdwing vir sy kelners, maar nie vir homself nie. Stap ons by Metro in en daar sit meneer agter sy rekenaar en hy rook lustig onder die rook verbode tekens. Vra ons die kelner hoekom rook die man in die restaurant? Hy trek net sy skouers op. Toe stap ons maar uit – ek met my lus vir baklava so net-net onder beheer – en ons gaan spandeer so 30 Euro in ‘n ander restaurant.
Twee dae later stap ons weer daar in. Niemand rook nie, maar die kêrel wat die vorige keer daar gesit het, sit agter die toonbank en speel rekenaarspeletjies. Kort-kort pieng dit daar van agter. Rook hier iemand? vra ons mooi vriendelik. Nee, sê die kelner. Maar dit ruik na rook – ou rook wat in bekleedsel ingetrek het. Maar ek lus daai baklava. Dus bestel ek ‘n koppie tee en ‘n stuk baklava, maar kort daarna kom ek agter my baklava kom nou met ‘n geurtjie. Waarlik sit die kêrel agter die toonbank met ‘n sigaret waaraan hy teug, en dan laat sak hy dit so skelm langs die kant weg. Sodat ons nie kan sien nie.
Ek sê vir my man hiermee kan ek nie saamleef nie en gaan vra mooi vir die man of hy dalk die eienaar is. Ja, sê hy. Nou ja, sê ek, ons hou nie daarvan dat hy rook nie. Gaan hy nou te kere oor hoe kan ons dit ruik, want hy sit tien meter (nee, seker so drie meter) van ons af. Dit verstom my altyd: mense wat rook en dus nie veel van ‘n reuksintuig oor het nie, vertel vir my dat ek dit nie kan ruik nie. Asof hulle nou sal weet wat ek kan ruik. Maar hy druk eventueel sy sigaret in ‘n blikkie dood en sit en brom in sy lippe.
Ek en my geliefde is toe nou nogal omgekrap, want die vredevolle teetjie en baklava, ontaard toe nou in ‘n insident. Praat so ‘n bietjie oor die wette in die land en ons regte – alles op Engels, sodat die kêrel ons kan verstaan.
Toe ons opstaan om te loop, toe begin die skepsel weer daar van agter die toonbank: hoe ons die ander dag in sy restaurant ingeloop het en gesien het dat hy rook en dat ons toe buite gaan sit het. Nee, sê ek, ons het nie buite gaan sit nie; ons het daardie aand 30 Euro by ‘n ander restaurant gaan spandeer en dis 30 Euro wat in iemand anders se sak beland het; nie syne nie. Gaan hy aan oor hoe onbeskof ek is, want ek skree op hom. Nee, seg ek, jy’t eerste geskree. Yes, but I am speaking in your language, sê hy vir my. Ek dink hy bedoel omdat Engels sy tweede taal is, klink hy dalk net onbeskof vir ons. En hy impliseer natuurlik dat ons nie kan Grieks praat nie, maar dat hy wel ons taal kan praat. Toe help ek hom vinnig reg.
Where are you from? vra hy, en ek sê: Suid-Afrika. En hoor net wat sê hy: Well, you go and talk to your blacks like that. We are Europeans and you don’t talk like that to us. Maar ek strip my moertjies in triplikaat en vertel hom toe mooi: my children are black! How dare you, you rude man! Vertel hy mos vir ons maar hy sit vyftien uur per dag in die winkel en hy kan nie elke keer uitstap om te gaan rook nie. Maar my man vlieg hom daar in en skree: Ons was hier in Desember ! En jy was nie hier nie! Ons was hier in Januarie! En jy was nie hier nie! Ons sal nooit weer hierheen kom nie, want jy is onbeskof! Ek sê vir die man: jy is onbeskof en dis jou skuld dat jou restaurant leeg is. Jou kelners (die staan almal rondom ons en maak groot oë) is geëmbarasseerd deur jou optrede! Gaan kyk bietjie rondom jou! Al die ander restaurante sit gepak, maar joune is leeg! En dis jou skuld!
Europeër? Ek dink nie so nie. As hy ‘n Europeër was, het hy respek vir die wette van sy land en die Europese Unie gehad.
So, hier is nou ‘n boodskap vir al die rokers daar buite: as jy wil rook saam met jou baklava, gaan na Cafe Metro net oorkant die Monastiraki Stasie in Athene. Vir al die ander mense: ek sal aanbeveel dat jy ‘n ander plekkie gaan soek wat ook lekker baklava verkoop.
Onlangse kommentare