by

VOLSTRUISGEVOEL

Julie 3, 2011 in Sonder kategorie

Ek was hierdie week so ‘n bietjie depro. Ek dink die negatiwiteit van my omgewing is uiteindelik besig om my in te haal – ons Suid-Afrikaners kla mos so aanhoudend en alles is net altyd sleg. Dus vermy ek maar die nuus en mense wat sit en kerm oor Julius Malema en hoe die land teen 2020 uitmekaar gaan val. Verder het die Pink Chicks Dinsdag weer gaan voete was in die chemokamer en daar was so ‘n depressie wat daar gehang het. Een vrou het, terwyl ek haar voete was, spasmas gekry van die Taxotere en met ‘n gepynigde geskreeu op my skoot beland. Terwyl die suster haar ignoreer. Partykeer raak ek sommer woedend wanneer ek daar is: die swart susters, lyk dit my, dink nie hulle swart susters se pyn is werklik nie. En ek weet hulle kan lekker aansit, maar wie is jy om namens my te besluit of ek werklik in pyn is of nie? As ek vir jou sê ek is in pyn, dan beter jy my glo en my help. So eindig ek toe met ‘n vrou op my skoot, en, al is ek self nie ‘n liggewig nie, was daar nie ‘n manier wat ek haar op die stoel kon terugkry nie. Intussen sit sy my bene dood, en niemand kom help nie.

En so sit ek toe daar op die vloer en onthou daardie sêding wat ons in die KJA geleer het: dis makliker om iemand af te trek as op te help. Maar ek smaail maar so tussen die moerigheid deur.

Dan moet ek nog luister na mense kla oor hul lewens. Hoe sleg dit finansieel gaan. Hoe hul gesondheid nie lekker is nie. En en en. Sulke tye wil ek sê: wat wil jy nou hê moet ek vir jou sê? Ek verstaan dat sekere dinge vir mense ‘n krisis is, maar as dit ‘n oplossing het – al duur dit lank – is dit nie ‘n krisis nie; dis bloot ‘n probleem. Ek verstaan ook dat daai ding op daardie moment vir jou baie erg is, maar werklik, ‘n gebreekte toon is in my oë nie die grootste probleem op aarde nie, en dit sal verbygaan. Terwyl jy so sit en kla, sit ek voor jou met ‘n tiet wat trek en ongemaklik is; met ‘n linkerarm wat bly opswel en wat bydra tot die ongemaklikheid. Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie bewus is daarvan dat ek ‘n vals bors aan die linkerkant het nie. Die enigste tyd wat ek dit nie voel nie, is wanneer ek slaap.

En terwyl jy so kla, het Mike gesterf aan kolonkanker.

Ek het werklik nie nodig om na al hierdie geteem te luister terwyl die depressie so op my kom lê nie. Vandag het ek vinnig gaan lees oor die newe-effekte van die Tamoxifen wat ek elke aand vir die volgende vyf jaar moet sluk. Ek weet nie hoekom ek vir daardie moment uit my volstruishouding gekom het nie, want ek neem die medikasie nou al nege maande sonder dat ek gaan uitvind het wat die newe-effekte is. En dis nou nie asof dit inligting is wat my laat beter voel nie. Dis ook nie inligting wat my enigsins meer vertroue in die mediese wetenskappe gee nie.

Dus gaan ek nou maar weer my kop onder die sand druk.

En as jy wil kla, gaan praat met die muur.

6 antwoorde op VOLSTRUISGEVOEL

  1. lora2me het gesê op Julie 3, 2011

    Ja, jy’s reg. Party mense gaan soek vir iets om oor te kla omdat hulle heelwaarskynlik aandagvrate is. Sterkte vir die mense met die groot K – ek bewonder jul deursettingsvermoë.

  2. elgado het gesê op Julie 3, 2011

    Ag jinne man, dis maar sleg, Elizabeth! Ek weet nie hoe om te troos nie, behalwe om te se: dis jou reg om ook op ‘n dag sleg te voel en dit vir mense te laat weet. Baie sterkte vir daardie chemo, ek hoop jy drink vitamines? Ek het ‘n vriendin wat ook daardeur is… en op dae kon ek net saam met haar of oor haar huil. Maar dis nou al twee jaar en sy lyk en voel baie beter, so byt maar vas en neem daai “Nutrilite double X” (dis wat sy drink).

    Baie baie sterkte jong.

  3. Geitjie1 het gesê op Julie 3, 2011

    Sterkte Elizabeth, vasbyt! ‘n Groot druk vir jou met jou stryd.

    Die mense wat die minste kla, het dikwels rede om die hardste te kla! En die klakouse, moet hul seëninge tel.

  4. elizac het gesê op Julie 3, 2011

    Ek’s klaar met chemo. Gaan net chemokamer toe om mense op te cheer, maar dit help nie altyd nie. Dan was ons voete en masseer roompies in en so aan. Maar dankie vir die sentimente!

  5. elizac het gesê op Julie 3, 2011

    Elke keer as ek in die chemokamer kom, is ek so dankbaar dat ek nie meer daar hoef te sit nie. En bly bid: asseblief Here, nie weer nie.

  6. elizac het gesê op Julie 3, 2011

    Partykeer voel ek ook net na kerm. Maar jinne, daar is so baie goed om voor dankbaar te wees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.