NEOPHEDAN
Julie 3, 2011 in Sonder kategorie
Nou ja, hulle sê mos gedeelde leed is halwe leed, so kom ons kyk of dit help as ek die newe-effekte van my medikasie met ander mense deel. Ons borsbuddies praat sommer almal van Tamoxifen, maar eintlik gebruik ek Neophedan. Klaarblyklik is Tamoxifen die generiese produk. Hier is die newe-effekte:
- warm gloede (het ek, maar gelukkig net in die kop)
- edeem (het ek – so ‘n ou pofferige handjie)
- vaginale bloeding
- pruritus vulvae (‘n gejeuk jy-weet-waar)
- ingewandstoornisse
- lighoofdigheid (ja)
- uitslag (ja)
- hypocalcaemia – lae kalsiumvlakke (Sal eers weet as ek begin bene breek)
- verminderde bloedplaattelling
- verminderde witbloedselle
- hoofpyn (ja)
- depressie (ja, veral met al die negatiwiteit rondom my)
- moegheid (ja, net ‘n vitamine B-inspuiting help)
- deurmekaar (ja, maar ek weet nie of dit normale deurmekaar is en of dit aangehelp word deur die medikasie nie)
- beenkrampe
- voortydige haarverlies (en hulle sê my nou eers? Dit terwyl ek my ou haartjies so mooi met perdesjampoe versorg)
- droë vel (wel, dis redelik normaal vir my)
- trombose
- endometriese veranderinge
- menopouse (ja, het ek)
Dan word daar ook so tussenin laat val dat hierdie medikasie lewerkanker in rotte veroorsaak het. Dit laat ‘n mens natuurlik baie goed voel. Ook is daar klaarblyklik ‘n kans op baarmoederkanker indien die persoon aan wie dit toegedien is, nog nie in menopouse is nie. Wat ek nie was nie, maar nou is, as gevolg van die medikasie. (Dit laat my altyd so ‘n bietjie beneuk voel as mense vir my raat het vir die warm gloede, en hulle besef nie dat ek GEEN medikasie mag gebruik om my hormone aan te wakker nie. As ek nie warm gloede wil hê nie, moet ek net ophou om die medikasie te gebruik. Dan sal my liggaam weer normaal funksioneer. Met die gepaardgaande risikos.)
Og, laat ek liewer my tas gaan pak. Ons vlieg môre Duitsland toe en daarna na Athene vir ‘n kongres.
Onlangse kommentare