by

VAN UITSTEL…

Junie 19, 2011 in Sonder kategorie

… kom moeilikheid. Want party dinge kan jy net nie afstel nie, al wil jy hoe graag. Ek’s mos ‘n super-uitsteller. Het al op universiteit dikwels deurnag gewerk, omdat ek eers ander, interessanter goed gedoen het eerder as ‘n taak uitgewerk het. (Ek wonder nog altyd hoeveel punte ek sou gekry het as ek nou getrou gewerk het, maar dis water onder die brug, en nog soortgelyke clichés). En dan is die duiwel mos getrou en net sodra jy gaan sit om ‘n slag iets te doen, dan steek hy (of sy?) ‘n liederlike stokkie voor jou planne.

Soos vanaand. Om die een of ander rede bevind ek my op die oomblik in ‘n posisie waar ek tegelykertyd aan twee referate moet werk. En môre twaalfuur sien ek my een kollega om ‘n bietjie te praat oor ons bevindinge, en ek het nog nie ‘n snars gewerk nie. Behalwe om inligting bymekaar te maak. Sou vanaand so ‘n bietjie deur die bevindinge gewerk het, aangesien die ander referaat hierdie afgelope week ietwat dringender was. Terwyl ek dié oor drie weke moet lewer, en die ander een eers in Augustus.

Maar natuurlik kan ek nou glad nie my werk e-pos oopmaak nie. Dis die boodskap wat ek kry:

Service unavailable!

The server is temporarily unable to service your request due to maintenance downtime or capacity problems. Please try again later.

If you think this is a server error, please contact the webmaster.

Nee, ongelukkig kan ek nie op ‘n Sondagaand om kwart voor ag die webmeester kontak en vir hom/haar aansê om alles aan die gang te kry net sodat ek my werk – wat ek tot op die nippertjie uitgestel het – kan doen nie. Ek sal maar môre-oggend vroeg weer moet probeer. Hopelik is die probleme teen half 9 opgelos…

Dus sal ek nou maar die ander joppie moet gaan pak wat ek nou al weke uitstel: om al my krale in hul plekke te kry. Ek ratel eintlik van opgewondenheid. Dis so opwindend soos om my tone te kou. Maar nou ja, ek het Meimaand as verskoning gebruik om nie die krale te organiseer nie, en dié is ook nou al amper drie weke verby.

HELP! Selfs die boek met feite oor Vigs is interessanter!

3 antwoorde op VAN UITSTEL…

  1. shlwanjan het gesê op Junie 19, 2011

    Sterkte!

  2. Daai gesegde “As die son sak in die weste…” is spesiaal vir my geskryf. Snaaks genoeg, ek hou nie van druk nie maar vir ‘n onverklaarbare rede floreer ek onder druk.

  3. loudavisi het gesê op Junie 19, 2011

    My kammie, toe ons geswot het, het altyd haar take in haar kas toegesluit. Als voor die tyd klaar, naweke en vakansies deur haar ma gedoen. Ek het die nag voor die ingeetyd deurgewerk en het telkens meer punte as haar ma gekry.

    Onder druk werk ons mos met oorgawe.
    Ek kan altyd jou krale kom sorteer terwyl jy die slimwerk doen
    ; 0

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.