by

‘N REëNDAGSTORIE – TERWYL DIE SON VIR ‘N SLAG SKYN

Junie 14, 2011 in Sonder kategorie

So met die lang reën saam dink ek mos aan die tyd toe ons in ons ou huisie ingetrek het. Ek’s met langverlof om my D klaar te maak en het dus baie tyd om op die gras in die son te sit en onkruid uit te trek – die vorige huisbewoners was klaarblyklik nie juis tuiniers nie, en hulle enigste bydrae tot wat eintlik ‘n sokkerveld is, was ‘n poging tot trench gardening. Vermoed ons. Want dit is al waarop die twee grafte in die agterplaas kan dui. Hoop ons.

Sien die Here seker die vrou gaan nie voor ‘n rekenaar uitkom nie en Hy stuur reën. Baie reën. Met die reën saam, kom die nuwe-huis-ellende. Die eerste ding wat ingee, is die elektriese hek. Ons het ‘n vriend se waentjie geleen en dié staan in die oprit. Met ‘n oop hek. Die beste waaraan ek kan dink, is om die waentjie te haak en tot in die agterplaas te sleep waar dit buite sig van nuuskierige oë en vlytige hande kan staan. Netnou staan die sleepwa wielloos, en met huiskoop is daar nie begroting vir ekstra wiele nie.

So gesê, so gemaak. Waentjie in die agterplaas en ek gaan maak ‘n wye draai met my Astratjie om die grafte te vermy. Wip-wip oor die gras en draai. En dis met die draaislag wat daai Astra vashaak en nie wil verder nie. Die kar sit seker nie eens ‘n halwe centimeter diep in die grond nie, maar dit wil nie beweeg nie. Voorwielaandrywing.

‘n Vriend met ‘n ernstige 4X4 sê hy sal kom uitsleep. Hy en sy gesin is op pad na ‘n gospelkonsert, maar sal sommer voor die tyd ‘n draai maak en dinge regmaak. Kom hy met gesin en al om die hoek, en die ernstige 4X4 stuit net daar in sy spore – maak dit nie eens tot by die grafte nie. Kos hom ‘n ander vriend bel om hom te kom uitdraai uit ons tuin uit. Amper laat vir die gospelkonsert en my Astratjie staan nog steeds in die agterplaas.

Manlief (op daardie stadium nog nie manlief nie, net mede-eienaar, maar dis ‘n ander storie) moet die Sondag teruggaan King William’s Town toe en so word ek voertuigloos by die huis gelos. Maar dis mos nou nie ‘n probleem nie, aangesien ek moet studeer en die naaste Spar sowat 800 meter van hier is.

Seg ‘n kollega van my hy sal my kom uittrek met sy Landrover. Landrover kan alles. Net sodra die reën so ‘n bietjie lig, dan kom hy. Daag hy toe ook die Woensdag daar op. Die Landrover wip-wip oor die grassies en hy gooi ‘n draai oor die grafte. Ons kry my karretjie so ‘n skeutjie gestoot, maar kollega sê hy gaan net gou agterom ry en dan… En net daar steek die Landrover vas. En nie sommer bietjie nie: sak tot by die naaf in die grond in weg. Ons probeer met planke en bakstene, maar die Landie weier steeks. Kos kollega om sy kêrel te bel om hom te kom haal. Hy sal die Landrover kom uitgrawe sodra die grond droër is.

So staan die Landrover en die Astra toe ewe gesellig in die agterplaas.

Teen die volgende Saterdag is ek al ‘n bietjie kriewelrig. Mens raak mos lus vir bietjie rondry as jy nie kan rondry nie. Gelukkig skyn die son toe al van Woensdag af. Kollega bel en sê hy gaan gou kom kyk of hy die Landrover kan uitkry en dan trek ons sommer my kar ook uit. Dit hoes en blaas en stoot. Ons druk bouplanke onder die wiele in. Die Landrover sit. Ek bel solank vir vriend die meganiese ingenieur. Hy’t net so ‘n ernstige 4X4 met ‘n winch en dié sal darem seker die Landrover kan uitkry. Intussen sukkel my vrolike vriend met die Landrover. En met die gesukkel, kry hy vastrapplek en daar wip-wip die Landrover ewe gelukkig oor die grasperk. Hy gooi weer ‘n es en kom terug. En nou? sê ek. Nou trek ons jou kar uit, seg my vriend. En hy haak my karretjie se voorkant aan sy Landrover se agterkant en hy sê: as ek sê gaan! dan draai jy daai stuurwiel na regs en jy kom! En toe hy sê: Gaan! toe draai ek daai stuurwiel en my kar spring meteens teen 90 grade na regs en ons wip-wip oor die grafte en uit.

Ek vra vir vriend of hy wil bietjie koffie hê. Nee, seg hy, hy moet by die huis kom. Kêrel wag. En terwyl hy so bakarm oor die oopgedraaide venster leun, sê hy: Ek’s bly ek kon jou kar uitkry voor jou meganiese ingenieursvriend opgedaag het. En met ‘n glimlag voeg hy by: Ek mag gay wees, maar ek is nog steeds ‘n man!

3 antwoorde op ‘N REëNDAGSTORIE – TERWYL DIE SON VIR ‘N SLAG SKYN

  1. net myself het gesê op Junie 14, 2011

    Hehehehe ek het nou lekker gelag vir die petalje, dankie! En stilletjies moet ek erken ek is ook bly die Landy het toe die ding gedoen, ek like nogal van Landies.

  2. shlwanjan het gesê op Junie 19, 2011

    Mooi, man {-;

  3. shlwanjan het gesê op Junie 19, 2011

    Nou laat jy my dink aan die keer toe my man en sy vriend vasgesit het in die rivier op vriend se plaas. Die Landrover gevloed tot bo-oor die sitplekke. Trekker gaan haal om uit te trek. Trekker gebreek op pad…. lang storie, maar toe hulle uiteindelik na amper ‘n dag die Landy uit het, kom hulle agter die oorspronklike probleem was dat hulle eintlik in die middel van die riviertjie sonder diesel gaan staan het…want die brandstof meter werk al jaaaare in elk geval nie meer nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.