by

KERKBASAAR

Junie 5, 2011 in Sonder kategorie

Meimaand by my is soos Desember by ander mense: chaos. Dis die einde van die semester, die studente skryf eksamen en alle punte en werkstukke moet in wees en klaar wees. Jy probeer vir oulaas nog hand op die stuur hou en die studente “omhoog begelei” voordat jy ook – uiteindelik – moed opgee en net klaarmaak. En dan is dit net genade dat jy en jou kollegas dit lewend tot die einde van die semester maak, of dat een van julle nie in die tronk beland nie.

Voeg nog by die normale chaos ook die kerkbasaar. Want ja, die eerste Vrydag in Junie is ons gemeente se basaar, en hierdie tannie het so ‘n paar jaar terug aangebied om die handwerktafel te behartig. Sommer so sonder wyk en begeleiding van die ouderling en die diaken. Met die hulp van ‘n paar vriende en enkele gemeentelede wat hul tyd opoffer om goedjies te maak. Want sien, ons is mos nou deesdae die basaartannies. Daai tannies wat agter die tafel staan en vriendelik glimlag en “my kind” sê en “wys my jou geldjies; dan sê tannie vir jou wat dit kos”. (So ‘n klompie jare gelede vra my vriendin eendag vir haar man: Wat het van al die basaartannies geword? En terwyl sy dit sê, besef sy: maar ons is die basaartannies!)

Dus sit ons die tradisies voort. Ek kan nie bak nie, en my poedings sal dit nie tot by die tafel maak nie, maar ek kan gate boor en skroewe indraai en verf en mosaïek en naaldwerk doen en brei en hekel en juwele maak – noem dit op. Ek kan ook slawedrywer speel, en Vrydagmiddae en Saterdagmiddae het ek en ‘n paar vriendinne rondom die tafel gesit en goedjies gemaak vir die tafel. Harte van lint. Harte van drukkersplate en met hars oor. Mosaïekkruise. Borde van papiermache. Skilderye met servette. Bewertjies van stywe papier. En op die manier probeer ek jaarliks die chaos van my verskeie obsessies rondom my wegwerk: ‘n obsessie met teddiebere maak, ‘n obsessie met scrapbooking (nie lank gehou nie!), ‘n obsessie met mosaïek, ‘n obsessie met hekelwerk, met breiwerk, met papiermache, met krale. Alles ter wille van die kerk.

En dan is daar elke jaar die heerlike verrassings: die tannie wat die mooiste naaldwerkstukke vir ons bring. Sakke en verrassingkies in organza; pennesakkies, oorgetrekte hangers, doedoesakke (geen idee wat dit is nie, maar dis pragtig!) Ook my vriendin – geen kerkganger nie – wat vir Barbie klere gemaak het, en ‘n vorige jaar pragtige borsspelde. Nog ‘n vriendin wat die oulikste harte en kruise gemaak het en met knope versier het. En ‘n ander een wat elke jaar klere skenk wat sy gemaak het: pragtige, vroulike stukke teen weggeepryse.

Elke jaar dink ek: ons het nie genoeg goed nie! En dan kom ek die Donderdagaand by die kerksaal en daar wag vir my naaldwerk, breiwerk, goeie handwerk. En Vrydagmiddag staan die mense al tou om te kyk wat op ons tafel is. Die een sê: hou asseblief die stuk vir my! Of: is dit regtig die prys? Ek wil almal hê!

En dis heerlik om te weet die mense hou van die goed wat ons verkoop (as daar mense is wat nie daarvan hou nie, moet hulle maar stilbly!)

Hier bo is ons tafel. Dit lyk maar armoedig, maar ek kan julle verseker dit het pragtig gelyk! Die skildery links onder is deur ‘n vriendin gemaak. Die hake regs onder was ‘n spanpoging.

Raak ek wel ontslae van die deurmekaarspul wat deur my onderskeie obsessies veroorsaak is? Nee, toe nie. Nou bring die gemeentelede vir my al hul oorskietlappies, oorskietwolle, oorskietlinte – kortom, alles wat hulle nie wil hê nie! En ek moet dit stoor…

3 antwoorde op KERKBASAAR

  1. loudavisi het gesê op Junie 5, 2011

    Wat ‘n kleurvolle stalletjie.
    Hoop julle het hope geld gemaak.

    Ek raak deurmekaar met so baie goetertjies in my laaie – linte en wolle ens.

  2. elizac het gesê op Junie 5, 2011

    My goed is alles in bokse georganiseer. Maar dit bly ‘n deurmekaarspul.

    Ons het R4416 gemaak. Ek dink dis heel oraait – ons pryse het gewissel van R3 tot R150.

  3. HeavyHenry het gesê op Junie 6, 2011

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.