by

BEDERF

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Ag, dan word ek hierdie naweek heerlik bederf terwyl my man en sy kollegas by die SAOU-kongres by Mpekweni Beach Resort is. En ek sit heerlik in die hotelkamer wat werklik op die strand is, en ek kyk na die lieflike blou see en die goue strand. (Komende van die Wes-Kaap het daardie liedjie van die “goue sand, waarop ons graag speel” my altyd vreeslik gepla, want die Wes-Kaapse strande is mos silwer; nie goud nie. Dus kon ek nie verstaan hoe hulle so opgewonde raak oor die goue sand nie.)

Kyk net bietjie hier:

Ons kamer is regs onder. Die foto het ek van hul webwerf afgelaai en dis ‘n bietjie deinserig, maar vandag is ‘n absolute Goddelike dag, met ‘n blou hemel en diepblou see en die goue sand.

Ons kamer is links onder op die strand. Die hotel se spitsdak steek bo uit. Dis waar die eetsaal en konferensiefasiliteite is. Die swembad is in die middel. Net jammer hulle het op die oomblik nie ‘n spa nie, anders was ek daar vir ‘n massering!

Ek geniet elke oomblik – selfs die hotelkos. Ek weet nie of hulle ‘n ander sjef het nie, maar gisteraand se kos was heerlik. Ek het net al die blikkieskos vermy – dis ‘n bietjie ver van die beskawing af, maar ek dink die boere in die omgewing voorsien van die vars produkte. Ook die poeding was heerlik: bruintjies (tog vir my so ‘n simpel woord, maar ek sal seker gewoond raak daaraan), creme caramel en gebakte gemmerpoeding. Die ander het soos tipiese hotelpoedings gelyk, maar hierdie was smaaklik verby.

Die hele omgewing maak my kreatief. Ek wil op die strand sit en skryf, of skilder. Ek wil ‘n lang ent gaan stap en met God praat. Ek wil ook hê Hy moet weet hoe dankbaar ek is vir ‘n ekstra jaar in my lewe, want verlede jaar hierdie tyd was ons ook hier. Dit was pas na my tweede chemo. Ek het geen hare gehad nie. Ek het soos ‘n spook gelyk met ‘n goedkoop pruik, en ek was angstig om met ander mense in aanraking te kom, want hulle kon my met hulle siektes aansteek. My arme man het hard probeer, maar niks was lekker nie.

Nou is ons weer hier. Dit is ‘n jaar later, en ek is ‘n ander mens. Op die oomblik verwys ek dikwels na “verlede jaar hierdie tyd”. Ek aanvaar dit sal ook verbygaan. Want eintlik vier ek die feit dat dit ‘n jaar later is. Ek sit dikwels met trane in my o? en dink aan die vrou wat ek verlede jaar hierdie tyd was. Ek wens ek kan vir haar sê dit gaan verby. Ek wens ek kan vir haar sê dat sy maar moet mislik voel wanneer sy mislik voel, en dat sy elke goeie oomblik moet geniet.

Ek wens ek kan dit vir almal sê. Op so ‘n manier dat hulle verstaan.

Halleluja! Ek gaan nou op daardie goue sand loop en my spore laat saam met die van die seemeeue en strandlopertjies.

11 antwoorde op BEDERF

  1. shlwanjan het gesê op Mei 20, 2011

    GENIET dit {-;

  2. FPet het gesê op Mei 20, 2011

    Ek is so bly jy kan saam gaan! Dit breek my hart wanneer mans op kongressies gaan en hul vrouens by die huis los. Dit maak glad nie vir my sin nie, ek sal nie my vrou by die huis wil los nie:)

    Geniet die sand, seemeeue en God se geselskap!

  3. TS het gesê op Mei 20, 2011

    Dit lyk vreeslik lekker … ek was ook eenkeer by ‘n SAOU kongres – grinnik… die sosiale lewe was meer interessant, maar mens bly doodstil.
    Geniet dit

  4. HeavyHenry het gesê op Mei 20, 2011

    Nice! Lyk sommer lekker!

  5. Modigliani het gesê op Mei 20, 2011

    Geniet elke oomblik en jy mag maar feesvier!

  6. elizac het gesê op Mei 20, 2011

    Partykeer gaan ek op my eie na ‘n kongres! Maar ek verkies dit as my man saamgaan.

  7. elizac het gesê op Mei 20, 2011

    Ag, ek is so geseend!

  8. elizac het gesê op Mei 20, 2011

    Dis baie mooier as die prentjies!

  9. elizac het gesê op Mei 20, 2011

    Dankie, ek doen so.

  10. HeavyHenry het gesê op Mei 20, 2011

    🙂

  11. elizac het gesê op Mei 25, 2011

    My man het my by die karaoke weggesleep…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.