by

VERKIESING

Mei 18, 2011 in Sonder kategorie

Ek is eintlik bietjie bang om hier te skryf vanaand. Omdat ek eintlik so ‘n bietjie wil skinder, en net so ‘n bietjie wil gal afgaan. Nee, dit gaan nie hier oor politiek nie, in elk geval nie politiek wat mense buite my werkskring sal van weet nie. En dit gaan definitief nie oor môre (later vandag) se munisipale verkiesings nie. Maar ek is vanaand hartseer en teleurgesteld. Omdat ek mos eintlik ‘n verskriklike positiewe mens is, en altyd die beste van mense verwag. En wanneer dit dan nie gebeur nie, is ek teleurgesteld.

Ek het vandag in ‘n verkiesing by die werk gestaan. Ja, dis ‘n redelike eienaardige situasie, maar die hoof van die departement word deur stemming verkies vir ‘n tydperk van vyf jaar. Dit is nie ‘n gewone pos nie.

Klaarblyklik is daar vooraf erg geskinder oor die meriete van die twee kandidate. So hoor ek toe deur die mondtelegram dat die feit dat ek ‘n Doktorsgraad het, glo teen my tel. Waarom, sal ek nou nie weet nie. Dit is tog ‘n akademiese instelling. (Die ander kandidaat het natuurlik net ‘n Meestersgraad.) Verder word die feit dat ek kanker gehad het, ook teen my gehou. Dit was seker een van die grootste teleurstellings: dat ‘n kollega, vir wie ek net die grootste agting en respek het, vir my bel om uit te vind of ek die stres sal kan hanteer, want ek het dan nou kanker gehad. En of ek sal kans sien om met die ander kandidaat saam te werk (hy kan ‘n emosionele kalant wees). Ek het geweier om hom te antwoord. Op daardie moment het ek ook besef dat ek sy stem verloor het. Want sy argument was: as ons vir jou stem, gooi daai man al sy speelgoed uit sy bed, en dit gaan vir jou stres veroorsaak. As ons vir hom stem, dan sal jy dit kan hanteer en dis minder stresvol vir jou.

Ek kan maar net my kop skud. Hoeveel dinge in hierdie lewe is meer stresvol as ‘n kankerdiagnose? Egskeiding? Daar was ek ook al, en ek het dit oorleef. Die dood van ‘n geliefde? Ditto. Ek sou dink dat hulle juis na my moet kyk en kan sien hoe ek lyk en optree en kan besef: joe, hierdie vrou is sterk! Sy is die beste kandidaat!

Maar nee, daar word ore uitgeleen aan allerhande stories, in plaas daarvan om objektief na die feite voor jou te kyk.

Dan is daar ook diegene wat vir ‘n spesifieke persoon stem, omdat dit dan daardie persoon se huidige posisie vakant sal laat. Wat weer vir hulle die geleentheid gee om moontlik daardie posisie te beklee. En wat dan nou ‘n paar ekstra sente in daardie persoon se sak sal laat val.

Of dit die moeite werd is? Ek weet nie. Ek het net vandag vir God gevra om die ander persoon te laat wen as Hy voel dat ek nie nou gereed is nie. En ek het nie gewen nie. Ek het met drie stemme verloor (dit sou net twee gewees het, maar een van my kollegas is – wederregtelik – nie toegelaat om te stem nie).

Ek weet nie wat God se plan met my is nie, maar dit is klaarblyklik nie ‘n leierskapposisie binne die instituut nie. Daarby moet ek berus.

Wat ek wel gaan doen, is om te fokus op die twee referate waarmee ek besig is, asook op my persoonlike skryfwerk. Die roman is uitgedink en moet nog op papier kom. Dis ‘n lekker storie (vir my, natuurlik!)

Intussen is die kinderverseboek gedruk en gereed vir verspreiding. Ek hoop om my kopieë hierdie week te ontvang. Ek hoor die illustrasies is ontsaglik mooi en sien uit daarna om die finale produk te sien.

Het iemand anders hier ook gedigte geskryf wat vir [email protected] aanvaar is? Die publikasiedatum is 13 Mei 2011!

2 antwoorde op VERKIESING

  1. Ek kan nie wag om daai roman te lees nie!

    As mense soos kinders wil optree, laat hulle toe. What doesn’t kill you only makes you stronger. En as daar nou een persoon is wat daarvan kan getuig is dit jy. Trots op jou!

  2. elizac het gesê op Mei 25, 2011

    Mmm, ek sit lekker agteroor en giggel…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.