by

WANNEER DIE TYD VLIEG …

April 14, 2011 in Sonder kategorie

… moet ‘n mens mos pret hê, of hoe? Ek sien die mense hier in blogland is ook besig, maar hulle bly skryf. Sommige het selfs tyd om die pot te roer.

Gisteraand hoor ek op Pasehellaaaha hulle noem dit bloG, met die Afrikaanse G. Vreemd. Vreemder nog is die vrou wat soggens vieruur opstaan sodat sy so twee ure aan haar blog kan werk. Want sy werk voltyds, en dis al wanneer sy tyd het om aan haar blog te wy. Nou ek verstaan dat sy baie prentjies oplaai en resepte uittoets, maar twee ure per dag om te blog? Nee o giftig, ek weet nie wat se werk sy doen nie, maar hierdie vrou het nie krag om twee ure per dag aan blog af te staan nie. Sy’s in elk geval al klaar weer laat vir ‘n spertyd vir die uitgewers. Twintig bladsye teen Maandag, en ek het nog net gekyk wat ek moet doen en die dokument opgestel… Maar dis my eie skuld. Is al weer besig om te veel goed in een dag te probeer indruk, en dan is ek saans te moeg om nog te werk. Dan krap ek maar so hier en daar en luister televisie tussenin en krap die kat se kop.

Dinsdag was weer een van daardie prettige dae waar die tyd net eenvoudig weggeraak het. So haas ek my dorp toe, want ek moet 9:00 met toetsing begin vir die Wholesale en Retail Learnership (Nee, ek weet nie wat dit op Afrikaans is nie, maar ek is seker iemand sal my kan reghelp). Daar sal tien kandidate wees. Hulle moet ‘n vorm invul en daarna vir vyf-en-veertig minute ‘n toets skryf met ‘n klompie somme en taalvrae. Daar sal ook ‘n kort mondelinge toets wees, asook ‘n kort onderhoud. Alles behoort teen half 1 klaar te wees. Dit sal my dan genoeg tyd gee om 13:00 by my klas te wees.

Kom ek daar aan, en hier staan goed vyftien siele en wag. Dis kwart voor nege en ek dink: nie sleg nie. Ek sal vyftien kan hanteer. Die lokaal is ‘n bietjie knap, maar terwyl ek nou by ‘n voorheen benadeelde instituut werk, is ek bekend met plan B en plan C en plan D; dus sal ek dit kan doen. Net so ‘n paar fotostate maak en … o gits, hier is nog vyf siele. En nog vyf siele. En nog…

Meteens is die lokaal nie net knap nie, maar uiters benoud. Geen geloofwaardige toets kan onder hierdie omstandighede afgelê word nie. Ek gaan bel die baas, maar maak sommer self die uitvoerende besluite: leerders moet na ‘n groter lokaal skuif (en sommer self hul eie tafels en stoele dra), ek telefoneer ‘n kollega om te kom help en begin fotostate maak. Teen die tyd wat my kollega opdaag, is dit tienuur, en sit daar al 47 siele gereed om getoets te word. Almal is desperaat vir werk. Nie een het werk nie. En hulle ding almal mee om vyf posisies.

Daar daag nog twee op. Laat. Hoe wys ‘n mens hulle weg? Dalk is dit nou net die twee wat goed doen en wat potensiaal het. Hulle begin ook skryf. Ek maak fotostate van die tweede toets terwyl my kollega toesig hou. Hardloop tussen die fotostaatmasjien en die toetslokaal en kram papiere vas en organiseer. Dis mos hiervoor wat ek studeer het!

Half een is al die toetse klaar, en ek laat my arme kollega alleen agter om die onderhoude te voer. Terwyl ek my ander studente gaan ontmoet en ‘n uur en ‘n half lank met hulle Duitse uitspraak oefen, en die werkwoord verduidelik. Die studente is sommer flink na my preek van die vorige week. Toe ek vir hulle uitgelê het presies hoe gelukkig hulle is om ‘n plek op universiteit te hê en dit te kan bekostig (soort van) om daar te wees.

En daarna is dit direk na die ander kampus toe vir ‘n Engelse lesing oor interkulturele kommunikasie.

Te heerlik. Alles opgevolg met ‘n Zumbasessie by Kurwes.

 

Môre is dit bloedtoets, vergadering in die dorp, afspraak by die onkoloog, Zoladex-inspuiting, middagete by vriendin, hopelik ‘n sessie by Kurwes (aangesien ek 2,5kg opgetel het), werk aan ‘n hoofstuk, Franse klas. Iewers moet ek nog juweliersware klaarmaak vir Saterdag se mark.

Intussen vlieg die tyd. Ek kan nie glo dis al weer tyd vir my opvolgbesoek nie. Voel soos gister wat hulle nog die naalde in my lyf gedruk het…

7 antwoorde op WANNEER DIE TYD VLIEG …

  1. TS het gesê op April 15, 2011

    sterkte

  2. loudavisi het gesê op April 15, 2011

    Hene, jy is besig!
    Sterk staan vir die toetse, ek weet dit sal ok wees.
    xx

  3. Neffertiti het gesê op April 15, 2011

    Ja, sy moet resepte en goeters laai op haar bloG. Sjoe!

  4. elizac het gesê op April 15, 2011

    Sy’t seker maar baie resepte. Dalk sluit dit haar kooktyd ook in. Maar joe, het sy nie ander goed om te doen nie?

  5. elizac het gesê op April 15, 2011

    Dankie, dit was ook!

  6. elizac het gesê op April 15, 2011

    Dankie.

  7. elizac het gesê op April 15, 2011

    Ja, hemel, eerste keer wat ek van bloG hoor. Maar ek het gedink dis dalk maar ‘n EsYBieSie woord. En ag-nege ure per dag?!? Lewe sy ooit?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.