NEELS DIAMANT
April 10, 2011 in Sonder kategorie
So sak ek en die geliefde en ‘n vriendin hier af Pie Ie toe vir die Neels Diamant konsert. Ons neem foto’s met die vertrek, die koffie langs die pad, die arriveer… Ok niks gewoond nie. Bly mos in Oes-Lonnen. Maar dis lekker, en ons neem ons tyd met die driehonderd kilometer na die beskawing toe. Niks haastig nie; solank ons net so teen 6h gepoeier en gepoliesh op pad kan wees.
Die keer bly ons by Abel en Isabel van Zyl in hul Beachview Gastehuis – in Beachview, natuurlik (Kyk maar op www.wheretostay.co.za om hul besonderhede te kry!) Ongelooflike twee interessante mense. Isabel het verlede jaar ‘n hartaanval en ‘n beroerte gehad, alhoewel die spesialis nog die dag vantevore gesê het sy het die gestel van ‘n 17-jarige. Kort daarna is sy en Abel saam met die kinders Europa toe – sy in ‘n rolstoel. Sy sê sy voel ook soos ek: lus om partykeer net ‘n ietsie onwettigs te rook, want waarom het sy dan nou al die jare so gesond geleef? ‘n Mens kan ure by hul omkuier, en dit voel soos familie met wie jy goed oor die weg kom. En die stories wat hul kan vertel!
Ons sit toe ook in die Goue Sirkel. Waarom dit nou so Goud was, weet ek nie, want dit was net wit plastiekstoele op ‘n wit plastiekoppervlak wat bo-op die veld gepak was. Ek’t maar daai stoeltjies gereserveer, want ek het nie geweet hoe lyk die stadion of hoe ver jy van die verhoog sal af wees as jy op die paviljoene sit nie, maar dit was eintlik toe heeltemal goed. Die stadion kan 45000 mense neem; dus nie massief groot nie. Ek dink die meeste mense kon goed sien.
Ek en vriendin het net foto’s geneem. Links en regs. Van onsself, van ons saam, van die stadion, van die mense, van die groot televisieskerm met ‘n pragtige foto van Neels Diamant.
Ag, en daar begin die musiek, en toe die bas so deur my borsbeen dreun, toe weet ek: hier kom ‘n ding. En Neels stap op die verhoog, en ons gaan omtrent in ‘n beswyming in. Vir die eerste keer in my lewe kon ek verstaan hoe mense so meegevoer kan raak by evangelisasiedienste. Dis asof my hande vanself in die lug klim, en my bene kom vanself orent, en my lyf gaan aan die skud en roer met my lippe wat op maat van die woorde saamsing. Liewe hemel, ek staan daar met my hande uitgestrek na bo en dink: volgende Sondag in die kerk beter jy ook handjies lig, want hier kan jy dit doen vir Neels Diamant, maar jy’s te inkennig om dit vir Christus te doen? Ruk jou reg.
Maar wat ‘n belewenis. Ek kan vir niemand beskryf hoe dit werklik was nie. Daar sit ons onder die Here se ope hemel, met die sterretjies wat vonkel in die lug, en dit voel asof jy en die stadion wegsweef op ‘n surreële planeet met die musiek van jou drome wat om jou vloei. Neels open met Soolamon en daai dromme klink of hul in Afrika gemaak is. Ons sing Sweet Caroline dat die stadion verdwyn, ons luister na Shilo, Brother Love’s Travelling Salvation Show, Beatiful Noise, Cracklin’ Rosie, Solitary Man, I’m a believer, Red Red Wine... Dit voel totaal onwerklik om hierdie liedjies, waarmee ek amper grootgeword het, vir die eerste keer lewendig te kan hoor. Die beste van alles is dat die man se stem hom uiteindelik pas. Ja, dit verskil nie ‘n moment van sy vroeë liedjies nie. Vir my voel dit of sy lyf uiteindelik sy stem ingehaal het! Jy kon sien hy raak nou moeg, maar daardie stem! Ons het saam ge-Hallelujah op Holly Holy, gedans op Crunchy Granola Suite, en hy eindig – heeltemal te vroeg – met If I don’t see you again. En ons raak mal!
En Neels kom weer op die verhoog en hy sing. Uiteindelik sluit hy af met I am … I said. Ai, ‘n roerende oomblik. En alles heeltemal te gou verby.
Maar laat ek nou vir julle een ding sê: hierdie ou tante het haar hart uitgedans en gesing en gehande-in-die-lug. Die lewe is kort. Wie sê Kerneels kom ooit weer Pie Ie toe?
Maghitta het gesê op April 10, 2011
gelukkige jy! ek is skoon jaloers!
TS het gesê op April 10, 2011
Ag hierdie is nou die lekkerste lees van ‘n lang tyd! Bly jy het Neels so geniet
loudavisi het gesê op April 10, 2011
Oe!
Ek het nog ‘n dubbel LP van hom met al daai liedjies op.
Ek wens/begeer ek kon dit beleef.
rosiemetdorings het gesê op April 10, 2011
vriendin beskryf dieselfde konsert as ONGELOOFLIK.
elizac het gesê op April 10, 2011
Mens, haal ek toe mos my eie El Pie’s uit – mens het hulle darem net anders hanteer!
elizac het gesê op April 10, 2011
Die dag toe ek gehoor het hy kom SA toe, het ek dadelik op Computicket se webwerf geklim en my kaartjies bespreek. Nie omgegee wanneer die konsert is en hoe ek daar gaan kom nie!
elizac het gesê op April 10, 2011
Ai, die man is al deel van my bene sedert ek 12 jaar oud was.
elizac het gesê op April 10, 2011
Og, ek kon nog baie lank na hom geluister het!