by

EK BEGRYP NIE

April 3, 2011 in Sonder kategorie

My studente vra my vroeër die jaar wat die verskil is tussen kennis en begrip. Terwyl ek vir hulle wag om self by ‘n verklaring uit te kom (ja, mens fasiliteer mos deesdae), dink ek: al wat ek vir julle op hierdie oomblik kan sê, is dat ek baie dinge weet, maar dat ek min dinge verstaan. Ek begryp nie. Ek weet nie waarom mense dinge doen wat hulle doen nie.

En ek is teleurgesteld. Verskriklik. Ek dink ek voel bietjie soos Anha hierdie week gedoen het. Ek’s ook lus om sekere van Anha se woordeskat te gebruik en dan daarna in trane uit te bars. Anha, sê daai woorde asseblief namens my. Ek dink ek gaan dalk ‘n ander blogpersona tydelik moet aanneem sodat ek kan sê wat ek wil sê. Netnou lees mense hier.

Een van my gawes is gasvryheid. Soveel so dat my man dikwels die mense moet keer om te kom kuier, anders brand ek myself uit. Hierdie laaste ruk was weer so ‘n tydperk: elke naweek iets aan die gang, en as dit nie een iets is nie, is dit twee, of selfs drie. Tussendeur besluit my familie ook om te kom kuier. Ek het nie vakansie nie, dit raak ‘n rowwe week by die werk met al daardie vergaderings – waar ‘n mens ‘n uur moet wag om te kyk of jy ‘n kworum kry – en studente-opdragte wat inkom en gemerk moet word en en en. Intussen moet ek ook my laaste sente spandeer op my laaste mediese rekeninge en daar kom nie ekstra in nie. As salaristrekker maak dit mos nie saak hoe hard jy werk nie; die inkomste bly dieselfde. Daar is ook ‘n deadline, wat genadiglik uitgestel is tot 18 April. ‘n Deadline vir werk wat hopelik oor ‘n jaar of twee sal betaal.

Ewentwel, ons gaste daag Woensdagaand op. Eers nog in ‘n toestand oor Vumile wat in die tuinwoonstel bly en wat TB het, en hoe kan hy die hek oopmaak? Hy gaan dan die kinders aansteek. Ek verduidelik mooi van hy is nie aansteeklik nie (anders sou ek hom mos nou nie daar laat bly het nie!) en los die dinge op my lys om huis toe te jaag en oop te maak vir die mense. Kan nie my Kurwes doen nie, want dis nog hospitaalbesoek ook om 7. Maar ek hoor sommer die ouers is gestres.

Ek en manlief speel te heerlik met die kinders. Nog peetkinders van ons, en te dierbaar vir woorde. Maar die ouers bly gestres.

Gisteraand los ons hulle alleen om na ‘n vriendin se verjaardagvieringe te gaan. En ons vier dit behoorlik: een glasie wyn vir die aand, maar ek dans met my vriendinne (manlief dans nie en hulle is geskei of enkellopend) en met my vriendin se ma, en met die eregas van die aand, en ons doen die buzz (!) en ons gesels en neem lawwe foto’s en maak dit ‘n aand van ‘n aand. Ons gaste bly by die huis, sit die hele tyd met hulle rekenaars aan en bly gestres.

Vanoggend raak ek wakker vir kerk, sit die wekker af, rol om en probeer verder slaap. Die geliefde kom maak my wakker: Kom ons gaan Twee Swane toe; wil jy saam? Eers wil ek nog lê, maar besef toe daar sal nie weer geslaap kan word nie. Staan op en eet ‘n broodjie saam met my peetkind. Ek sien die ouers hol deur die huis. Ek vra later: wat maak julle? Nee, ons pak. Ons het te veel werk om klaar te maak, en as ons nie werk nie, is daar nie ‘n inkomste nie. Hulle ry nou. Terug Noorde toe. Gestres.

Ek slaan net my hande saam. En hoekom is ek verbaas? En hoekom is ek teleurgesteld? Ek weet mos van vele vakansies wat hierdie einste ouers gehou het, waarna hul reikhalsend uitgesien het, en waar hulle binne drie of vier dae goed opgepak het om huis toe te gaan, want hulle het “te veel werk”. So waarom het ek gedink dit gaan hierdie keer anders wees? Omdat ek so wonderlik is? Omdat ek so ‘n fantastiese gasvrou is?

En nou moet ek bieg: ek begryp die mense nie. Volgens hulle het hul nie vakansie kom hou nie. Nou wat het hulle hier kom maak? Gedink ek en my man gaan kinders oppas terwyl hulle werk? Dink hulle regtig dat ons, omdat ons ‘n salaris verdien, meer tyd het as hulle? Dis dieselfde mense wat elke dag die kinders in die bed stop van 12-3, en dan saam met die kinders gaan slaap. Ek het nie daardie voorreg nie. Bowendien het ons nie nou vakansie nie.

Al die ander goed wat ek wil sê, sal ek nou maar vir myself hou. Ek ken nie al die feite nie.

Maar ek is verskriklik teleurgesteld dat ons peetkinders nou saam met die ouers huis toe is. Met hulle het ek geen probleme nie. Dis net dat die ouers so verskriklik gestres is.

NS Die kuiergaste sê daar sal wel ‘n volgende keer wees. Dit lyk my nie hulle het die realiteit van die situasie al besef nie. Daar is nie “volgende kere” nie. Daar is net vandag. Ek het geen waarborg dat ek volgende jaar hierdie tyd gesond sal wees nie. Ek het geen waarborg dat hulle volgende jaar hierdie tyd gesond sal wees nie. Al wat ek weet, is dat ons die beste met vandag moet maak. Dit help ook met die stres.

5 antwoorde op EK BEGRYP NIE

  1. Maankind2 het gesê op April 3, 2011

    Dit het my lank gevat om MaanMan te leer dat mens nie heeltyd moet dink die blomme vorentoe, die volgende dorp, die volgende reastaurant gaan dalk beter wees nie. Dis ‘n uitkyk wat baie moeilik verander.

  2. HeavyHenry het gesê op April 3, 2011

    Dis moeilik om innie nou te bly – moer min mense kry dit reg, en nog minder kan dit die heeltyd doen.

  3. elizac het gesê op April 3, 2011

    Ja, ek weet dit self, maar ek wens tog mense kan uit my leer, in plaas daarvan om dieselfde foute te maak.

  4. elizac het gesê op April 3, 2011

    Sê jy my nou! Hulle jaag so na wind, en laat die kosbare oomblikke wat nou hier by hul is, verbyglip.

  5. HeavyHenry het gesê op April 3, 2011

    *sug* – ja dis moeilik – mens bdeoel goed, maar dit word nie so gesien nie.

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.