by

LOS SONDAGGEDAGTES

Februarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Mmm, sit ek nou vanmiddag vir ‘n slag en maak my yahoo e-pos oop. Daar kry ek allerhande boodskappe van die blog administrator. Mense wat vir my boodskappe stuur. Mense wat reageer op my kommentare. En so aan. Sit en lees ek eers deur al die kommentare (verstommend wat mens alles kan doen as jou eetkamer soos ‘n varkhok lyk en krale die hele vloer vol rol en jou Duitse lêers moet gelê word en jy’t nog nie jou Franse huiswerk gedoen nie) en lag vir wat mense skryf en blaai vorentoe en agtertoe deur mense se skrywes. Te lekker. En soos ek lees, rol die gedagtes bont deur my kop. Ek moet ‘n stukkie skryf vir ons kerkblad. Lus om net te sit en klets oppie blogs. Klomp idees.

Oor Monopoly. Oor die markdag gister. Oor kreatiwiteit. En oor die mense wat so baklei met mekaar, al ken hul mekaar glad nie.

Nou’t ‘n klomp mense hulle blogs uitgewis, en nou sal ek nooit weet wat hulle volledige kommentare op my kommentare was nie. Ai tog. Ek verstaan regtig nie hoekom die mense so ontstig raak nie. As iemand iets sê of skryf wat jou ontstig, hou verby. Of lees bo-oor. Dis hulle saak. Om die een of ander rede is almal in Suid-Afrika mos onderwysers: ons moet gedurig vir almal op hul foute wys. En ons vergeet dat elkeen op sy/haar eie tyd leer. Teen ‘n pas wat hulle pas.

So sit ek vanoggend in die kerk. Stigtelik NG, met ‘n lekker orkes wat speel, en ons hef ons hande na bo en sing halleluja. Voor my sit ‘n tiener in ‘n kortbroek. So ‘n wittetjie. En ‘n spaghettibandjietoppie aan. Met sandale. Nou kyk, 26 grade in ooslonnen is warm, veral met die humiditeit saam, en dit is ‘n stranddorp, maar ‘n kortbroek kerk toe? En dan praat ek nie eens van ‘n kniebroek nie – nee, ‘n kort kortbroek. En pappie staan neffens en dit pla hom klaarblyklik nie. Al die oordeelliggies in my kop gaan aan: hoe kan die ouers dit toelaat? Dan is dit nog die spaghettibandjies sonder ‘n stigtelike dingetjie bo-oor… Waar is die respek?

Toe moet ek myself tot halt roep. Vir die kind is dit reg so. Sy’t miskien so grootgeword. Dalk dink sy later anders.

Intussen is dit nie my plek om te beslis oor ‘n kortbroek in die kerk nie. Die Here sien ons harte. Hoekom sal ek nou aanstoot neem as Hy dit nie doen nie?

Dit bring my by my gedagte vir die dag:

AS EK NIE AANSTOOT NEEM NIE, KAN NIEMAND AANSTOOT GEE NIE.

Sela.

11 antwoorde op LOS SONDAGGEDAGTES

  1. Sela, inderdaad.

    Ek geniet jou blog terdee – dog net ek se.

    Lekker dag verder 😉

  2. Toe ek nog ‘n tiener was het ek kerk toe gegaan met my ouma en ek moes soos ‘n oumatjie aantrek en my beste maniere voor sit.

  3. elizac het gesê op Februarie 20, 2011

    Dankie!

  4. elizac het gesê op Februarie 20, 2011

    Hmmm, ja, ek onthou daardie lang wit sokkies met die valletjies bo…

  5. elizac het gesê op Februarie 20, 2011

    My man gaan ook al jare kerk toe met kortbroek en hemp. Maar hy dra darem nie ‘n t-hemp nie. Ek gee nie om nie. Solank hy kerk toe gaan.

  6. Jy’s welkom!

    Ek het in ‘n huis grootgeword waar ons moes pakke klere dra kerk toe. Behoorlik gecoller en getie. Die hoed vir vroue was opsioneel verklaar toe ek so 8 of 9 was. So ek kan verstaan hoekom meeste van my generasie baie gesteld is op kerkdrag.

    Maar, het ek vir myself die vraag gevra – gaan die Here my minder liefhe as ek in my vuil overall onder die kar se enjin doodgaan, of kaal dood op die vloer van die stort inmekaar saak, of Sondag in my Carducci Pak en whatever se das in die kerkbank terwyl ek kyk of my buurman darem ook by die selfde klerewinkel as ek klere koop. En dis toe wat ek besef het Hy stel VEEL meer belang in die interne as die eksterne.

  7. TS het gesê op Februarie 20, 2011

    Hardop lag ek vir die SA onderwyser ding… Ek moet my bewustelik daarop toelê om nie vir mense te preek nie. Ek sukkel … baie!

  8. as kind sou my ma nie toelaat dat ek met ‘n moulose rok kerk toe gaan nie…….

  9. Ek weet ook darem nie van daai kerkklere nie. Nou kyk, ek is ook van die ‘moenie aanstoot neem nie’ skool … maar ek vermoed dis nogal vir my man en seun so bietjie moeiliker om hulle oë op die dominee te hou, as vir my… (wat is die verskil tyussen waarskuwing liggies en oordeel liggies?)

  10. elizac het gesê op Februarie 20, 2011

    Waarsku: jy moet nie iets doen nie. Oordeel: iemand anders moet iets nie doen nie! Ja, ek dink ook die manne vind dit moeilik om te konsentreer, maar dan, ek is die eerste een wat gaan skree hulle moet hul inhou!

  11. elizac het gesê op Februarie 20, 2011

    Praat jy daai ding!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.