by

OM TE VAT. OF NIE TE VAT NIE.

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Nou ja. Ek sien die hel was weer los hierdie naweek op Litnet se blogs. Mens kan ook nie jou rug draai nie. Op die oomblik sit ek hier – en dis nie op ‘n baie goeie plek nie. Het pas my man ontstig deur in trane uit te bars – met my gedagtes in ‘n totale warboel. Dis die een ding op die ander. Aan die een kant het ek nogal begrip vir wat die man geskryf het, maar aan die ander kant dink ek nie naïewiteit/oningeligtheid/stommiteit/goeie bedoeling (noem dit wat jy wil), is ‘n verskoning nie.

Laat my probeer om so goed as moontlik die gedruis in my kop te beskryf: Ek het nie kinders nie. Ek het wel ‘n hele klomp niggietjies en ook twee nefies en ander peetkinders. En ek dink ek het vir die eerste keer in my lewe voor die realiteit van die weerloosheid van kinders te staan gekom toe ek een van hulle se doeke moes ruil, of moes bystaan met die ruil van ‘n doek, of ‘n bad. Die spesifieke oomblik kan ek nie onthou nie; wel die gedagte. Op daardie moment het ek besef hoe totaal uitgelewer kinders aan die wil van grootmense is. Omdat hulle klein is, en omdat hulle onskuldig is. Jy laat jou vriende se tienerdogter/seun toe om jou kinders op te pas en betaal selfs daarvoor. Maar jy weet nie (regtig) wat gebeur terwyl jy nie daar is nie. Jy laat jou kind se oom/tante toe om die doeke om te ruil, of die kleinding te bad. Maar jy weet nie (regtig) wat gebeur terwyl jy nie daar is nie. Ek het eendag gesien hoe ‘n bediende ‘n kind van so drie bad met die dringende instruksie: Was jou muis! Was jou muis! En oor en oor moet daar “muis” gewas word, terwyl die bediende (en toeskouers) dink dit is snaaks. Ek het verskriklik ongemaklik gevoel. En niks daaroor gesê nie.

Ek probeer dink dat die pappa wat geblog het oor sy verhouding met sy dogter dit met derduisende goeie bedoelings gedoen het. Moontlik ter illustrasie van sy goeie verhouding met sy dogter. Anders sou hy dit tog seker nie geblog het nie. En ek verstaan wat hy bedoel, want op ‘n sekere ouderdom is hulle nog so onskuldig, en dis so maklik om net te speel en nie versigtig hoef te wees oor vat nie. Dis so heerlik om daardie klein lyfies soggens vas te druk, en te kielie, en te speel. Dis ‘n vreugde om daardie klein lyfie in die bad te stop en saam te speel. Maar ek moet nou sê: nog nooit het ek nodig gehad om ‘n hand op ‘n kind se tietie te sit nie. Oor die maag, ja, vir ‘n drukkie, maar nie oor die bors nie. Daar is ‘n groot verskil tussen “speel-speel kafoefel” met ‘n kind (en ek het ‘n probleem met die gebruik van die woorde “kafoefel” of “vry” in die konteks) en kafoefel met ‘n grootmens. Jy sit jou hande op ‘n kind se rug, of se arms, of se bene, en – soos my suster sê – jy blaas op hulle ruggies of armpies of beentjies of magies, maar raak nie aan die private dele van die liggaam nie.

Dit is maklik om skade aan te rig, bewustelik of onbewustelik. Selfs ons goeie bedoelings, en dalk veral ons goeie bedoelings, kan later in ‘n kind se gedagtes tot monsters word. Kinders het aanvanklik nie ‘n seksuele bewustheid nie, maar wanneer

hulle wel bewus word van hierdie goed, skep dit ‘n dualiteit in so ‘n kind se kop: hy/sy sê hy/sy is lief vir my, maar dan vat hy/sy daar? En dan word ek geleer dat dit nie reg is nie? 

Dis juis die ding van seksuele mishandeling: dat dit dualisties is. Veral as dit op ‘n sogenaamde “onskuldige” vlak plaasvind. Op hierdie manier veroorsaak dit groot skade, want aan die kind word voorgehou dat dit onskuldig is, terwyl daar in die kind se kop al ‘n botsing begin plaasvind van: ek hou nie hiervan nie.

Eintlik, dink ek, dat baie vroue met hierdie dualiteit kan identifiseer. Ek sal graag wil sien hoeveel vroue nog nooit by die werk op die een of ander “onskuldige” manier seksueel geteister is nie. ‘n Vinnige hand op die boud, of ‘n “drukkie” wat net daardie tydjie te lank is.

En, aan die ander kant, dink ek, is dit tyd dat ons Afrikaanses begin wakker skrik wat hierdie dinge betref. Daar is nog heeltemal te veel mans wat nie besef waar om die streep te trek nie. En heeltemal te veel vroue wat giggelend deel is van gesprekke waarin vroue verneder word. Maar dis waarskynlik ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

My beste raad? Nee, hierdie antie het nie raad nie. Dis maklik om ‘n oordeel te fel. Mag ek net sê: vat jy aan my peetkinders, sal jy nooit weer slaap nie.

NS Ek het my susters gevra om hul opinie uit te spreek op die gewraakte blog. Die uitslag? ONAANVAARBAAR!

9 antwoorde op OM TE VAT. OF NIE TE VAT NIE.

  1. Stem saam, onaanvaarbaar.
    Mens hou jou pote tuis. Finish en klaar.

  2. louisna het gesê op Februarie 7, 2011

    “The consequences of your denial will be with you for a lifetime and will be passed down to the next generations. Break your Silence on Abuse!”

    “Only a Coward Would Stand Up for a Child Molester!”

    “Innocent People do not have to lie, hide or be silent, because there is nothing for us to be ashamed about. We leave that for the Guilty People to encounter every day of their life.”
    Patty Rase Hopson

  3. Verskriklik mooi en waar geskryf – dankie!

  4. Miran het gesê op Februarie 7, 2011

    Goed gestel, Elizabeth

  5. En so was die reaksie sonder uitsondering. Onaanvaarbaar.

  6. elizac het gesê op Februarie 7, 2011

    Jy weet dus waarvan ek praat. En as ‘n grootmens dit nie kan verwoord nie, hoe kan ‘n kind?

  7. katrina het gesê op Februarie 7, 2011

    Jip, ek kan maar net saamstem!

  8. Jy is 110% reg Elizabeth.

  9. bothajs het gesê op Februarie 8, 2011

    Ek is nie ‘n Litnetter nie, maar ek is ‘n ma van ‘n dogtertjie, dus voel ek om kommentaar hier te lewer.

    My dogtertjie is al van babatjie dae af baie lief daarvoor as ek na badtyd haar lyfie lekker masseer en met haar roompies invryf. Pappa het elke 2de aand sy beurt gehad om Liefding te bad en te masseer en dan snoesig in haar pajammatjies aan te trek en in die bed te sit. Dis spesiaal vir hom en vir haar, want daar is nie genoeg tyd deur die dag vir hulle om saam te wees nie.

    ‘n Maand of wat gelede het hy my gevra is dit nog OK om dit te doen (sy is nou 2 jaar en 9 maande oud) want dit beteken noodwendig hy raak aan haar borsies. My antwoord? As dit vir hom ongemaklik voel, sal ek verstaan en die roompies-invryf elke aand by hom oorneem.

    Dis net hartseer dat dit wat vir hom so baie beteken het in die aande, ‘n tydjie saam met sy dogter, nou verlore is.

    Ons werk aan ‘n plan om ander maniere te kry vir hulle om spesiale pappa-en-dogtertjie tydjies saam te spandeer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.