by

D-DAG

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

D-dag het toe uiteindelik aangebreek. Maandag 31 Januarie 2011. Meer as ‘n jaar nadat ek die knop op 23 Januarie 2010 “ontdek” het en as gevolg van die ontdekking op ‘n avontuur om my lewe gegaan het.

Ja, ek het twee nuwe boobies! Heropbou en Ontwikkeling het uiteindelik plaasgevind. My fake foob is vervang deur die permanente foob, en my regterbors is genip en getuck. Ek het op hierdie stadium nog absoluut geen idee hoe dit lyk nie, want my borskas lyk soos wanneer ‘n karakter in die sepies in ‘n ongeluk was: toegedraai in doeke. Môre-aand om 18:00 sien ek die plastiese sjirurg. Hy sal dan die pype uithaal (hoop ek!) en dan sal ek sien hoe die nuwe foobies lyk.

En raai wie is toe die eerste persoon wat ek raakloop in my hospitaalkamer? Nomfundo, die enetjie wat destyds na my mastektomie so woes aan my verwyderde linkerbors gestamp het, die bloeddruk op my linkerarm geneem het, en toe ek kla, vir my gesê het: This too shall pass. Ek het amper vir ‘n mes gevra… Maar die keer was ek vriendelik en het gemaak asof ek haar nog nooit ontmoet het nie. Sy het die hele tyd met my gepraat in so ‘n ietsiestemmetjie en met kougom in die mond. Ek moes elke keer vra: ekskuus? Wat sê jy? Maar gelukkig was die personeel wat my teater toe geneem het baie vriendelik.

En toe moes ek eers deur hel gaan voordat ek aan die slaap kon raak. Ek weet nie wat die narkotiseur in my lyf gespuit het nie, maar dit was verskriklik seer. En toe spuit hy nog ‘n produk in en sê ewe: dit gaan ‘n bietjie brand. ‘n Bietjie brand? My goeie [email protected]!, dit het gevoel asof iemand kookwater op my arm gegooi het! En met die eerste insit van die eerste naald, is die aar natuurlik heeltemal toe en kan die drup nie vloei nie, en dit brand en brand en brand, en ek bly sê dis seer en krul later van die pyn. Hy los wragtig die naald net daar terwyl hy ‘n ander aar soek… Daarna toe nog die verbranding van my arm. Ek hou my arm in die lug, want dis al wat die pyn laat bedaar, maar toe die tweede inspuiting kom, skree ek net: hou asseblief my hand vas! Want toe voel dit asof dit gaan afbrand. Natuurlik gryp sy toe my ander hand. Die laaste wat ek kan onthou, is dat ek skree: die ander hand! Kyk, ek weet hulle maak my eintlik seer terwyl ek nie daarvan weet nie, maar hoekom moet hulle my seermaak terwyl ek nog by is?

Met die bykomslag hoor ek net: Doktor! Doktor! En toe is ek in my privaatkamer (weet nie hoe dit gebeur het nie!) en op morfien en ‘n drup en Nomfundo neem my bloeddruk op my bene. My man het iewers opgedaag met blomme en kaartjies, en toe vriendinne – een wat Maandag 50 geword het, en ek moes die hele partytjie mis, omdat my operasie uitgestel is van verlede Donderdag na Maandag toe. Nou gaan ons eers later partytjie hou. En dan vier ons sommer die nuwe dekade en die nuwe foobs en gesondheid en die lewe.

O, ek moes eers Maandag 12:00 by die hospitaal wees. Toe het ek en ‘n vriendin gou gaan voete was en masseer by die chemokamer. Ek het uiteindelik net een persoon se voete gedoen, want ek het te veel gesels! En ons moes natuurlik vroeër loop, sodat ek betyds kon wees vir die hospitaal. Maar dit was goed om dit te doen en het my aandag afgelei van wat later daardie dag gaan gebeur.

So nou sit ek hier by die huis. Weet nie tot wanneer ek my “stil” moet gedra nie, maar ten minste mis ek die fakulteitsvergadering! En een van die dae kan ek my nuwe hophuisies met trots wys!

4 antwoorde op D-DAG

  1. Ek gaan vir my vriendin na jou blad to lei. Sy sal oor ‘n week of so..of wanneer die medies toestemming gee.. haar chemo begin.. Geniet jou nuwe Boobies.

  2. Ek is so bly jy het hierdie sirkel wat laasjaar begin het, voltooi. Hoop ddit gaan sommer baie, baie goed vorentoe. En geniet die nuwe headlights.

  3. hoe het die ou mense altyd gesê: jy’s nou oor die hond se stert. Het dit nie mooi verstaannie, weet net die ergste is verby.

  4. elizac het gesê op Februarie 2, 2011

    Dankie! Dis nou ‘n mooi seëning!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.