LOS SONDAGGEDAGTES
Februarie 20, 2011 in Sonder kategorie
Mmm, sit ek nou vanmiddag vir ‘n slag en maak my yahoo e-pos oop. Daar kry ek allerhande boodskappe van die blog administrator. Mense wat vir my boodskappe stuur. Mense wat reageer op my kommentare. En so aan. Sit en lees ek eers deur al die kommentare (verstommend wat mens alles kan doen as jou eetkamer soos ‘n varkhok lyk en krale die hele vloer vol rol en jou Duitse lêers moet gelê word en jy’t nog nie jou Franse huiswerk gedoen nie) en lag vir wat mense skryf en blaai vorentoe en agtertoe deur mense se skrywes. Te lekker. En soos ek lees, rol die gedagtes bont deur my kop. Ek moet ‘n stukkie skryf vir ons kerkblad. Lus om net te sit en klets oppie blogs. Klomp idees.
Oor Monopoly. Oor die markdag gister. Oor kreatiwiteit. En oor die mense wat so baklei met mekaar, al ken hul mekaar glad nie.
Nou’t ‘n klomp mense hulle blogs uitgewis, en nou sal ek nooit weet wat hulle volledige kommentare op my kommentare was nie. Ai tog. Ek verstaan regtig nie hoekom die mense so ontstig raak nie. As iemand iets sê of skryf wat jou ontstig, hou verby. Of lees bo-oor. Dis hulle saak. Om die een of ander rede is almal in Suid-Afrika mos onderwysers: ons moet gedurig vir almal op hul foute wys. En ons vergeet dat elkeen op sy/haar eie tyd leer. Teen ‘n pas wat hulle pas.
So sit ek vanoggend in die kerk. Stigtelik NG, met ‘n lekker orkes wat speel, en ons hef ons hande na bo en sing halleluja. Voor my sit ‘n tiener in ‘n kortbroek. So ‘n wittetjie. En ‘n spaghettibandjietoppie aan. Met sandale. Nou kyk, 26 grade in ooslonnen is warm, veral met die humiditeit saam, en dit is ‘n stranddorp, maar ‘n kortbroek kerk toe? En dan praat ek nie eens van ‘n kniebroek nie – nee, ‘n kort kortbroek. En pappie staan neffens en dit pla hom klaarblyklik nie. Al die oordeelliggies in my kop gaan aan: hoe kan die ouers dit toelaat? Dan is dit nog die spaghettibandjies sonder ‘n stigtelike dingetjie bo-oor… Waar is die respek?
Toe moet ek myself tot halt roep. Vir die kind is dit reg so. Sy’t miskien so grootgeword. Dalk dink sy later anders.
Intussen is dit nie my plek om te beslis oor ‘n kortbroek in die kerk nie. Die Here sien ons harte. Hoekom sal ek nou aanstoot neem as Hy dit nie doen nie?
Dit bring my by my gedagte vir die dag:
AS EK NIE AANSTOOT NEEM NIE, KAN NIEMAND AANSTOOT GEE NIE.
Sela.
Onlangse kommentare