by

OG EK HET TRANE IN MY Oë!

Desember 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s vandag heel emosioneel: het vanoggend daarin geslaag om maskara aan my wimpers te sit! Dis die eerste keer in maande! Daar is weliswaar net 3 langes bo en tien kortes onder, maar dis iets. Ek is uiters dankbaar dat hulle wel groei, want baie mense verloor hul wenkbroue en ooghare permanent na chemo. As ek nie grimering aanhet nie, lyk ek soos iets uit ‘n bangmaakstorie, want daar waar die wimpers was, lyk dit so wit. Dit lyk dus of ek permanent wit kringe rondom my oë het. Gelukkig kan ek ‘n oogpotlood gebruik om dit te verdoesel, maar ek is nou nie een van daardie vroue wat elke uur of twee my grimering gaan bekyk nie; dus moet dit wat in die oggend gebeur het, die hele dag hou. Wat beteken dat dit nogal skrikwekkend kan lyk hier na die middag se kant toe.

En wie sou nou kon dink dat chemo so ‘n harige storie is? ‘n Mens sou dink dat jy glad nie oor hare dink nie, want jy het nie hare nie. Maar nee, dis omtrent al waaraan jy dink: hoe om ordentlik te lyk sonder hare, hoe om ordentlik te lyk sonder wimpers, hoe om ordentlik te lyk sonder wenkbroue, hoe te glad dit op sekere plekke is. Ook hoe om aan te trek en grimering aan te sit sonder om die kinders skrik te maak.

Eers was dit die besluite oor sal dit ‘n pruik wees, of sal dit ‘n serp wees. En aangesien ek toe lyk soos die Michelinmannetjie met die serp op, is die besluit toe namens my geneem: pruik sal dit wees. Die pruik het weer tot vele momente aanleiding gegee. Hoeveel van julle kuier by mense en dan hardloop die gasvrou deur die huis terwyl sy skree: waar is my hare? Ek is nou al so gemaklik, ek bestuur sonder hare met die pruik langs my op die passassierssitplek. Soos ‘n mak hond. Dan sit ek dit vinnig op wanneer ek stop, trek ‘n kam deur die hare, en daar gaan ek. Die een voordeel van die pruik in die Oos-Londense reën is dat dit nie van styl verander omdat dit nat is nie. Nee, dit word net so mooi weer droog ook.

En ‘n mens sou nou ook dink dat jy kan bespaar op wakse en skeer en so aan, maar die beenhare het hardnekkig bly uitkom en elke drie weke moes ek net vinnig ‘n skeermes oor die bene laat gly. Nou is hulle so voor-op-die-wa dat ek omtrent elke dag moet skeer, en ek het al ‘n waks geboek vir volgende week! Nie gedink ek sal weer hierdie jaar hoef te waks nie! Ek het selfs al hare op my arms! Gelukkig was hulle nog altyd baie lig en glad nie opvallend nie.

Ek droom al van hare kam, van mooi wimpers hê… Dis omtrent ‘n obsessie.

Diè dat ek vanoggend amper in trane was toe ek wel die bietjie maskara kon aansit.

4 antwoorde op OG EK HET TRANE IN MY Oë!

  1. TS het gesê op Desember 3, 2010

    Ai kyk nou het jy selfs my aan die tjank

  2. melvanas het gesê op Desember 3, 2010

    Ja, snaaks hoe ander mense ‘n kop vol hare “for granted” vat… daai hare van jou gaan beautiful wees EEN VAN DIE DAE! xox

  3. sal nooit weer kla as my hare ontembaar is

  4. bokkie, ek is n professionele grimeer kunstenaar van beroep. Doen die moeite en gaan na PMU (Professional make up – dis Terri, wat die grimeer-vrae hanteer by woman24)http://shopping.pmu.co.za/catalog/

    ek het my kursus by haar gedoen. Jy gaan 1 keer n dag grimeer en wéét dat jy heeldag lieflik gaan lyk. jy hoef niks ‘op te touch’ deur die dag nie. sy sal jou al die geheime ‘tricks of the trade’ leer. dis elke sent die moeite werd, glo my.
    ek doen ook n kursus, maar bly bitter ver van jou af…. 🙁
    sterkte hoor!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.