Eintlik weet ek nie hoe om hierdie post te begin of selfs eens te skryf nie. Dit kan so maklik in agterdeurkomplimente ontaard, en dis nie die bedoeling nie. So kom ek vra mooi, voordat ek begin, moet asseblief nie vir my vertel hoe wonderlik ek is of enigiets van die aard nie. Ek doen bloot wat my opdrag is.
Ek het naamlik op Dinsdag 7 Desember vanaf tienuur by die chemokamer van die St Dominick’s Hospitaal hier in Oos-Londen die pasiënte se voete gaan was en masseer en ingesmeer met lekker room. Namens die Pink Chicks, natuurlik (www.pinkchicks.co.za) en met my pienk pruik op. Almal in die chemokamer (die susters ingesluit) het ook elkeen ‘n pakkie pienk prestik gekry met die Pink Chicks se besonderhede op. Aanvanklik was ek maar bedug op die reaksie van die pasiënte, hul gaste en die personeel, maar ek het deurgedruk. Het mos al vroeër toestemming gekry van die hoofsuster, die praktykbestuurder, die maatskaplike werker, en ek het ook vir Cancercare ingelig. Net sodat niemand nou moet dink ek trap op hul toontjies nie. Alhoewel ek dit eerder sou gewas en gemasseer het as hulle opgedaag het.
En so het ek toe my Dinsdag deurgebring: plat op die vloer, met mense se voete op my been gedruk en met my wat masseer en vrae vra en praat probeer raad gee oor hoe om te ontspan. Eers voetjies in bietjie lou water met Savlon gehou – daar mag geen infeksies wees nie – en toe stadig gemasseer. Op die ou-end het ek net vyf mense se voete gedoen, maar ek was tot kwart voor 2 daar.
Dit is ‘n nederige ervaring, en ek dink dit laat mense nogal ongemaklik voel as ‘n wildvreemde vrou skielik aanbied om hul voete vir hul te masseer. Maar as ‘n mens self gemaklik is met die daad, laat dit ander ook ontspan. En om iemand se voete te was en in te vryf, is ‘n totale daad van liefde.
Liefde teenoor Dawn, wat Dinsdag nie ‘n goeie chemodag gehad het nie. Teenoor Janet, teenoor die boer van Queenstown, teenoor die vrou van Glen Navar. Laasgenoemde twee is albei met Graad 4 kanker gediagnoseer, en die boer het nog ses maande – as hy gelukkig is. Hy sê hy is nie ‘n goeie Christen nie, want hy doen nie al vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen nie. Vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen? Wat is dit? Ek het gedog Christus het aan die kruis gesterf sodat ons verlossing kan ontvang – ook van die “vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen”! Ek het gedog Christene leef ‘n lewe van dankbaarheid en nie van wette nie. Ek deel toe maar my begrip van hierdie dinge (en ja, dit is ‘n aardse begrip) met die oom. Net omdat ek nie elke Sondag in die kerk sit saam met die gelowiges nie, beteken nie dat ek ‘n sleg Christen is nie. Eintlik weet ek nie regtig wat die verskil tussen ‘n goeie en ‘n slegte Christen is nie. Ek’t gedog daar is net Christene.
Maar eintlik wil ek daar nie “sendingwerk” doen nie. Eintlik wil ek daar net mense se voete was. Uit liefde. En uit my eie dankbaarheid.
O, moet darem byvoeg: terwyl ek so op die grond sit kom die een onkoloog in en hy begin vreeslik lag vir my met my pienk pruik. Hy sê dis ‘n uitstekende idee. Gister bel hulle my om te vra waar ek die pienk pruik gekoop het, want iemand anders wil ook begin pruike dra na die chemokamer toe.
En twee van die susters het vir my baie dankie gesê, en een van die administratiewe beamptes het gesê hulle dink dit is ‘n baie cool ding om te doen. Ek het darem ook ‘n vet druk van een van die susters gekry!
Onlangse kommentare