Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

by elizac

ALLES

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

smaak na papier. Seperige papier. Selfs water proe glibberig, al is dit smaakloos. Die ergste van alles is, ‘n mens sou nou dink dat ek minder sal eet omdat alles na niks smaak nie, maar ek eet meer. Dis asof my liggaam vra vir nog, want dit word nie tevrede gestel met dit wat sy kry nie.

Vandag het ek geëet: een sny lemon meringue, 2 snye papierbrood met een of ander koue hoender op (dit kon vark ook gewees het – en ek eet nie vark nie) en ek het twee glase choccachino gedrink. Koffie met sjokolade in. Die water met ys en suurlemoenskywe in, het beter gesmaak.

Ek’t van vanoggend 10:00 tot vanmiddag 16:00 met ‘n vriendin van Abu Dhabi in ‘n koffiewinkel gesit en gesels. Niemand het kom sê ons moet nog iets bestel, of ons moet loop nie… Lekker gekuier. Die brood het ek eers by die huis kom eet.

O, ek het nog twee glase lemoensap ook in. Ook by die huis.

by elizac

N.A.V.

Augustus 11, 2010 in Sonder kategorie

my vorige post: dis regtig nie so erg nie. Dit is mos eintlik maar net ‘n drup. Die probleem is dat ek baie kleinserig is en dat ek nie van naalde hou nie, en almal dink altyd ek moet so sterk en braaf wees, want ek is ‘n laaaaang vrou (1,8m), maar ek bly steeds ‘n vrou en my hartjie kan baie klein wees en ek raak kloustrofobies as ek ingeperk word en ek is NIE ‘N PLASTIEKPOP NIE! My lyf kry seer en daai aar is maar ‘n paar millimeter breed…

by elizac

CHEMO SES

Augustus 10, 2010 in Sonder kategorie

Het ‘n trein oor my bene gery terwyl ek heeltemal by my bewussyn op die treinspoor gelê het?

Het iemand my kop met ‘n stomp saag probeer verwyder?

Of het iemand my dalk vol voedoespeldjies gesteek terwyl hy of sy waansinnig en aanhoudend lag?

Nee, ek het net chemo gehad. En as ‘n mens die volledige prentjie sien, dan is ‘n binneaarse drup in jou lyf sekerlik nie so erg nie. Dan is die newe-effekte ook nie so erg nie, want eintlik is dit net tydelik. En dan is die goed wat tydens chemo met jou gebeur, ook nie so vreeslik nie.

Dis net so bo-op.

Julle verstaan wat ek bedoel. Dis soos ‘n dag waar alles by die werk verkeerd geloop het; jy kom by jou motor en die wil nie vat nie, en dan, wanneer jy uiteindelik by die huis inloop, trap jy in ‘n swembad, want die vrieskas staan en ontdooi al die hele dag om die een of ander wonderbaarlike rede. En net op daai moment vra die kat vir kos. Bo-op alles.

En Vrydag se chemo ses was so ‘n moment.

Eers moes ek vyf-en-veertig minute wag vir die nuwe onkoloog. Dit op sigself is mos nou nie ‘n probleem nie, want dokters kan mos nou nie by tyd hou nie, veral nie as daar ‘n krisis is nie. Sy het glo ‘n “tweede primêr” gesien en wou ‘n bietjie ekstra tyd met die pasiënt deurbring. Ek het nie geweet wat ‘n “tweede primêr” is nie, maar nou weet ek: dis iemand wat vir die tweede keer met ‘n nuwe kanker gediagnoseer word. So ek verstaan dat sy tyd met hierdie persoon wou spandeer. Dis ‘n verskriklike ding wat gebeur het. En ek kan mos wag.

Daarna het die chemosuster eers weer met die aar gesukkel, maar dit relatief vinnig gekry. Ongelukkig wou die drup nie funksioneer nie, sodat hulle heen-en-weer aan die naalde moet karring. Met diè steek die verpleegster my toe ook summier in die hand met die naald. En hulle pluk en woel aan jou arm en hand vir minstens vyf minute. (Dis sulke tye wat ek altyd aan Thailand dink, en ‘n sonnige dag op ‘n eiland).

Teen daardie het het twee vriendinne al vir my gewag om my te kom bystaan. Erg vir hulle. En toe sit ek. Die “flush” moet tien minute loop, daarna moet die steroïedes tien minute loop, en daarna is dit die chemoproduk vir ongeveer ‘n uur en ‘n half. ‘n Mooi, netjiese twee ure uit jou lewe met die “flush” aan die einde ook ingereken. Maar toe wil die flush nie loop nie, die steroïedes staak, en alles duur twee keer so lank soos wat dit moet. My een vriendin sit en hou die drup dop, sodat sy my kan waarsku as ek van posisie moet verander, want dit is al wat help vir die drup se loop. Boonop het die onkoloog die chemo ietwat verminder, want sy sê dis onnodig dat ek so brand (my hande en voete het mos ‘n week na die vorige chemo gelyk asof ek ‘n ongeluk met ‘n pot warm water gehad het), sodat ek moes wag vir die alchemis om die nuwe voorraad te meng.

Teen die tyd wat die chemo gearriveer het, was dit seker al half drie. Bo-op, sê ek julle. En toe kry ek ‘n hewige reaksie van die chemo: my hele arm en bolyf begin brand, en ek raak kortasem. Hoe meer ek asem haal, hoe meer trek my bors toe. Sodat hulle nog ‘n “saline solution” moet opsit en eers die chemo moet staak. Daarna weier alles toe, en niks gaan by my are in nie.

Toe’s dit drup uithaal en warm water en are probeer oppof, en uiteindelik ‘n aar kry wat funksioneer.

Ek’s eers tien oor vier daar uit. Met my rastapruik en my vals wimpers en die grimering en probeer mooi lyk, sodat mense nie moet sien hoe swaar dit vir my is nie. Al klaar. Sonder al die goed wat kan gebeur.

Binne die geheel gesien, was dit nie erg nie. Niemand het my probeer opkerf met ‘n Minora nie, soos ons as kinders altyd gesê het.

Maar dit was so verskriklik bo-op.

by elizac

BRIEK AANDRAAI

Augustus 4, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie tyd van die jaar wil ek altyd ernstig briek aandraai, want die jaar gaan nou te vinnig afdraend. Maar vanjaar is so bietjie anders. As ek nou net die slegte chemotye kan mis, dan moet die ander tye asseblief staaaadig loop. Tweede semester het ek altyd minder klas (veertien klasse in plaas van twintig!) en dan is dit nou baie lekker om tyd te hê om asem te haal. Hierdie jaar het ek vir hierdie kwartaal nou nie meer klas nie – is mos afgeboek tot na die chemo – en dis heerlik om by die huis te wees. Ek sit en voltooi werk wat agter geraak het terwyl ek siek was en nie lus was nie. Ek het energie om ekstra goed te doen, soos om klere te was en juweliersware te maak.

Maar ek sal darem terselfdertyd wil hê dat die chemo moet verbykom.

Chemo ses is nou Vrydag, in plaas van Donderdag. Daar is geen onkoloë beskikbaar op Donderdag nie. Dis te verstane, want daar het nou vanaf 1 Augustus ‘n nuwe onkoloog begin werk, en hulle moet seker darem bymekaarkom en dinge bespreek. Maar nou moet ek nog 24 uur wag!

Vandag gegaan vir die bloedtoetse en alles is reg vir chemo ses. Nou moet ek net môre begin drink aan die pille wat help met die newe-effekte wat Taxotere meebring.

by elizac

KATTEKWAAD

Augustus 4, 2010 in Sonder kategorie

Ek soek ‘n hond wat ek vir Augustus kan leen. Verkieslik een wat nie van katte hou nie.

Kyk, ek is ‘n vreeslike katliefhebber, soos enigiemand wat my ken, sal kan getuig. En daar is altyd ‘n kat in my lewe. Nie een van my katte het ek self gekies nie – hulle het my gekies. Die huidige een, ‘n vroutjie met ‘n mansnaam, het so sewe jaar gelede ingetrek met tassie en tandeborsel en al. Ek noem myself die Cat Whisperer, want daar’s gedurig nog ‘n kat wat probeer intrek. Dit lei natuurlik gedurig tot huismoles, tot my geliefde se konsternasie. My studente dink so heimlik ek is ‘n heks, want hoekom kom die katte so na my toe?

Maar as daar nou een ding is wat selfs ‘n katliefhebber tot haat kan dryf, dan is dit Agusmaand. Want kat se kind is dan lus vir kuier, en daardie kuier lei tot baklei, en die baklei is gedurig in ons tuin. Daar is min dinge so erg soos ‘n kat se gekatermaai. Behalwe die gespuit wat daarmee gepaardgaan. Enigeen wat al katpiepie geruik het, sal jou vertel dis ‘n reuk wat jou siel uit jou lyf dryf.

Hier was vanaand al weer een in ons tuin wat sy gebied kom afmerk het. Nou sal ek seker môre met ‘n spuitkannetjie vol brandspiritus op my knieë moet gaan om die reuk op die stoep op te spoor en dit te spuit. Soos ek hier sit en tik, moet ek met ‘n masker aansit om nie te verstik nie.

So nou soek ek ‘n hond. Tydelik. Net vir Augustus. My eie kat sal ek by die kathotel gaan inboek.

by elizac

SMS

Augustus 2, 2010 in Sonder kategorie

Aangesien ek nou al vir vier dae vol lewenslus en energie is, soveel so dat ek gereed is om by die gim aan te sluit – alles net betyds vir Donderdag se chemo ses – deel ek graag hierdie grappie met julle. ‘n Vriendin het dit vir my gesms:

“Ek wil nou nie spog of jou jaloers maak nie, maar vanoggend toe ek aantrek, sien ek my oorbelle wat ek in matriek laas aangetrek het, pas nog.”

Kyk, as dit nou nie ‘n positiewe houding is nie, dan weet ek darem nie!