CHEMO SEWE
Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie
Ag, mense, ek wil huppel en spring en dans, al kan ek nie dans nie en het, soos my pa, hallelujavoete wat hul eie rigting inslaan. Ten spyte van my musikaliteit… Dans was mos sonde in my grootwordjare. Chemo sewe het besonder goed afgeloop en was binne drie en ‘n halwe ure verby. Bloot omdat ek eers die onkoloog gesien het en toe die gelukbringertjies aan al die ander pasiënte uitgedeel het. Dit het nogal lank geduur, want daar was baie mense vandag. Ek het dit net-net gemaak vir die laaste stoel. En hulle het die aar gebruik wat die vorige keer tweede keuse was, en dit het steeds perfek gewerk, sodat al die produkte binne twee ure deurgeloop het en ek klaar was!
Plus, ek het vir die hoofsuster – die ene met die dun lippies – ‘n Minnie Muis gekies wat vlerkies het en ‘n sterretjie vashou en vir haar gesê sy moet ene kies, maar ek dink die ene is goed vir haar, want sy is ‘n engel en ‘n ster! Sy het tot geglimlag en gesê sy sal daardie enetjie neem. Die ander verpleegster het ewe gelukkig vir my gewys dat sy haar Garfield (ja, ek weet dis nie Disney nie, maar ek het gedink die manne sal meer neutrale gelukbringertjies kies, maar toe kies hulle vir Mickey en Minnie) aan haar selfoon gehaak het. Ek het eers vir my chemoverpleegster gevra of sy dink die hoofsuster sal iets wil hê. Sy’t self haar lippies dun gemaak en haar kop nee geskud… Maar ek het tog probeer! Ons was in elk geval vandag so baie mense, dat sy niemand kon keer nie!
Eeeeeeen…. ek verbeel my die Shhhh, chemo in progress-plakkate is verwyder…
Ag, en dan wil ek net sê: dankie, Liewe Here! Volgende keer laat ek ALMAL weer vir die chemosusters bid, en nie vir my nie! Dit werk!
abrham het gesê op Augustus 27, 2010
jy is n yster
Maghitta het gesê op Augustus 27, 2010
bid en bid en bid sal ons vir jul
loudavisi het gesê op Augustus 28, 2010
Dis lekker om goeie nuus te hoor, Elizabeth.
Prys die Heer!
Joanna Graham het gesê op Augustus 29, 2010
Elizabeth, sterkte vir jou! By HOM is alles moontlik.
elizac het gesê op Augustus 30, 2010
Weet nie so mooi van “betower” nie. Sy ook maar net mens!