by

WEG MET AFRIKAANS!

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Terwyl die mense nou so lekker baklei het hier op die blogs, laat ek sommer ‘n nuwe geveg begin… Hoekom het ons hoegenaamd elf tale in hierdie land? Kom ons begin ‘n veldtog waarin ons propageer vir Engels as die enigste amptelike taal. Dit gaan in elk geval gebeur, so kom ons maak die pyn minder en begin sommer nou daarmee. Ek sien die mense wat so Afrikaans is, praat maar self sleg Afrikaans. Tot dusver het ek hard probeer om Afrikaanse televisie te ondersteun sodat ons nie nog die bietjie moet verloor wat daar wel is nie, maar ai, nou kan ek nie meer nie. Laat ons maar eers vir 7e Traan los – dis ‘n hele blog post. Vanaand kyk ek Pasella om my so ‘n bietjie aan die mooi dinge in die lewe te verkyk, en waarlik, praat sjef Thabo nie beter Afrikaans as Neels van Jaarsveld nie. Seker 50% van sy “Afrikaans” was Engelse uitinge. Die pragtige aanbiedster praat van ‘n lighuis, sodat die persoon met wie sy ‘n onderhoudvoerder haar mooi reghelp en verduidelik van ‘n “vuurtoring”. En die liewe Paultjie, ai, hy het dan so “opgekyk” na Kobus Wiese. Waarom dit nuus is, weet ek nie, want die man is lank. Daar is seker min mense wat nie opkyk na hom nie.

Dan is daar ander programme, soos Supersterre, waar mense voortdurend deur die sang van die deelnemers “weggeblaas” is. Daar’t seker maar ‘n sterk Sedoos gewaai, of anders het die spulletjie almal ‘n oormaat knoffel geneem om met die stemme te help. Maar ek’t nogal lank gekyk of hulle die weggeblaasde beoordelaars en aanbieders vir ons sou wys, maar dit het nooit gebeur nie. Seker maar uitgesny, want as Patries Lewies met daai rokkies aan weggeblaas word, sal haar klere ook foutjies begin toon. So in die openbare oog. Dan hoor ek gereeld van mense wat so bang is hulle het iets uitgemis. Ek hoop tog werklik nie so nie. Dit kan ‘n hewige stank afgee. Of hulle wonder of ‘n saak opgebring is. Nee, magtig, mense, wie gaan daai gemors skoonmaak? Naar by die werk of tydens die bespreking van ‘n saak is nie ‘n grap nie.

Laasgenoemde twee woorde laat my altyd dink aan Lina Spies, wat my Nederlandse dosent in my eerstejaar was. Sy’t eendag spottenderwys in ‘n toespraak gesê: Ek hoop nie ek het iets uitgemis wat ek moes opgebring het nie. Deesdae klink heelwat mense of hulle ‘n maagprobleem het met al die gemissery en opbringery. En ek dink nie hulle kom dit agter nie.

So kom ons kry die pynlike gebruik van Afrikaans nou verby. From now on we speaketh the English only.

Wat my laat dink aan die Afrikaanse pappa wat vir sy Engelse kindjie gesê het: No, put the chips back. Mommy bought you Already Chips. Nou ek ken van Simba en van Willards en ook van Eveready Batterye, maar Already Chips? Nog nie van gehoor nie.

Nou wonder ek. Dalk moet Engels verban word, want ek kan daar ook nie meer veel verstaan nie!

19 antwoorde op WEG MET AFRIKAANS!

  1. Ha ha… jy soek moeilikheid!!

  2. deur te vinnig te lees het ek amper uitgemis wat jy opgebring het

  3. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Eeeeeeeeekk! [Trek hare uit kop – o, wag, hettie hare nie. Sal dan maar my laaste winkbrou uittrek].

  4. Angelor het gesê op Augustus 26, 2010

    Watter een irriteer jou die meeste? Die hoogdrawende aangeplaktes of die “ek is cool want ek is common” bende? Die najaag van modes sal altyd met ons wees, in alle tale..

  5. Ek voel ook nou skuldig…sal van nou af traai om beter afrikaans te skryf.

  6. katrina het gesê op Augustus 26, 2010

    Haai nee Elizabeth, it ain’t over until the fat lady sings! Ek het beslis nog nie my laaste noot genoot nie. Hier baklei ek elke dag met die Engelse seuns wat vir my sê “Afrikaans is a dying language.” En my antwoord is altyd: It’s not dead yet. It’s alive and kicking – your butt. Ja, ons almal versnipper en kruie ons taal, maar daar is darem ook ‘n verskil tussen omgangstaal en die geskrewe taal. Die groot ding is dat ons lui geraak het om ordentlike Afrikaans te praat. Dis soveel makliker om gou ‘n Engelse woord te gryp. Maar, meer verkeerd maak dit steeds nie reg nie. Ag jaaaaa, ‘n mens kan seker nogal lang debatte hieroor voer, hehe. Hoop jy het ‘n lekker dag vandag! XX

  7. 🙂

  8. Gisteraand gewonder wat die Kleurling Afrikaanses dink van die hele debat.

  9. Neander het gesê op Augustus 26, 2010

    Eish!

  10. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Beide irriteer my. Ek’t altyd gedink ons hier in die Oos-Kaap praat swak Afrikaans, maar magtig, dit word nou oral gebesig!

  11. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Ek dink nie mense het meer begrip vir die konsepte formele en informele taal nie. Gedurig sê my studente vir my goed soos: Djissis! wanneer hulle nie saamstem met iets nie. En onlangs lees ek ‘n artikel in die liewe Huisgenoot van een of ander joernalis wat in Afrika gaan werk het, en dis net bliksem voor en [email protected] agter. In ‘n TYDSKRIF? Is dit nie bietjie onvanpas nie?

  12. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Die Engelse voorbeeld het ek juis Juliemaand in die Kaap gehoor…

  13. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Ek voel partykeer na pen gryp en al die “nuwe” Afrikaans neerskryf. Dan is mense se verdediging: die nuwe AWS sê so. Dan is my antwoord: ag, my ou darling, die nuwe AWS staan op my boekrak en MYNE sê nie so nie!

  14. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Iewers in Spreuke staan: antwoord ‘n sot nie na sy sotheid nie. Wyse woorde!

  15. katrina het gesê op Augustus 26, 2010

    Sjoe, ja, dis erg. Ek het hierdie jaar al met elke klas van my ‘n hele periode gewy aan watter woorde in Afrikaans eintlik vloekwoorde en kru woorde is. Hulle gebruik die lelikste woorde en besef nie hoe erg die woorde eintlik is nie. Ek het dit al met volwassenes ook agtergekom.

  16. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    Myne is almal ouer as 18…

  17. elizac het gesê op Augustus 26, 2010

    O, en dan moet jy tog onthou om te sê: as Afrikaans ‘n dying language is, dan is al die ander inheemse tale ook besig om uit te sterf. Hulle is in ‘n nog slegter posisie as Afrikaans. Dalk moet ek later blog oor hoekom ‘n taal uitsterf? As ek nog kan onthou! Sterkte vir jou!

  18. Genugtig, die feit dat nie almal die taal Afrikaans suiwer praat nie (soos die Engelse: “The Queen would say”) beteken nie dat die taal nie lewe en verander nie. En, wat vloek betref: dit vat baie om die Hollanders te klop! Onthou: Die Englese het al hard probeer om Fraans en Duits van die aarde te vee, maar hulle het nie daarin geslaag nie. En die Engelse is ook oortuig daarvan dat “the Americans haven’t spoken it (= Engels) for years!” Afrikaans is ‘n manier van dink, van lewe, van kultuur. Wees trots daarop en hou op baklei, want, al “try” julle nog so hard, julle sal nooit deur die gebruik van Engels deur die Engelse as “on the same level” gesien word nie! Die Engelse is net eenvoudig “superieur” en beter as almal in die wêreld (… wel, hulle dink ten minste so!)

  19. elizac het gesê op Augustus 28, 2010

    Ag, my ou skat, het jy die ou possie KLAAR gelees? Jy raak heeltemal te ernstig!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.