by

LEKKER MOEILIK

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek is vanaand behoorlik die hel in. Sit vanmiddag so kort voor vyf ewe rustig hier voor die rekenaar, toe my sel lui: Elizabeth, Sesona did not arrive at aftercare. WAT?????? Sesona is my sesjarige (amper sewe) peetkind en sy is in ‘n oulike skooltjie hier om die draai van ons huis. Toe het die kind – wat, soos graad 1 die land oor, om 12:00 uitkom – nooit na die netbaloefening by die nasorg opgedaag nie EN NIEMAND HET HAAR GEMIS NIE!!!! Ek plak toe natuurlik net pruik op die kop (dalk moes ek sonder pruik gegaan het – dit sou hulle laat skrik het!) en spring in die motor en jaag nasorg toe. Daar hardloop die nasorgtannies soos afkophoenders rond en weet nie wat om te doen nie. Een van hulle (en ek weet wie dit was) het selfs heengegaan en die kind AFWESIG gemerk op die register toe sy sien die ma kom haal die kind. Nou hoe werk jou kop? As die ma die kind kom haal, dan moet dit kind mos daar wees! En julle weet, haar ma bel elke keer die nasorg as iemand anders Sesona gaan optel, soos ek, of haar pa, of haar oom. Dis nie asof ons nie laat weet nie. Intussen is die kind weg en niemand weet waar sy is nie. Ek is soos ‘n sersant-majoor tussen die tantes in: bel die netbaljuffrou! Het julle die klasjuffrou se nommer! Waar is die skoolhoof se nommer? Dis nou alles om by ‘n punt uit te kom waar ons kan vasstel presies wanneer die kind weggeraak het. Visies van nare ooms met aaklige bedoelings flits deur my kop. Ek sien hoe sit ons die hele nag in die polisiestasie en wag om te hoor van ‘n kind wat in ‘n angstoestand is, omdat haar ma en haar tannie nie meer vir haar lief is nie, en haar nie kom haal nie. Die tantes begin toe lewe kry, maar kommunikeer niks met my nie – hulle verdwyn net daar in die nasorggebou in. Ek kry die een tante, besig om te bel. Sy bel die netbaljuffrou. Diè weet nie wie Sesona is nie. Nou, ek verwag werklik nie van haar om al die meisietjies in die netbalgroepie te onthou nie, veral omdat ek weet sy rig hulle nie elke keer af nie. Maar waar is haar register? Ek is die laaste persoon wat kan praat van gesigte en name onthou, want ek moet ‘n mens so vyf keer sien voor ek hom/haar miskien sal onthou, maar ek sien baie meer studente in ‘n dag, en as iemand my vra of juffrou Siswana daar was, sal ek kan onthou, of ek sal ten minste kan gaan kyk. En dis met die volgende belslag – nou na die klasjuffrou toe – dat Sesona in die speelgrond van die skool gevind word: plat op haar gesiggie en huilend in die stof. Sy’t gedink haar ma het haar vergeet. En om die een of ander rede het sy gedink haar ma gaan haar by die skool optel, en nie by die nasorg.

Nou vra ek julle. Die ENIGSTE mense wat van hierdie skoolgebou gebruik maak, is die Graad R’s tot Graad 3’s – nie so baie kinders nie en nie so baie mense nie. Die nasorg is seker maksimum 150m vanaf die hoofhek. Die opsigters sluit die skoolhekke en merk nie ‘n kleine kind wenend in die stof op nie? Die nasorgtannies doen nie navraag om uit te vind waar die kind is nie? Hierdie kind het die HELE MIDDAG SONDER KOS EN SONDER SORG in die stof gesit en NIEMAND het haar opgelet nie. Die ou gesiggie was vuil van trane en snooi en stof.

Nou kan julle seker verstaan dat ek die hel in is. As hierdie kind iets met oorkom, hoe gaan ek ooit weer haar ma in die oë kyk? Dis ek wat aangedring het dat sy na die skool gaan – teen groot onkoste vir hulle almal, en groot ongerief, terwyl daar ‘n skool 100m van hulle huis af is. Ek ys.

Sesona is natuurlik deur hierdie aaklige tante van haar gestraf. Sy sou vandag nuwe skoene kry, maar sy sal die nuwe sandale nou eers volgende naweek kry. Sy moes ook vir al die tantes by nasorg om verskoning vra. Maar eerlik, ek dink die eensame middag sonder kos en met die hartseer was groot genoeg straf.

En ek het darem haar ma gevra om haar nie te “smack” nie – daai “smack” van ‘n Xhosakind is erger as ‘n ou boerepak.

MAAR EK IS NOG STEEDS DIE HEL IN! Ek het ‘n e-pos aan die skoolhoof gestuur en ook aan die fasehoof. Daardie anties by nasorg het nou met my te doen – hulle weet natuurlik glad nie wie ek is nie, maar ek is DOKTOR, thank you very much, en my man is ‘n eks-onderwyser van die skool wat nou as INSPEKTEUR (ja, ek weet dit word nou iets anders genoem, maar dis dieselfde ding!) werk, en hy doen baie vir hierdie skool! HA!HA!HA!

Hulle beter my môre bel!

8 antwoorde op LEKKER MOEILIK

  1. As mens ‘n rang of posisie het wat vir jou kan werk, is dit soms heel handig

  2. lindiew het gesê op Augustus 13, 2010

    Ongelooflik – ek kan nie sulke goed hanteer nie – ek het ‘n kennis wat altyd se – dit bring die straatantie in haar uit! Wel ek sou ‘n straatantie gewees het as dit met my moes gebeur!

  3. Gee hulle hel, dat hulle dit nie gou vergeet nie.
    Dit mag nooit weer gebeur nie!
    Ek kan my jou angs voorstel.

  4. elizac het gesê op Augustus 13, 2010

    Ek gebruik nie gewoonlik my “rang” nie, maar magtig, dis ‘n kind waarvoor hulle verantwoordelikheid neem! In loco parentis, en al daai goed.

  5. elizac het gesê op Augustus 13, 2010

    Kyk, ek was self in die onderwys, en daar is myns insiens (en simplisties gesien) net twee redes waarom jy in die onderwys bly: dis ‘n ekstra salaris wat vir die ekstras sorg terwyl jy jou begrafnisonderneming of jou catering business aan die gang hou, of JY GEE WERKLIK OM en dink jy kan ‘n verskil maak. Ten spyte van die salaris. So dankie aan al die onderwysers wat wel omgee, maar hierdie anties hoort nie by die nasorg nie.

  6. elizac het gesê op Augustus 16, 2010

    Nee man, djy smokkel mos nou met my se kop!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.