Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

by elizac

LIPSTIEK. ROOIES

Julie 3, 2010 in Sonder kategorie

En nou in hierdie tyd wys Why I wore lipstick to my mastectomy hier op DSTV kanaal 108. Aangesien ons nie DSTV het nie, het ek dit nog nie voorheen gesien nie, maar almal vertel met groot entoesiasme vir my ek moet dit sien. Goeie boodskap, en so aan. Vandag het ek dit toe uiteindelik gekyk. Behalwe vir die opvallende sentimentaliteit van die fliek – ek aanvaar dit sou nie ‘n Oscar gewen het nie – was daar goeie momente. Tog is daar ‘n klomp feitefoute, wat enige goeie regisseur en sy/haar navorsers en met die hulp van ‘n borskanker survivor sou kon reggestel het:

1. Jy mag geen grimering na die teater dra nie. Beslis nie in Suid-Afrika nie. Enige lipstiffie sou blitsig deur ‘n teatersuster verwyder gewees het. Dalk is dit anders in Amerika?

2. Sy het haar regterbors laat verwyder, en hulle dien die chemo toe in haar regterarm. Dit mag nooit nie. Jy mag geen bloed laat trek of naalde of enige sulke goed naby jou geaffekteerde arm toelaat nie. Jy mag nie eens jou bloeddruk op daardie arm laat naam nie. Dit kan limfedeem veroorsaak. Jy wil nie een arm he wat dikker is as die ander nie, so jy beskerm die arm.

3. Sy roep ‘n taxi nader en lig haar regterarm om dit te kan doen. Mense, dit vat maande voordat jy jou geaffekteerde arm tot verby jou kop kan lig.

4. Sy doen haar hare, weer eens met die regterarm omhoog. Dit kan nie. Hulle sny deur die senuwees onder die arm om by die limfkliere uit te kom en die ook te kan verwyder. Jy moet oefening doen om jou arm weer te kan lig.

5. Op ‘n stadium le sy ewe fraai op die bed OP HAAR REGTERSY. Liefie, daai regtersy gaan laaaaaank vat voor jy weer op hom kan le.

Die meeste van hierdie kankerflieks wys ook gedurig hoe naar die persoon is, en hoe sy/haar hare uitval. En natuurlik gebeur hierdie goed, maar dis nie AL nie. Die aktrise lyk gedurig asof sy deel is van een of ander vampiergesin met haar bleek gesiggie en verdorde hare. Maar het sy blou kringe onder die oe? Nee.

Maar ek het die fliek “geniet”, en lekker saam gehuil. Die een ding wat ek opgelet het, was haar behoefte daaraan om mense rondom haar te he. Ek dink dis heel normaal, want ‘n mens wil voel asof jy leef, en om mense rondom jou te he, help jou om dit te voel.

by elizac

NAAMLOOS TOT PIENK D!VA

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

OK, ek is nou die Pienk D!va, na aanleiding van Modderkoekie se voorstel. Nou soek ek net daai stunning rokkie wat Jo-Ann Strauss in die advertensie dra. Met die lyf, natuurlik. Dankie.

by elizac

DIS NOU SOMMER REGTIG TWAK

Julie 2, 2010 in Sonder kategorie

En julle weet seker wat ek EINTLIK bedoel. Dis 03:26 volgens die rekenaar, en ek is wakker, omdat pyn my wakker gemaak het. Mondsere. My liggaam is na vier chemos al so voorspelbaar, dat dit eintlik vervelig is. Dag 5: keelseer. Die mond begin seer word. Dag 7: mondsere soos wat jy nie kan glo nie. Ek het ‘n pilletjie wat ek kou, ‘n mondspoelmiddel, ‘n salfie met die naam Dynexan wat alles doodmaak (seg hulle) en nog ‘n salfie wat ek sommer by die supermark koop en eintlik bedoel is om babas te help wanneer hulle tande kry. Dit kan die arme babas natuurlik ook verslaaf maak aan die alkohol in die produk, en hoe de hel die arme goed die brandpyn kan uitstaan as ek deur die dak wil styg van die pyn, weet ek nie. Ek aanvaar die pyn wat ek ervaar is nie 10 op die Richterskaal nie. Dit voel net so. En dit hou so aan. Ek moet elke kort-kort iets aansmeer, en dit bly oraait tot ek moet eet. Nooit besef ons mense is nes hamsters nie: ons stoot kos kieste toe en laat dit so ‘n bietjie wag tot ons sluk. Glo my, as jou kieste vol sere is, wil jy geen kos daar bere nie. En as jy dan nog ‘n seer of wat op die tong het, raak dit erger, want jy kan daardie kos nie eens stoot nie.

Dan het ek griep. Al van Sondag af. Was by die plaaslike dokter (ja, op die trant gaan ek ‘n dokter in elke dorp/stad van die land he) en het antibiotika gekry, maar dis al asof dit nie help nie. Die probleem is, jy wil mos he die chemo moet sy werk doen, en dus kan hulle net tot op ‘n punt help. Maar magtig, medici weet mos nou darem al ten minste sestig jaar wat die uitwerking van chemo op die liggaam is. Is daar regtig NIKS wat gedoen kan word om pasiente te help nie?

So die pyn maak my wakker. Dan moet ek eers salfies aansmeer. Het nou sommer ook pynpille gedrink. En op die troon gesit en tjank. Is bang my ouers raak wakker. Hulle is albei al in die sewentig en het nie die stres van ‘n middeljarige kind met twak (en julle weet steeds wat ek eintlik bedoel) nodig nie.

Ek wil nie kanker he nie. Ek wil asseblief tog net weer normaal voel en energie he en deur die lewe spoed en raas en doen. Ek het tien weke van chemo en sleg voel agter die rug. Ek kom nou vir die eerste keer agter dat ek vinniger moeg word. As ek gelukkig is, is daar nog ten minste tien weke oor. September is die magiese maand wanneer alles hopelik verby sal wees. Die chemo, bedoel ek.

Een dag op ‘n slag. Een minuut op ‘n keer. Tree vir tree.

by elizac

VAKANSIE

Julie 1, 2010 in Sonder kategorie

Terwyl ‘n blog nou ‘n plek is waar dese en gene hul opinie kan lug, al is dit hoe vergesog of ongemotiveerd, sal ek my nou vanaand ook slim hou en oor die hoge goeters in die lewe praat.

Is op die oomblik met vakansie in die Wes-Kaap. My geboorteplek. Verlang my na twee-en-twintig jaar in die Oos-Kaap nog stukkend na my mense. En die rus en vrede op die plaas. Kyk, ‘n mens wat in die stad grootgeword het, sal seker nooit verstaan wat stilte is voordat hy/sy nie tot stilstand gekom het op ‘n plaas nie. Waar jy snags net jou asem hoor en ‘n paar paddas. Ek spot altyd my man dat ons van twee verskillende kulture is, want hy het in die Kaap grootgeword – in die Belville in, soos ons hier sou se (ek kan nie die kappie op my pa se rekenaar kry nie!) – en ek op ‘n plaas naby ‘n klein, plattelandse dorpie. Hy sal altyd by ons huis vir my se: o, maar dis lekker stil vanaand, dan se ek: stil? hoor jy nie die karre nie? Want in die dorp is daar vir my plaasore – selfs na twee-en-twintig jaar – maar altyd ‘n gedruis. Die lekkerste vakansie vir my is so ‘n plaasvakansie: niks om te doen behalwe om te rus en te gesels nie (ek het mos nie nodig om groente te oes of druiwetakke te snoei nie!), en saans maak ek ‘n etetjie, of nie. Tussendeur lees jy, en as jy moeg is vir lees, gaan slaap jy, en as jy moeg raak vir slaap, gaan lees jy weer. Te lekker. Intussen begin my man ook afskakel, alhoewel hy steeds flikkerligte aansit as hy enige draai op die plaas maak.

Verlede week, egter, was ons by die Grahamstadse Kunstefees. Weet nie wat die amptelike titel deesdae is nie, maar dit was nog altyd my gunstelingfees. Van doer in 1986 toe ek as arm student die eerste keer met ‘n R50-begroting (vir die hele week!) die fees bygewoon het, en as usher plekke aangewys het en so ook darem ‘n paar vertonings verniet kon sien. Deesdae woon ek die fees net sporadies by, en gewoonlik net so vir drie dae. Mens raak mos blase so oor die jare en vreeslik kieskeurig. Maar ons kon darem Dinsdae met Morrie (of is dit nou by Morrie? Kan nie onthou nie.) gesien, en Chris van Niekerk was verstommend as Morrie. Laat ek eerlik wees: die boek het my glad nie geraak nie. Het dit gelees en aangegaan met my lewe. Die toneelstuk was egter briljant. Gaan kyk dit as jy kan.

Verder het ons Shirley Valentyn met Shaleen Surtie-Richards gesien. Die koerante praat van die rol waarvoor sy gebore is, en waarlik, dit is so. In hierdie rol is sy nie die teatrale, huilende vrou wat mens gesien het op Supersterre nie, of Nenna van Egoli nie. Sy is Shirley van die Kaapse vlakte. Gaan kyk dit, as jy kan.

Ons het ook Skrapnel gaan kyk. Na ‘n uur het ek al ernstig my horlosie dopgehou. Dit hou so aan. (Sien, dis nou hier waar my opinie inkom!) Vaderland, twee verveelde jongmense sit in London en kla omdat hulle lewens so sleg is. Daarby word die bomaanvalle op die moltreine en busse ingesleep. Klaarblyklik het die jongeling man sy lewe op die trein verloor en die jongeling vrou agtergelaat. Bla bla bla. Tussenin moet ons luister na hulle eksistensiele gesprekke, of dan, in die geval van die jongman, sy gebrek aan eksistensie. Die interessanste deel was die insetsels oor wat gebeur tydens ‘n selfmoodbomaanval. Ek’s te oud vir so ‘n getjommel. As jy wonder oor jou lewe, gaan lees Illusions van Richard Bach en get a grip.

Intussen het ek ‘n aanval van selfbejammering hier op die plaas gehad. My ma het hopeloos te veel spieels in haar huis.